Kontrakultuur van kanselruiling?

November 16, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Toe ek nog gereeld in ‘n gemeente voorgegaan het, bel ‘n anonieme lidmaat een Sondagoggend vroeg. “Wie preek vandag, jy of die dominee?” vra sy. “Ek wil besluit of ek kerk toe moet gaan.” Ek wonder vandag nog of sy opgedaag of weggebly het omdat ek die prediker was!

 

Ek het hieraan gedink toe ek in die vorige Kerkbode-uitgawe James Kirkpatrick se stelling lees dat Calvyn vandag nog relevant en opwindend is, ook vir die jeug. Dis waar, en een van die opsigte waarin ons by Calvyn kan leer, is sy gedagtes oor kanselruiling. Klink nie juis aardskuddend nie? Gee kans.

 

Die Switserse kerkhistorikus Peter Opitz vertel dat kanselruiling vir Calvyn belangrik was. Nie kanselruiling soos ons dit vandag ken, met dominees wat af en toe ‘n buurgemeente besoek nie. Eintlik moet ‘n mens van kanselwisseling praat, want wat Calvyn bepleit het, is dat die predikante van Genève voortdurend tussen die kansels van die verskillende gemeentes moes sirkuleer: Vandeesweek preek dominee X by gemeente A, die week daarna by gemeente B, dan gemeente C en so meer, totdat hy/sy uiteindelik weer voor die lidmate van gemeente A staan – net om volgende week weer elders te preek. Die gemeente luister nooit twee weke ná mekaar na dieselfde predikant nie, en relatief selde na hul eie ampsbekleër.

 

Maar hoekom dan? Wel, Calvyn was bekommerd dat mense kerk toe sou gaan om na ‘n spesifieke dominee, eerder as na die Woord, te luister. ‘n Predikant is nie veronderstel om ‘n gevolg op te bou of naam te maak nie, maar om die Bybel aan die gemeente uit te lê – vandaar die Latynse afkorting VDM, bedienaar van die Goddelike Woord.

 

Baie relevant in ons verbruikerskultuur, sou ek sê. Die gemeente, so word dikwels bepleit, moet “soos ‘n besigheid bestuur word”. Watter besigheid sal moeite doen en ‘n kompeterende salaris aanbied om die beste talent te lok, net om dié bate dan met die kompetisie te deel en boonop deur laasgenoemde se personeel bedien te word? Maar soos Kirkpatrick sê: die kerk moet ‘n “kontrakultuur” vergestalt, ‘n ander manier van saamleef as wat die samelewing gewoond is – nie kompeterend en afgunstig oor wie van Paulus en wie van Apollos of Céfas is nie, maar gerig op die opbou van die geloofsgemeenskap, die dra van mekaar se laste, die deel van vreugdes. Nie my behoeftes en voorkeure nie, maar die welsyn van Christus se liggaam, moet deurslaggewend wees.

 

In die één kerk wat deur God “versamel, beskerm en versorg word”, bely Belhar, word “die versoeningswerk van Christus sigbaar … as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is”. Dit beteken “dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God”.

 

Gestel nou ons vang onsself onkant. Gestel ons word elke Sondag deur ‘n anderster stem uit ‘n anderster deel van die NG kerkfamilie die Woord bedien. As Anoniem dan tog agter “die goeie predikant” aanloop, laat dit dan ten minste daartoe lei dat sy een week tussen NG lidmate, dan VGK-lidmate, dan weer elders na dié ster moet luister!

 

Wat van praktiese uitdagings, soos taalverskille? Nou raak dit éérs opwindend! Gestel dit raak gebruiklik dat elke erediens ‘n Pinkster word, ‘n meertalige uitstorting van die Gees soos in Handelinge 2 – met tolke, liedere in verskillende tale en wisselende bedieningstyle. Gestel ons begin “tale spreek”!

 

Dit sal oefen en gewoondraak kos, kreatiwiteit en uitprobeer verg. Dit sal weird wees, eienaardig, teen die stroom in. Soos dit hoort.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

13 antwoorde op Kontrakultuur van kanselruiling?

  1. Dit klink na ‘n opwindende voorstel!

  2. dis ‘n baie interessante ding wat jy nou oor skryf. ek persoonlik vind aanklank by een ds. en kan na hom luister. die ander een preek dieselfde woord. maar ek raak aan die slaap. wat maak mens nou? ek verwag nie dat daar oscars vir predikante moet wees nie. maak my ook nie minder glo as iemand preek as dit nie my nie laat luister nie. almal het hul voorkeure. en vir elkeen is daar iets wat hul aanraak.

  3. Liturgie is belangrik. Dis iets wat ek van die Anglikane waardeer. Selfs al het die priester nou nie juis veel besonders gese nie, spreek die gebede, liedere ens tot ‘n mens. Dan weer, by die Katolieke en Ortodokses, val die klem veel meer op die lees van Bybel-tekste as op die preek. ‘n Goeie predikant is nie een wat ‘n indrukwekkende toespraak hou of, erger nog, show gee, nie, maar iemand wat ‘n teks vir ‘n mens oopmaak. As ek ‘n toespraak wil luister, kan ek een of ander kursus gaan bywoon. Maar dis waar, sommige predikers maak gewoon droog omdat hulle swak voorbereid is of hul eie storie spin. Dan word CS Lewis se opmerking relevant: soms is die diepste geestelike dissipline om te leer om in die kerk dinge te verdra wat jou irriteer!

  4. “… Nou raak dit éérs opwindend! …”

    Van al hierdie opwinding kan ek my lag nie hou nie!

  5. lora2me het gesê op November 17, 2011

    Ek dink dit sou wonderlik wees om kanselruilings op ‘n gereelde basis te doen. Dit moet egter, vir praktiese redes, binne die spesifieke kerkgroep geskied, want anders sou dit mos teen die dogma van die kerk ingaan indien ‘n katoliek bv. in ‘n protestantse kerk preek. Goeie idee!

  6. Ou vuurklip, dit neem soms ‘n tydjie om die opwinding in iets heel eenvoudigs raak te sien. So moenie sleg voel nie …

  7. Dis ‘n goeie begin, ja. Byvoorbeeld in die NG Kerkfamilie, wat immers ‘n beleidenisgrondslag deel en hulle reeds to eenwording (hoe ook al) verbind het. Maar ons moet groter droom. Dit gebeur wel van tyd tot tyd dat mense, ook oor bree grense soos Protestants en Oosters-Ortodoks, by mekaar preek. Wie weet, eendag …

  8. Nee, maar, kanselruiling! Ek kry skoon hartkloppings!

  9. Wie se kansel wil jy dan ruil, vuurklip?

  10. Dis die blote gedagte wat my so opwen.

    Die blote gedagte!

  11. Gerrit, baie dankie vir jou waagmoed om ‘n mate van sinkretisme aan die volk se deur te kom lê.

    Ek haal besonder jou hart in die volgende aan: “Dit gebeur wel van tyd tot tyd dat mense, ook oor bree grense soos Protestants en Oosters-Ortodoks, by mekaar preek … Liturgie is belangrik. Dis iets wat ek (Gerrit) van die Anglikane waardeer …Dan weer, by die Katolieke en Ortodokses, val die klem veel meer op die lees van Bybel-tekste as op die preek. ‘n Goeie predikant is nie een wat ‘n indrukwekkende toespraak hou of, erger nog, show gee, nie, maar iemand wat ‘n teks vir ‘n mens oopmaak.”

    Gerrit, die volgende genade sal wees as Afrikaner Protestante die Hindoe, Joodse, Moslem, … se aanbidding tot ons almal se Almagtige Lewende Skepper deel in die uitdra van die Goeie Nuus saam met Paulus dat Agnostos Theos, ten volle mens vir ons in Jesus Christus geword het (Handelinge 17:23)

  12. Ek het beslis niks teen Buddhiste of mense van ander godsdienstige tradisies nie. Wat my wel pla (miskien sal ek ‘n keer daaroor skryf), is die idee dat Christene, omdat hulle “godsdienstig” is, ‘n tikkie nader aan ander “godsdienste” kan voel, terwyl hulle so ‘n bietjie (of baie) verder van, se maar, ateiste of agnostici staan. Ek dink nie ander “godsdienste” is nader aan die Christelike geloof as sogenaamde “nie-godsdienstige” lewensbeskouings nie. Alle mense het oortuigings oor die aard van wat ook al die diepste werklikheid is, en oor wat uiteindelik die hoogste waarde het. Dit geld ook ateiste. Die Christelike tradisie het ‘n bepaalde kyk hierop, en dis nie ‘n kyk wat noodwendig nader aan die kyk van Boeddhiste of Hindoes is as aan die kyk van Marxiste of Dawkinsiane nie.

  13. Gerrit, ek het absolute ooreenstemming met jou. Net GOD ken ons HARTE; net GOD versorg ons daarin. Geen mens ken eens sy eie HART nie;geen mens kan aan ‘n ander geloof in GOD gee nie. Ons sing en dans tot eer van ons almal se Almagtige Lewende Skepper. Dis vreugde wat ons as mense met mekaar deel. Net GOD ken elkeen se bedoelinge daarin. Ek sien uit na jou skrywe oor Christene se beter aanvaarding van ander godsdienste as teenoor ateiste of agnostici. Self staan ek skouer aan skouer met ‘n iedere van my medemens voor ons Skepper en bid dat Jesus Christus ons GOD ons almal sal vergewe en die hele wêreld in Sy liefde en genade sal seën. Spesiale Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, en Boeddhistiese liefde vir jou en Godseën met jou bediening …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.