‘n Intelligente essay oor seksualiteit

Maart 21, 2012 in Sonder kategorie

Die jongste LitNet-essay, “Moeilik om te begryp, gelees teen hierdie landskap“, is geskryf deur Charlene van der Walt. Regtig die moeite werd om te lees! Sy lig die vlak van debatte oor seksualiteit tot ‘n meer gesofistikeerde vlak. Ons leef in ‘n tyd van simplistiese denke. Deur goeie essays kan dit uitgedaag word, soos Charlene hier doen. Sy was ‘n na-doktorale genoot aan die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch, en skryf nou vir Inclusive and Affirming Ministries.

Een van die grootste probleme met standaard-gesprekke oor byvoorbeeld homoseksualiteit (naas simplistiese Skrifgebruik en gewone vooroordeel), is dat komplekse begrippe rondom seksualiteit gebruik word asof dit eenvoudig is, en sonder enige besef van die ideologiese dinamika daarvan.

(Julle kan gerus ook kyk na hierdie interessante aanlyn gesprek oor die onderwerp  – nogmaals op ‘n meer deurdagte wyse as die gangbare.)

Lees dit en kom gesels hier verder daaroor. Maar asseblief mense: doen dit om hemels naam tog op ‘n intelligente, deurdagte en beskaafde manier!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op ‘n Intelligente essay oor seksualiteit

  1. Neander het gesê op Maart 21, 2012

    Ek kon nie veel oor Dr Charlene van der Walt kry nie, behalwe dat sy n nadoktorale genoot in die dissiplinegroep Ou- en Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch is/was.
    Sy het onder andere ook ‘n legitimasie-rede gehou waarin die omstrede Lulani Vermeulen ter sprake gekom het.

    My standpunt is en sal altyd wees dat indien seksualiteit nie vanuit ‘n paleo-psigologiese standpunt benader word nie, dit onvolledig is en weinig bydra tot die akkumulasie van kennis oor die werking van die mens se psige in die algemeen en seksualiteit in besonder.
    Ek is skepties oor die sofistikasie van die essay.

    Ek wonder of sy dalk gaan kersopsteek het daar by Dr Jurie vd Heever en indien nie, waarom nie?

  2. lora2me het gesê op Maart 21, 2012

    Dr vd Walt het interessante sitasies en ek dink dat dit, inderdaad, heteroseksuele mans is wat die meeste skop teen, en ‘n aversie het van, homoseksualiteit, per se. As “hetero”-mans “homo”-mans aanvaar, sou dit beteken dat hulle erken dat daar ‘n “swak” skakel in die manlike eksemplaar is. Vanuit ‘n linguistiese oogpunt, sou ek dink dat die “woordeskat vir..gays” uiters belangrik sou wees deurdat die negatiewe woorde soos “moffie”, “slap gewrig”,”skeef” ens. regtig maar kan verdwyn. ‘n Mens soek ‘n Susan Sonntag-tipe vir die bevryding van diskriminerendem, homoseksuele leksikons. Terloops, ek het al seuns van so jonk as nege jaar oud gesien wat uit doodnormale huisgesinne, met sterk vaderfigure kom, maar dan reeds “gay” tendense toon en, dan, later, in hul twintigerjare, na jare se gewroeg en depressie, uit die spreekwoordelike kas klim. Daar is meer aan die verskynsel as net blote moedswilligheid en andersheid. Wat die NGK aanbetref (self ‘n lidmaat), is dit vir my altyd ietwat komies dat ‘n kerk wat so pas erken het dat hul apartheidaanhalings verkeerd geinterpreteer is, nou skielik nuwe teksgedeeltes oor gay-wees kan uitruk en homoseksuele mense verstoot. Interessante onderwerp…

  3. lora2me het gesê op Maart 21, 2012

    Neander, ek dink dr Jurie vd Heever sou heelwaarskynlik gesê het dat daar in die geskiedenis van die mens nog altyd voorbeelde van homoseksualiteit, en soms “tydelike” homoseksuele aktiwiteite, in sekere etniese groepe is/was. Dus negeer ons hierdie aspek van die interne ontwikkeling en kulturele samestelling en voorkeure van groepe mense. Is homoseksuele aktiwiteit dan nie dalk ook, vanuit ‘n paleontologiese en etnologiese ontwikkelingsperspektief, ‘n spreekwoordelike “feit soos ‘n koei” … of ‘n mens dit wil aanvaar of nie? Ek dink mense dink te veel NET aan die seksuele aktiwiteite van gay mense sonder om hulle as ‘n funksionerende deel van die groter gemeenskap te beskou. Wat dink jy?

  4. Vetjan het gesê op Maart 21, 2012

    aijaijaijajai.

    en so wroeg ons voort

    in die natuurwetenskappe manipuleer en manipuleer ons die statistiek totdat uiteindelik ons hipotese pas.

    en dis net ‘n kwessie van tyd voor iemand soos bv ou Jeremy , van wie ek baie hou, die sirkel voltooi. Charlene se artikel is die gewone impotente masturbasie

  5. Neander het gesê op Maart 21, 2012

    Korrek, ek aanvaar homoseksualiteit as ‘n integrale deel van Homo sapiens se leefwyse.

  6. Petrus Pap, dit lyk my dit gaan hier vir jou oor sensitiewe sakies.

  7. Lora, jy is ook die NG Kerk. Dankie vir jou deurdagte skrywe.

  8. Neander, verklarings is een soort ding, beoordeling iets anders. Alles wat is, is verklaarbaar, anders sou dit nie gewees het nie, maar dit help ons nie om te besluit wat ons daaroor moet dink nie.

  9. Nog iets: die vraag waaroor mense so baie baklei – is homoseksualiteit ‘n aangebore geneigdheid of ‘n keuse? – is eties gesproke irrelevant. Sommige dinge wat mense kies is reg, ander verkeerd. Sommige dinge waartoe mense van nature geneig is, is goed, ander sleg. Biologies is alles in elk geval “normaal”. Dis irrelevant wanneer dit kom by die tema waaroor Charlene dit het.

  10. lora2me het gesê op Maart 22, 2012

    Ek weet, maar ek is nie altyd ten gunste daarvan om te wroeg saam met sekere teoloë en ambisieuse wannabe-teoloë net omdat hulle uit doktorale studiemateriaal geraak het en ten koste van my kerk en die lidmate nou klippe in bosse gooi en duiwelsadvokaat (‘skuus vir die woorspeling hier) speel nie. Die gemiddelde lidmaat is afhanklik van die insette van NG-teoloë en behoort altyd veilig en verseker van hul kerk se spesifieke dogma en interpretasie van die Skrif te voel. Ek hou van die Skrifgebondenheid en Skrifgebaseerde perspektief van die NG Kerkleer asook die afwesigheid van “lastige frilletjies” wat in sekere groepe bestaan. Dankie vir interessante leesstof.

  11. Wanneer jy skryf: “Die gemiddelde lidmaat is afhanklik van die insette van NG-teoloë en behoort altyd veilig en verseker van hul kerk se spesifieke dogma en interpretasie van die Skrif te voel”, stem ek nie saam nie. Dis ook soms teoloe se taak om dinge te problematiseer, komplekser te maak, moeiliker vrae op die tafel te sit, en so meer. Sommige vrae is gewoon moeilik, en dit moet soms juis onder mense se aandag gebring word.

  12. lora2me het gesê op Maart 22, 2012

    Ek het baie respek vir navorsing en daarsonder sal ons nie dinamiese gesprekke kan voer nie, maar ek het ‘n broertjie dood aan al die sekulêre snert wat soms deur individue in sekere dissiplines opgedis word as “gospel” (ek verwys glad nie na jou nie, hoor) en almal ondersteun dit asof dit mode is. Menslik bly menslik en die eenvoud van die woorde, “kinderlike geloof”, kom hier by my op. Daar is sommige uitlatings van teoloë en ander wysgere wat byna vermaaklik is, so uitwykend van aard is dit. Dis nie altyd sleg om by ‘n spesifieke norm of mening te staan nie.

  13. “Kinderlike geloof” het nie met eenvoud te doen nie, maar met ‘n sekere opregtheid. Natuurlik sal daar teologiese denke en perspektiewe wees waarvan ‘n mens nie hou nie, ook wat jy gewoon swak vind (soos in elke vakgebied), maar dit het gewoon met gehalte te doen.

  14. lora2me het gesê op Maart 22, 2012

    Jong, ek speel nou advokaat vir Jan Publiek, dalk nie met baie kwalifikasies of filosofiese denke agter sy naam nie wat altyd glo wat in die naam van ‘n teoloog, geskrif of polemiek tussen godsgeleerdes geskied, bloot omdat hy nie die akademiese of teologiese agtergrond het om van beter te weet nie en te diskrimineer tussen goeie en slegte perspektiewe nie … en die grootste persentasie gelowiges is juis daardie “Jan”. Dus, sou ek wou sien dat die “goeie” uitsprake van gehalte meer aandag in bv. die openbare media moet kry sodat onse “Jan” kan verstaan. ….Maar ek skryf jou blog nou vol allerlei afdwaalgedagtes wat glad nie meer relevant tot die stuk hierbo is nie. Jammer, Gerrit. Ek praat altyd te veel. Wat sê die Bybel nou weer van die tong???

  15. Nee, jy praat g’n te veel nie! Die media? Daar’s nou ‘n ander onderwerp! Op ‘n stadium vanjaar gaan ‘n aantal artikels daaroor in NGTT (http://ngtt.journals.ac.za/pub) verskyn, en ek sal dit dan hier ook bekend maak.

  16. Mooi opmerking. Dankie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.