Kopskuif-onderhoud op Versindaba

November 22, 2011 in Sonder kategorie

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Gerrit Brand)

Kopskuif is ‘n nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad wil begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ‘n stel vrae aan ‘n aantal belanghebbendes te stuur vir hul kommentaar. As eerste “kopskuif” fokus ons op die belangrike kwessie van openbare diskoers aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ‘n verdagmakery as wat daar konstruktief oor ‘n bepaalde aangeleentheid besin word.

As eerste skuif plaas ons graag Gerrit Brand (foto) se bydrae.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Gerrit Brand: ‘n Mens moet versigtig wees vir veralgemening. Daar word wel van tyd tot tyd sinvolle openbare gesprekke gevoer, onder meer op ruimtes soos Versindaba en LitNet. Trouens, ‘n kenmerk van ons tyd is dat, danksy die internet, meer moontlikhede ontstaan het vir hoëgehalte-gesprek, ook tussen kleiner groepies mense wie se stem dalk andersins nie gehoor sou kon word nie. Terselfdertyd het dit nadele – soos dat dit dalk té maklik is om van ‘n mens te laat hoor, dat minder sorg dus geneem word om deurdagte, logies gestruktureerde standpunte te stel. Die vinnig-dink-vinnig-skryf-kultuur kan tot oppervlakkigheid lei; dit laat ‘n mens toe om iets te kan sê sonder dat jy self weet presies wát dit is wat jy nou eintlik probeer sê. Daar is in ‘n mate ‘n aantreklikheid aan “van my te laat hoor” as ‘n doel insigself. Niks hiervan is egter noodwendig nie. Dieselfde faktore wat dit moontlik maak, maak dit ook moontlik om oop en intellegente gesprekke te hê. Die vraag oor die gehalte van openbare diskoers roep verder sekere vrae op: Wat maak ‘n diskoers openbaar? Was daar ooit ‘n openbare diskoers wat in die algemeen deur hoë gehalte gekenmerk is? Vertrek ons met die vraag na die gehalte van openbare diskoers nie van sekere romantiese aannames nie?

 

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

GB: Is dit iets nuuts dat meningsverskille in persoonlike twisgesprekke ontaard? Ek is nie so seker nie. Ja, die internet – om weer die nuwe god ter sprake te bring – maak dit vir mense maklik om mekaar sleg te sê en af te kraak sonder gevolge vir hulself, maar in die verlede was daar ook skuilname en dies meer. Wat my die laaste twee of drie dekades opval, is hoe sensitief ons geraak het vir robuuste debat wat alte gou persoonlik opgeneem word. Vryheid van spraak, dink baie mense, beteken dat ek jou, of jy my, uitlatings nie mag kritiseer nie. Daar was ‘n tyd (sê die romantikus in my!) toe mense publieke kommentaar kon skryf soos: “Ek sit hier in die kleinste vertrek in die huis met u manuskrip voor my. Dit sal binnekort agter my wees.” (Die oorsprong hiervan is omstrede, maar dit is regtig geskryf.) Sal ernstige intellektuele vandag nog so skryf? Ek weet nie, ek wonder maar net. Natuurlik is dit lelik wanneer debatte persoonlik en beledigend raak, maar ek is nie seker dat dit in ons tyd meer voorkom as in die “goeie ou dae” nie. Vryheid van spraak – ook dom en onbeskofte spraak – is myns insiens belangriker as mense se lang tone. John Stuart Mill het gesê liberalisme beteken elkeen kan doen wat hy of sy wil, mits dit nie iemand anders “injure” nie – en daaraan toegevoeg dat “offense” nie as “injury” kwalifiseer nie. As jou gespreksgenoot jou persoonlik beledig, het jy altyd die opsie om nie tot dieselfde soort taal verlei te word nie (dis seker ook soms lekker …), maar die gesprek na die inhoud van die geskil terug te bring. Met ander woorde: doen dit soos jy dink dit gedoen moet word, en knip daai tone korter sodat jy nie te gou weghol wanneer die vonke begin spat nie!

 

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

GB: Dit hang van die soort gesprek af. Goeie spekskiet lyk anders as goeie akademiese diskoers, byvoorbeeld. Wanneer dit om beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling gaan, dan is die kriteria, nou ja, beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling. Daar is ‘n element van aanvoeling en sjarme by betrokke: hoe praat of skryf ‘n mens in hierdie verband? Wat is goeie styl? In sekere kontekste moet ‘n goeie gesprek veral genotlik wees. In ander kontekste is dit ‘n wapen in die stryd. ‘n Goeie spreekkunstenaar verstaan die konvensies, maar weet ook wanneer om hulle te rek en sodoende iets reg te kry wat die moeite werd is. Te veel rekkery kan egter die hele praktyk in duie laat stort. Dalk is dit waaroor mense bekommerd is wanneer hulle oor die lae vlak van openbare diskoers kla? Dat sekere sóórte gesprekke al hoe skaarser raak omdat al hoe minder mense nog ‘n smaak en aanvoeling daarvoor het?

 

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

GB: In Nederland het ek greeld byeenkomste van al die universiteite se godsdiensfilosowe (dosente en doktorale studente) bygewoon. By elke geleentheid het een dosent en een student die geleentheid gehad om ‘n lesing te gee. Op daardie lesing is dan ook voorbereide repliek gelewer deur iemand anders, en daarna kon almal aan die gesprek deelneem. Die repliek en gesprekke was dikwels heftig; geen doekies is omgedraai nie, maar ek het bitter selde die indruk gekry dat mense kwaad word vir mekaar, en na afloop van die lesings het almal saam ‘n gesellig borrel geniet. Onlangs was ek weer in Duitsland, waar daar ‘n openbare debat oor pre-implantasie seleksie tussen ‘n teoloog en ‘n bekende skrywer was. Laasgenoemde is nie aan die kerk verbonde nie, maar beskou homself as sekulêr. Hulle het skerp verskil oor die onderwerp, maar sjoe, kan hulle hul argumente verwoord! En hulle neem mekaar se argumente ernstig. Die gevolg is dat daar uiteindelik tog ook ‘n sekere oorvleueling van standpunte ontdek word. Waar ek werk in ‘n teologiefakulteit het ek ook die voorreg om daagliks met kollegas in gesprek te wees wat dit geniet om aan ‘n verskeidenheid standpunte blootgestel te word en daarmee te worstel. My ervaring is dus dat daar daar nog baie goeie en leersame gesprekke in die wêreld gebeur. Wat hulle gemeen het, is ‘n gedeelde liefde vir saam dink en saam verstaan.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe isnkrywings op hierdie blog ingelig te word.

13 antwoorde op Kopskuif-onderhoud op Versindaba

  1. Gerrit,
    Hier in Nijmegen en ook Cambridge waar ek seminare bywoon ervaar mens net wat jy se. By ‘n universiteit moet daar oop gesprek wees – geen professor of groep mag voorskryf of met mag ingryp om die resultate te beinvloed nie. Wanneer dit wel gebeur kom die geloofwaardigheid van die organisasie in gedrang.

  2. Nou ja, Ferdie, dan moet ons nog oor ‘n paar spesifieke gevalle gesels …

  3. Was lekker om jou in Nijmegen te sien… eendag weer!

  4. Nou, dit kan nou ‘n lekker gesprek word. Gerrit Brand en Ferdie Mulder.
    Miskien kan ons iets leer uit die kuns van gesprekvoering. Ek dink ons het almal (meestal)die onvermoe om nie die man te speel nie, maar die bal.
    Ek hou ook van jou uitdrukking: “knip daai tone korter sodat jy nie te gou weghol wanneer die vonke begin spat nie.”

  5. Ek geniet nogal die Marie Heese/Pierre de Vos diskoers. Ten minste is dit snaaks.

  6. Ek stem saam dat die vlak van kommentaarlewering op berigte in die pers veel te wense oorlaat. Ek het al moed opgegee en aanvaar dat sinvolle gesprekvoering net nie binne die vermoë van die gemiddelde leser is nie. Die terugvoering daal teen ‘n verbysterende snelheid tot ‘n vlak wat een of meer of al die volgende insluit; skatologiese terminologie, pejoratiewe persoonlike aantygings, rasgerigte redenasies, regse politieke retoriek, Afrikaanse selfbejammeringsklaagliedere, uitgediende en holruggeryde politieke mistastings en, aggressiewe eenogige onkundigheid. Tussen die spul deur het mens nie ‘n snars van hoop om iets sinvol te bespreek nie.
    Ek dink selfs ‘n eenvoudige “Goeie dag” sal ‘n negatiewe reaksie tot gevolg hê!!
    Dit het my opgeval dat die kommentaar by die berigte in “The Daily Maverick” vereis dat jy jou regte naam moet verskaf en die vlak van gesprekvoering daar is ordes beter. Is die dekmantel van anonimiteit nie dalk die groot sondebok nie?

  7. Sneeu, ys en fiele … En tog mooi.

  8. Ja, ons sukkel maar.

  9. Is daar ‘n debat tussen hulle of bedoel jy maar net dat albei iets gese het?

  10. Ek vertrou nie anonimiteit nie.

  11. Het jy dit gemis? Jou naam is dan genoem. Debat in die laaste twee weke se Rapport.

  12. André Kotze skryf:

    OPENBARE DISKOERS

    Die ongelukkige wyse waarop Suid-Afrikaners in die openbaar met mekaar verskil, is niks nuut nie, en nie tot ons beperk nie. Die dryfvere vir sulke gedrag moet seker in vakgebiede soos die kommunikasiekunde, sosiologie en sielkunde gesoek word. Enkele gedagtes oor hindernisse tot konstruktiewe diskoers, kan dalk die gesprek verder voer:

    Selfsug en eie eer verhoed dat ‘n kommunikator erken dat sy gespreksgenoot (ook) reg is.

    Onversoenlike vertrekpunte, bv fundamentalisme, kulturele agtergrond en wêreldbeskouing, maak sinergie of dialektiek moeilik.

    Eie agendas soek gewoonlik nie die openbare belang nie.

    Individue se argumente moet dikwels inpas by ‘n groter instelling se partybeleid (party line)”.

    Die openbare diskoers word op ‘n verhoog met ‘n groot gehoor gevoer. Sulke kommunikasie is dikwels nie “eg” nie, omdat dit tot verskeie ontvangers wil spreek.

    Ek verwys na ‘n skrywe van my van jare gelede, op Ou Litnet wat steeds geldig is, met uitsondering van die voorbeelde van sommige rolspelers wat sedertdien oorlede is. Die skrywe pas nogal steeds in hierdie diskoers.
    http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=57047&cause_id=1270

    SêNet-introspeksie: vir die pawiljoen of vir die pret?

    Daar is ? verskynsel op SêNet wat herinner aan seepkisdialoog; aan geskrewe bekgevegte; aan Dawid en Goliat wat vir vermaak voor toeskouende leërs ‘n tweegeveg voer; aan swaardvegters in die Colosseum; aan Oggendversoeke op RSG en selfs Strictly Come Dancing: twee korrespondente verkies om mekaar aan te vat ten aanskoue van ander SêNetters en LeesNetters.

    Laat ek verduidelik wat ek snaaks vind hieraan.

    Die klassieke kommunikasiemodel skets ‘n kommunikator wat ‘n boodskap oordra aan ‘n ontvanger, deur ‘n medium. Die ontvanger kan terugvoer gee, dan word die rigting en rolle van kommunikasie omgekeer. Dit word dialoog, polemiek, interaksie. ‘n Eenvoudige model:
    Kommunikator ? [Boodskap] ? Ontvanger
    (medium)

    Kommunikasie op SêNet is lank nie meer klassieke, eenvoudige kommunikasie nie.

    Die internet is ‘n massamedium: vermenigvuldiging van die boodskap (inhoud), baie ontvangers, en beperkte terugvoer kom voor. Hier is die vermenigvuldiger nie ‘n koerant, radio- of TV-sender nie, maar ‘n elektroniese konferensiesaal, kuberverhoog, of -arena.

    Op SêNet word ‘n mening uitgespreek deur A, teenoor ‘n massa SêNetlesers(sê B-Z). B neem eksepsie, verskil met A, of stem saam en doen die moeite om te reageer. Daar ontstaan ‘n tweegesprek (dikwels ‘n geveg) tussen A en B wat ná so twee tot drie rondtes eindig (gewoonlik onbeslis). En waarby C-Z meestal min belang het.

    Daar is by sekere mense ‘n strewe om gehoor (of gelees) te word, verkieslik in die openbaar en, nog beter, in die media. Dis ‘n strewe wat sommige dryf na politiek, onderwys, die akademie en ‘n klompie na SêNet. Van ons taalgenote stuur verjaarsdagwense na ‘n radio-omroeper om namens hulle iemand wat ‘n telefoonoproep weg is, of in dieselfde huis bly, te groet. Dit is lagwekkend dat ons steeds op RSG in hierdie moderne tyd van goedkoop SMS, telefoon en e-pos vir mekaar verjaarsdagwense via ‘n derde party stuur. Dis blykbaar lekker vir die sender en ontvanger om hul name oor die lug te hoor. Dit is so erg dat daar al “klubs” van bekende name is, wat gereeld vir mekaar boodskappies stuur.

    Wat is die motief van sulke kommunikasie? Wil ons die inhoud kommunikeer of die kommunikator? Wat het geword van “egte kommunikasie”? En wat is die uitwerking van hierdie egoïsme op SêNet as kuber-saal?

    1. Minder lesers/besoekers/”hits” op SêNet. Mense stel min belang in ander se briewe, of skrywes tussen twee individue. As daar in die opskrif bv die woorde “vir Francois …” voorkom, sal lesers slegs daarop klik as die onderwerp of opskr

  13. André Kotze se stuk wat hierbo begin, gaan so voort:

    1. Minder lesers/besoekers/”hits” op SêNet. Mense stel min belang in ander se briewe, of skrywes tussen twee individue. As daar in die opskrif bv die woorde “vir Francois …” voorkom, sal lesers slegs daarop klik as die onderwerp of opskrif hul interesseer.

    2. Klubvorming. Daar is ongeveer ‘n dosyn daaglikse SêNetters wie se name soos Dawid Slinger en Nan Richards op RSG, gereeld voorkom. Ek vind dat ek self eerder soek na ‘n nuwe skrywersnaam op SêNet, omdat die meeste “regulars” al voorspelbaar geword het.

    3. Vervlakking. Die kompulsiewe skrywery moet die kwaliteit van bydraes laat afneem, soos inderdaad voeër vanjaar uitgekom het, toe verskeie bydraers gepleit het vir ‘n mate van keuring (nie sensuur nie) van bydraes wat deur die kelder se vloer geval het.

    4. Die man in plaas van die bal? Enige diskoers wat persoonlik raak, verloor objektiwiteit en dit laat die inhoud skade ly. Sommige onlangse skrywes oor resensies was bv onnodig bitsig. Min mense hou daarvan dat mense in jou voorkamer of kuber-kamer baklei.

    So what? Ek nooi SêNetters om bietjie afstand te neem van die persone en issues wat bespreek word, en na die proses kyk. Wat is die dinamika? Is SêNet bloot woordvermaak vir ‘n klompie half-ledige deelnemers? Is daar opbouende diskoers, of is dit ‘n “free for all” waar die privilegie van anonimiteit misbruik word? As ons eerlik is, hoekom neem ons deel aan SêNet? Vir my was die onlangse limerick-uitdaging en reaksie daarop ? ligpunt. Maar origens doen ek maar “big-name-hunting” en lees Hambidge, Chanette Paul, Ellen Botha, Johann-Lodewyk, Philip de Vos en nou, Lucas Maree!

    Hoekom het ek hierdie een geskryf? Die siniese ou sal sê: Seker om te spog met sy “meerdere” kennis in die ontleding van kommunikasie!

    André Kotze

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.