‘n Grondwetkenner is bekommerd

Maart 13, 2012 in Sonder kategorie

Die jongste LitNet-essay gaan oor “Grondwetlike demokrasie in ‘n eenparty-dominante demokrasie“, geskryf deur Pierre de Vos. Ja, dis hoe ver dinge al gegaan het – dat ons oor die oorlewing van ons Grondwet begin wonder …

‘n Paar gedagtes van my kant: Ons moet wegkom van die diskoers waarvolgens die ANC die einste Grondwet waarvoor sy geveg het nou ondergrawe. Ons Grondwet was die resultaat van onderhandelings tussen meer as een belangegroep. Die enigste party in daardie onderhandelings wat ooit só ‘n tipe Grondwet wou gehad het, was die DP (deesdae die DA, vroeër jare die PFP, nog verder terug … en so aan). Nie dat dit nou ‘n party is of was waaroor my hart vol emosie klop nie! Buitendien het die DP geen betekenisvolle groepering verteenwoordig nie, en was hul belange van weinig betekenis. Die twee belangrikste onderhandelaars – die NP en die ANC – was tot op daardie stadium om verskillende redes sterk gekant teen die soort Grondwet wat ons vandag ken.

Menseregte? Ek onthou filosowe, teoloë, politieke kommentators, politici en ander “denkers” uit NP-, meestal Broederbond-kring wat selfs die konsep van menseregte bevraagteken of afgeskied het – as humanisties (asof dit iets slegs is!), selfs kommunisties (absurd, maar só het die koppe toe gewerk). Waar daar wel erkenning aan menseregte gegee is, was die oortuiging dat dit nou ook nie oordryf moet word deur byvoorbeeld ‘n handves teen te staan waarin sulke regte daadwerklike regstatus kry. Dit sou te veel gevare inhou, gesien die unieke situasie in Suid-Afrika, met die kommuniste wat die land sal oorneem. Die soort logika wat lui: ter wille van menseregte moet menseregte nie toegeken word nie, want menseregte sal die einde van menseregte beteken. Wonderlike materiaal vir ‘n eerstejaar-filosofiekursus oor onlogiese drogredenasies.

Die ANC het tot baie kort voor die onderhandelde skikking nog daaraan vasgehou dat ‘n veelpartystelsel ongewens is, en was nie te vinde vir ‘n liberale demokrasie nie. Menseregte is meer in die Stalinistiese lyn verstaan as ‘n samelewing wat op die langduur in almal se belang is – wat as rede dien hoekom DIE PARTY alle mag moet besit en geen teenstand durf dult nie. In ANC-kringe is die onderhandelde Grondwet met heelwat teleurstelling begroet: ons het nie gekry wat ons wou hê (absolute mag) nie, maar dis beter as wat ons sou gehad het as ons nie die skikking bereik het nie.

Die rede hoekom die ANC nie van die soort Grondwet gehou het wat ons toe gekry het nie, is dat hulle geweet het dit sal hul mag beperk. Dis die hele punt daarmee! Wanneer pres. Zuma sê die ANC is belangriker as die Grondwet, of dat die Grondwethof hom nie met beleidsake moet bemoei nie (‘n bietjie soos om te sê sokkerspelers moet hulle nie met sokker bemoei nie), praat hy gewoon die taal van die ANC. Daar is niks nuuts aan nie. Vandaar dan ook die druk op die Grondwet, soos die nuwe “ondersoek” na dié se uitwerking op armoede en so meer. Van wanneer af moet ek Grondwet armoede verlig? Ek dog dis juis een van die regering se take en dat die Grondwet die regering daarvoor verantwoordelik moet hou!

En die liberales? Wel, ‘n jaar gelede bevind die hof, heeltemal tereg, dat die regering nog al die jare die Grondwetlike vereistes oor taalbeleid oortree. Daaroor was die liberales nie bekommerd nie, en is hulle nog steeds nie. Nou ja, as sekere regte nie so belangrik is nie, hoekom dan die ander? Daarom wonder ek soms hoekom hulle nou so verbaas is.

Beteken dit ‘n Grondwet is onbelangrik? Alles behalwe! Dis juis wat dit belangrik maak: dat ons nooit naïef word oor die goeie bedoelings van politici nie. Dis juis as regeerders vertrou kan word dat ‘n Grondwet nie nodig is nie. ‘n Grondwet, veral menseregte, is iets om voor te baklei. Dit sal dit ook altyd wees. Aluta continua.

Wat dink julle? Maar lees darem eers Pierre se essay voordat julle kommentaar daarop lewer! En lewer die kommentaar dan sommer hieronder. Laat ons gesels.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

7 antwoorde op ‘n Grondwetkenner is bekommerd

  1. vdmbj het gesê op Maart 13, 2012

    Ek is wel bekommerd, maar ek glo dit sal bitter moeilik wees om aan die Grondwet te torring. Die regerende party moet versigtig wees. Hulle kom baie selfvoldaan voor in baie van hulle korrespondensie. Begin elke keer deur te wys na die lang vryheidstryd en hoe die vryheidstryd hulle suiwere motiewe beklemtoon en waarborg. As hulle nie versigtig is nie dan gaan hulle die propagandastryd verloor – eintlik verloor hulle dit al ‘n hele ruk, dis hoekom al die drama met die media tribunaal, maar vir hulle kan dit nog baie, baie lelik raak vorentoe as hulle nie versigtig is nie.

  2. Die massas stel nie belang in die ho”e argumente
    oor grondwette en regstate nie. Daarom is die growwe
    argumente van politici so gevaarlik. Geleerde besprekings gaan die ANC nie keer nie. Daarom is die
    beheer van die die media so belangrik om op n vlak wat by die massas resoneer terug te veg. Die ANC
    slagspreuk is Verander die grondwet want dit keer ons om die (gesteelde) rykdom onder die armes te verdeel. Miskien kan die massas deur die media wysgemaak word dat Korrupsie keer groei. Korrupsie
    vertrap die armes.Die Grondwet is goed. Die ANC is
    korrupt. Maar dan moet Whitey Basson nie R68 miljoen in n jaar “verdien” nie.

  3. Ek weet nie hoe besorg die ANC oor die armes is nie. Die weerstand teen die Grondwet in die huidige konteks het dikwels meer te doen met die frustrasie oor mense wat die Grondwet deur die howe gebruik om die regering vir wanbestuur of korrupsie verantwoordelik te hou.

  4. Wat my dikwels tref, is die ooreenkomste tussen die ANC se manier van druk hanteer met die mentaliteit van die NP in sy sterwendjare. Ek dink die doodsklok het reeds gelui, maar is bekommerd oor die sterwende party se skade aan ons samelewing gedurende die sterwendproses.

  5. Jy’s reg, maar dit maak nie n lekker slagspreuk nie. Die tenderpreneurs wil
    ook graag die media aan bande l^e deur
    die grondwet te verander sodat inligting
    kamptig vir staatsveiligheid geheim gehou kan word. Raar is die politikus wat nie verdoesel nie.En wat is nou eedler as kampvegter vir die (swart)armes veral as jy swart is en
    75% stem tussen jou en almag staan. Dus, pluk die maskers af met slagspreuke oor korrupsie en hoop genoeg swart armes weerhou hul stem.

  6. Fonnie01 het gesê op April 14, 2012

    Die ANC se sterwens angs gaan ons nog duur te staan kom. Meeste van die kaders se vermoe om buite ANC se tender dampkring hul leefstyl te handhaaf is tot misdaad beperk. Ons enigste troef is en bly ‘n onverskrokke media. Die ANC het destyds die Apartheids bewind hierin getroef. Dis nou die ANC se beurt om te skerm vir oorlewing.

  7. Jip.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.