Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Wanneer God ‘n gay Christen roep, durf niemand in die weg daarvan staan nie

November 30, 2011 in Sonder kategorie

Die Burger berig vanoggend dat ‘n gay afgestudeerde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit teologie nie saam met van haar klasmaats as proponent in die NG Kerk gelegitimeer kon word nie. Die besluit is deur die kuratorium van die NG Kerk geneem en berus op ‘n besluit deur ‘n vroeër sinode (nie die mees onlangse een nie) dat lidmate in ‘n gay verhouding nie in die amp bevestig kan word nie. Aangesien ek ‘n dosent aan die fakulteit teologie is en dit hier dus om een van my studente gaan, is dit ‘n aangeleentheid wat my diep raak. Dit is vir my dan ook belangrik om duidelik te maak dat die besluit om die betrokke student legitimasie te weier nie deur die fakulteit geneem is, of geneem sou kon word, nie. Laat ek dit toelig.

Die fakulteit teologie is ‘n universitêre instansie en dus gebonde aan universiteitsreëls en riglyne. Dit is nie ‘n instelling van die NG Kerk nie. Geen kerk het enige seggenskap oor wie aan die fakulteit mag studeer nie. Dit beteken ook dat enige student wat aan die vereiste akademiese standaarde voldoen dieselfde kwalifikasies kan verwerf wat die NG Kerk van potensiële ampsdraers vereis. Die kuratorium wat legitimasie tot die amp kan weier, is ‘n kerklike instansie en het as sodanig geen gesag om die aanstelling van dosente, die toelating van studente of die inhoud van modules in die fakulteit te bepaal nie.

Die verhouding met die NG Kerk is dié tussen ‘n burgerlike instansie en ‘n universiteitsfakulteit. Teologiese studie is in verskeie universiteite, seminaries, Bybelskole en derglike strukture beskikbaar. Uit daardie moontlikhede kies die NG Kerk dan sekeres wat sy reken vir haar potensiële ampsdraers geskik is – tans die teologiefakulteite aan die US, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Nie net die NG Kerk nie, maar ook die VGK en die Uniting Presbyterian Church, erken die teologiese opleiding aan die US vir ampsdoeleindes, en ‘n soortgelyke verhouding met die Anglikaanse Kerk is ook tans in wording. Verder studeer ‘n groot aantal studente wat aan geen van hierdie kerke behoort nie ook aan die fakulteit. Ook dosente aan die fakulteit behoort aan verskillende denominasies en nie almal is in ‘n amp bevestig nie.

Net soos die kerk nie besluite oor die fakulteit kan neem nie, kan die fakulteit ook nie besluite vir die kerklike vennote neem nie – ook nie oor die legitimasie van ampsdraers nie. Nietemin is dit vir dosente aan die fakulteit ‘n hartseer saak dat een van hul afgestudeerdes nie haar teologiese opleiding met haar persoonlike roepingsbewustheid kan verenig om as ampsdraer in die kerk te dien nie. Ek kan nie amptelik namens die fakulteit praat nie, aangesien slegs die dekaan dit kan doen, maar ek kan wel noem dat dosente in die fakulteit al by meer as een geleentheid oor hierdie saak met die kuratorium in gesprek was, hul besorgdheid laat blyk het en herbesinning oor die betrokke kerklike besluite bepleit het.

Hoekom het die NG Kerk-kuratorium legitimasie van ‘n gay student geweier? Die rede is dat dié student, wat in ‘n vaste langtermynverhouding is, nie bereid is om ‘n dokument te onderteken waarin sy onderneem om selibaat te bly nie. Die NG Kerk se sinodale beleid op hierdie stadium is dat lidmate in ‘n gay verhouding nie in die amp bevestig kan word nie. As NG Kerk-lidmaat vind ek daardie beleid teologies ondeurdag. Sterker nog: ek vind dit skreiend dat medelidmate op so ‘n hardvogtige, gevoellose en onmenslike manier behandel word, en dat hul waardigheid as mense wat in die beeld en gelykenis van God geskape is só gruwelik vertrap word.

Ek besef dat die NG Kerk en ander denominasies in die Calvinisties-Presbiteriaanse tradisie se wiele soms stadig draai omdat hierdie kerkverbande nie deur gesaghebbers van bo bestuur word nie, maar deur die gemeentes waaruit die kerk bestaan. Verder is die NG Kerk, wanneer dit by die kwessie van homoseksualiteit kom, nie onder die mees konserwatiewe denominasies nie, en neem talle kerke met ‘n minder “demokratiese” bestuurstyl nog onbuigsamer besluite oor homoseksueles.

Dit verander egter nie die feit dat wat in hierdie geval met ‘n geroepene tot die kerklike amp gebeur het op sonde neerkom en die Here hartseer maak nie. Elke lidmaat van die NG Kerk, en elke Christen, wat na die koms van God se nuwe skepping smag, behoort bewustelik die smart van God te deel. By die blydskap oor ‘n groep afgestudeerdes wat so pas as proponente gelegitimeer is, moet daar ook pyn beleef word oor ‘n klasmaat met ‘n roeping wat ook daar moes gewees het. Sy moet weet en ervaar dat baie lidmate haar pyn deel en nooit vrede daarmee kan hê nie. Sensitiwiteit, spanninge en versigtigheid durf nie in die pad hiervan kom nie.

Mag die Here deur sy Gees die NG Kerk en ander Christene oor hul dikwels wrede behandeling van homoseksueles tot inkeer bring.

Klik hier om my kollega Louis Jonker se brief oor hierdie aangeleentheid in Die Burger te lees.

 

Ek kan ook Chris Jones se artikel oor die breër kwessie van geloof en homoseksualiteit (klik hier om te lees) aanbeveel.

 

Lees ook Neels Jackson se artikel oor die aangeleentheid in Beeld.

 

Bernard Lategan het ook tot die gesprek toegetree – klik en lees.

 

Carl van Heerden verdedig ‘n meer behoudende standpunt.

 

Klik hier en lees ook Charlene van der Walt se blik op die aangeleentheid.

___

My kommentaar op bruggie hieronder betref ‘n belangrike aspek van die debat waaraan ek in my oorspronklike skrywe hierbo nog nie aandag gegee het nie. Ek kopieer dit dus ook hier vir kennisname:

 

Ek kon gepraat het oor die onlogiese dimensies van die proses …

Byvoorbeeld: Indien aangeneem word dat gay verhoudings verkeerd is (‘n gedagte wat ek totaal absurd vind), en as daarby besluit word dat gay mense moet onderneem om selibaat te bly (‘n besluit wat ek afkeurwekkend vind), dan sal konsekwentheid vereis dat ook heteroseksuele studente so ‘n verklaring onderteken.

Immers, die amptelike sinodale se posisie is dat seks slegs in die huwelik hoort, en dat seks in enige ander verband, ook in saamwoonverhoudings, dus onaanvaarbaar is. As ‘n mens hierdie oordeel aanvaar (wat myns insiens in simplistiese terme verwoord is), dan moet ‘n mens in ag neem dat heteroseksueles in die “versoeking” sal wees om buite die huwelik seks te he (hoe maak ‘n mens kappies en deeltekens in hierdie kommentaarblokkies?), net soos wat homoseksueles in die “versoeking” is om hul seksuele orientasie fisiek uit te leef.

‘n Interessante artikel waarop ek via Facebook afgekom het:

(Die artikel is nie deur my nie)

 

Opinie-artikel van David Bos (docent aan het Departement Religiewetenschap en Theologie) in de Trouw van vandaag over Different:

Different, niet zo anders dan zijn voorganger

‘Beginselvasten’ en ‘seculieren’ hebben baat bij controverses rond homogenezing. Die bevestigen hun vooringenomen gelijk.

David Bos

docent geschiedenis van het christendom aan de Universiteit Utrecht

Het rumoer over Different de organisatie die ervan wordt verdacht dat ze homoseksualiteit wil genezen of althans onderdrukken is weer bedaard. Maar ik wed dat deze instantie over enige tijd opnieuw in opspraak zal raken. De verdenking ligt namelijk voor de hand, want Different is de voortzetting van Evangelische Hulp Aan Homofielen. Deze organisatie werd in 1975 opgericht door de hoofdpersoon van het vaak herdrukte boekje ‘Ik ben niet meer ‘zo’: getuigenis van een genezen homoseksueel’ (1969).

Voorzover ik weet heeft Different zich nooit gedistantieerd van dat verleden noch van buitenlandse zusterorganisaties die nog altijd streven naar genezing of ‘bevrijdingspastoraat’ (lees: exorcisme light) bedrijven. Dat is jammer want er zou een mooi boekje te schrijven zijn over het hoe en waarom van deze verandering van het ‘genezen’ of ‘uitdrijven’ van homoseksualiteit naar het ‘verminderen en verbleken van homogevoelens’ en vervolgens het ‘begeleiden’ van mensen met ‘homogevoelens’. Mag ik een titel suggereren? Wij zijn niet meer zo.

Zolang Different dat niet doet, blijft de organisatie verdacht. Kennelijk wil ze dat ook.

De periodiek terugkerende schandalen over homoseksualiteit en geloof hebben een functie, zowel voor de ‘verlichten’ of ‘seculieren’ als voor de ‘behoudende gelovigen’. Laatstgenoemden worden erdoor bevestigd in de gedachte dat zij, anders dan vrijzinnige en mainstream christenen, ‘bijbelgetrouw’ en ‘beginselvast zijn’ dat zij geen gehoor hebben gegeven aan de sirenenzang van de moderne cultuur en theologie. Het overtuigt hen er bovendien van dat zij het onderling roerend eens zijn. Maar ook dat is een illusie. Juist wat homoseksualiteit betreft, zijn er belangrijke verschillen tussen, bijvoorbeeld, vrijgemaakten en pinkstergelovigen.

De telkens terugkerende controverses over homoseksualiteit en godsdienst hebben ook een functie voor de ongelovigen, oftewel de seculieren. Het bevestigt ze in de gedachte dat religie the root of all evil is. Maar ook dat is een misvatting. Uit onderzoek blijkt telkens weer dat geweld tegen homo’s niet zozeer voortkomt uit afkeuring, als wel uit afkeer van homoseksualiteit.

Die aversie die luidkeels wordt geuit in voetbalstadions, op schoolpleinen en op straat heeft weinig te maken met godsdienstige overtuiging. Nederlanders maken zichzelf vandaag de dag wijs dat ze homoseks de gewoonste zaak van de wereld vinden en dat ze dat eigenlijk altijd al hebben gevonden.

Deze twee mythes, de seculiere en de religieuze, houden elkaar in stand. Beide partijen worden er namelijk beter van. Dat geldt overigens ook voor de homobeweging, al is die lang niet zo machtig als behoudende christenen suggereren.

Homo-organisaties hebben vandaag de dag de wind mee, en volgens sommigen duurt het nog maar even voor ‘we’ er zijn: in een samenleving waarin homoseksualiteit de gewoonste zaak van de wereld is. Mij lijkt dat toekomstbeeld een utopie, en wel een misleidende. Seksuele diversiteit moet, en hoeft ook niet bevochten te worden ten koste van religieuze verscheidenheid, zoals behoudende gelovigen (christenen maar ook moslims) wel aanvoeren. Waar het op aankomt, is de ruimte om samen te leven of alleen, voor wie wil en lief te hebben naar eigen voorkeur en overtuiging.

David Bos schreef het boek ‘De aard, de daad en het Woord. Opinie en besluitvorming over homoseksualiteit in protestants Nederland, 1959-2009’. (SCP 2010)

 

Klik hier vir nog ‘n gesprek oor Bybel en seksualiteit wat vir ons tema hier relevant is.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Kopskuif-onderhoud op Versindaba

November 22, 2011 in Sonder kategorie

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Gerrit Brand)

Kopskuif is ‘n nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad wil begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ‘n stel vrae aan ‘n aantal belanghebbendes te stuur vir hul kommentaar. As eerste “kopskuif” fokus ons op die belangrike kwessie van openbare diskoers aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ‘n verdagmakery as wat daar konstruktief oor ‘n bepaalde aangeleentheid besin word.

As eerste skuif plaas ons graag Gerrit Brand (foto) se bydrae.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Gerrit Brand: ‘n Mens moet versigtig wees vir veralgemening. Daar word wel van tyd tot tyd sinvolle openbare gesprekke gevoer, onder meer op ruimtes soos Versindaba en LitNet. Trouens, ‘n kenmerk van ons tyd is dat, danksy die internet, meer moontlikhede ontstaan het vir hoëgehalte-gesprek, ook tussen kleiner groepies mense wie se stem dalk andersins nie gehoor sou kon word nie. Terselfdertyd het dit nadele – soos dat dit dalk té maklik is om van ‘n mens te laat hoor, dat minder sorg dus geneem word om deurdagte, logies gestruktureerde standpunte te stel. Die vinnig-dink-vinnig-skryf-kultuur kan tot oppervlakkigheid lei; dit laat ‘n mens toe om iets te kan sê sonder dat jy self weet presies wát dit is wat jy nou eintlik probeer sê. Daar is in ‘n mate ‘n aantreklikheid aan “van my te laat hoor” as ‘n doel insigself. Niks hiervan is egter noodwendig nie. Dieselfde faktore wat dit moontlik maak, maak dit ook moontlik om oop en intellegente gesprekke te hê. Die vraag oor die gehalte van openbare diskoers roep verder sekere vrae op: Wat maak ‘n diskoers openbaar? Was daar ooit ‘n openbare diskoers wat in die algemeen deur hoë gehalte gekenmerk is? Vertrek ons met die vraag na die gehalte van openbare diskoers nie van sekere romantiese aannames nie?

 

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

GB: Is dit iets nuuts dat meningsverskille in persoonlike twisgesprekke ontaard? Ek is nie so seker nie. Ja, die internet – om weer die nuwe god ter sprake te bring – maak dit vir mense maklik om mekaar sleg te sê en af te kraak sonder gevolge vir hulself, maar in die verlede was daar ook skuilname en dies meer. Wat my die laaste twee of drie dekades opval, is hoe sensitief ons geraak het vir robuuste debat wat alte gou persoonlik opgeneem word. Vryheid van spraak, dink baie mense, beteken dat ek jou, of jy my, uitlatings nie mag kritiseer nie. Daar was ‘n tyd (sê die romantikus in my!) toe mense publieke kommentaar kon skryf soos: “Ek sit hier in die kleinste vertrek in die huis met u manuskrip voor my. Dit sal binnekort agter my wees.” (Die oorsprong hiervan is omstrede, maar dit is regtig geskryf.) Sal ernstige intellektuele vandag nog so skryf? Ek weet nie, ek wonder maar net. Natuurlik is dit lelik wanneer debatte persoonlik en beledigend raak, maar ek is nie seker dat dit in ons tyd meer voorkom as in die “goeie ou dae” nie. Vryheid van spraak – ook dom en onbeskofte spraak – is myns insiens belangriker as mense se lang tone. John Stuart Mill het gesê liberalisme beteken elkeen kan doen wat hy of sy wil, mits dit nie iemand anders “injure” nie – en daaraan toegevoeg dat “offense” nie as “injury” kwalifiseer nie. As jou gespreksgenoot jou persoonlik beledig, het jy altyd die opsie om nie tot dieselfde soort taal verlei te word nie (dis seker ook soms lekker …), maar die gesprek na die inhoud van die geskil terug te bring. Met ander woorde: doen dit soos jy dink dit gedoen moet word, en knip daai tone korter sodat jy nie te gou weghol wanneer die vonke begin spat nie!

 

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

GB: Dit hang van die soort gesprek af. Goeie spekskiet lyk anders as goeie akademiese diskoers, byvoorbeeld. Wanneer dit om beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling gaan, dan is die kriteria, nou ja, beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling. Daar is ‘n element van aanvoeling en sjarme by betrokke: hoe praat of skryf ‘n mens in hierdie verband? Wat is goeie styl? In sekere kontekste moet ‘n goeie gesprek veral genotlik wees. In ander kontekste is dit ‘n wapen in die stryd. ‘n Goeie spreekkunstenaar verstaan die konvensies, maar weet ook wanneer om hulle te rek en sodoende iets reg te kry wat die moeite werd is. Te veel rekkery kan egter die hele praktyk in duie laat stort. Dalk is dit waaroor mense bekommerd is wanneer hulle oor die lae vlak van openbare diskoers kla? Dat sekere sóórte gesprekke al hoe skaarser raak omdat al hoe minder mense nog ‘n smaak en aanvoeling daarvoor het?

 

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

GB: In Nederland het ek greeld byeenkomste van al die universiteite se godsdiensfilosowe (dosente en doktorale studente) bygewoon. By elke geleentheid het een dosent en een student die geleentheid gehad om ‘n lesing te gee. Op daardie lesing is dan ook voorbereide repliek gelewer deur iemand anders, en daarna kon almal aan die gesprek deelneem. Die repliek en gesprekke was dikwels heftig; geen doekies is omgedraai nie, maar ek het bitter selde die indruk gekry dat mense kwaad word vir mekaar, en na afloop van die lesings het almal saam ‘n gesellig borrel geniet. Onlangs was ek weer in Duitsland, waar daar ‘n openbare debat oor pre-implantasie seleksie tussen ‘n teoloog en ‘n bekende skrywer was. Laasgenoemde is nie aan die kerk verbonde nie, maar beskou homself as sekulêr. Hulle het skerp verskil oor die onderwerp, maar sjoe, kan hulle hul argumente verwoord! En hulle neem mekaar se argumente ernstig. Die gevolg is dat daar uiteindelik tog ook ‘n sekere oorvleueling van standpunte ontdek word. Waar ek werk in ‘n teologiefakulteit het ek ook die voorreg om daagliks met kollegas in gesprek te wees wat dit geniet om aan ‘n verskeidenheid standpunte blootgestel te word en daarmee te worstel. My ervaring is dus dat daar daar nog baie goeie en leersame gesprekke in die wêreld gebeur. Wat hulle gemeen het, is ‘n gedeelde liefde vir saam dink en saam verstaan.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe isnkrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die taal van eiendomsagente

November 21, 2011 in Sonder kategorie

Hoekom kan eiendomsagente nie maar Afrikaans, Engels of ‘n ander mensetaal gebruik nie? Hier volg ‘n realiteitsgetroue dog half-fiktiewe illustrasie:

In die koerant en op advertensieborde sien jy daar is ‘n nuwe komples (in die nie-psigologiese sin van die woord) in die dorp, met verskillende soorte wooneenhede wat nou te koop is. Pryse begin by 1 sent (by wyse van spreke), en aangesien die kreatiewe skets so vrolik, blink en gesinsvriendelik daar uitsien, lyk dit na wat dalk ‘n goeie belegging kan wees. Miskien oorweeg jy om eiendom te koop en verhuur, so jy kyk nader. Waar sou hierdie eiendomsontwikkeling wees? Moenie dink die advertensie sal jou dít vertel nie! Jy bel dus maar, of stap in, om te gaan hoor.

Die mense is vriendelik – so vriendelik en wellustig (in die nie-seksuele sin van die woord) dat jy die vrede nie vertrou nie en verwag om nou enige oomblik ontvoer en verorber te word – maar jy byt op jou tande en druk deur: “Goeie môre, ek wil graag iets vra oor die nuwe ontwikkeling wat julle adverteer – die een met die goeie pryse. Waar is dit?”

“O, dis ‘n baie opwindende ontwikkeling – een van die laastes in daardie klas wat nog in hierdie dorp gebou sal word – en jy’s gelukkig dat jy nou net betyds gekom het, want hulle is amper almal uitverkoop. Die gelukkigste van alles is dat een van die drie eenhede wat nog te koop is ‘n baie lekker eenheid is wat ek self persoonlik sou aanbeveel het as my kind of ma byvoorbeeld op hierdie ontwikkeling wou inkoop. O, hulle sou graag wou, maar kan nou net op hierdie stadium nie bekostig om te koop nie. Elke eenheid het …”

“Ekskuus, Mevrou,” val ek haar in die rede. Ek wil net eers hoor waar die nuwe ontwikkeling geleë is.

“Ek is bly jy vra!” antwoord sy. “Weet jy waar Lekkerleef is – daardie pragtige ontwikkeling net onder Hemelberg?”

“Ja, ek het vriende daar.”

“Nou ja!” gaan sy verder met die opgewondenheid van iemand wat op die punt staan om aan te kondig dat jy die Lotto gewen het. “Die nuwe ontwikkeling, Luilekker, lê net duskant Lekkerleef.”

“Duskant?” probeer ek my oriënteer. “Jy bedoel aan Middelbuurt se kant?” (Middelbuurt is ‘n heel aangename laermiddelklas-woongebied naby aan die middedorp.)

“Jy sou so kon sê,” begin haar verduideliking, maar dis ‘n tikkie nader aan Laerskool Suidland. ‘n Mens kan Hemelberg van daar sien.”

“In watter straat? Die een aan Lekkerleef se kant van die sportgronde?”

“Nee, ‘n bietjie meer wes.” Sy begin effens senuagtig lyk en probeer om oor die goeie openbare vervoer aan daardie kant van die dorp te verduidelik, maar ek probeer my nog geografies oriënteer.

“Moet ‘n mens verby Helbergvillas ry om daar te kom?” probeer ek die rigting bepaal.

“Wel, dis ‘n hele endjie verby Helbergvillas,” verduidelik sy gerusstellend, want sien, Helbergvillas is ‘n plakkerskamp met ‘n hoë misdaadsyfer. (Die “hele endjie” blyk later 300 m te wees.) “Maar dan draai jy regs in na Lekkerleef se kant toe; die borde sê duidelik Luilekker. As jy só sou deurry, sou jy by Lekkerleef uitkom.”

“Kan jy só deurry?”

“Nee, nie regtig nie, maar al wat tussen Luilekker en Lekkerleef is, is die heuweltjie daar …”

“Jy bedoel die treinspoor?” maak ek seker.

“Man, weet jy …”

En so gaan dit aan totdat jy dit uiteindelik uit die behulpsame agent geworstel het dat die nuwe ontwikkeling reg tussen twee berugte plakkerskampe lê, met die snelweg en die treinspoor wat die ander twee grense afbaken, 20 km van die naaste winkel, sonder ‘n teerpad wat daarheen lei en met geen beveiliging behalwe ‘n 1 meter hoë draadheining nie. O ja, en die eensent-eenhede is reeds “opgeraap”, maar daar is nog daardie drie (wat toevallig eintlik die bestes is) teen R85 miljard (by wyse van spreke). Die datum waarop die eenhede klaar sal wees, is amptelik oor drie jaar, “maar ons skat dit sal net ‘n rapsie meer as een jaar duur”. Ja, 10% moet nou reeds neergesit word, “maar die goeie nuus is dat ‘n mens daaroor kan onderhandel”. Die geskatte huurinkomste wat ‘n mens kan verwag is so R100, “maar” …

Julle kry die idee. Dan praat ek nog nie van eiendomsagent-taal soos “kry jou voet in die mark” (onpopulêre buurt), “lock up and go” (baie klein) en “renevator’ dream” (in slegte toestand) nie.

Wat ek nie verstaan nie: Dink hierdie mense ons loop met genoeg kontant in ons beursie dat ons dalk gaan betaal nog voor ons vasgestel het waar die eiendom geleë is, hoe groot dit en in watter toestand dit is? Ons gaan dit mos uitvind! Hoekom dan nie van die begin af sê wat potensiële kopers wil weet nie? Sommer in die advertensie.

En hoekom word in die eiendomsdeel van die koerant duur advertensieruimte gekoop om met groot gedoe “aan te kondig” dat Piet Pompies nou die nuwe bestuurder van Eina Eiendomme se plaaslike tak is? Dink hulle ons gee ‘n hel om? Is dit veronderstel om ons te beïndruk of opgewonde te maak?

Besef hierdie mense nie dat dit die eiendomsgeïnteresseerde so moedeloos en gatvol maak dat hy of sy later liewers die idee opgee om in eiendom te belê nie?

Klik hier vir ‘n wonderlike stukkie getitel “Real Estate Porn” waarop Desmond Painter die aandag gevestig het.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lekker zef

November 19, 2011 in Sonder kategorie

Toe ek nog by Die Burger geblog het, het ek ‘n keer een onskuldige sin geskryf wat tot ‘n uitgebreide sosiokulturele diskussie aanleiding gegee het. Die inskrywing het gelui: “Net een vraag: Is daar iets meer zef as selfoon-luitone?” Uiteindelik is ek toe laer af op die diskussiebord daartoe genoop om te verduidelik wat ek presies met zef bedoel. Ek sal dit nie hier herhaal nie, maar ‘n akkurater omskrywing was daar nog nie, al moet ek dit in alle nederigheid self sê. My analise het wel geëindig met die slotopmerking: “As ek ‘n rockband begin het, sou ek dit Zef genoem het.”

As ek maar my eie raad gevolg het! Dink net, dan was ek, eerder as Die Antwoord (DA) of Jack Parow (JP), die vader van zef rock. Maar nou ja, ek het in elk geval nie met die beste band-naam vorendag gekom nie, want onlangs sien ek in die gym ‘n meisie met die woorde “Zef Leopard” op haar T-hemp.

Ek het waardering vir DA en JP se oorspronklikheid, kreatiwiteit en gewaagdheid, asook hul liriese, performatiewe en musikale vermoëns. ‘n Mens kan maar sê hulle het zef op die map gesit. Een (waarskynlik onbedoelde) gevolg van die viering van zef in die nuwe wêreldberoemde genre is egter dat buitelanders of oningeligte Suid-Afrikaners ‘n misleidende indruk kan kry dat afferige seksuele praktyke, ongelooflike kru taal en boewerige aggressiwiteit die essensie van zef is – wat glad nie die geval is nie! My verstaan van zef het trouens niks met dié soort afheid te doen nie. Om dit anders te stel: zefters is nie slegter as ander mense nie.

Selfs die verband tussen lae klas en zef is nie essensieel nie. Zef is ‘n styl, ‘n kulturele modus. Zefters is dikwels van die vriendelikste mense. Dikwels ook goeie mense. Dis lekker om met zef te spot (veral omdat daar dikwels ‘n tikkie selfspot in sit), maar dit sal jammer wees as die idee onder ons beïnvloedbare jeug posvat dat zef mense agterlike mense is, dom mense, siek mense, perverte. Dit het niks met goeie ou zef te doen nie.

Ek voel my dus tuiser by Valiant Swart se diepsinnige kultuurfilosofiese analise: “Die meeste mense is maar lekker zef.”

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Kontrakultuur van kanselruiling?

November 16, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Toe ek nog gereeld in ‘n gemeente voorgegaan het, bel ‘n anonieme lidmaat een Sondagoggend vroeg. “Wie preek vandag, jy of die dominee?” vra sy. “Ek wil besluit of ek kerk toe moet gaan.” Ek wonder vandag nog of sy opgedaag of weggebly het omdat ek die prediker was!

 

Ek het hieraan gedink toe ek in die vorige Kerkbode-uitgawe James Kirkpatrick se stelling lees dat Calvyn vandag nog relevant en opwindend is, ook vir die jeug. Dis waar, en een van die opsigte waarin ons by Calvyn kan leer, is sy gedagtes oor kanselruiling. Klink nie juis aardskuddend nie? Gee kans.

 

Die Switserse kerkhistorikus Peter Opitz vertel dat kanselruiling vir Calvyn belangrik was. Nie kanselruiling soos ons dit vandag ken, met dominees wat af en toe ‘n buurgemeente besoek nie. Eintlik moet ‘n mens van kanselwisseling praat, want wat Calvyn bepleit het, is dat die predikante van Genève voortdurend tussen die kansels van die verskillende gemeentes moes sirkuleer: Vandeesweek preek dominee X by gemeente A, die week daarna by gemeente B, dan gemeente C en so meer, totdat hy/sy uiteindelik weer voor die lidmate van gemeente A staan – net om volgende week weer elders te preek. Die gemeente luister nooit twee weke ná mekaar na dieselfde predikant nie, en relatief selde na hul eie ampsbekleër.

 

Maar hoekom dan? Wel, Calvyn was bekommerd dat mense kerk toe sou gaan om na ‘n spesifieke dominee, eerder as na die Woord, te luister. ‘n Predikant is nie veronderstel om ‘n gevolg op te bou of naam te maak nie, maar om die Bybel aan die gemeente uit te lê – vandaar die Latynse afkorting VDM, bedienaar van die Goddelike Woord.

 

Baie relevant in ons verbruikerskultuur, sou ek sê. Die gemeente, so word dikwels bepleit, moet “soos ‘n besigheid bestuur word”. Watter besigheid sal moeite doen en ‘n kompeterende salaris aanbied om die beste talent te lok, net om dié bate dan met die kompetisie te deel en boonop deur laasgenoemde se personeel bedien te word? Maar soos Kirkpatrick sê: die kerk moet ‘n “kontrakultuur” vergestalt, ‘n ander manier van saamleef as wat die samelewing gewoond is – nie kompeterend en afgunstig oor wie van Paulus en wie van Apollos of Céfas is nie, maar gerig op die opbou van die geloofsgemeenskap, die dra van mekaar se laste, die deel van vreugdes. Nie my behoeftes en voorkeure nie, maar die welsyn van Christus se liggaam, moet deurslaggewend wees.

 

In die één kerk wat deur God “versamel, beskerm en versorg word”, bely Belhar, word “die versoeningswerk van Christus sigbaar … as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is”. Dit beteken “dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God”.

 

Gestel nou ons vang onsself onkant. Gestel ons word elke Sondag deur ‘n anderster stem uit ‘n anderster deel van die NG kerkfamilie die Woord bedien. As Anoniem dan tog agter “die goeie predikant” aanloop, laat dit dan ten minste daartoe lei dat sy een week tussen NG lidmate, dan VGK-lidmate, dan weer elders na dié ster moet luister!

 

Wat van praktiese uitdagings, soos taalverskille? Nou raak dit éérs opwindend! Gestel dit raak gebruiklik dat elke erediens ‘n Pinkster word, ‘n meertalige uitstorting van die Gees soos in Handelinge 2 – met tolke, liedere in verskillende tale en wisselende bedieningstyle. Gestel ons begin “tale spreek”!

 

Dit sal oefen en gewoondraak kos, kreatiwiteit en uitprobeer verg. Dit sal weird wees, eienaardig, teen die stroom in. Soos dit hoort.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

Hoekom versterk Pierre de Vos die rasse- en klasse-eksklusiwiteit waarteen hy waarsku?

November 9, 2011 in Sonder kategorie

Die Burger berig vanoggend dat Pierre de Vos meen sogenaamde “taalbulle” (‘n klassieke geval van “framing” waarmee die opjek van kritiek beswadder word) wil die Universiteit Stellenbosch “wit hou”. Op die inhoud van verskillende rolspelers se betrokkenheid by die huidige debat rondom die US wil ek hier nie uitgebreid ingaan nie (ek deel hul besorgdheid oor die plek van Afrikaans en ander Afrikatale aan ons universiteite, maar meen daar is in sommige verklarings feitefoute gemaak, en ek steun nie ‘n mosie van wantroue nie). [Latere byvoeging tot hierdie inskrywing: Dit het toe geblyk dat Rapport se verwysing na so ‘n mosie foutief was en dat dit bloot oor ‘n mosie gegaan het, nie ‘n mosie van wantroue nie.] Verder vaar De Vos uit teen “taalbulle” se kritiek op die regerende party se traagheid en aanpak met betrekking tot ‘n nasionale talewet. Oorweeg in die lig van De Vos se kommentaar egter die volgende:

1. As De Vos reg is, beteken dit mense soos Christo van der Rheede, Michael le Cordeur en Neville Alexander is taalbulle wat die US wil wit hou – dit wil sê hulself wil uitsluit.

2. Die aanname dat Afrikaans nie-wittes uithou terwyl Engels hulle insluit, is ongegrond, maak geen sin in terme van die taaldemografie in die land (veral in die Wes-Kaap, en bo alles in die omgewing waar die US gebaseer is) nie, en is boonop reeds in die praktyk verkeerd bewys.

3. Behalwe ras, speel klas ‘n belangrike rol wat deur De Vos misgekyk word – onder meer die feit dat bruin Afrikaanssprekendes die laagste vlak van toegang tot hoër onderwys van alle “rasse” in die land het, en dat die bestaan van twee uitsluitlik Engelse, en een half-Engelse, universiteite (laasgenoemde die Universiteit Stellenbosch) in die gebied waar die mees benadeelde groepering die meerderheid is, moontlike toegang verder vir hierdie groepering bemoeilik.

4. Dat onderrig deur die eerste taal, ook op hoëronderwysvlak, nie net akademiese prestasie verbeter nie, maar ook die aanleer van addisionele tale (byvoorbeeld Engels deur nie-Engelssprekendes) vergemaklik, is ‘n bewese feit, wat beteken dat die totale oorheersing van Engels in Suid-Afrikaanse hoëronderwys-instellings die oorgrote meerderheid benadeel.

5. Die “taalbulle” waarna De Vos verwys, het nog nooit ‘n ekslusief Afrikaanse US bepleit nie, en pleit ook in die jongste verklarings dat parallelmedium en tolkdienste uitgebrei word om die doeltreffende gebruik van ander tale te bevorder.

6. Histories Afrikaanse universiteite was nog altyd, wat taal betref, meer inklusief as nog-altyd-Engelse universiteite, aangesien studente nog al die jare in Engels vrae in die klas kon stel, en Engels in werkopdragte en toetse kon gebruik, terwyl die meeste voorgeskrewe werke Engels was en is – terwyl die omgekeerde in Engelse universiteite ondenkbaar is.

7. In SA is daar ‘n sterk korrelasie tussen taal, “ras” en klas: Hoe ligter van kleur en hoe ryker ‘n Suid-Afrikaner is, hoe waarskynliker dat hy of sy effektief in Engels kan kommunikeer.

8. Die universiteit waar De Vos professor is, is eksklusief Engels en in daardie opsig uitsluitend en elitêr, maar De Vos protesteer nie daarteen nie en keur dit blykbaar dus goed, met alle rasse- en klasimplikasies daaraan verbonde.

9. De Vos waarsku die “taalbulle” teen die moontlikheid dat ander Afrikatale dalk deur ‘n nasionale talewet (waaraan die regering nou eers aandag gee nadat ‘n Afrikaanse prokureer ‘n suksesvolle grondwetlike saak hieroor gewen het) dalk meer as Afrikaans bevoordeel kan word, terwyl heelwat “taalbulle” (onder meer vanoggend in Die Burger) juis daarvoor pleit – terwyl De Vos self kennelik die oorheersing van die elite-taal in orde vind.

10. Nie net die talle verkeerde aannames waarna hierbo verwys word nie, maar ook die manier waarop De Vos allerlei ander “Afrikaner”-kwessies (terwyl nie alle pro-Afrikaanses Afrikaners is nie), soos kerklike sinodes waar taal nie aan die orde was nie, in sy skrywe ter sprake bring, dui op ‘n soort vooroordeel wat nie by ‘n regskenner pas nie; en sy “playing to the gallery” vir die Engelsvaardige elite wat sy blog lees, kom neer op goedkoop populisme wat reedsbestaande rasse- en etniese sentimente help vestig.

Kortom, De Vos se betoog bruis van rassisme, klassisme en elitêre eksklusiwisme, of hy dit nou besef of bedoel of nie. Hy behoort van beter te weet.

Klik hier om De Vos se stuk te lees (waar hy en talle ander intussen reeds op my skrywe gereageer het).

 

Lees ook ‘n artikel hieroor in Rapport deur hier te klik.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Vincent Brümmer aan die woord

November 8, 2011 in Sonder kategorie

Vincent Brümmer is een van die voorste filosowe (spesifiek op die gebied van die godsdiensfilosofie) in die wêreld – nie net in die Weste (waar sy werk deur top uitgewers gepubliseer word en hy eredoktorsgrade ontvang het) nie, maar ook in nie-Westerse lande soos Iran en Suid-Korea. Wat Suid-Afrika betref, is hy nie net ‘n gereelde besoeker, wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir sy invloedryke boek What Are We Doing when We Pray? en tans ‘n genoot van STIAS (‘n Stellenbosse navorsingsinstelling wat slegs wêreldklas-navorsers as genote nooi) nie, maar ook self van Suid-Afrikaanse oorsprong. Hy is in Stellenbosch gebore, waar hy ook gestudeer het, maar ná verdere studie in Amerika, Nederland en Engeland is hy in 1967 as professor in godsdiensfilosofie aan die Universiteit Utrecht aangestel, waar hy tot met sy aftrede gewerk het. Verskeie van sy doktorale studente beklee akademiese poste aan universiteite in Nederland en elders.

Ja, en? Wel, Brümmer gee eersdaags sy STIAS-lesing oor teologie as hermeneutiek, en daarby word dan sommer ook die Afrikaanse vertaler van die bekroonde boek waarna ek hierbo verwys het, bekendgestel. Die titel: Wat doen ons wanneer ons bid? In dié boek vra hy vanuit die praktyk van gebed na die voorveronderstellings daarvan, soos dat God in die wêreld handel. Daarmee pak hy dus vrae aan oor of gebed wel logies en wetenskaplik sinmaak – die soort vrae wat deur mense van die sogenaamde Nuwe Hervorming, en ook deur verteenwoordigers van die nuwe ateïsme, gestel word. In die behandeling van hierdie vrae probeer hy die redelikheid van die “taalspel” van gebed en die “lewensvorm” van die geloof verdedig, maar kry hy dit ook reg om die begrip gebed te verhelder en die teologiese en eksistensië belang daarvan na vore te bring.

In sekere sin gaan sy lesing oor ‘n verwante tema, want tipies van Brümmer se benadering tot geloofsvrae is dat hy dit nie spekulatief benader nie, maar hermeneuties. Dit gaan in die nadenke oor geloof nie oor verklarende teorieë nie, maar oor die verstaan van wat geloof is, en hoe die wêreld met sy uitdagings uit ‘n geloofshoek verstaan en benader kan word – altyd met inagneming van moontlike kritiese vrae daaroor vanuit die wetenskap of filosofie.

Klink dit na iets? Gaan loer dan op Sol Iustitaie vir die besonderhede oor die lesing. En as jy oor die lesing, die boek of ander aspekte van Brümmer se werk wil praat, doen dit hieronder. Dis waarvoor DinkNet mos is.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

http://www.soliustitiae.co.za/news/2011/11/03/stias-seminaarreeks-stias-seminar-series/

Geen wonder nie? Oor Belhar, Barmen en die “ordinary”

November 2, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Voor die onlangse algemene sinode van die NG Kerk het baie dit onwaarskynlik geag dat daar besluit sou word “om die Belydenis van Belhar … deel van die NG kerk se belydenisgrondslag te maak”. Tog het dit gebeur.

 

Van die kant van die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat onlangs Belhar se 25ste jaar as belydenis in eie kring herdenk het, was moderator Thias Kgatla se reaksie: “Ek is geskok, oorweldig en verras. God het ons verras.”

 

Dit herinner aan iets wat Karl Barth lank gelede geskryf het. In sy bespreking van of en hoe ons iets oor God kan weet, dink Barth terug aan die aanvaarding van die Barmen-verklaring deur ‘n deel van die Duitse kerk in die era van die Nazisme – ‘n protesgeskrif teen Christene se kapitulasie voor ‘n “nuwe messias”.

 

Gesien die magtige suigkrag van ‘n “nuwe god” en die mate waarin die kerk eeue lank vir haar Godskennis op ander bronne, naas die Bybelse getuienis oor Christus, staatgemaak het, was dit volgens Barth eintlik onmoontlik dat ‘n stem van weerstand sou opklink: “Dat dit kon gebeur, het sekerlik geesteshistoriese, teologiese en politieke agtergronde. Nogtans was dit onmoontlik en uiteindelik ‘n wonderwerk in die oë van dié wat dit van naby aanskou het. … Barmen … was … ‘n openbare verklaring van presies daardie wonderwerk wat teen alle verwagtings in weer met die kerk gebeur het.”

 

Wonderwerke? God wat ons verras? Wie glo nog daarin?

 

Kort ná Suid-Afrika se politieke oorgang verskyn An Ordinary Country deur Neville Alexander. Die einde van apartheid word dikwels ‘n wonderwerk genoem, skryf Alexander, maar dis naïef; die oorgang was onvermydelik: Met die val van die Sowjet-unie kon die ANC nie meer op Russiese steun staatmaak nie en is die wit regering nie meer deur die Weste as bolwerk teen die kommunisme ondersteun nie. Nóg die ANC, nóg die Nasionale Party kon bekostig om aan te hou veg. Dis geen wonder dat ‘n skikking bereik is nie.

 

Oud-vryheidsvegters wat ‘n “roemryke oorwinning” oor apartheid gedenk, en oud-nasionaliste wat in hul “vrywillige prysgawe van mag” roem, vererg hulle oor ‘n ontleding soos dié van Alexander (self ‘n strydros teen apartheid). Ook baie Christene voel ongemaklik daarmee. Was The Church Struggle in South Africa (die titel van ‘n boek deur John de Gruchy) dan irrelevant? Het kerkleiers soos Desmond Tutu en Allan Boesak nie tot bevryding bygedra nie? Maak laasgenoemde ‘n fout as hy in The Tenderness of Conscience protesteer teen die miskenning van geloof se rol in die vryheidstryd? Word Goddelike ingrepe dan onmoontlik geag?

 

Barth, daarenteen, het nie verklaarbaarheid en wonderbaarlikheid teen mekaar afgespeel nie. Hy erken die “geesteshistoriese, teologiese en politieke agtergronde”, maar ook die “wonderwerk”. Die oortuiging dat God in en deur die “ordinary” aan die werk is, kan nooit as wetenskaplike verklaring kwalifiseer nie, maar wetenskaplike verklarings sluit dit ook nie uit nie. Merkwaardige gebeurtenisse vind plaas, maar wanneer God se wil daardeur geskied, herken gelowiges daarin wat Johannes semeia en terata noem – tekens en dade waarvan gelowiges weier om te sê: “Geen wonder nie.”

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Voor die onlangse algemene sinode van die NG Kerk het baie dit onwaarskynlik geag dat daar besluit sou word “om die Belydenis van Belhar … deel van die NG kerk se belydenisgrondslag te maak”. Tog het dit gebeur.

 

Van die kant van die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat onlangs Belhar se 25ste jaar as belydenis in eie kring herdenk het, was moderator Thias Kgatla se reaksie: “Ek is geskok, oorweldig en verras. God het ons verras.”

 

Dit herinner aan iets wat Karl Barth lank gelede geskryf het. In sy bespreking van of en hoe ons iets oor God kan weet, dink Barth terug aan die aanvaarding van die Barmen-verklaring deur ? deel van die Duitse kerk in die era van die Nazisme – ? protesgeskrif teen Christene se kapitulasie voor ? “nuwe messias”.

 

Gesien die magtige suigkrag van ? “nuwe god” en die mate waarin die kerk eeue lank vir haar Godskennis op ander bronne, naas die Bybelse getuienis oor Christus, staatgemaak het, was dit volgens Barth eintlik onmoontlik dat ? stem van weerstand sou opklink: “Dat dit kon gebeur, het sekerlik geesteshistoriese, teologiese en politieke agtergronde. Nogtans was dit onmoontlik en uiteindelik ? wonderwerk in die oë van dié wat dit van naby aanskou het. … Barmen … was … ? openbare verklaring van presies daardie wonderwerk wat teen alle verwagtings in weer met die kerk gebeur het.”

 

Wonderwerke? God wat ons verras? Wie glo nog daarin?

 

Kort ná Suid-Afrika se politieke oorgang verskyn An Ordinary Country deur Neville Alexander. Die einde van apartheid word dikwels ? wonderwerk genoem, skryf Alexander, maar dis naïef; die oorgang was onvermydelik: Met die val van die Sowjet-unie kon die ANC nie meer op Russiese steun staatmaak nie en is die wit regering nie meer deur die Weste as bolwerk teen die kommunisme ondersteun nie. Nóg die ANC, nóg die Nasionale Party kon bekostig om aan te hou veg. Dis geen wonder dat ? skikking bereik is nie.

 

Oud-vryheidsvegters wat ? “roemryke oorwinning” oor apartheid gedenk, en oud-nasionaliste wat in hul “vrywillige prysgawe van mag” roem, vererg hulle oor ? ontleding soos dié van Alexander (self ? strydros teen apartheid). Ook baie Christene voel ongemaklik daarmee. Was The Church Struggle in South Africa (die titel van ? boek deur John de Gruchy) dan irrelevant? Het kerkleiers soos Desmond Tutu en Allan Boesak nie tot bevryding bygedra nie? Maak laasgenoemde ? fout as hy in The Tenderness of Conscience protesteer teen die miskenning van geloof se rol in die vryheidstryd? Word Goddelike ingrepe dan onmoontlik geag?

 

Barth, daarenteen, het nie verklaarbaarheid en wonderbaarlikheid teen mekaar afgespeel nie. Hy erken die “geesteshistoriese, teologiese en politieke agtergronde”, maar ook die “wonderwerk”. Die oortuiging dat God in en deur die “ordinary” aan die werk is, kan nooit as wetenskaplike verklaring kwalifiseer nie, maar wetenskaplike verklarings sluit dit ook nie uit nie. Merkwaardige gebeurtenisse vind plaas, maar wanneer God se wil daardeur geskied, herken gelowiges daarin wat Johannes semeia en terata noem – tekens en dade waarvan gelowiges weier om te sê: “Geen wonder nie.”