Laat hoor en sien verstaan

Desember 1, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Geloof gaan oor hoor, nie oor sien nie, herinner Michael Horton ons in sy kraakvars sistematiese teologie, Christian Faith. Hiermee staan hy in die tradisie van die hervormers, wat na Bybelwoorde, eerder as ons selfgemaakte beelde van God, teruggegryp het. ‘n Belangrike verskil tussen die Joodse en Grieks-Romeinse kultuur was dat laasgenoemde op “sien is glo” gereken het, maar eersgenoemde op “hoor is glo”. (Omdat dit hier nie slegs oor letterlike Godspraak gaan nie, maar ‘n metafoor, kan dowes ook in dié sin “hoor”.)

 

Die hoor waarop geloof in die Abrahamitiese tradisie berus, teenoor die sien van die antieke filosofie, het daarmee te doen dat God ons aanspreek – die inisiatief lê nie by ons nie. Baie Bybelskrywers praat so, soos die skeppingsmites in Genesis: eers God wat deur woorde skep, en daarna meneer Mens (Adam) en mevrou Lewe (Eva) wat aangespreek word. Abraham en Moses word geroep en gestuur. Die Woord van Jahwe kom na, en deur, profete. Selfs wanneer visioene gesien word, gaan dit met spraak en uitleg gepaard. Geloof kom deur hoor, sê Paulus later, en Jesus weerstaan die Duiwel se versoekings met Skrifwoorde.

 

Dit maak ‘n verskil of ons sien of hoor. Horton verwys na Paul Tillich se onderskeid tussen twee soorte godsdiens: “overcoming estranchement” en “meeting a stranger”. Die eerste is óns werk; die tweede kom van buite.

 

Die antieke blik, daarenteen, wil insien dat God sus of so moet wees – soos in die Middeleeue, toe dit skynbaar ooglopend was dat God die grootste denkbare wese moet wees, en glashelder watter “grootmakende eienskappe” dit impliseer. Insig in die Goddelike kom dan deur wat ek sien, die klaarblyklike – hetsy deur introspeksie of in gewaarwordings deur ervaring. Die vader van die moderne kennisleer, René Descartes, was weer opsoek na “helder en duidelike idees” as vertrekpunt van alle kennis – ook empiriese wetenskap. So dink ons vandag nog: I spy with my little eye! 

 

Wat toevallig ons retina indring, of waarvoor ons gretig op die uitkyk is, verskil van ‘n stem wat ons aanspreek. Só ‘n stem is nie toevallig nie; nog minder onder ons beheer. Die ander kan praat wanneer ons stilte sou verkies, stilbly wanneer ons ‘n antwoord soek, anders praat as wat ons verwag of gehoop het, verras met iets wat ons nooit kon bedink nie. Godskennis is dan nie ons prestasie of goeie werk, nie, maar ‘n geskenk oftewel genade.

 

Skeptici soos Marx, Freud en Feuerbach kan ons herinner dat, as God nie self praat nie, ons gedagtes oor God hersenskimme (!) is – magspeletjies, onvolwassenheid, projeksie. Hierop sê die beste teoloë, soos Karl Barth, amen, want wat kan ons van God weet wat God ons nie láát weet nie? As dit by Godskennis kom, en daarom by die belangrikste kennis oor onsself, sê die Abrahamitiese tradisie, moet ons waak teen spekulasie – van die Latynse speculari: spioeneer, waarneem of uitkyk.

 

Jesaja praat op ‘n vreemde manier oor die krag van God se Woord. Dit dra nie net inligting oor nie, maar laat dinge gebeur. Wat God onderneem, sal God ook uitvoer. God se woorde kan vrees inboesem, tot inkeer bring, of juis hoop gee, bemoedig. In talle Bybelverhale spreek God se spraak vanself – niemand wonder wie daar praat nie! Deur ons aan te spreek, bring God ‘n verhouding tot stand – of ons dit wil of nie. Ons kan sê: “Hier is ek!”, soos Moses of Samuel, of probeer wegkruip, soos Adam en Eva, maar ons bly aangesprokenes.

 

Dis waaroor Advent gaan: wag op ‘n Woord wat vlees word. As ons die getuienis oor Hom nie hoor nie, sal geen kyk ons help om Hom te sien nie.

 

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

15 antwoorde op Laat hoor en sien verstaan

  1. Vetjan het gesê op Desember 2, 2011

    bla bla bla

  2. Ek stem saam. As ons God ‘vorm’ volgens wat ons sien en verstaan, is ons besig met ‘creating god in man’s image.’ En dan wonder ons hoekom word ons teleurgestel deur hierdie ‘god’ wat ons vir onsself formuleer het volgens ons eie begrip en behoeftes… Om God te leer ken uit ‘hoor’…dis baie meer inconvenient, maar veel meer outentiek.

  3. Mooi logiese en beredeneerde gedagtegang.

  4. CS Lewis het gese as die geloof glashelder was en onmiddellik vir ons sin gemaak het, sou dit ‘n bewys wees dat ons dit self uitgedink het. Daarmee het hy natuurlik nie bedoel dat rasionele beoordeling van geloofsaansprake ontoelaatbaar is nie (alles behalwe), maar wel dat ons fyner en komplekser moet dink – net soos goeie wetenskap.

  5. vuurklip het gesê op Desember 2, 2011

    Interressante onderskeid tussen sien en hoor. Die oor is soos ‘n radio se antenne, die stem is soos ‘n radio uitsending. Die oor vang die stem op sonder om doelgerig op iets gerig te wees waar die oog spesifiek op iets fokus en dus die “boodskap” kan mis.

    Daar is egter probleme met hierdie beelde en die onderskeid tussen die sintuie want die oor moet immers iets onderskei uit die magdom geluide wat opgevang word, vgl. die “cocktail” effek – soos ook ‘n radio op ‘n bepaalde frekwensie ingestel moet wees.

    Ek self het ernstige twyfel oor mense wat “boodskappe” hoor wat nie deur enige ander gehoor word nie.

    As ons almal dieselfde stem sou hoor, sou ons saamgestem het oor die “boodskap”. Soos die sewe-uur nuusbulletin. Niemand stry oor die inhoud nie. Ons glo nie noodwendig dat alles waar of volledig is nie, maar ons stry nie oor die inhoud nie.

  6. Nee jy’s reg, vuurklip. Mense wat op letterlike stem-uit-die-hemel-hoordery aanspraak maak, wek agterdog by my, ook al kan ek dit nie in beginsel onmoontlik oordeel nie. Daarom le ek die klem op die metaforiese. ‘n Letterlike analise van die verskil tussen sien en hoor, sal die hele vergelyking uiteindelik uit mekaar laat val. By die “hoor” van God gaan dit uiteraard oor interpetasie (Brummer se “religious experience” is altyd “religiously interpreted experience”). Dit geld alles wat ons “hoor”. Die onderskeid gaan dus meer oor ‘n ingesteldheid – ‘n openheid vir wat na ons kom, al is dit dan via tradisie, verhale, metafore ens, eerder as om dit in ons kop te wil sit en uitdink.

  7. Ek dink nou maar so terloops aan Samuel. As klein seuntjie (pas gespeen, miskien so 3 jaar oud)het God hom groep. Maar omdat hy God nog nie geken het nie (alhoewel God hom reeds voor sy geboorte ken) kon hy God se stem nie identifiseer nie. Hy was onder die indruk dat dit Eli is wat hom geroep het. Die punt is dat dit vir my lyk of kennis van God die hoor van sy stem vooraf gaan. Eli stel hom bekend aan God, en toe die stem van GOd weer tot hom kom kon hy se: “spreek Here want U kneg hoor.”
    Kennis en die hoor is karperde!

  8. Ja, maar beslis skerp kritiek!

    🙂

  9. lora2me het gesê op Desember 3, 2011

    Ons moet eers hoor, of eintlik fyn luister, sodat ons kan sien en nie net bloot “kyk” nie. Dis vir my die mens se ingesteldheid en die oopheid om sintuiglik (natuurlik in jou kop, want anders sou blindes nie ook kon sien nie)die Boodskap te kan ontvang, wat deurslaggewend is.

  10. Mooi gestel.

  11. Ja, ja, en nou gooi jy met jou karperde my hele “apple cart” om!

  12. Wy ‘n bietjie uit oor jou slot?

  13. Skerp ja, dit kan jy weer se.

  14. Mooi gestel Lora. Dit was reeds Israel se probleem,hulle het gehoor maar nie gesien(verstaan)nie. Hulle was onge-HOOR-saam. Gerrit ek hoop die “appelkar” staan darem weer op sy wiele.

  15. gbrand het gesê op Desember 21, 2011

    Soortvan … Ons kan dan se: Jy moet sien, en dan kan jy hoor hoe om wat jy sien reg te verstaan?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.