Op Neville Alexander se verjaardag op 22 Oktober

Mei 28, 2012 in Sonder kategorie

 Ek sal nie daarop aanspraak maak dat ek Neville Alexander op ‘n persoonlike vlak van naby ken nie. Dit was nog altyd in verband met meertaligheidsaktivisme en verwante maatskaplike aangeleenthede dat ek met hom te doen gekry het. Verder probeer ek alles van hom lees wat ek kan. Tog wil ek dit waag om iets oor sy karakter te sê. Neville is vir my ‘n beliggaming van sekere deugde wat in ons samelewing skaars geword het.

 

Hy is nederig – nie soos iemand wat sy eie vermoëns en belang onderskat of misken nie, maar as een wat nie daarin roem of daarvoor vereer wil word nie. Hy het ‘n ego, soos dit ook hoort, maar dit lyk nie asof hy sy ego belangriker as ander mense s’n ag nie. Dis asof dit vir hom doodnatuurlik is om daarvan uit te gaan dat sy uitsonderlike talente daar is om in die belang van die hele samelewing te gebruik. Sy styl weerspieël dit ook: sy voorkeur vir eerste name bo titels, die feit dat ek hom nog nooit in ‘n pak of met ‘n das gesien het nie, maar meermale al in kortbroek en plakkies by amptelike geleenthede.

 

Hy is onselfsugtig; ‘n mens sou ook kan sê onbaatsugtig. Hy eis nooit spesiale behandeling op nie en is altyd bereid om aan versoeke te voldoen om iets te skryf, iewers op te tree, saam planne te maak en so meer – en dit sonder om vergoeding te eis. Trouens, elke keer wat ek hom nog vir ‘n bydrae wou vergoed (byvoorbeeld as hy iets vir die koerant se boekeblad of vir LitNet geskryf het), was hy ongemaklik daarmee en het hy die vergoeding dan maar vir een of ander goeie saak geskenk. Ek is oortuig daarvan dat hy iemand is wat meer as sy tiende weggee, en wat dit self nie as ‘n verlies ervaar nie omdat hy bevrediging daaruit kry om ander te sien blom.

 

Hy leef en gedra hom eenvoudig – geen weelderige klere, blink motors of ander verbruikersimbole nie. Waar daar geëet en gedrink word, is daar by hom ook nie oordaad nie. Hy kom oor as iemand wat met klein, eenvoudige dinge tevrede is. CS Lewis het ‘n keer opgemerk dat die moderne term vir matigheid “sales resistence” is. Ek dink Neville sal daarvan hou! Anders as die meeste het hy nooit sy (formidabele) “struggle credentials” as toegangskaartjie tot hoë posisies, hetsy in die politiek of die private sektor, gebruik nie.

 

Hy is iemand wat sy kop gebruik. Dis sagkens gestel. Hy het baie kennis, baie insig en ‘n vlymskerp analitiese oog. Wat veral tref, is egter dat hy in die wyse waarop hy kommunikeer geen onderskeid tussen “intellektuele” en “gewone” mense maak, met argumente vir eersgenoemde en populisme vir laasgenoemde, nie. Kennelik beskou hy elke mens as potensieel intellektueel, denkend en ontledend. Sy utopie lyk nie soos Plato s’n, waarin die slimstes regeer, nie, maar is juis een waarin almal slim is, almal se verstand tot hul reg kom en in die algemene belang aangewend word. So praat hy met akademici en politieke leiers, en so praat hy met studente of die breë publiek. ‘n Dieper respek vir menswaardigheid kan ek my moeilik voorstel. Maar juis daarom kan hy ook skerp wees, want hy verwag van mense met ‘n kop om dit te gebruik. Ek onthou ‘n keer toe ‘n rektor van een van ons universiteite oor taal in die hoër onderwys gepraat het. Na die tyd is Neville (op sy kalm manier) ontstig, en praat hy van “intellektuele lafhartigheid” – al blyk dit ook dat hy met die betrokke rektor ‘n afspraak gemaak het om die saak deur te praat. Die teenoorgestelde van ‘n intellektuele lafhart? Neville Alexander.

 

Bogenoemde eienskappe stel hom in staat om ‘n ware vryheid uit te straal. Hy sê wat hy dink waar is; hy doen wat hy dink reg is. Hy is nie bang om sleggesê of beswadder te word, sy werk te verloor, laag gegradeer te word of aantreklike “geleenthede” mis te loop as dit die prys vir sy opregte eerlikheid is nie. Wanneer hy praat of doen, kan mense dalk daarmee verskil of daarteen wees, maar hulle sal nooit vermoed dat hy met ‘n onderduimse speletjie besig is nie. Sjoe!

 

Hy is verdraagsaam. “Let a thousand flowers bloom,” sê hy dikwels. Miskien moet ‘n mens selfs, in Heinz Kimmerle se terme, sê dat Neville nie net verdraagsaam teenoor mense is, of hulle respekteer nie, maar hulle ag. Sy skerp verstand en vaardige aanwending daarvan lei nie tot ‘n sug om te heers en af te dwing nie. Hy weet waarmee hy verskil en hoekom, en hoe om dit histories en sosiaal te plaas, maar hy is altyd bereid om met enigeen in gesprek te tree – selfs etniese nasionaliste of kapitaliste … Hulle het nie ‘n kans teen hom nie, want outentisiteit is onoorwinlik. Daarom die oop gemoed, die vriendelik glimlaggie, die sagte, nederige manier om te sê: “Ek stem nie saam daarmee nie, maar …”

 

Hy het ‘n passie vir geregtigheid en billikheid. Daaraan het hy hom gewy van ‘n jong ouderdom af, en die prys daarvoor betaal – sonder sigbare bitterheid. Ek hoef nie meer daaroor te sê nie.

 

Neville is nie ‘n Christen nie, maar wat ek hierbo beskryf, is byna ‘n uiteensetting van wat in die Christelike tradisie as deugde beskou word. Anders as in die antieke deugdeleer van Aristoteles en ander – waar deugde op die eie “waardigheid” oftewel status gemik is – het die vroeë kerkvaders en hul beste geestelike nakomelinge ‘n deugdeleer ontwikkel wat by ‘n ander soort opvatting oor waardigheid pas – een waarin die laastes eerste is, elke ledemaat die liggaam as geheel dien en mense nie aan hul eie roem en grootsheid vasklou nie, maar hulle ter wille van ander ontledig. Dit gaan hierin nooit oor passiwiteit en aanvaarding van die slegte lot nie, maar oor ‘n radikale soort protes en weerstand: om reeds in ‘n nuwe wêreld te leef wat anders, so anders, lyk as die een wat die meeste van ons as die regte wêreld beskou. Dit is iets wat goeie Marxiste soos Terry Eagleton insien, maar wat Neville Alexander vergestalt.

 

Toe Neville onlangs met my derdejaar-teologiestudente oor taalverskeidenheid en menswaardigheid kom praat het (ja, só verdraagsaam is Neville!), was hulle beïndruk, aangevuur, geïnspireer – en stomverbaas (nes ek) om te hoor dat hy in daardie week sy 75ste verjaardag sou vier. Geluk, Neville, en mag daar nog baie wees!

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op Op Neville Alexander se verjaardag op 22 Oktober

  1. Perdebytjie het gesê op Mei 28, 2012

    Ek wens alle Suid-Afrikaners was so,dan het ons ‘n wenland gehad.Dankie vir die interessante stuk oor ‘n besonderse mens!

  2. lora2me het gesê op Mei 28, 2012

    Ek onthou hoe baie hy betrokke by allerlei projekte gedurende die vroeë tagtigerjare was. Hy het sy telefoon self beantwoord en altyd tyd vir navrae gehad. ‘n Interessante man wat seker ‘n baie makliker paadjie as die struggle-keuse kon geloop het, maar dit anders verkies het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.