Hoekom versterk Pierre de Vos die rasse- en klasse-eksklusiwiteit waarteen hy waarsku?

November 9, 2011 in Sonder kategorie

Die Burger berig vanoggend dat Pierre de Vos meen sogenaamde “taalbulle” (‘n klassieke geval van “framing” waarmee die opjek van kritiek beswadder word) wil die Universiteit Stellenbosch “wit hou”. Op die inhoud van verskillende rolspelers se betrokkenheid by die huidige debat rondom die US wil ek hier nie uitgebreid ingaan nie (ek deel hul besorgdheid oor die plek van Afrikaans en ander Afrikatale aan ons universiteite, maar meen daar is in sommige verklarings feitefoute gemaak, en ek steun nie ‘n mosie van wantroue nie). [Latere byvoeging tot hierdie inskrywing: Dit het toe geblyk dat Rapport se verwysing na so ‘n mosie foutief was en dat dit bloot oor ‘n mosie gegaan het, nie ‘n mosie van wantroue nie.] Verder vaar De Vos uit teen “taalbulle” se kritiek op die regerende party se traagheid en aanpak met betrekking tot ‘n nasionale talewet. Oorweeg in die lig van De Vos se kommentaar egter die volgende:

1. As De Vos reg is, beteken dit mense soos Christo van der Rheede, Michael le Cordeur en Neville Alexander is taalbulle wat die US wil wit hou – dit wil sê hulself wil uitsluit.

2. Die aanname dat Afrikaans nie-wittes uithou terwyl Engels hulle insluit, is ongegrond, maak geen sin in terme van die taaldemografie in die land (veral in die Wes-Kaap, en bo alles in die omgewing waar die US gebaseer is) nie, en is boonop reeds in die praktyk verkeerd bewys.

3. Behalwe ras, speel klas ‘n belangrike rol wat deur De Vos misgekyk word – onder meer die feit dat bruin Afrikaanssprekendes die laagste vlak van toegang tot hoër onderwys van alle “rasse” in die land het, en dat die bestaan van twee uitsluitlik Engelse, en een half-Engelse, universiteite (laasgenoemde die Universiteit Stellenbosch) in die gebied waar die mees benadeelde groepering die meerderheid is, moontlike toegang verder vir hierdie groepering bemoeilik.

4. Dat onderrig deur die eerste taal, ook op hoëronderwysvlak, nie net akademiese prestasie verbeter nie, maar ook die aanleer van addisionele tale (byvoorbeeld Engels deur nie-Engelssprekendes) vergemaklik, is ‘n bewese feit, wat beteken dat die totale oorheersing van Engels in Suid-Afrikaanse hoëronderwys-instellings die oorgrote meerderheid benadeel.

5. Die “taalbulle” waarna De Vos verwys, het nog nooit ‘n ekslusief Afrikaanse US bepleit nie, en pleit ook in die jongste verklarings dat parallelmedium en tolkdienste uitgebrei word om die doeltreffende gebruik van ander tale te bevorder.

6. Histories Afrikaanse universiteite was nog altyd, wat taal betref, meer inklusief as nog-altyd-Engelse universiteite, aangesien studente nog al die jare in Engels vrae in die klas kon stel, en Engels in werkopdragte en toetse kon gebruik, terwyl die meeste voorgeskrewe werke Engels was en is – terwyl die omgekeerde in Engelse universiteite ondenkbaar is.

7. In SA is daar ‘n sterk korrelasie tussen taal, “ras” en klas: Hoe ligter van kleur en hoe ryker ‘n Suid-Afrikaner is, hoe waarskynliker dat hy of sy effektief in Engels kan kommunikeer.

8. Die universiteit waar De Vos professor is, is eksklusief Engels en in daardie opsig uitsluitend en elitêr, maar De Vos protesteer nie daarteen nie en keur dit blykbaar dus goed, met alle rasse- en klasimplikasies daaraan verbonde.

9. De Vos waarsku die “taalbulle” teen die moontlikheid dat ander Afrikatale dalk deur ‘n nasionale talewet (waaraan die regering nou eers aandag gee nadat ‘n Afrikaanse prokureer ‘n suksesvolle grondwetlike saak hieroor gewen het) dalk meer as Afrikaans bevoordeel kan word, terwyl heelwat “taalbulle” (onder meer vanoggend in Die Burger) juis daarvoor pleit – terwyl De Vos self kennelik die oorheersing van die elite-taal in orde vind.

10. Nie net die talle verkeerde aannames waarna hierbo verwys word nie, maar ook die manier waarop De Vos allerlei ander “Afrikaner”-kwessies (terwyl nie alle pro-Afrikaanses Afrikaners is nie), soos kerklike sinodes waar taal nie aan die orde was nie, in sy skrywe ter sprake bring, dui op ‘n soort vooroordeel wat nie by ‘n regskenner pas nie; en sy “playing to the gallery” vir die Engelsvaardige elite wat sy blog lees, kom neer op goedkoop populisme wat reedsbestaande rasse- en etniese sentimente help vestig.

Kortom, De Vos se betoog bruis van rassisme, klassisme en elitêre eksklusiwisme, of hy dit nou besef of bedoel of nie. Hy behoort van beter te weet.

Klik hier om De Vos se stuk te lees (waar hy en talle ander intussen reeds op my skrywe gereageer het).

 

Lees ook ‘n artikel hieroor in Rapport deur hier te klik.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

28 antwoorde op Hoekom versterk Pierre de Vos die rasse- en klasse-eksklusiwiteit waarteen hy waarsku?

  1. Goeie debat.

  2. Bly jy dink so, maar vir nou is dit net reaksie. As De Vos reageer, is dit ‘n debat.

  3. lora2me het gesê op November 9, 2011

    Ek is moeg om die opinies van elitistiese akademici van ander instellings wat eentalig is op te vreet oor Stellenbosch en sy taalkwessies. ‘n Akademikus wat so baie opinies op die lug “lug”, behoort van beter te weet as om taal en ras te koppel. My seun is op Stbosch en sê altyd hoe goed hulle almal, Bruin, Wit en Swart met mekaar oor die weg kom. Dis mense soos prof de Vos wat die spanning en haat opjaag om hul vaal lewens in te kleur.

  4. Ja, Gerrit, ek hoop de Vos reageer. Ten spyte van sy
    vennyn en sarkasme is hy n grondwetkenner.

  5. alleman het gesê op November 9, 2011

    Dis ‘n goeie antwoord Gerrit, maar ek weet nie of debat met De Vos hom nie net meer mag gee oor hierdie saak nie – asof hy ‘n geldige deelnemer is wat wie se siening gereken moet word oor Stellenbosch.

    Hy het nie ‘n greintjie eerlik oor hierdie saak nie. Hy wil verengelsing van die land sien en gebruik net die saak om sy vooroordele te bedryf.

  6. Gerrit
    Wat ‘n goed beredeneerde oorsig. Dankie

  7. Ek kon dit nie beter stel nie!De Vos het sy lemme uit vir die Afrikaner.Ek is al so dik vir al die Afrikanerbashing!

  8. Ek wil nie graag op ‘n persoonlike vlak na my gespreksgenoot De Vos verwys nie. Dit gaan vir my oor die inhoud van sy argument. Daaroor is jy reg dat dit sekere aannames weerspieel wat nie met die feite strook nie.

  9. En, het ek altyd gevind, ‘n goeie gespreksgenoot.

  10. Ek weet nie. Hy is ‘n persoon wat respek afdwing in die akademie en die media, en wat hy oor die taalkwessie dink (ook al is die nie gegrond nie), het dus in elk geval invloed. As daar nie op gereageer word nie, of as die diegene wat wel reageer dit irrasioneel, beledigend en aggressief doen (wat vir die grootste deel tipies van die internet is), dan sterk dit sy saak.

  11. Bly jy dink so. Hoop jy’s reg …

  12. Oeps, dit was nie die bedoeling nie. Ek probeer ‘n inkonsestensie, of liewer ‘n klompie, uitwys.

  13. Afrikaner-bashing (soos alle rasse-, klasse- of etniese bashing) is iets wat nooit goedgepraat kan word nie, maar hier kom die bykomende oorweging by dat nie-Afrikaners se standpunt van die tafel gevee word deur hulle ook as Afrikaners voor te hou (of hulle heeltemal te ignoreer) en dan die Afrikaners te bash. ‘n Bietjie soos: “Al daai wittes wat hulle die heeltyd op die Grondwet beroep, wil SA wit hou.”

  14. Miskien help dit om prof. De Vos daaraan te herinner dat 130 van die einste skrywers( wat Afrikaans bevorder met “write a poem, a short story ..in beautiful Afrikaans”) en wat hy in sy slotparagraaf voorhou as voorbeeldig in 2005/6 reeds in ‘n openlike beswaarskrif (opgestel deur onder andere Elsa Joubert, George Weideman en Leonard Koza)beswaar gemaak het teen die US se verengelsing. Prof. De Vos mis dus kennelik belangrike argumente. Vir ‘n regsgeleerde en grondwetkenner van sy kaliber is dit ‘n groter probleem as sy chauvenistiese taalgebruik. Want die oorspronklike “taalbulle” het in sy soort Afrikaans nou kalfies sonder dat daar in dié soort taalmisbruik ooit sprake was van enigiemand van ‘n ander geslag. Of is uit Maupertuus beskou alle diere grys? Verdien prof. De Vos erns met die soort redenasie?

  15. Merkwaardige on-logika van ‘n regsgeleerde. Hierdie ouens los nie maklik gapings in hulle argumentasie nie. Prof. de Vos het homself hierdie keer in die voet geskiet. Miskien is hy nie bewus daarvan dat sogenaamde taalbulle nie-wit is nie. Ek wag in spanning op die Prof. se repliek.

  16. Belangrike perspektief. Dis tipies van die anti-“taalbul”-diskoers dat die ware feite oor wie waar staan deurgaans misken word.

  17. Hy het nou al geantwoord. Klik op die skakel hierbo en lees.

  18. Dankie, ek was besig om Pierre se antwoord te lees toe jou boodskap deur kom.
    Dit is werd om te wag op sy allerantwoord, as dit ooit kom.

  19. Dis opvallend dat enige aandrang op taal en kultuurregte deur Afrikaners, altyd as rassisties en ‘n teruggryp na die verlede of die withou van belange gebrandmerk word. Nogal ironies dat die taalbulle nie wit is nie!Baie van ons het al lankal aanbeweeg, maar politiekgedienstiges hou die wit spook lewendig!

  20. MARIé HEESE SKRYF:

    Hallo Gerrit

    Om die een of ander rede kry ek dit nie reg om op jou blog te kan kommentaar registreer nie. Wou net sê dankie dat jy De Vos op ‘n redelike wyse aanvat. Ek kon nie glo wat ek in Die Burger gelees het nie. Het die man dan die deel van sy regskursus wat aan denkfoute gewy word, geheel en al misgeloop? Ek sou sy artikel, as dit is wat dit was, kon inspan om klas te gee oor swak beredenering. (Terloops, dis nie ‘n mosie van wantroue nie. Almal wat daaroor wil praat, moet gerus eers die dokument self lees en nie net die media se weergawe daarvan nie.) Kyk mooi, klas: Wanvoorstelling van opponente se standpunt, argumentum ad hominem, “framing”, gevolgtrekkings gebaseer op foutiewe premisse… En as een van julle ooit so redeneer, verwag stellig om te dop.

    Groete
    Marié Heese

  21. Vetjan het gesê op November 9, 2011

    Goed geskryf. Stem 100% saam.
    PdV sit die pot erg mis.

  22. janpn het gesê op November 10, 2011

    Wat my werklik teleurstel van hierdie debat is dat dit glad nie gaan oor die regte van die Afrikaanse student wat in sy taal wil studeer of die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal nie. Die indruk wat ek hier kry (as ‘n doodgewone Afrikaanssprekende) is dat dit hier meer gaan oor eie belangrikheid en om ‘n futiele argument te wen.
    PdV mag vir u, as meningsvormer, belangrik wees, maar kan nooit belangriker wees as die Afrikaanse student se regte waaroor u debat behoort te gaan nie.
    Vir my gaan dit eenvoudig om die vraag, wat is die verskil tussen ‘n Afrikaanse US en ‘n Engelse UK? Hoekom is US dan eksklusief en UK inklusief?
    Hieruit volg baie ander vrae. Hoekom is die protes van ‘n Afrikaanse student dan so ‘n sensitiewe saak, dat baie ander groepe (taal) skielik ook in hordes tot hierdie debat toetree? Kyk na die reaksie op PdV se artikel “ Why the taalbulle will destroy Afrikaans”. Hoekom gaan ek (as oudstudent) verder enige finansiële bydrae tot die US maak as my nageslag nie verder in hul moedertaal hier kan studeer nie?
    PdV maak die afleiding dat een van die motiewe is om US wit te hou. Ek kon nêrens vasstel dat die motief enigsins oor meer gaan as wat uitgespel is nie. Ek wonder wat sy motief is, gesien in die lig van sy oorreaksie. Vir my sal hy nie maklik weer ‘n meningsvormer wees nie.
    Ek wil nie eens praat van Prof. Botman, Buks Hertzog ens. se idee oor kwaliteit van opvoeding in Afrikaans nie.

  23. Die debat op Pierre de Vos se blog het lekker spoed gevang, al is die meeste bydraes, nou ja, “minder sinvol”. Ek het plek-plek op van daardie enkele bydraes waarvan die inhoud verstaanbaar is gereadeer – ook op De Vos se (swak) reaksie op my aanvanklike kritiek hier. Om die debat te lees, klik op die skakel onderaan my oorspronklike bloginskrywing hierbo.

    Verstommend is dat Die Burger vanoggend rapporteer De Vos pleit nou vir die gebruik van tolkdienste in die klas (by Maties, maar blykbaar nie by sy eie eentalige universiteit nie), en bied dit as ‘n alternatief vir die “taalbulle” se eise aan, terwyl dit in werklikheid is waarvoor die “taalbulle” nog al die tyd pleit! Hoe meer dae, hoe meer dinge.

  24. Ek het niks teen De Vos nie, maar wel teen sy argument. Dis nie net onlogies, vol non sequiturs nie, maar ook bevooroordeeld en daarom, meen ek, skadelik – bedoeld of onbedoeld.

  25. Eish!

    Om en om. dom en dommer – die man antwoord nie jou punte nie, hy bring ander goed in.

    En Ja, hy het boggerol gedoen on zulu in sy universiteit in te bring.

    So die hele ding is net ‘n “Politically Correct” gedrewe saak om Afrikaans te probeer onderdruk – dis mos alles Apartheid se skuld, en Apartheid is Afrikaans, so Afrikaans is Apartheid en Apartheid is boos, so skiet ‘n boer vir Kristus!

    Maak my siek, dis spul!

  26. Sal graag wil weet wat daardie geldige punte is?

  27. konfyt het gesê op November 15, 2011

    Baie dankie vir jou raak analise, Gerrit. Ek kan eintlik nie glo dat De Vos soveel denkfoute kan begaan nie.

  28. Ons het almal ons blinde vlekke. So beweer hulle …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.