Gekom om te dra

Maart 1, 2012 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

“God het dit aan die bas gevoel,” laat glip ‘n predikant dit in ‘n oomblik van diep nadenke en emosie oor die belangrikste geloofsvraag, so raak opgesom in die teoloog Bram van de Beek se boek Waarom? Over lijden, schuld en God. Die gesprek vind plaas in een van Communitas se kursusse vir voortgesette bedieningsopleiding in Stellenbosch. Daar is ‘n oomblik van ongemaklike stilte: ons kan mos nie só oor die Heilige God praat nie? Dan kom die gesamentlike besef: Ons kán so oor God praat; ons móét selfs! Ons bely mos dat God regtig mens geword het, nie “soort van” nie.


Soms word die eienaardigste gedagte ‘n toetssteen vir ware geloof. In die vyfde eeu ontstaan byvoorbeeld ‘n hewige twis in Efese oor die populêr geworde eretitel Teotokos, “God-baarder”, vir Maria. Stephen Need verduidelik die agtergrond hiervan in sy boek Truly Divine and Truly Human: Voorheen is die godin Artemis met groot peïteit in daardie streek aanbid, en namate die bevolking verchristelik, en Artemis afgesweer, is, het die behoefte ontstaan om in haar plek ‘n Christelike vrouefiguur, indien nie te aanbid nie, dan ten minste te vereer. En daarvan getuig die Bybel mos: Maria is die vrou wat aan Christus geboorte geskenk het!


Gesien dié agtergrond, is dit seker nie vreemd dat Nestorius, toe ‘n aartsbiskop, ongemaklik met die populêre titel was nie. Sy argumente het egter nuwe vrae opgeroep. Só betoog hy dat, as Maria die moeder van God was, dit sou beteken dat God gebore is, of op ‘n sekere datum drie jaar oud was – en dit is tog onmoontlik! God is in ewigheid immers onveranderlik en kan nie ly nie.


Maar is dit waar? kan ‘n mens vra. Maak Nestorius hiermee nie sekere spekulatiewe idees oor hoe God móét wees (idees ontleen aan die Griekse filosofie) normatief vir wat Christene mag bely nie? Moet die getuienis van die eerste Christene, soos weerspieël in die vroegste tekste, nie eerder ons “natuurlike” Godsvoorstellings onder kritiek stel, suiwer, selfs op hul kop keer, nie? Paulus skryf mos oor Jesus, die Een wat uit God self “gestuur” is en God se eie “Gees” dra, dat Hy “uit ‘n vrou gebore” is (Gal. 4:4-6). As dit nie by ons prentjie van goddelikheid pas nie, dan weg met ons prentjie! Om daaraan vas te klou is om dan tóg die eenheid van God en mens in Christus te bevraagteken. Daarom word uiteindelik deur die Konsilie van Efese bevestig dat Maria as Theotokos bely móét word – ook al staan dit nêrens uitdruklik in die Bybel nie.

Daar is raakpunte met die dominee se uitlating die ander dag oor God se “voel aan die bas”. Wie uit ‘n vrou gebore is, op ‘n stadium drie jaar oud was, “mense van vlees en bloed” na hom getrek het deurdat Hy “soos hulle mens geword” (Heb. 2:14) het, was “in elke opsig net soos ons” (Heb. 4:15). Ook Hy het “gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane” (Heb. 5:7). Hy het dit die moeite werd geag om die waardigheid van mens wees, en daarmee die weerloosheid, die breekbaarheid, op hom te neem.


Van de Beek skryf in sy Jezus Kurios: “God is niet gekomen om de wereld moreel te verbeteren, maar om die te dragen.” Op die vraag hoekom God ‘n wêreld skep waarin lyding moontlik, selfs onvermydelik, is, kan moeilik ‘n antwoord gegee word, behalwe dan om te onthou dat dié God ons nie aan onsself oorlaat nie, maar tot een van ons ontledig word (Fil. 2:7) – dit aan eie bas kom voel.

Vleeswording en kruisiging, epifanie en lydenstyd, is twee kante van ‘n munt.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op Gekom om te dra

  1. voel got aan die bas??
    Uh is dit nie ‘n effense faux pass verwysing van hoe so talle priesters en predikers te kere gaan wanneer hulle met kinders oor die tou spring nie?
    Wanneer gaan jy terug Burger toe?
    Ek sien hulle molly coddle steeds daai ma se kont se rassis wat SA aanval onder die dekmantel van rugby…tsk tsk…

  2. gerritbrand het gesê op Maart 8, 2012

    Wie is die rassis?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.