Lekker zef

November 19, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek nog by Die Burger geblog het, het ek ‘n keer een onskuldige sin geskryf wat tot ‘n uitgebreide sosiokulturele diskussie aanleiding gegee het. Die inskrywing het gelui: “Net een vraag: Is daar iets meer zef as selfoon-luitone?” Uiteindelik is ek toe laer af op die diskussiebord daartoe genoop om te verduidelik wat ek presies met zef bedoel. Ek sal dit nie hier herhaal nie, maar ‘n akkurater omskrywing was daar nog nie, al moet ek dit in alle nederigheid self sê. My analise het wel geëindig met die slotopmerking: “As ek ‘n rockband begin het, sou ek dit Zef genoem het.”

As ek maar my eie raad gevolg het! Dink net, dan was ek, eerder as Die Antwoord (DA) of Jack Parow (JP), die vader van zef rock. Maar nou ja, ek het in elk geval nie met die beste band-naam vorendag gekom nie, want onlangs sien ek in die gym ‘n meisie met die woorde “Zef Leopard” op haar T-hemp.

Ek het waardering vir DA en JP se oorspronklikheid, kreatiwiteit en gewaagdheid, asook hul liriese, performatiewe en musikale vermoëns. ‘n Mens kan maar sê hulle het zef op die map gesit. Een (waarskynlik onbedoelde) gevolg van die viering van zef in die nuwe wêreldberoemde genre is egter dat buitelanders of oningeligte Suid-Afrikaners ‘n misleidende indruk kan kry dat afferige seksuele praktyke, ongelooflike kru taal en boewerige aggressiwiteit die essensie van zef is – wat glad nie die geval is nie! My verstaan van zef het trouens niks met dié soort afheid te doen nie. Om dit anders te stel: zefters is nie slegter as ander mense nie.

Selfs die verband tussen lae klas en zef is nie essensieel nie. Zef is ‘n styl, ‘n kulturele modus. Zefters is dikwels van die vriendelikste mense. Dikwels ook goeie mense. Dis lekker om met zef te spot (veral omdat daar dikwels ‘n tikkie selfspot in sit), maar dit sal jammer wees as die idee onder ons beïnvloedbare jeug posvat dat zef mense agterlike mense is, dom mense, siek mense, perverte. Dit het niks met goeie ou zef te doen nie.

Ek voel my dus tuiser by Valiant Swart se diepsinnige kultuurfilosofiese analise: “Die meeste mense is maar lekker zef.”

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Lekker zef

  1. Nee jammer, maak nie saak hoe lekker jy dit laat klink nie, ek hou by zef verby…..

    Het net nie daai tipe van aanleg in my dit amusant te vind nie, en nie omdat ek nie met myself kan spot nie, ek doen dit gereeld, maar ek hou nie van kapoen nie, vermy bruin en het niks te make met zef nie…..

  2. Gerrit, Hoekom lees ons niks van Br”ummer se lesing
    nie ?

  3. Omdat dit niks met zef te doen het nie! Die lesing sal eersdaags op Sol Iustitiae gelees kan word. Dan sal ek iets daaroor skryf.

  4. Se wie.

  5. Sien uit. Dankie.

  6. Waar kom die woord vandaan?Dalkies van die sestigerjare toe dit in was om met ‘n Zephyr V6 met groen gras op die “dashboard” en ‘n plastieklemoentjie op die lugdraad te ry?

  7. My teorie ook!

  8. Ek is nie opsoek na die goeie zefs nie; hulle is reeds daar!

  9. Nie of nie, en.

  10. Zef is fantasties. Picasso het gese goeie smaak is die grootste vyand van kreatiwiteit

  11. Viva, Picasso!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.