Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Lees wat dink denkers oor die Belhar-Kairos

Oktober 26, 2011 in Sonder kategorie

Die algemene sinode van die NG Kerk se onlangse besluit om langs die nodige kerkregtelike weë die Belydenis van Belhar volwaardig deel van die belydenisgrondslag te maak is ‘n betekenisvolle historiese gebeurtenis. Die jongste miniseminaar gaan oor wat daardie betekenis presies is. Hoe belangrik is die besluit? Waarom maak dit saak? Twee skrywers, Piet Naudé en Leopold Scholtz, se bydrae kan reeds in die Seminaarkamer gelees word, en die derde bydrae, deur Xolile Simon, is op pad. Lees gerus en lewer dan hier kommentaar.

Lees ook uit Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel se essay oor die VGK se onlangse 25ste herdenking van die aanvaarding van Belhar as belydenis in eie kring, wat toevallig met die NG Kerk se besluit oorvleuel het.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Wat elke dief moet weet

Oktober 25, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerbode:

 

In G.K. Chesterton se Father Brown-stories word die skurk altyd deur die priester uitoorlê. Laasgenoemde is ’n onwaarskynlike held met sy priesterlike gewaad, kort postuur, skynbare verstrooidheid en oudmodiese taalgebruik. Daar is iets van dié vader in geliefde karakters soos die speurder Colombo en Mma Ramotswe met haar No. 1 Ladies’ Detective Agency.

 

In die verhaal “The Blue Cross” wandel vader Brown ’n dag lank saam met Flambeau, die verdagte, wat aanvanklik ook ’n priester skyn te wees. Wanneer Flambeau uiteindelik ontmasker word , vra hy verdwaas hoe vader Brown wis dat hy nie met ’n regte priester te doen het nie. “You attacked reason,” kom die antwoord. “It’s bad theology.”

 

Die daglange gesprek het naamlik oor etiek gehandel. Flambeau vra retories: “who can look at those millions of worlds and not feel that there may well be wonderful universes above us where reason is utterly unreasonable?” Waarop vader Brown antwoord: “you can imagine any mad botany or geology you please. … But don’t fancy that all that frantic astronomy would make the smallest difference to the reason and justice of conduct. On plains of opal, under cliffs cut out of pearl, you would still find a notice-board, ‘Thou shalt not steal.’” Vatso, dief! ’n Egte priester sal dit mos weet.

 

Met hierdie stukkie speurwerk skaar vader Brown hom by die sogenaamde “deontologiese” etiek: Elke mens, beweer Immanuel Kant, die vernaamste moderne eksponent van hierdie antieke teorie, het ’n inherente besef van sy morele plig – die sogenaamde “kategoriese imperatief”. Dit behels dat ’n mens altyd só moet optree dat jy redelikerwys kan wens dat almal volgens dieselfde reël sal handel. Dié reël is: Behandel ’n mens nooit as ’n middel tot ’n doel nie, maar altyd as ’n doel insigself.

 

Ongelukkig het dit vir Kant nie alle mense gegeld nie. Volgens hom was dit in orde om Indiane uit te wis, Afrikane as slawe te neem en oor Oosterlinge te heers. Die onderskeidinge berus op Kant se teorie oor die relatiewe rooiheidsgraad van verskillende rasse: hoe rooier, hoe minder mens. Selfs in Wes-Europa, waar volgens Kant die mens-mense woon, troon die meer noordelike volke in redelikheid en moraliteit bo die ander uit, nes mans bo vrouens. So spreek die man van Königsberg!

 

Maar kom ons laat dit vir eers daar. Kant se filosofiese insigte is nie noodwendig waardeloos omdat sy eie pseudo-wetenskap (en daarvan het ons vandag nog genoeg) in stryd daarmee verkeer nie. Gestel ons het ’n inherente sin vir reg en verkeerd. Hoe beoordeel ons dit? Is dit blote instink, met dieselfde geldigheid as ons ewe sterk drange om die reëls te oortree as dit ons pas? Hoekom sal ek my inspan om my plig te doen ook wanneer dit nie in my belang is nie? Bloot omdat ek dit nie kan verhelp nie? Soms. Of dalk selde.

 

Nee, sê Kant. Ons beoordeel ons eie gedrag, en dié van andere, asof daar regtig ’n objektiewe maatstaf is – weliswaar ín ons, maar onafhanklik van ons. Ons glo dat daar morele waarhede is, nie net voor- en afkeure, luste en grille nie. Wanneer ons dit doen – en ons kan nie anders nie – veronderstel ons implisiet dat ons keuses kan maak, en dat daar ’n instansie is wat daardie keuses volgens die morele wet beoordeel, die kwaad vergeld en die goeie beloon. En aangesien ons in hierdie lewe nóg kry wat ons toekom, nóg die etiese ideaal volkome verwesenlik, verklap ons pogings daartoe dat ons, bewus of onbewus, ’n hiernamaals verwag. Hierdie implisiete geloof in “God, vryheid en onsterflikheid”, waaraan niemand volgens Kant ontkom nie, noem hy “postulate van die praktiese rede”.

 

Nou hoekom sondig ons dan so?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die opskrif na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

“Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”

Oktober 10, 2011 in Sonder kategorie

‘n Gemeente vra my: “Kom praat oor die samelewing waarin ons jeug moet opgroei.” Ek dink toe aan ‘n lesing van CS Lewis in 1944 by King’s College, Londen: “When you invite a middle-aged moralist to address you, I suppose I must conclude … that you have a taste for middle-aged moralising. I shall do my best to gratify it. I shall in fact give you advice about the world in which you are going to live.” Belydenis en waarskuwing!

 

“Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” verskil van destyds se “world in which you are going to live”: 1944, Europa in puin. Ondenkbaar toe was gepopulariseerde lugvaart, ruimtereise, televisie, die internet, selfone, talle wetenskaplike ontdekkings; die kom en gaan van ‘n Koue Oorlog; nuwe, anderster donderwolke van vreemdelinge-haat, ’n “terugkeer van het fascisme” (Rob Riemen).

 

Daar was vooruitgang: Lewis se luisteraars was waarskynlik meestal jong mans; vandag luister jong vroue saam. Die gemeente wat my genooi het, het ‘n jong vrou as predikant – ondenkbaar in 1944. Vroue staan nou dieselfde versoekings as mans in die gesig – soos “The Inner Ring”, die binnekring of in-groep, waaroor Lewis gepraat het. Dat magsverleidings ook vroue uitdaag, is ‘n gevolg van hul groter openbare bydrae. Soos Spiderman leer: “With great power comes great responsibility!”

 

Maar waar Lewis ‘n etiese appèl op sy jong gehoor rig, het “middeljarige moralisme” al byna uitgesterf. Die probleem met die “inner ring” (waar dit as probleem beleef word …) is nie meer hoogmoed, selfsug of onreg nie, maar dat ek daarmee dalk myself kan benadeel – nie reg en verkeerd nie, maar mý drome, mý sukses, mý bevrediging. “Giving is good for you,” sê ‘n sielkundige op die radio. En dis “goed vir jou” om ‘n Christen te wees, belowe die voorspoed-evangelie. “Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”, kweek nie deugde nie.

 

Interessant ook dat Lewis nie oor “jongmens-kwessies” praat nie, maar oor volwasse uitdagings – “the world in which you are going to live”. Die jeug word deesdae vertroetel en opgehemel, maar word hulle ernstig opgeneem? Wat beteken dit dat dertigjariges ’n rubriek soos “Jong Stemme” skryf, of as die wangedrag van ‘n middeljarige “jeugliga” as kindersondes verskoon word? Wanneer word ‘n mens dan groot?

 

Jongmense word “tot groot dinge aangespoor” … soos duurder speelgoed, oppervlakkige gemak en plesier. Hulle moet namens ons jonk bly. Ewige jeug is die ideaal: middeljariges wil “cool” wees, sestigjariges soos twintigjariges lyk. Dat opgroei ryping kan beteken, wysheid, ervaring, gravitas, is byna ondenkbaar. Verklaar dit dalk die epidemie van depressie onder jongmense? Wie nie vooruitsigte het nie, kom lewensin kort. “Die samelewing waarin ons jeug moet opgroei”, wil jonges in hul kinderskoene gevange hou.

 

Metusalem verwonder hom in die A.G. Visser-versie: “’t Word alles korter – liewe land! – die rok, die hare en verstand.” Watter verstand? Lewis praat destyds nie met sy gehoor soos met kleuters – met prentjies en verspothede – nie. Hy ontleed, redeneer; verwag hulle kan luister, inneem, beoordeel. Ons jeug is wêreldwys, maar hul verstand word nouliks uitgedaag. Ons verwag nie eens volsinne van hulle nie. Vergelyk “die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” met wat Immanuel Kant in 1784 beskryf (en Lewis veronderstel): “Verligting is die mens se afskeid van sy self-opgelegde onmondigheid … (van) die onvermoë om … self te dink.”

 

Hoe is dit dan dat daar jongmense is met ’n sin vir sosiale verantwoordelikheid, wat hulself en andere ernstig neem, ryker droom as materiële welvaard en jonkheidskure, hul verstand aanskakel – téén wat “die samelewing waarin ons jeug moet opgroei” van hulle verwag? Hannah Arend praat van “geboortelikheid”, Johann Baptist Metz van “die ontologiese primaat van die moontlike oor die werklike”. Die toekoms laat hom nie volledig deur die bestaande bepaal nie.

 

Dink net, Jesus het op 33 gesterf.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die NG Kerk moet sê oor Tutu, Nero en Belhar

Oktober 10, 2011 in Sonder kategorie

“Die dag kan kom dat ons vir die val van die ANC-regering bid soos ons vir die val van die apartheidsregering gebid het!” waarsku emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in sy toornige reaksie op die regering se onwilligheid om ‘n visum aan die Dalai Lama uit te reik. “Die ANC is erger as die apartheidsregering,” reken Tutu, want ons verwag dat mense wat self onreg gely het van beter moet weet. Tog kies juis hierdie regering die kant van China in sy onderdrukking van die Tibettane.

 

Ek vermoed daar was ‘n oomblik van stilte toe Suid-Afrikaners dié woorde hoor. Was dit ‘n geskokte stilte? ‘n Stilte van ongeloof? Dalk die soort “oomblik van stilte” waarvoor by ‘n doodsberig gevra word?

 

Mag die kerk só praat?

 

Die moderamen van die Verenigende Gereformeerde Kerk dink so. Hoor wat sê hulle ‘n tyd gelede oor pres. Jacob Zuma se belofte dat mense wat vir die ANC stem hemel toe sal gaan – ‘n belofte wat volgens die moderamen besonder hol klink gesien die “hel” van armoede en swak dienslewering waarin die meeste kiesers hulle bevind:

 

“Die leiers van die VGKSA het geen ander keuse nie as om ‘n beroep op al haar lidmate te doen om hul gewete voor God te toets, ernstig te besin en hulle af te vra of hulle in die komende verkiesing vir enige party kan stem wat geen respek vir hul geloof het nie.”

 

Menige VGK-lidmaat se ore het getuit by die lees hiervan. Kan die kerk só praat?

 

In sy boekie Apocalypse and Allegiance: Worship, Politics, and Devotion in the Book of Revelation skets J. Nelson Kraybill die konteks waarin die boek Openbaring geskryf is met ‘n ware verhaal: In die jaar 66, kort ná die groot brand in Rome waarvoor keiser Nero die Christene blameer en vervolg het, onderneem Tiridates, koning van Armenië, met ‘n gevolg van 3 000 ruiters uit Parthië (in vandag se Iran) ‘n reis van nege maande na Rome. As Parthiër van afkoms wou hy wys dat sy lojaliteit nie by die Parthiese Ryk nie, maar by Rome lê – ter wille van handelsbande en bekroning deur Nero.

 

By sy aankoms is Tiridates feestelik ontvang. In die forum is hy toegejuig toe hy voor Nero buig en verklaar:

 

“Meester, ek is die afstammeling van Arsaces, broer van die konings van Vologases en Pacorus, en u slaaf. Ek het na u gekom, my god, om u net soos Mithra (die songod) te aanbid. Die toekoms wat u vir my bepaal, sal myne wees, want u is my Voorspoed en my Lot.”

 

Nero was in sy skik:

 

“Jy het reg opgetree om self hierheen te kom sodat jy in hierdie ontmoeting my genade kan ervaar … Ek verklaar jou koning van Armenië sodat jy … kan verstaan dat ek die mag het om koninkryke te neem en te gee.”

 

Internasionale betrekkinge, handelsbande, blyke van lojaliteit en ondergeskiktheid, goddelike aansprake deur politieke leiers. En nou praat Johannes van Patmos in die boek Openbaring oor mense wat die “draak” en die “dier” aanbid; “Babilon” wat as koningin op haar troon met mag en welvaart spog; “konings van die aarde”, “sakemanne” en “seevaarders” wat intiem met haar verkeer en hulle in haar weelde verlustig … en hulle almal se gewisse ondergang. Johannes se tydgenote wis presies van wie hy praat.

 

Maar kan die kerk só praat?

 

Die algemene sinode van die NG Kerk sal hierop antwoord wanneer besluit word oor die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar, wat eis “dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid”, dat die geloofsgemeenskap “as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes”, en dat Christene “as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel”.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.