“Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”

Oktober 10, 2011 in Sonder kategorie

‘n Gemeente vra my: “Kom praat oor die samelewing waarin ons jeug moet opgroei.” Ek dink toe aan ‘n lesing van CS Lewis in 1944 by King’s College, Londen: “When you invite a middle-aged moralist to address you, I suppose I must conclude … that you have a taste for middle-aged moralising. I shall do my best to gratify it. I shall in fact give you advice about the world in which you are going to live.” Belydenis en waarskuwing!

 

“Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” verskil van destyds se “world in which you are going to live”: 1944, Europa in puin. Ondenkbaar toe was gepopulariseerde lugvaart, ruimtereise, televisie, die internet, selfone, talle wetenskaplike ontdekkings; die kom en gaan van ‘n Koue Oorlog; nuwe, anderster donderwolke van vreemdelinge-haat, ’n “terugkeer van het fascisme” (Rob Riemen).

 

Daar was vooruitgang: Lewis se luisteraars was waarskynlik meestal jong mans; vandag luister jong vroue saam. Die gemeente wat my genooi het, het ‘n jong vrou as predikant – ondenkbaar in 1944. Vroue staan nou dieselfde versoekings as mans in die gesig – soos “The Inner Ring”, die binnekring of in-groep, waaroor Lewis gepraat het. Dat magsverleidings ook vroue uitdaag, is ‘n gevolg van hul groter openbare bydrae. Soos Spiderman leer: “With great power comes great responsibility!”

 

Maar waar Lewis ‘n etiese appèl op sy jong gehoor rig, het “middeljarige moralisme” al byna uitgesterf. Die probleem met die “inner ring” (waar dit as probleem beleef word …) is nie meer hoogmoed, selfsug of onreg nie, maar dat ek daarmee dalk myself kan benadeel – nie reg en verkeerd nie, maar mý drome, mý sukses, mý bevrediging. “Giving is good for you,” sê ‘n sielkundige op die radio. En dis “goed vir jou” om ‘n Christen te wees, belowe die voorspoed-evangelie. “Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”, kweek nie deugde nie.

 

Interessant ook dat Lewis nie oor “jongmens-kwessies” praat nie, maar oor volwasse uitdagings – “the world in which you are going to live”. Die jeug word deesdae vertroetel en opgehemel, maar word hulle ernstig opgeneem? Wat beteken dit dat dertigjariges ’n rubriek soos “Jong Stemme” skryf, of as die wangedrag van ‘n middeljarige “jeugliga” as kindersondes verskoon word? Wanneer word ‘n mens dan groot?

 

Jongmense word “tot groot dinge aangespoor” … soos duurder speelgoed, oppervlakkige gemak en plesier. Hulle moet namens ons jonk bly. Ewige jeug is die ideaal: middeljariges wil “cool” wees, sestigjariges soos twintigjariges lyk. Dat opgroei ryping kan beteken, wysheid, ervaring, gravitas, is byna ondenkbaar. Verklaar dit dalk die epidemie van depressie onder jongmense? Wie nie vooruitsigte het nie, kom lewensin kort. “Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”, wil jonges in hul kinderskoene gevange hou.

 

Metusalem verwonder hom in die A.G. Visser-versie: “’t Word alles korter – liewe land! – die rok, die hare en verstand.” Watter verstand? Lewis praat destyds nie met sy gehoor soos met kleuters – met prentjies en verspothede – nie. Hy ontleed, redeneer; verwag hulle kan luister, inneem, beoordeel. Ons jeug is wêreldwys, maar hul verstand word nouliks uitgedaag. Ons verwag nie eens volsinne van hulle nie. Vergelyk “die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” met wat Immanuel Kant in 1784 beskryf (en Lewis veronderstel): “Verligting is die mens se afskeid van sy self-opgelegde onmondigheid … (van) die onvermoë om … self te dink.”

 

Hoe is dit dan dat daar jongmense is met ’n sin vir sosiale verantwoordelikheid, wat hulself en andere ernstig neem, ryker droom as materiële welvaard en jonkheidskure, hul verstand aanskakel – téén wat “die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” van hulle verwag? Hannah Arend praat van “geboortelikheid”, Johann Baptist Metz van “die ontologiese primaat van die moontlike oor die werklike”. Die toekoms laat hom nie volledig deur die bestaande bepaal nie.

 

Dink net, Jesus het op 33 gesterf.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op “Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”

  1. Die samelewing waarin die jongmense opgroei word in ‘n groot mate geskep deur die ouermense-dus reken ek dat hoe die jeug daarin leef is tot n groot mate n refleksie is van die “meer volwassenes” in die samelewing

  2. Natuurlik is jy reg. Tog is myb ervaring dat jongmense soms TEN SPYTE van hul ouers se invloed bo die samelewing se invloed en verwagtings uitstyg.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.