Om as kerke met kultuur te sukkel

September 5, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)

 

Hoe moet ‘n mens kultuur verstaan? En het menswaardigheid iets daarmee te doen? ‘n Tyd gelede het ‘n aantal teoloë ‘n dag lank met akademici uit ander vakgebiede hieroor in gesprek getree.


Prof. Günter Thomas, ‘n teoloog van die Ruhr-Universiteit, Bochum, Duitsland, het gewys op die moeilik grypbare kultuur van ‘n gemeenskap. Hoe mense hul eie kultuur verstaan en aanbied, word in ‘n groot mate bepaal deur hul posisionering teenoor ander. Wie se kultuur word nou eintlik as die ware een in eie kring erken? Wie se mag word daardeur bevorder? Wie besluit? Nog meer diepgaande: Is dit nie onmoontlik vir ons om die wese van wie en hoe ons is vas te vat nie?


‘n Teoloog van die Universiteit van Wes-Kaapland, prof. Douglas Lawrie, lewer aansluitend weer kritiek op die idee dat geen oordele gevel mag word oor hoe mense van ander kulture dinge sien en benader nie. Mense met botsende opvattings en waardes het immers invloed op mekaar, raak mekaar en kan nie daaraan ontsnap nie dat dinge besluit en uitgevoer moet word. Alles kan dus nie gangbaar wees nie; sommige dinge moet verwerp word.


Alle ander deelnemers aan die gesprek daardie dag het die twee genoemde sprekers se afwysing van eksistensialistiese kultuurbegrippe ondersteun: kultuur is veelkantig, vloeibaar, onvaspenbaar en intern vol spanninge. Is dit dan nie beter om op te hou daaroor praat nie? Onthou, daar was ‘n tyd – die jare van apartheid – toe kultuurgroepe se grense deur die staat aangewys en instand gehou is.


Van die belangrikste perspektiewe om van kennis te neem is die kontras tussen wat na botsende benaderings hieroor lyk – albei uit perspektiewe van voorheen onderdrukte gemeenskappe. Aan die een kant is daar teoloë en ander kerkbetrokkenes wat juis die belang van kultuur voorop stel. Die logika lui dat juis diegene wie se kultuur dominant is en dus oor dié van andere oorheers geen sin daarin het om die saak aan die orde te stel nie. Tog bly dit lastig: Hoe kan kultuur ernstig geneem word sonder dat weer in die absolutistiese denke van apartheid verval word?


Daarteenoor is daar groeperings – nogmaals uit die ervaring van onderdruktes – wat juis niks van kultuurbewussyn wil weet nie: Wat moet tel in die kerk, is nie kulturele identiteite nie, maar juis die gedeelde geloofsbelydenis.


Die lastigheid bly: Ons almal dink en verstaan wat ons waarneem en beleef uit aannames en maniere van kyk wat uit tradisies en gewoontes groei – grootliks heel onbewustelik. Kultuur kan geïgnoreer word, maar nie weggetoor word nie. Hoekom word die evangelie anders uitgedruk en beleef juis namate dit in nuwe kontekste grondvat?


Maar hokaai …


Dit gaan hier oor ‘n nes van onontwykbare vrae en uitdagings!


‘n Gegewe is wel dat, juis in die apartheidsjare, die NG Sendingkerk (tans ook die breër VGK) se Belhar-belydenis iets oor kultuur te sê gehad het: “Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk (‘een heilige algemene Christelike kerk’) as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is … dat hierdie eenheid in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God.” (skuinsdruk toegevoeg)


Soos die NG Kerkfamilie toenemend realiseer, sal saam gedink, probeer, gesukkel en gestoei moet word. Juis daardie saamworstel sal as uitdrukking van die verbondenheid tot eenheid met mekaar sal dit ‘n uitdaging maak. Die dag as alle faktore vanselfsprekend en eenvoudig blyk, sal dit die einde van saamleef beteken.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Om as kerke met kultuur te sukkel

  1. Niemand wou, op genoemde kongres, dit waag om te verklaar dat kultuur maar ook ‘n Godgegewe verordering is, wat lede van subgroepe instaat stel ‘om gekoesterd te kan behoort’ en ook in verhouding tot, en in vrede en in liefde met, andersoortige subgroepe te kan saamleef nie ?

  2. Wat nou?
    Selfs die beste ridder kannie op twee perde ry nie.
    JC kannie beide Apartheid ondersteun en Swartejies lief nie…besluit nou eens en altyd asb…die hele spul word meer belaglik by die dag…wat van ‘n knippie realiteit?

  3. Ek is nou bietjie van die punt af, maar luister gisteronggend na korrektiewe verkragting op RSG, en gewigtige rol wat die swart kultuur daarin speel, en ek besef net weer mens kan nie aan kultuur vat nie, maar dit kan soms ‘n hele nasie verkneg of bevry ten spyte van die werklike fisiese status van verkneg of bevry.

  4. kuypers het gesê op September 6, 2012

    Kultuur is ? unieke en fassinerende aspek van menswees. Die vraag is hoe het dit gebeur het en hoe ontwikkel dit. Dit is al voorgestel dat kultuur voortdurend ontplooi en dat ‘même’ (kultuur se DNA?) kultuureienskappe voortdra, natuurlik onderhewig aan variante en seleksie, in die dieselfde wyse as wat ‘gene’ in die biologiese wêreld biologiese eienskappe voortdra. In hierdie opsig is kultuur die produk van simbole en praktyke wat voortgeplant of voortgedra word deur wat geskryf is (word), van spraak, van gebare, musiek, rituele of ander navolgbare fenomene.
    Die meeste van wat as ‘ongewoon’ van andere ervaar word kan gewoonlik in een woord opgesom word naamlik “kultuur”. Kultuur is nie die mens se mees onderskeidende eienskap nie, maar is een van die unieke en fassinerende aspekte menswees. In hierdie opsig is “kultuur” nie bedoel om of ? nou band van eienaardighede of ? soeke of sinoniem vir “gemeenskap” te wees nie. ? “Gemeenskap” bedoel ? werklike fisies identifiseerbare groep mense en hoe hulle, hulle sosiale verhoudings orden. “Kultuur” verwys na ? liggaam van sosiaal gekommunikeerde inligting – die volle spektrum van idees, konsepte en vaardighede wat in die gemeenskap beskikbaar is.
    Kultuur is dus die resultaat van ‘memetiese’ evolusie maar ook die produk van menslike kreatiwiteit.
    Ek vind dit lastig dat daar voortdurende en aanhoudend gepraat, verwys word en verskonings aangebied word vir “ervaring van onderdruktes”. Elke groep op aarde het op een of ander stadium aan eie bas onderdrukking ervaar, ongeag of jy van die bodorp of onderdorp is, van die rykes of die armes, van die welbelese of leesgestremdes.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.