Bosma-tika: menings oor Afrikaanse reaksies op die Nederlandse politikus Martin Bosma

Maart 15, 2012 in Sonder kategorie

Die jongste miniseminaar wat ek aanmekaargetimmer het – met Ingrid Scholtz, Piet le Roux en Hendrik Theys as bydraers – gaan oor die vraag hoe Afrikaanse mense met die Nederlandse politikus Martin Bosma, wat onlangs Suid-Afrika besoek het, moet reageer. Die vraag ontstaan deurdat Bosma, soos die verregse Partij voor de Vrijheid waarvan hy lid is, sy besorgdheid oor Afrikaans uitspreek, parlementêre inisiatiewe in Nederlands loots om druk op die SA regering te plaas oor sy behandeling van Afrikaans, en – om sake verder te kompliseer – as verkose politikus met die Nederlandse Taalunie (NTU) gemoeid is. Laasgenoemde, waarin Nederland, Vlaandere en Suriname amptelik in belang van Nederlands, maar toenemend ook van Afrikaans, optree, is in beginsel partypolities neutraal en ‘n belangrike buitelandse vennoot van Afrikaans.

Heelwat van die berigte en debat oor Bosma se besoek aan SA het van die aanname uitgegaan dat hy onder meer namens die NTU hier was. Dit het later egter geblyk dat dit nie die geval was nie. Die “spanning” wat sommiges beleef het tussen sy amptelike NTU-funksie, wat van belang van Afrikaans is, en sy verregse partypolitieke funksie, wat vir die meeste Afrikaanssprekendes problematies is, was grootliks dus ongegrond. Dit blyk nou selfs onduidelik te wees of hy sy party hier verteenwoordig het!

Die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat meer as 40 Afrikaanse organisasies en hul honderde lede verteenwoordig, het ‘n sterk kritiese standpunt ingeneem deur dit aan Bosma oor te dra “dat sy Nederlandse Partij voor de Vrijheid (PVV) se houding teenoor Moslems nie vir die ATR aanvaarbaar is nie”, want “baie Afrikaanssprekendes is Moslems”. Hieraan het die ATR se voorsitter, Michael le Cordeur, toegevoeg: “Afrikaans is in die hande van sy sprekers, en ‘nie van politici wat ons wil misbruik vir hul eie doelwitte nie’.” Verder is beswaar gemaak teen Bosma en andere in die PVV se miskenning van Afrikaans se diversiteit deur telkens na Afrikaanssprekendes as Afrikaners te verwys, terwyl nie net mense wat hulself as Afrikaners beskou Afrikaans as moedertaal het nie: “Afrikaans is nie gelyk aan Afrikaners nie.”

Die punt hier is nie om die begrip Afrikaner te verwerp nie, maar daarop te wys dat, behalwe Afrikaners, ook ander groeperinge Afrikaans gebruik. In Jan Rabie se woorde: “Afrikaans is Suid-Afrika se grootste nierassige prestasie.” In die ATR is lankal ooreengekom dat gesamentlik in belang van Afrikaans as gedeelde erfenis opgetree kan word, al is daar ideologiese en identiteitsverskille tussen ledeorganisasies. Daarom word deurgaans ‘n onderskeid gemaak tussen Afrikaner- of Bruin belange (en hul debatte met andere in die ATR wat nie daardie belange wil bevorder nie) enersyds, en Afrikaans-belange andersyds. Die gevoel is nou dat Bosma en kie hierdie posisie, wat oor jare se gesprekke verwerf is, ignoreer en ondergrawe. Daarom het ‘n ATR-ledeorganisasie soos die FAK, wat uitgesproke Afrikaner-belange bevorder, maar erkenning daaraan gee dat Afrikaans wyer strek, byvoorbeeld ook gesê: “Die FAK is geen vriend van die PVV nie.”

Persoonlik (ek praat namens niemand nie!) beskou ek die PVV as ‘n fascistiese organisasie wat willens en wetens etniese konflik in Nederland opjaag. Hul leier, Geert Wilders, is om dié rede selfs toegang tot Brittanje geweier. Die beste wat die Afrikaanse gemeenskap nou kan doen, is om alle samewerking met Bosma en kie van die hand te wys. Selfs waar opsigself regverdigbare mosies in die Nederlandse politiek deur sulke verregses voorgestel, of deur ander aksies uit daardie kring opgeneem word, moet die duidelik antwoord uit Afrikaanse kringe wees: nee dankie. Enige korttermyn-voordele vir Afrikaans sal op die langduur negatiewe nadele vir die taal inhou. Afrikaanses kan veel meer vir die taal bereik deur ‘n sterk standpunt teen enige Bosmatiese uitgroeisels van etniese haat en vooroordele in Europa in te neem.

Wat in elk geval gesond is, is dat Afrikaanse mense hieroor ‘n ingeligte en intelligente gesprek kan voer, en dat geen ernstige deelnemer aan die gesprek hand om die blaas met ‘n figuur soos Bosma of sy party sit nie. Gaan lees die drie bydraes en kom deel julle gedagtes hier.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Bosma-tika: menings oor Afrikaanse reaksies op die Nederlandse politikus Martin Bosma

  1. abrham het gesê op Maart 15, 2012

    die hollanders het die manier om , soos wanneer dit hul pas, afrikaans te her en erken. ek wag nog vir hul erkenning aan hul aandadigheid in die uitmoor van die khoi khoi en san terwyl hulle die kaap beset het. die here 17 was direk verantwoordelik vir die volksmoord.

  2. Let wel: die sakemannne.

  3. Kirpan het gesê op Maart 15, 2012

    Jou miniseminaar was volledig oorbodig.
    Wie vra jou?
    Bly aaseblief weg van Hollandse politiek of gaan Holland toe en verkondig jou evangelie waar dit miskien enig nut het. Ongelukkig wet ek nie wie mnr Bosma is en ek wil ook nie weet nie.
    Maar as jy dink dat dit vir ons belangrik is dan skryf maar weer.
    Cornelis

  4. Cornelis, hoekom sou jy iets lees waarin jy nie belangstel nie, en dan beswaar daarteen he omdat dit jou nie interesseer nie? Vreemde logika. Self lees ek nie goed wat my nie interesseer nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.