Ter helle neergedaal?

Mei 7, 2012 in Sonder kategorie

Uit my rubriek in die Kerkbode:

Wat beteken “ter helle neergedaal”? Op soek na ’n Bybelteks word tradisioneel verwys na 1 Petrus 3:19: “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.” Met “die gevangenes” word die doderyk bedoel – in die Geloofsbelydenis die Griekse hades, in Afrikaans met “hel” vertaal.

Baie hedendaagse voorstellings van die lewe ná die dood is positief: die “ander kant” as ’n herontmoeting met geliefdes en ’n ervaring van lig en sielerus. In die Jodendom van Jesus se tyd was dit nie vanselfsprekend nie. Die toestand waarin dooies verkeer, is dikwels as skaduagtig voorgestel.

Die Hebreeuse woord vir die doderyk, sjeôl, dui in die Ou Testament op iets afstootliks en skrikwekkends. Dink aan Psalm 18:5: “Bande van die dood het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig.” Of Psalm 6:5: “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie.” Verlossing is dan nie, soos in die hedendaagse mitologie, bevryding van die siel uit die liggaam nie, maar behoud in die lewe: “U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.” (Ps. 30:3) ’n Siel sonder liggaam was geen aantreklike gedagte nie!

Verbaas dit dan dat Jesus, in die aangesig van die dood, die woorde van Psalm 22:2 uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mk. 27:46; Mt. 15:34) Ook vir Hom was die dood “bande” en “strikke”.

Tog is die neerdaling ter helle dikwels as ’n oorwinning voorgestel. Volgens sommige vroeë Christene het God (nie letterlik nie, maar as ’t ware) ’n ooreenkoms met die Duiwel aangegaan: Laasgenoemde sou die siele in die doderyk vrylaat in ruil vir die siel van Christus. So het dit dan ook gebeur, maar omdat Christus die Seun van God is, het sy aankoms in die doderyk dié ryk vernietig. Sy Goddelikheid was die hoek in die aas wat deur die Duiwel verorber is!

Sulke verhale het nooit amptelike dogma geword nie, want onderhandeling met die bose of slinkse bedrog strook nie met die Christelike Godsbeeld nie. Die gedagte van Christus Victor, Christus die Oorwinnaar, is egter nie agtergelaat nie, ook omdat dit Bybels is: “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (Kol. 2:15)

Skynbaar teenoor hierdie triomfantlike voorstelling, word Christus se neerdaling ter helle ook dikwels met vernedering en selfontlediging verbind. Die volgorde “gely … gekruisig, gestorwe … begrawe … en ter helle neergedaal” word dan só verstaan dat God self in Christus tot in die diepste duisternis van ons bestaan afgedaal, en ons verlorenheid gedra, het.

Staan triomf teenoor selfontlediging? In 1 Petrus hou Jesus se besoek aan “die gevangenes” verband met Christene se lyding in ’n wêreld waar hulle vreemdelinge is. Sulke skynbaar sinnelose lyding moet hulle nie afskrik nie, sê die briefskrywer, want God kan déúr lyding heen oorwin.

Omdat Christus van God verlate was, is God ook “deur donker dieptes” (Ps. 23) by ons, is ons nóóit alleen nie: “gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.” (Ps. 139:8)

As ons selfs in ons Godverlatenheid nie van God verlate is nie, maar “in Christus” (Rom. 6:13), dan het Christus ons ook nie agtergelaat toe Hy “op die derde dag weer opgestaan het uit die dode” en “opgevaar het na die hemel” nie: “soos Christus … uit die dood opgewek is, (sal) ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.” (Rom. 6:14)

Christus red ons nie ván die liggaamlike lewe nie, maar vír dié lewe, “en dit in oorvloed” (Jn. 10:10).

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word. 

51 antwoorde op Ter helle neergedaal?

  1. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Eintlik het jy natuurlik geen konkrete bewys vir enigiets wat jy hier skryf nie. Jy herhaal maar net ander mense se versinsels uit ‘n twyfelagtige bron aan en versin dan op jou beurt ‘n bietjie by.

  2. gerritbrand het gesê op Mei 7, 2012

    Johan, uitleg van ‘n beskouing is iets anders as “bewyse” vir die waarheid van daardie beskouing nie. Dink bv aan: “Hoe het die antieke Grieke die dood verstaan?” Dis een vraag. “Was die Grieke reg?” Dis ‘n ander soort vraag. Maar afgesien daarvan: ons arme moderne mense sukkel maar alewig om simboliese, metaforiese, digterlike taal te verstaan. Dis alles net “wetenskap” en “bewyse” of niks. Ai.

  3. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Gerrit ek gaan mos nou nie val vir daardie stukkie kwasi-intellektuele voetwerk nie.

    Hoe ek die dood verstaan en hoe die antieke Grieke dit verstaan het, is van belang net sover dit gaan oor my of die Grieke se identiteit. (Die vraag oor die lewensbeskouing van die Grieke was toevallig die eerste vraag in my heel eerste filosofie-vraestel).

    Maar dis mos nie waarmee jy hier besig is nie. Jy is besig om ‘n beskouing van die dood te predik vanuit ‘n boek wat jy en ander dominees as die volle heilige waarheid aanvaar en opstel. Of is dit nie meer in die NG Kerk se geloofbelydenis nie?

    So die vraag is nie ‘n interessante sosiologiese ondersoek na individue en groepe se doodsbeskouing nie. Dis inderwaarheid ‘n dogmatiese – jou protestasies ten spyt – bespreking van wat op sondaars wag as hulle nie voor jou god neerval en hom aanbid nie.

  4. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Ons kan later gesels oor jou foutiewe aanname dat dit net wetenskap en bewyse of niks is nie.

  5. benvanbruggen het gesê op Mei 7, 2012

    Johan, Ek het groot respek vir Gerrit se intellek en daarom het ek maar my teleurstelling gesluk wanneer hy volgens my tyd mors met bybeluitleg in sy kerkbode artikels. Dankie dat jy verwoord wat ek al lankal wou.

  6. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Bruggie, dit maak nie saak hoe groot jou intellek is nie. Godsdiens sal dit elke keer pootjie. Herhinner my op ‘n stadium om die praatjie te soek waar Neil deGrasse Tyson wys hoe Newton se geloof hom gestop het om verdere vordering in die fisika te maak.

  7. vuurklip het gesê op Mei 7, 2012

    @Johan: “… kwasi-intellektuele voetwerk …”

    Hehe.

    ‘n Teologiese eierdans …

  8. gerritbrand het gesê op Mei 7, 2012

    Johan, daardie “foutiewe aanname” is die kern van die saak, of hoe?

  9. gerritbrand het gesê op Mei 7, 2012

    vuurklip, nou ja.

  10. gerritbrand het gesê op Mei 7, 2012

    … A, dis hoekom Johan toe soveel verder ontwikkel het. Mooi so.

  11. gerritbrand het gesê op Mei 7, 2012

    bruggie, oor die “kwaliteit” van my gedagtetjies sal ek beslis nie probeer oordeel nie, maar dat die uitleg van tekste, veral antieke tekste, waarde het, sal ek nooit saam met jou kan ontken nie. Ek het seker maar te veel hermeneutiek gelees! Jammer daaroor.

  12. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Nee dit is nie Gerrit en ek is meer as bereid om daaroor te praat. Maar ek wil nou eers uitsluitsel kry oor die punte hierbo.

  13. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    So hoe versoen jy die ouer antieke tekste waarin Mithras byvoorbeeld beskryf word met die nuwe testament?

  14. johanpienaar het gesê op Mei 7, 2012

    Bruggie: Hier is die punt wat ek maak baie meer elegant uiteengesit deur Tyson: http://www.youtube.com/watch?v=6oxTMUTOz0w&feature=related

  15. oomjan het gesê op Mei 7, 2012

    Dit is moeilik om ‘n geloof wat hulle so 1500 jare gelede uitgedink het ‘n moderne beslag te gee.

    Jy verklaar glad nie in enige verstaanbare terme wat “ter helle neergedaal” beteken nie en jou slotopmerking is onsinnig gegewe die bedenklike omstandighede waarin miljoene mense op aarde leef.

  16. Vetjan het gesê op Mei 7, 2012

    hahaha.. hoekom het 15% nie ?! Tyson is briljant.

    Gerrit ek is seker dat die studie en uitleg van
    oorvertelde,oorgeskryfde,oorvertaalde, vierdehandse ou geskrifte interresant kan wees, maar GLO JY regtig die slangolie wat jy hier opdis is die woord van god?

  17. Unicorn007 het gesê op Mei 7, 2012

    Baie interessant en tog so onnodig. God is mos almagtig. Hoekom moes Jesus nou te helle neerdaal en God self “verlate” wees as hy in sy almagtigheid net ons sondes kon vergewe. n Masogis miskien?

  18. benvanbruggen het gesê op Mei 7, 2012

    Gerrit, die uitleg van antieke tekste het vir antropoloe” waarde in n wetenskaplike joernaal , maar in die Kerkbode is dit n poging om geloof te versterk of om skynslim moderne kritiek
    te besweer.

  19. benvanbruggen het gesê op Mei 7, 2012

    Goed gestel, Petrus.

  20. exionperfexi het gesê op Mei 7, 2012

    Sterkte Gerrit. Vir die bloglesers hier wat dalk “verleer” het dat daar, as teenpool van God se liefde en genade, ook ‘n hel en ‘n satan bestaan : lees die onteenseglike bewys daarvan in hierdie ongelooflike ongelowiges se gekyf op hierdie waardetoevoegende blog in hierdie toenemend verslikkende litnetwebspasie …

  21. JeanDavitte het gesê op Mei 7, 2012

    Hi Gerrit, Ek het vlugtig gescan oor die pseudo-intelektuele kommentaar hieronder en besluit dat dit geen kommentaar regverdig nie.
    Dis well said – Ons almal wonder oor die vreemdheid van ons totale verganklikheid.

  22. JeanDavitte het gesê op Mei 7, 2012

    Antwoorde kry jy as jy braai, nie as jy voor die computer sit nie. Of as jy lepel-le (met ‘n kappie op die e).

  23. JeanDavitte het gesê op Mei 8, 2012

    Johan, dis baie woorde met geen betekenis nie. Gaan drink eerder ‘n bottel wyn by die rivier.

  24. JeanDavitte het gesê op Mei 8, 2012

    Hi Gerrit, ek het toe maar ‘n comment of twee daar onder by die intelektuele wankers gelaat – sorry daaroor.

  25. johanpienaar het gesê op Mei 8, 2012

    Jinne Jean dis n flou poging. Ek sien vir jou n groot toeloms in die teologie.

  26. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Johan, watter punte is dit? Ek probeer nie snaaks wees nie. Dis net dat ek op van dit wat jy geskryf het, gereageer het, en ek is nie seker waaroor jy dit nou wil he nie.

  27. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    JeanDavitte, hoekom sit jy dan voor die rekenaar? Gaan braai!

  28. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    En JeanDavitte, gaan drink wyn. Moenie vir Johan se om dit te gaan doen nie!

  29. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Johan, wat laat jou dink JeanDavitte is in die teologie? Ek weet nie. Ek vra net.

  30. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Wat dit moeilik maak om op die soort kritiek wat jy hier lewer te reageer is dat jy dinge aanneem oor wat en hoe ek probeer se. Die soort taal en logika waarteen jt dit het, is nie iets waarmee ek kan identifiseer nie, so hoekom sou ek dit “verdedig” of “uitle”?

  31. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Johan, hoekom sou ek die Mithras-tekste met die NT wil “versoen”? Maar ek vermoed daarby dat jy boonop sekere aannames maak oor hoe ek dinge verstaan, en dat jy mitologiese, historiese en allerlei ander soorte tekste as eensoortig benader.

  32. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    En nou is dit nog “religion” ook, wat 5 000 000 dinge kan beteken. Dis gewoonlik waar die gesprek reeds verdwaal raak. Iemand wat “godsdiens”/”religie” wil verdedig, is ‘n bietjie soos imand wat “idees” of “filosofie” verdedig. Die idee dat filosowe so dink, of dat idees goed is, is betekenisloos. Om godsdiens of religie te verdedig of aan te val is ewe betekenisloos. Die video waarna jy ons lei is ‘n fantastiese illustrasie van daardie soort absurditeit.

  33. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Petrus Pap, as ek soos jy met tekste omgegaan het, sou ek niks daarvan geglo het nie. Die blote feit dat jy veranderings in tekste in die loop van hul geskiedenis as ‘n probleem met “glo” sien, dui op ‘n verstaan van “glo” waaroor ek eintlik niks te se het nie. Jammer ek kan nie help nie.

  34. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    bruggie, ek besweer geen moderne kritiek in my ou Kerkbode-stukkie nie. Verhale, idees, voorstellings en wat nog alles van lank gelede kan nog tot ons spreek. Om hulle net te wil “beskryf” is om onsself ongelooflik te verarm. Vra maar die digters. Maar OK, ek vermoed jou idee van wat geloof byvoorbeeld is, het weinig met my verstaan daarvan te doen.

  35. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Oom Jan, die blote feit dat jy “‘n geloof” iets “uitgedink” kan wees, ‘n soort teorie, dui op ‘n soort hermeneutiek wat verbyster. Dit vat eintlik geloof om te glo dat iemand se kop regtig so werk.

  36. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Darwinia, as jy dinge letterlik lees wat nie letterlik bedoel word nie, soos “hartseer” of “vasklou” aan ‘n idee, gaan dit uiteraard baie snaaks uitkom. Dit kan nogal pret wees; ek stem saam.

  37. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    exionperfex, solank ons nie ‘n begrip soos hel of satan op die manier verstaan waarop mense soos Darwin, Oom Jan, Petrus Pap, Johan ens dit verstaan nie. Die kerk dra self baie skuld in die “ongeloof” deur in baie gevalle sekere Bybelse idees so Bybel-vreemd te interpretteer dat mense dit later nie meer anders kan interpretteer nie.

  38. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    OK.

  39. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Die ruimte is vry!

  40. Vetjan het gesê op Mei 8, 2012

    Die keiser dra nie klere nie 🙂

  41. johanpienaar het gesê op Mei 8, 2012

    Ek weet nie of Jean in die teologie is nie, maar met die manier wat hy reageer op argumente sal hy goed daar inpas.

    Kom ons begin by my vraag of die NG Kerk waarin jy ‘n dominee en in wie se kweekskool jy doseer nog steeds die Bybel as die volle waarheid aanvaar in hulle geloofsbelydenis.

  42. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Petrus Pap, die kaal ou is nie keizer nie.

  43. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Johan, wat bedoel jy met “volle waarheid”? Ek het ‘n vermoede dat wat jy daarmee bedoel deur omtrent geen enkele akademiese teoloog in die land onderskryf word nie, maar ek raai nou.

    Verder is die fakulteit waar ek teoloog is nie ‘n NG fakulteit nie, maar ‘n akademiese instelling aan die universiteit waarin mense uit verskillende kerklike agtergronde as dosente aangestel is. Sommiges van hulle is, na hul akademiese, deur ‘n kerk in die amp bevestig, maar ander nie. En niemand in die fakulteit kan sy of haar werk verloor omdat hy of sy A, B of C glo en verkondig of nie. Dosente aan die fakulteit het dan ook verskillende maniere om na dinge te kyk en daaroor te oordeel. Niemand kan namens ‘n kollektiewe ons praat nie.

  44. Vetjan het gesê op Mei 8, 2012

    ek wonder of die slim ministers van sy hof saam stem?

  45. johanpienaar het gesê op Mei 8, 2012

    Gerrit wat sê die NG geloofbelydenis oor die Bybel?

  46. gerritbrand het gesê op Mei 8, 2012

    Die Bybel word gesien as ‘n versameling van tekste waarin gelowiges se geloof tot uitdrukking kom op ‘n manier wat tot mense in daardie tradisie spreek, tot vandag toe. Jy wil graag hoor: die Bybel bevat foutlose proposisies. Of so iets. Jammer om jou teleur te stel.

  47. johanpienaar het gesê op Mei 9, 2012

    Gerrit wag, ek gaan deur die loop van vandag en vanaand ‘n essay skryf. Ek sal sommer gou die geloofsbelydenis van die NG Kerk in die hande kry, want jou eierdans rondom dit is baie deursigtig.

  48. gerritbrand het gesê op Mei 10, 2012

    Nou raak jy te slim vir my.

    Terloops, ek haal jou in ‘n pas gepubliseerde artikel oor ‘n mooi Afrikaanse woord aan. Waarheen kan ek dit vir jou stuur?

  49. gerritbrand het gesê op Mei 10, 2012

    Johan, jy moet aan jou styl werk.

  50. johanpienaar het gesê op Mei 10, 2012

    Ek weer dink dat dominees en predikers aan hulle styl moet werk.

  51. Vetjan het gesê op Mei 10, 2012

    Dankie Gerrit 🙂

    jou ge pm , kyk jou boodskappe

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.