Ja, lag maar lekker

September 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Oor “die sin van die lewe” is al baie geskerts – byvoorbeeld in die klassieke Monty Python-prent The Meaning of Life. In die film Zelig vertel die naamkarakter (gespeel deur die regisseur, Woody Allen) hoe hy hom na die sinagoge gehaas het om die rabbi na die sin van die lewe te vra. Die rabbi antwoord, maar in Hebreeus – en wil toe $600 vir Hebreeus-lesse vra!

Humor werk net as dit oor iets herkenbaars gaan. Dit laat ons die lekkerste lag as die onderwerp ons raak, en dis die heel snaakse, meen Kurt Vonnegut, as dit eintlik tragies is. Oor die sin van die lewe word dan ook altyd weer ernstig besin. Einste Vonnegut vra sy seun ‘n keer waarvoor hy dink ons hier is. Die wyse seun antwoord: “Father, we are here to help each other get through this thing whatever it is.” Skreeusnaaks.


‘n Sinvolle lewe, meen Marcel Sarot, is ‘n goeie lewe – een wat die moeite werd is. In Het goede leven laat hy verskillende modelle van ‘n goeie lewe teen die tragiek van die kwaad “bots” om te kyk of dit die toets deurstaan. Sy voorkeur gaan uit na ‘n model wat “intersubjektief” is, eerder as suiwer “objektief” (die sin van die lewe is ‘n gegewe) of “subjektief” (ons besluit self wat sinvol is). Intersubjektiwiteit verwys na verhoudings – vir Sarot ‘n persoonlike liefdesverhouding met God en ons medemens. As dít ‘n goeie lewe is, is ons lewensin teen die kwaad bestand, want ook in situasies van lyding kan liefde blom (“we are here to help each other …”).


Sin kan ook op betekenis dui, op sin máák. As ons die lewe verstaan, het dit vir ons sin. Dit gaan hier nie oor ‘n vryblywende, teoretiese verstaan nie, maar oor ons vertolking van ervarings. Ons lewe het sin, verduidelik Vincent Brümmer, as ons weet hoe om konkrete uitdagings te lees. Hoe beoordeel ek ‘n stand van sake? Hoe moet ek daarop reageer? Om sulke vrae te kan beantwoord moet ek ‘n ideaal hê, iets waarna ek streef.


Ook vir Brümmer is die hoogste lewensideaal die liefde van God en mens. Ons streef dan daarna om te weet wat God wil (naasteliefde), om dit te kán doen, en om die soort mense te word wat dit wíl doen. In die lig van hierdie strewe kan ons in verskillende situasies verstaan watter houding om in te neem en hoe om op te tree, die sin of betekenis van ‘n situasie begryp. In hierdie lewe sal ons die ideaal van volmaakte liefde tussen God en mens nie bereik nie. Ons kan daarna streef, maar ons sal steeds soms God se wil misverstaan, daarin faal om dit te gehoorsaam of dit teensinnig eerder as met vreugde doen. Juis die “reikhalsende verlange” (Rom. 8:19) na die ideaal maak ons lewe sinvol.


En as die ideaal in ‘n hiernamaals wel verwesenlik word? Sal daar dan geen ideaal meer oor wees nie? Geen sin nie? Is die strewe na volmaakte liefde versoenbaar met geloof in ‘n ewige lewe? Dit is ‘n vraag wat Brümmer self ook stel. Maar is liefde as ideaal slegs gemik op die herstel van ‘n gebroke verhouding? Kan daar in ‘n herstelde verhouding nie verdere, ryker oogmerke wees nie – soos om die geliefde steeds beter te leer ken?


Ons kan ‘n ander (en onsself) nooit volledig verstaan nie, en in die Christelike tradisie word onder meer van die Gans Andere se onuitputlike rykdom en heerlikheid gepraat. Die Westminsterse Kategismusse sê mos ‘n mens se “chief end” (die sin van ons lewe) is om God te verheerlik en vir altyd te geniet.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

7 antwoorde op Ja, lag maar lekker

  1. Is al die vraagtekens retoriese vrae? hehe Die antwoord is 42. En dis dit.

  2. i.p.v. (!), dankie vir uitwys van die drukfoute. Wat moes daar staan? Niks anders nie as: ‘n. Dis nou reggestel, maar daar bly vraagtekens …

  3. Dankie vir al die vraagtekens. Frankl se siening is dat: “—man has amazing powers of endurance so long as it makes sense to him to go on living: He who has a why to live can bear with almost any how.”
    Miskien is die sin van die lewe om mekaar te help ontdek wat die “why” van ons lewens is en om die “how” te verdra en oorkom???

  4. Verwys jy na die artikel “Is dit alles die moeite werd?” Indien wel, kan ek nie sien hoekom jy baie kritiek sou kry nie, of hoekom iemand nou lekker sou lag nie. Eventwil, wat die sin van die lewe ookal is, die behoud daarvan (die lewe) is dryfveer nommer een vir alle spesies. Dit word ook as beloning aangebied deur God, soos in “eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word …” Laat my dink aan die ou ou tannie wat vertel dat al hulle vriende al in die Hemel is en was dit nie vir die genade van Bo nie was sy en die oom ook al daar.

  5. Lyk my so, ja.

  6. Ha, ha! Sien nou hoe lekker lag ek. Vrae oor die sin van die lewe is geneig om ons te laat lag, omdat dit so ‘n ernstige saak is.

  7. Netso.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.