Die taal van eiendomsagente

November 21, 2011 in Sonder kategorie

Hoekom kan eiendomsagente nie maar Afrikaans, Engels of ‘n ander mensetaal gebruik nie? Hier volg ‘n realiteitsgetroue dog half-fiktiewe illustrasie:

In die koerant en op advertensieborde sien jy daar is ‘n nuwe komples (in die nie-psigologiese sin van die woord) in die dorp, met verskillende soorte wooneenhede wat nou te koop is. Pryse begin by 1 sent (by wyse van spreke), en aangesien die kreatiewe skets so vrolik, blink en gesinsvriendelik daar uitsien, lyk dit na wat dalk ‘n goeie belegging kan wees. Miskien oorweeg jy om eiendom te koop en verhuur, so jy kyk nader. Waar sou hierdie eiendomsontwikkeling wees? Moenie dink die advertensie sal jou dít vertel nie! Jy bel dus maar, of stap in, om te gaan hoor.

Die mense is vriendelik – so vriendelik en wellustig (in die nie-seksuele sin van die woord) dat jy die vrede nie vertrou nie en verwag om nou enige oomblik ontvoer en verorber te word – maar jy byt op jou tande en druk deur: “Goeie môre, ek wil graag iets vra oor die nuwe ontwikkeling wat julle adverteer – die een met die goeie pryse. Waar is dit?”

“O, dis ‘n baie opwindende ontwikkeling – een van die laastes in daardie klas wat nog in hierdie dorp gebou sal word – en jy’s gelukkig dat jy nou net betyds gekom het, want hulle is amper almal uitverkoop. Die gelukkigste van alles is dat een van die drie eenhede wat nog te koop is ‘n baie lekker eenheid is wat ek self persoonlik sou aanbeveel het as my kind of ma byvoorbeeld op hierdie ontwikkeling wou inkoop. O, hulle sou graag wou, maar kan nou net op hierdie stadium nie bekostig om te koop nie. Elke eenheid het …”

“Ekskuus, Mevrou,” val ek haar in die rede. Ek wil net eers hoor waar die nuwe ontwikkeling geleë is.

“Ek is bly jy vra!” antwoord sy. “Weet jy waar Lekkerleef is – daardie pragtige ontwikkeling net onder Hemelberg?”

“Ja, ek het vriende daar.”

“Nou ja!” gaan sy verder met die opgewondenheid van iemand wat op die punt staan om aan te kondig dat jy die Lotto gewen het. “Die nuwe ontwikkeling, Luilekker, lê net duskant Lekkerleef.”

“Duskant?” probeer ek my oriënteer. “Jy bedoel aan Middelbuurt se kant?” (Middelbuurt is ‘n heel aangename laermiddelklas-woongebied naby aan die middedorp.)

“Jy sou so kon sê,” begin haar verduideliking, maar dis ‘n tikkie nader aan Laerskool Suidland. ‘n Mens kan Hemelberg van daar sien.”

“In watter straat? Die een aan Lekkerleef se kant van die sportgronde?”

“Nee, ‘n bietjie meer wes.” Sy begin effens senuagtig lyk en probeer om oor die goeie openbare vervoer aan daardie kant van die dorp te verduidelik, maar ek probeer my nog geografies oriënteer.

“Moet ‘n mens verby Helbergvillas ry om daar te kom?” probeer ek die rigting bepaal.

“Wel, dis ‘n hele endjie verby Helbergvillas,” verduidelik sy gerusstellend, want sien, Helbergvillas is ‘n plakkerskamp met ‘n hoë misdaadsyfer. (Die “hele endjie” blyk later 300 m te wees.) “Maar dan draai jy regs in na Lekkerleef se kant toe; die borde sê duidelik Luilekker. As jy só sou deurry, sou jy by Lekkerleef uitkom.”

“Kan jy só deurry?”

“Nee, nie regtig nie, maar al wat tussen Luilekker en Lekkerleef is, is die heuweltjie daar …”

“Jy bedoel die treinspoor?” maak ek seker.

“Man, weet jy …”

En so gaan dit aan totdat jy dit uiteindelik uit die behulpsame agent geworstel het dat die nuwe ontwikkeling reg tussen twee berugte plakkerskampe lê, met die snelweg en die treinspoor wat die ander twee grense afbaken, 20 km van die naaste winkel, sonder ‘n teerpad wat daarheen lei en met geen beveiliging behalwe ‘n 1 meter hoë draadheining nie. O ja, en die eensent-eenhede is reeds “opgeraap”, maar daar is nog daardie drie (wat toevallig eintlik die bestes is) teen R85 miljard (by wyse van spreke). Die datum waarop die eenhede klaar sal wees, is amptelik oor drie jaar, “maar ons skat dit sal net ‘n rapsie meer as een jaar duur”. Ja, 10% moet nou reeds neergesit word, “maar die goeie nuus is dat ‘n mens daaroor kan onderhandel”. Die geskatte huurinkomste wat ‘n mens kan verwag is so R100, “maar” …

Julle kry die idee. Dan praat ek nog nie van eiendomsagent-taal soos “kry jou voet in die mark” (onpopulêre buurt), “lock up and go” (baie klein) en “renevator’ dream” (in slegte toestand) nie.

Wat ek nie verstaan nie: Dink hierdie mense ons loop met genoeg kontant in ons beursie dat ons dalk gaan betaal nog voor ons vasgestel het waar die eiendom geleë is, hoe groot dit en in watter toestand dit is? Ons gaan dit mos uitvind! Hoekom dan nie van die begin af sê wat potensiële kopers wil weet nie? Sommer in die advertensie.

En hoekom word in die eiendomsdeel van die koerant duur advertensieruimte gekoop om met groot gedoe “aan te kondig” dat Piet Pompies nou die nuwe bestuurder van Eina Eiendomme se plaaslike tak is? Dink hulle ons gee ‘n hel om? Is dit veronderstel om ons te beïndruk of opgewonde te maak?

Besef hierdie mense nie dat dit die eiendomsgeïnteresseerde so moedeloos en gatvol maak dat hy of sy later liewers die idee opgee om in eiendom te belê nie?

Klik hier vir ‘n wonderlike stukkie getitel “Real Estate Porn” waarop Desmond Painter die aandag gevestig het.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

21 antwoorde op Die taal van eiendomsagente

  1. en het jy eers daai eiendom om te verhuur . . . is huurders interessante karakters! Ekt ‘n paar gru verhale van ons (talle) huurders!

  2. Hulle moet bietjie wakker skrik!!!

  3. Laat my dink aan die ou wat nadat hy die advertensie van sy huis wat hy wou verkoop, in die koerant gesien het, en toe besluit het dat hy nooit ‘n beter huis sou kry nie, die transaksie gekanselleer het.
    Miskien het eiendomsagente nou die plek van tweedehandse motorverkoopsmanne oorgeneem.
    Hou maar jou beursie styf vas vir beide hierdie beroepe.

  4. Dan is daar nog die ewige “country living” in die middel van ‘n nywerheidsgebied,asook jou “eie stukkie bosveld”, wat naderhand blyk net ‘n lappie grond tussen honderde ander te wees. Na al die ontwikkeling is die bosveld in elk geval in sy maai!

  5. Vetjan het gesê op November 21, 2011

    eiendom te belê !?

    wtf ?

    of jy koop ‘n eiendom of nie

  6. Vetjan het gesê op November 21, 2011

    eiendom te belê !?

    wtf ?

    of jy koop ‘n eiendom of nie

  7. Ek het jare lank ‘n eenheid (daar was toe ‘n spesiale soort naam voor wat intussen uit die mode geraak het) in Weventpark (is dit hoe mens dit spel?) in pretoria gekoop. ‘n Dame wat in die kompleks gewoon het, het dit vir ons verhuur en 10% gevat. Dit het glad verloop. Ek het nog nie weer probeer nie. Ja, daar is goeies ook. Een catch (nie van die vrou wat die verhuring gedoen het nie): Toe die eiendom vir ons gewys is, is ‘n sekere parkeerplek uitgewys, maar dit blyk toe later, nadat die koop deur is, dat ons eenheid se parkeerplek nie oorkant die straatjie is nie, maar omtrent 100 m weg. Om die waarheid te se, vir daardie verafgelee parkeerplek moes ek veg en met regstappe dreig, want eers het hulle ontken dat hulle ooit ‘n parkeerplek belowe het.

  8. Soms dink ek hulle is te wakker.

  9. Ek wonder of iemand die guts sal he om eiendomsagentskapees te verdedig?

  10. Ja, maar die verskil is dat ‘n motorverkoper vir jou die maak, jaar en kilometers gee as jy daarna vra – anders as die soort eiendomsagent waaroor ek dit het, wat geen enkele feit wil verklap nie. As jy eers die feite het, kan jy die storie oor die ou tannie wat as enigste oor die jare die kar gery het (soos my vriend Johan gister onthou het) maar ignoreer.

  11. Pragtig!

  12. Hang af. Hang af.

  13. Kirpan het gesê op November 21, 2011

    Ons dom boertjies uit provinsie Zeeland, Nederland, het altyd baie gelag oor die beskrywings. Hoekom (beter: waarom)bly dit oor tientalle jare dieselfde beskrywings?
    Uit Multatuli: Hassan roep: “Die dadels van Hassan is driemaal groter as hulle is” en almal koop by Hassan.

  14. Baie oulik! My ervaring in Nederland was wel dat, oor die algemeen, eiendomsagente meer saaklik was: Wat soek jy? Hoeveel het jy? Dis wat beskikbaar is. Dis die nadele? Klink dit na iets wat jy wil sien?

  15. ANNALIEN BURGER skryf:

    Hallo Gerrit

    Ek is nie ‘n blogger op Litnet nie – ek het nie tyd nie, maar het op ‘n stadium ingeteken op ‘n paar bloggers se bladsye, omdat ek so die paar wat die moeite werd is om te lees per e-pos kan ontvang. Van tyd tot tyd ontvang ek van jou skrywes. Soos die een hier onder. Ek kan dus nou nie direk kommentaar lewer op jou blogbladsy nie en hoop maar dat jy hierdie skrywe van my gaan ontvang.

    Ek het gedink ek behoort vir jou te laat weet hoe ek voel oor wat jy geskryf het, want sien, ek is ‘n eiendomsagent en daarom is dit vir my interessant om te lees wat jy hieroor sê.

    Eerstens verstaan ek nie wat jy bedoel as jy sê: “Hier volg ‘n realiteitsgetroue dog half-fiktiewe illustrasie” nie, want as ek lees wat jy geskryf het, lyk dit vir my asof die hele stuk fiktief is – fiktiewe (lekkerlees vir effek!) name; fiktiewe mense in ‘n fiktiewe situasie. Jy skryf dus fiksie oor ‘n feitelike onderwerp, nl. eiendomsagente se etiese waardes. Met jou storie wil jy, lyk dit my, bewys dat eiendomsagente vaag, misleidend en eintlik oneerlik is.

    Vir my is dit ‘n presiese weerspieëling van jou skrywe: dit is vaag, misleidend en eintlik oneerlik.

    Vaag: Jy is nie spesifiek oor die plekke waarvan jy praat nie, dus kan niemand sien of wat jy sê oor die plakkerskampe en treinspoor ens. feitelik en die waarheid is nie.

    Misleidend: As jy so graag wou weet waar die eiendom geleë was, hoekom het jy nie gevra om op ‘n kaart te sien nie? Dis wat almal doen wat wil weet waar ‘n plek is en dit sou 2 sinne geneem het: “Kan jy vir my op ‘n kaart aandui waar hierdie ontwikkeling is. Of kan jy my soontoe neem asb.?” Dis tog wat eiendomsagente eintlik doen – hulle neem jou fisies na die plek, sodat die koper nie so hoef uit te vis vir inligting en dan self soontoe ry en sonder die agent direk met die verkoper gaan onderhandel nie; want sien hier is vir jou ‘n feit: kopers gebruik dikwels agente vir inligting waarvoor hulle dan nie wil betaal nie – hulle sluit dan dikwels die transaksie met die verkoper, sonder die agent.

    Oneerlik: Jy beeld mense uit as sleg , maar jy gebruik vae, onsubstansiële voorbeelde. Nog ‘n feit vir jou: die samelewing bestaan uit verkopers, kopers en agente, elkeen is maar lekker oneerlik as hulle die kans kry. Ons leer gou in ons bedryf: “Buyers are liars and sellers are story tellers” (In watter groep val jy? ) Nog ‘n feit: van hierdie 3 groepe is agente die kleinste groep!

    So sien jy; ek het toe die balls gehad om hierdie beroep te verdedig en ek het nou vir JOU ‘n uitdaging: gaan Google my gerus en laat weet my waar ek (as agent ) vaag, misleidend of oneerlik was, of my skuldig gemaak het aan lekkerlees tegnieke vir effek!

    Groete

    Annalien Burger

  16. Dankie vir jou reaksie, Annalien.

    Ek het ‘n spesifieke geval in gedagte, maar ook my ervaring met agente deur die jare. Natuurlik veralgemeen ek, en natuurlik oordryf ek – dis (‘n poging tot) realistiese MAAR humoristiese fiksie.

    Verder beskuldig ek niemand van oneerlikheid of onetiese optrede nie. Ek kritiseer ‘n sekere soort “talk” wat my en baie ander irriteer, dis al. Byvoorbeeld: As iemand skryf “renovator’s dream”, dan word daar nie gelieg of iets moreel ververpliks gedoen nie. Daar word net op ‘n irriterende manier gepraat oor wat in gewone taal “huis wat heelwat werk nodig het” sou heet. Ek spot maar met hierdie soort taal.

    ‘n Mens kry dit by ander beroepe ook. Tweedehandse of dan gebruikte motors kry ‘n mens byvoorbeeld nie meer nie. Nee, dis nou “pre-owned” of selfs “pre-loved”. Die idee is om dit ‘n bietjie minder sleg te laat klink, maar dit kom net as belaglik oor. Tog lieg niemand deur so te praat nie en is sy of hy ook nie oneties nie. Dit gaan regtig hier oor een van die lewe se klein irritasies.

  17. Baie goed geskryf…

  18. Kirpan het gesê op November 22, 2011

    Ek het bedoel: ons lag veral oor die advertensies in Suid Afrika. Ek stem saam dat in Nederland die advertensies baie ingetogener is. Miskien is die kwaliteit van die eiendomsagente (makelaars, soos ons sê) ook beter. Daar is in Nederland en in Duitsland zekerlik ook nie die oordrewe hoeveelheid aanbiedings in die Saterdagkoerante nie. In SA kan jy maklik leer om eiendomsagent te word. Hulle leer jou slegs om te verkoop.
    In Nederland moet jy ‘n gedege boukundige kennis verwerf.
    En waarom sien ons al die koppe van die agente?
    Uit hulle vans kan ek al opmaak of ek Afrikaans of Engels of Hindi moet praat. Maar miskien kan jy ook sien of hulle gerefomeerd genoeg lyk?

  19. Gaaf. Dankie.

  20. En saam met die Nederlandse soberheid kom dikwels ook oulike humor en lighartigheid. En hulle is doeltreffend, kry die goed verkoop. Ek is oortuig daarvan dat mense nie mer slap rieme (of dan “Real Estate Porn”) in die koop van ‘n eiendom ingetrek wil of kan word nie. Ons wil weet wat is waar te koop binne my beskikbare prysklas, dis al.

  21. 123Mart het gesê op Januarie 3, 2012

    Ek het hierdie artikel baie geniet! Dankie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.