Jy blaai in die argief vir 2012 September.

Ter helle neergedaal?

September 6, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)


Wat beteken “ter helle neergedaal”? Op soek na ’n Bybelteks word tradisioneel verwys na 1 Petrus 3:19: “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.” Met “die gevangenes” word die doderyk bedoel – in die Geloofsbelydenis die Griekse hades, in Afrikaans met “hel” vertaal.

Baie hedendaagse voorstellings van die lewe ná die dood is positief: die “ander kant” as ’n herontmoeting met geliefdes en ’n ervaring van lig en sielerus. In die Jodendom van Jesus se tyd was dit nie vanselfsprekend nie. Die toestand waarin dooies verkeer, is dikwels as skaduagtig voorgestel.

Die Hebreeuse woord vir die doderyk, sjeôl, dui in die Ou Testament op iets afstootliks en skrikwekkends. Dink aan Psalm 18:5: “Bande van die dood het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig.” Of Psalm 6:5: “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie.” Verlossing is dan nie, soos in die hedendaagse mitologie, bevryding van die siel uit die liggaam nie, maar behoud in die lewe: “U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.” (Ps. 30:3) ’n Siel sonder liggaam was geen aantreklike gedagte nie!

Verbaas dit dan dat Jesus, in die aangesig van die dood, die woorde van Psalm 22:2 uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mk. 27:46; Mt. 15:34) Ook vir Hom was die dood “bande” en “strikke”.

Tog is die neerdaling ter helle dikwels as ’n oorwinning voorgestel. Volgens sommige vroeë Christene het God (nie letterlik nie, maar as ’t ware) ’n ooreenkoms met die Duiwel aangegaan: Laasgenoemde sou die siele in die doderyk vrylaat in ruil vir die siel van Christus. So het dit dan ook gebeur, maar omdat Christus die Seun van God is, het sy aankoms in die doderyk dié ryk vernietig. Sy Goddelikheid was die hoek in die aas wat deur die Duiwel verorber is!

Sulke verhale het nooit amptelike dogma geword nie, want onderhandeling met die bose of slinkse bedrog strook nie met die Christelike Godsbeeld nie. Die gedagte van Christus Victor, Christus die Oorwinnaar, is egter nie agtergelaat nie, ook omdat dit Bybels is: “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (Kol. 2:15)

Skynbaar teenoor hierdie triomfantlike voorstelling, word Christus se neerdaling ter helle ook dikwels met vernedering en selfontlediging verbind. Die volgorde “gely … gekruisig, gestorwe … begrawe … en ter helle neergedaal” word dan só verstaan dat God self in Christus tot in die diepste duisternis van ons bestaan afgedaal, en ons verlorenheid gedra, het.

Staan triomf teenoor selfontlediging? In 1 Petrus hou Jesus se besoek aan “die gevangenes” verband met Christene se lyding in ’n wêreld waar hulle vreemdelinge is. Sulke skynbaar sinnelose lyding moet hulle nie afskrik nie, sê die briefskrywer, want God kan déúr lyding heen oorwin.

Omdat Christus van God verlate was, is God ook “deur donker dieptes” (Ps. 23) by ons, is ons nóóit alleen nie: “gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.” (Ps. 139:8)

As ons selfs in ons Godverlatenheid nie van God verlate is nie, maar “in Christus” (Rom. 6:13), dan het Christus ons ook nie agtergelaat toe Hy “op die derde dag weer opgestaan het uit die dode” en “opgevaar het na die hemel” nie: “soos Christus … uit die dood opgewek is, (sal) ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.” (Rom. 6:14)

Christus red ons nie ván die liggaamlike lewe nie, maar vír dié lewe, “en dit in oorvloed” (Jn. 10:10).

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Sekulêr en gelowig

September 6, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)


‘n Tyd gelede is by St. Augustine College in Johannesburg saam oor “Faith in the face of secularism” nagedink. “Geloof” en die “sekulêre” kan verskillende dinge beteken, maar dikwels word dit as teenoorgesteldes verstaan. Die gedagte is dat ons almal aan dieselfde wêreld glo, maar dat sommiges ook nog godsdienstige oortuigings daaraan toevoeg – ‘n bietjie soos wanneer almal ‘n roomys geniet, maar party ook nog sjokoladesous daaroor.

Uit hierdie soort gesigspunt kan die mensdom in twee groepe verdeel word: gelowiges en ongelowiges. Aangesien Christene gelowiges is, deel hulle dan iets met aanhangers van ander godsdienste, wat hulle van ongelowiges onderskei. ‘n Mens sou jou dit kan voorstel as ‘n groot sirkel om alle mense heen, en dan ‘n kleiner sirkel daarbinne wat slegs godsdienstige mense omring. Laasgenoemde groepering – Christene, Moslems, Hindoes en so meer – verskil dalk oor allerhande dinge, maar saam verskil hulle van ongelowiges.

In die geloofsirkel – só word dit dan voorgestel – kan ‘n nóg kleiner sirkel getrek word wat Christene van ander godsdienstiges onderskei. (Party mense sou ‘n nog nouer kring tussen verskillende soorte Christene wil trek!) In die geheel gesien, sou ‘n mens die sirkel-beeld met sport-lojaliteite kan vergelyk: ondersteuners van die Blou Bulle en die WP mag dalk verskillende spanne ondersteun, maar hulle deel die passie vir rugby, wat hulle saam onderskei van mense wat deur dié sportsoort koud gelaat word.

Is die idee van só ‘n kleinerwordende sirkel akkuraat? Daar is redes om dit te bevraagteken.

Een daarvan sou kon wees dat Christene dalk nader is aan ateïste (mense wat nie in God glo nie) as aan mense van ander godsdienstradisies. As dié gedagte vreemd klink, kan gerus daaroor nagedink word dat die vroegste Christene in die Romeinse Ryk as mense sonder ‘n God beskou is – in teenstelling tot al die res, wat elkeen darem ‘n God of gode aanbid het. Die gedeelde Christelike en Joodse Godsvoorstelling is deur andere as só vreemd beskou dat hulle dit as God-loosheid ervaar het. Dit is daarom nie vanselfsprekend dat Christene nader aan “ander gelowiges” as aan “ongelowiges” staan nie.

Iets radikalers sou kon wees om die onderskeid tussen godsdienstiges en nie-godsdienstiges te bevraagteken. Is daar regtig mense wat in geen God glo nie? Sterker nog: is só iets hoegenaamd denkbaar?

Dit hang af van wat hier met “God” bedoel word. Dit gaan nie oor die persoonlike Godsbeeld van die Joodse, Christelike en Islamitiese tradisie nie, want om só oor die Goddelike te dink is maar een moontlikheid tussen ‘n hele klomp. Die Griekse woord theos, wat in Afrikaans met “God” vertaal word (‘n term wat op sy beurt sy oorsprong in die voor-Christelike Germaanse godsdiens het), is byvoorbeeld reeds wyd gebruik lank voordat Jode en Christene dit oorgeneem het. Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles het die Goddelike nie as iets persoonliks voorgestel nie.

Geloof in iets Goddeliks – of dit nou as persoonlik of onpersoonlik beskou word – kan dus verskillende dinge beteken. Al wat almal gemeen het, is dat hulle bepaalde idees het oor hoe die werklikheid ten diepste is. Alle mense neem dinge met hul sintuie waar, maar kan ons ons waarnemings vertrou, of is dit (soos sommiges glo) illusie? En as dit wel is soos dit lyk (‘n onbewysbare aanname), kom die vraag op van hoekom dit juis só is en nie anders nie. En: sou dit anders kón gewees het?

Aan sulke vrae, wat nie deur waarneming en toetsing beantwoord kan word nie, kan niemand ontsnap nie. Wat dít betref, deel almal nie net die seculum (waaruit “sekulêr” afgelei is) nie, maar ook die onontwykbare risiko van een stel “godsdienstige” aannames eerder as ander.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.    

Die verborgenheid van verbondenheid

September 6, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)

 

 

As God bestaan, betoog die Switserse teoloog Ingolf Dalferth in Becoming Present, kan daar nie ‘n iets wees waarmee God niks te doen het nie. Een implikasie daarvan is dat ons onder enige omstandighede met God te doen het. Gelowiges kan na momente verwys waaruit God se ware karakter blyk. Dit kan egter nie beteken dat God by ander gebeure onbetrokke is nie – al wil baie ervarings dit suggereer.

Hieroor tree Dalferth met die hervormer Martin Luther in gesprek: oor die Deus Absconditus, God se verborgenheid. Luther word soms só verstaan dat, volgens hom, God ook nog ander kante, in stryd met die openbaring, het. Dalferth reken egter dis ‘n misverstand. Die verborge God is nie volgens Luther ‘n God vol teenstrydighede nie. Deur die openbaring weet ons hoe God is, en juis omdat ons dit weet, is daar soveel ervarings en gebeure wat vir ons verborge, abscondita, is. As ons nie geweet het hoe God is nie, dan was niks in stryd daarmee nie!

Net mense wat in ‘n aanwesige God glo, kan dié God se áfwesigheid ervaar, meen Dalferth. Só sing Sonny Terry and Brownie McGhee ook:

 

God and man played hide-and-go-seek.

God told man, “Now man, don’t you peek.”

Man counted to ten, and then looked around.

But God was nowhere, nowhere to be found.”

 

Die Psalms praat ook só. Die bekendste is Psalm 22, ook omdat Jesus dit aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.”

 

As God oral is (alomteenwoordig), en van alles bewus (alwetend), kan sulke versugtinge en noodkrete gehoor word. Maar is God ook almagtig?

 

Dalferth meen dit kan nie anders nie. As alles uit noodsaak bestaan het, was daar geen sprake van nie. Daarom was die antieke filosoof Aristoteles se “God” ‘n onbewuste, afwesige oorsprong sonder bedoelings of handeling, sodat die vraag na God se mag nie eens ter sprake kon kom nie. As die werklikheid egter geskep is, sodat die Skepper bý alles is en ván alles weet (soos Jode, Christene en Moslems bely), dan kan niks bestaan, en niks daarin moontlik wees, as God dit nie moontlik máák nie.

 

Dit beteken nie dat alles wat gebeur God se goedkeuring wegdra nie, maar wel dat die moontlikheid daarvan aan God te danke is. Solank mense ‘n mate van vryheid het, en in ‘n relatief-reëlmatige wêreld leef, kan hulle dinge teen God se wil doen, maar dié vryheid kan net bestaan omdat God dit wil. Alles is van God afhanklik, danksy God moontlik en aan God te danke.

 

Dat ons waarnemings en ervarings só dikwels daarmee in stryd is, is net nog ? dimensie van die Deus Absconditus, God se verborgenheid: Hoe en hoekom kan dit wees soos gelowiges bely, terwyl dit só dikwels anders lyk? Net soos juis mense wat glo dat God teenwoordig is, teen die afwesigheid kan protesteer, kan slegs mense wat in die almag van God glo, teen die skynbare magteloosheid beswaar aanteken: “Kom tog, Here! Toon u mag, o God! (Ps.10:12)” As God in sekere situasies magteloos was, daar niks aan kón doen nie, sou só ‘n uitroep geen betekenis hê nie.

 

Om God, indien God bestaan, se alomteenwoordigheid, alwetendheid en almag te erken, skryf Dalferth, is egter nie genoeg nie. Dit is nou al dikwels genoem dat juis dié eienskappe van God gelowiges laat vra: Waarom dan die skynbare afwesigheid, onkunde of magteloosheid? In alle eerlikheid moet egter toegegee word dat sulke vrae eintlik net opkom omdat nog iets oor God geglo word, naamlik dat ons met ‘n God van liefde te doen het. Immers, as God nie omgegee het nie, was daar geen rede om ‘n teenstelling te sien tussen God se teenwoordigheid, kennis en mag enersyds, en die lyding in ons wêreld andersyds nie.

 

Juis omdat bely word dat God onvoorwaardelik liefhet (Luther se kernpunt), kom God se verborgenheid aan die orde – ‘n verborgenheid waarmee God self, in Christus, as mens aan die kruis gekonfronteer is, en waardeur die Gees só verrassend mense op die diepte van God se liefde laat vertrou.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

Om as kerke met kultuur te sukkel

September 5, 2012 in Sonder kategorie

(Hierdie stuk het in die Kerkbode verskyn.)

 

Hoe moet ‘n mens kultuur verstaan? En het menswaardigheid iets daarmee te doen? ‘n Tyd gelede het ‘n aantal teoloë ‘n dag lank met akademici uit ander vakgebiede hieroor in gesprek getree.


Prof. Günter Thomas, ‘n teoloog van die Ruhr-Universiteit, Bochum, Duitsland, het gewys op die moeilik grypbare kultuur van ‘n gemeenskap. Hoe mense hul eie kultuur verstaan en aanbied, word in ‘n groot mate bepaal deur hul posisionering teenoor ander. Wie se kultuur word nou eintlik as die ware een in eie kring erken? Wie se mag word daardeur bevorder? Wie besluit? Nog meer diepgaande: Is dit nie onmoontlik vir ons om die wese van wie en hoe ons is vas te vat nie?


‘n Teoloog van die Universiteit van Wes-Kaapland, prof. Douglas Lawrie, lewer aansluitend weer kritiek op die idee dat geen oordele gevel mag word oor hoe mense van ander kulture dinge sien en benader nie. Mense met botsende opvattings en waardes het immers invloed op mekaar, raak mekaar en kan nie daaraan ontsnap nie dat dinge besluit en uitgevoer moet word. Alles kan dus nie gangbaar wees nie; sommige dinge moet verwerp word.


Alle ander deelnemers aan die gesprek daardie dag het die twee genoemde sprekers se afwysing van eksistensialistiese kultuurbegrippe ondersteun: kultuur is veelkantig, vloeibaar, onvaspenbaar en intern vol spanninge. Is dit dan nie beter om op te hou daaroor praat nie? Onthou, daar was ‘n tyd – die jare van apartheid – toe kultuurgroepe se grense deur die staat aangewys en instand gehou is.


Van die belangrikste perspektiewe om van kennis te neem is die kontras tussen wat na botsende benaderings hieroor lyk – albei uit perspektiewe van voorheen onderdrukte gemeenskappe. Aan die een kant is daar teoloë en ander kerkbetrokkenes wat juis die belang van kultuur voorop stel. Die logika lui dat juis diegene wie se kultuur dominant is en dus oor dié van andere oorheers geen sin daarin het om die saak aan die orde te stel nie. Tog bly dit lastig: Hoe kan kultuur ernstig geneem word sonder dat weer in die absolutistiese denke van apartheid verval word?


Daarteenoor is daar groeperings – nogmaals uit die ervaring van onderdruktes – wat juis niks van kultuurbewussyn wil weet nie: Wat moet tel in die kerk, is nie kulturele identiteite nie, maar juis die gedeelde geloofsbelydenis.


Die lastigheid bly: Ons almal dink en verstaan wat ons waarneem en beleef uit aannames en maniere van kyk wat uit tradisies en gewoontes groei – grootliks heel onbewustelik. Kultuur kan geïgnoreer word, maar nie weggetoor word nie. Hoekom word die evangelie anders uitgedruk en beleef juis namate dit in nuwe kontekste grondvat?


Maar hokaai …


Dit gaan hier oor ‘n nes van onontwykbare vrae en uitdagings!


‘n Gegewe is wel dat, juis in die apartheidsjare, die NG Sendingkerk (tans ook die breër VGK) se Belhar-belydenis iets oor kultuur te sê gehad het: “Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk (‘een heilige algemene Christelike kerk’) as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is … dat hierdie eenheid in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God.” (skuinsdruk toegevoeg)


Soos die NG Kerkfamilie toenemend realiseer, sal saam gedink, probeer, gesukkel en gestoei moet word. Juis daardie saamworstel sal as uitdrukking van die verbondenheid tot eenheid met mekaar sal dit ‘n uitdaging maak. Die dag as alle faktore vanselfsprekend en eenvoudig blyk, sal dit die einde van saamleef beteken.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.