Wat elke dief moet weet

Oktober 25, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerbode:

 

In G.K. Chesterton se Father Brown-stories word die skurk altyd deur die priester uitoorlê. Laasgenoemde is ’n onwaarskynlike held met sy priesterlike gewaad, kort postuur, skynbare verstrooidheid en oudmodiese taalgebruik. Daar is iets van dié vader in geliefde karakters soos die speurder Colombo en Mma Ramotswe met haar No. 1 Ladies’ Detective Agency.

 

In die verhaal “The Blue Cross” wandel vader Brown ’n dag lank saam met Flambeau, die verdagte, wat aanvanklik ook ’n priester skyn te wees. Wanneer Flambeau uiteindelik ontmasker word , vra hy verdwaas hoe vader Brown wis dat hy nie met ’n regte priester te doen het nie. “You attacked reason,” kom die antwoord. “It’s bad theology.”

 

Die daglange gesprek het naamlik oor etiek gehandel. Flambeau vra retories: “who can look at those millions of worlds and not feel that there may well be wonderful universes above us where reason is utterly unreasonable?” Waarop vader Brown antwoord: “you can imagine any mad botany or geology you please. … But don’t fancy that all that frantic astronomy would make the smallest difference to the reason and justice of conduct. On plains of opal, under cliffs cut out of pearl, you would still find a notice-board, ‘Thou shalt not steal.’” Vatso, dief! ’n Egte priester sal dit mos weet.

 

Met hierdie stukkie speurwerk skaar vader Brown hom by die sogenaamde “deontologiese” etiek: Elke mens, beweer Immanuel Kant, die vernaamste moderne eksponent van hierdie antieke teorie, het ’n inherente besef van sy morele plig – die sogenaamde “kategoriese imperatief”. Dit behels dat ’n mens altyd só moet optree dat jy redelikerwys kan wens dat almal volgens dieselfde reël sal handel. Dié reël is: Behandel ’n mens nooit as ’n middel tot ’n doel nie, maar altyd as ’n doel insigself.

 

Ongelukkig het dit vir Kant nie alle mense gegeld nie. Volgens hom was dit in orde om Indiane uit te wis, Afrikane as slawe te neem en oor Oosterlinge te heers. Die onderskeidinge berus op Kant se teorie oor die relatiewe rooiheidsgraad van verskillende rasse: hoe rooier, hoe minder mens. Selfs in Wes-Europa, waar volgens Kant die mens-mense woon, troon die meer noordelike volke in redelikheid en moraliteit bo die ander uit, nes mans bo vrouens. So spreek die man van Königsberg!

 

Maar kom ons laat dit vir eers daar. Kant se filosofiese insigte is nie noodwendig waardeloos omdat sy eie pseudo-wetenskap (en daarvan het ons vandag nog genoeg) in stryd daarmee verkeer nie. Gestel ons het ’n inherente sin vir reg en verkeerd. Hoe beoordeel ons dit? Is dit blote instink, met dieselfde geldigheid as ons ewe sterk drange om die reëls te oortree as dit ons pas? Hoekom sal ek my inspan om my plig te doen ook wanneer dit nie in my belang is nie? Bloot omdat ek dit nie kan verhelp nie? Soms. Of dalk selde.

 

Nee, sê Kant. Ons beoordeel ons eie gedrag, en dié van andere, asof daar regtig ’n objektiewe maatstaf is – weliswaar ín ons, maar onafhanklik van ons. Ons glo dat daar morele waarhede is, nie net voor- en afkeure, luste en grille nie. Wanneer ons dit doen – en ons kan nie anders nie – veronderstel ons implisiet dat ons keuses kan maak, en dat daar ’n instansie is wat daardie keuses volgens die morele wet beoordeel, die kwaad vergeld en die goeie beloon. En aangesien ons in hierdie lewe nóg kry wat ons toekom, nóg die etiese ideaal volkome verwesenlik, verklap ons pogings daartoe dat ons, bewus of onbewus, ’n hiernamaals verwag. Hierdie implisiete geloof in “God, vryheid en onsterflikheid”, waaraan niemand volgens Kant ontkom nie, noem hy “postulate van die praktiese rede”.

 

Nou hoekom sondig ons dan so?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die opskrif na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

21 antwoorde op Wat elke dief moet weet

  1. Klink baie soos Pfirsig se “Quality”.

  2. Vertel meer …

  3. My antwoord op albei vrae is nee, pseude-Nietzsche. Verder het ek nie oor “Bybelse etiek” geskryf nie.

  4. lora2me het gesê op Oktober 25, 2011

    In Kant se geval, sou ek dink “he thinks too much – such men are dangerous”, maar wat ons eie ingeboude morele waardes aanbetref, dink ek dat dit bloot na ons opvoedingsagtergrond terugverwys. Sonde is soms ‘n subjektiewe ding – dit hang af volgens wie se maatstaf ons die sg. sonde meet. Kant se Erklarungs-tydperk was toe nie altyd so helder nie.

  5. Dangerous indeed! Dat sekere “natuurlike” waardes of morele riglyne ingebore lyk te wees – iets wat vroeer deur antropoloe met groot skeptisisme bejeen is – is blykbaar deur heelwat onlangse empiriese studie bevestig. Mense soos Danniel Dennet en Richard Dawkins verwys onder andere daarna. Wat dit betref was Kant dalk nie te ver verkeerd nie. Hy het egter besef wat die DD’s miskyk, naamlik dat die status van ons “morele” instinkte nie empiries bepaal kan word nie. Vandaar my vrae in die stukkie hierbo. Ek dink nie ons het ‘n idee van objektiewe morele waarhede nodig om morele instinkte te verklaar nie, maar as ons daardie instinkte as op die een of ander manier akkuraat wil sien, het ons ‘n metafisiese, dws empiries onkontroleerbare, raamwerk nodig. Daar is Kant reg. Afgesien van biologiese instinkte is daar natuurlik ook die menslike kondisie as sodanig: ons moet leef, kies, oordeel; daar is geen ontsnapping van nie. Kies ons soos ons lus voel of sien ons onsself as gebonde aan iets wat ons meen waar is ook al sou ons dit nie erken nie? Is dit verkeerd om te vermoor of ek nou so dink of nie, of dit net vir my verkeerd omdat ek die idee onaantreklik vind? Weer eens ‘n metafisiese vraag.

  6. Ek sien pseudo-Nietzsche het al sy kommentaar verwyder met die gevolg dat my antwoord op hom nou onder jou (Henry se) kommentaar te staan gekom het. Nogal verwarrend! Ignoreer in elk geval die stukkie kommentaar direk hierbo.

  7. Pseudo-Nietzsche, ek het drie stukke kommentaar wat jy hier geplaas het per e-pos ontvang, maar dis nou weg. As jy dit nie self verwyder het nie, laat weet my asb per e-pos sodat ek kan nagaan wat die probleem is. Baie van wat jy in jou stukkies kommentaar skryf, is die moeite werd om verder oor te gesels.

  8. Ene ‘Bertrand’ skryf ‘Ek sou antwoord maar eers as die Spaanse Inkwisisie weg is.’ En dan vee hy sy boodskap uit. As Bertrand Nietzsche is, wat my aanneemlik lyk, dan is dit nogal ‘n interessante soort kommunikasie. As Nietzschtrand nie sy eie boodskappe uitvee nie sal ek dit waardeer as hy my laat weet sodat daar nagegaan kan word wat die rede is. Miskien is dit maar gewoon hipokondria. ‘Die Spaanse Inkwisisie …’ Ek bid jou aan (pun not intended).

  9. Pseudo-X het nou laat weet: “Ek het dit beslis nie self verwyder nie Gerrit. Ek is nou Pseudo-Russell, dalk is ek eerder proto-russell. Soos gewoonlik het LitNet weer sensuur toegepas sonder om eers te vra wat die probleem is. Ek sou baie graag wou weet wat hulle rede is.”

    Dankie, PX. Ek sal hoor wat by LitNet aangaan.

  10. Russel, ek het ‘n e-pos aan LitNet gestuur om te vra dat hulle kyk wat die probleem veroorsaak.

  11. Die probleem wat Pseudo het om sy kommentaar gelaai te kry, is blykbaar ‘n algemener probleem. ANNEMIE BOSCH het die volgende kommentaar wat sy ook nie aanvaar kon kry nie vir my ge-e-pos:

    Gerrit, ek is geen “-soof” of “-loog” nie, maar ek wil net iets vertel wat ek beleef het ivm dit wat Kant volgens jou die “kategoriese imperatief” noem (al geld dit by hom blykbaar net vir Europeërs uit die noorde).
    Vanweë my agtergrond het ek natuurlik my eie idees gehad oor morele optrede en het gemeen dat slegs mense wat bely dat hul volgelinge van Jesus, en uitverkore, verloste Christene is, wat sulke hoë morele waardes het en uitleef.
    So met die verloop van die jare het ek egter mense leer ken wat hulself op allerhande ander maniere beskryf, soos atheïste, animiste, Hindoes, Islamiete, “ongelowige” Jode, kommuniste – mense ook wat allerhande skakerings van “rooi” verteenwoordig, en selfs skakerings van ander kleure ook, tot en met blou-swart, pikswart – almal mense wat vir sovêr ek kon sien, dieselfde hoë morele waardes, of selfs hoëres handhaaf as baie Christene wat glo hul is wedergebore kinders van God.
    Ek vertel net een belewenis om dit te illustreer. Nadat Kommunisme in Rusland en baie ander lande geval het, het ek ‘n aantal mense wat in Joegoeslawië grootgeword het, ontmoet. My respek en waardering vir hul lewenswyse en –beskouinge het toegeneem hoe beter ek hul leer ken het. Hul ouers was oortuigde kommuniste en hul het in die sosialistiese Joegoeslawië grootgeword en nooit ‘n voet in ‘n kerk gesit nie. Op ‘n dag het ek hulle gevra hoe dit dan kom dat hul só lewe asof hulle Christene is – Hul antwoord was: “It is not Christian, it is human”
    (Wat vir my verder opvallend was , was dat baie van die mense wat hulself as ongelowiges beskou, die Christelike Geloof afskryf as gevolg van die feit dat hul die lae morele waardes van sogenaamde Christene wargeneem het.)
    Weereens vanweë my eie agtergrond en geloof, glo ek dus vandag dat dit die Heilige Gees is wat in alle mense daardie “kategoriese imperatief” skep en laat groei en dat, waar dit lyk asof daardie “instink” n sekere mense total afwesig is, die een of andere negatiewe ervariing of trauma die ontwikkeling en groei van daardie “ingebore, inherente waardesisteem” beskadig het.
    Ek dink dus Kant is reg as hy sê : Ons beoordeel ons eie gedrag, en dié van andere, asof daar regtig ’n objektiewe maatstaf is – weliswaar ín ons, maar onafhanklik van ons.
    Vir my is dit net nie “asof” nie, maar “omdat”

  12. Annemie, Calvyn het drie “gebruike” van die wet (dis nou God se wet) onderskei:

    1. die wet as algemene morele maatstaf wat die kwaad bedwing,

    2. as morele maatstaf waardeur ons sondigheid aan ons openbaar word, en

    3. as riglyn vir ‘n dankbare lewe deur diegene wat weet hulle is vergewe.

    Die eerste gebruik is die een waarmee Kant se visie resoneer: ‘n algemeen menslike sin van wat reg en verkeerd is. Ook Paulus wys daarop. Christen wees beteken nie meer moreel as ander mense wees nie. Dit het eerder te doen met die tweede, en veral derde, “gebruik” van die wet: nie dat ons moet of behoort nie, maar dat ons wil; nie om iets te verdien of verwerf nie, maar omdat ons vreugde daarin vind, dit uit liefde doen.

    Hierdie perspektief is ‘n interpretasie, nie ‘n verklarende teorie nie. Op suiwer empiriese gronde is daar net die feit dat mense geneig is om hulle aan sekere standaarde gebonde te voel – ‘n natuurlike instink wat evolusioner sin maak. Die evolusionere verklaring aanvaar ek ook – selfs ander diere as die mens openbaar sekere gedragsreels. Die belangrike vraag is of daar ook meer agter sit: is die evolusionere proses waardeur mense moreel geword het God se manier om ‘n sin vir wat reg en verkeerd, goed en sleg, is in ons te vestig? Daarop antwoord onder andere Christene ja.

  13. meltm het gesê op Oktober 26, 2011

    Toets een twee drie…

  14. Lees “zen and the art of motorcycle maintanence” deur Robert Pfirsig as jy hom nog nie gelees het nie – tenspyte van die onbelowende titel, is dit eintlik ‘n diep boek.

    Hy praat van “Quality” as ‘n ding wat losstaan van ons – iets wat ons almal erken as ons dit sien, maar terselfdertyd ‘n ding wat nie gedefinieer kan word nie – soos die Tao – “the way that can be spoken of, is not the proper way..”

    Ek dink die spesifieke boek is een van die belangrikstes van die vorige eeu.

    Your mileage may vary.

    🙂

  15. Tot my skaamte moet ek erken dat daardie boek een van die talle is wat ek lankal moes gelees het, maar nog nie by uitgekom het nie. Jare lank al vertel mense my daaroor en beveel dit sterk aan.

    Interessant oor daardie “Quality”-ding. Daar was op ‘n stadium Britse filosowe wat goedheid en skoonheid as eienskappe probeer definieer het, en dan gemeen het die eienskappe kan “waargeneem” word. Die enigste moeilikheid is dat hulle nooit kon saamstem oor of ‘n spesifieke ding nou die betrokke eienskap besit nie!

  16. Ja – dis in ‘n mate Pfirsig se punt, – so gou as mens dit wat goed is wil definieer, dan verander dit na stront in jou hande – hy het dit net nie so kras soos ek gestel nie, maar ek dink dis ‘n universele waarheid – amper iets wat mens glo – want tog, jy kan dit erken as jy dit sien,,,

    So roer jou en lees die boek!

    🙂

  17. O hel, nog ‘n boek op my nog-nie-gelees-nie-lys! Ek struikel al onder die gewig.

  18. As dit so swaar is, en dis net die lys, dan is jy innie moeilikheid!

    🙂

  19. OK, vryf dit in.

  20. die kant vent klink homofonies na ‘n onsuiwer mens.. maar wel goeie leestof.

  21. Hy was baie slim, maar vreemd. Ure by die hawe deurgebring om die inkomende slawe dop te hou en te klassifiseer. Sommige Kant-kenners meen selfs “geografie” (wat destyds iets beteken het soos wat ons vandag antropologie noem) was sy eintlike passie, meer selfs as filosofie. Paul Tillich het ‘n keer erken dat elke Duitser, as jy diep genoeg krap, basies ‘n Kantiaan is. Dis nogal my ervaring ook, maar ek dink dat ook veel wyer as onder Duitsers Kant baie modernes se denke rig, al besef hulle dit dalk nie so goed soos die Duitsers nie. Sy invloed is enorm. Daarmee my Kant-aantekening!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.