As dit nie haatspraak is nie, bestaan haatspraak nie

September 20, 2011 in Sonder kategorie

Die jongste miniseminaar, waaraan Danny Titus en Cornelius Thomas tot dusver deelgeneem het, gaan oor die gelykheidshoef-uitspraak waardeur Julius Malema en kie. verbied word om hardop in die openbaar oor rassemoord te fantaseer. Oor “Skiet die K**!” of “Juden raus!” sou die hof seker dieselfde besluit het, maar omdat wit Afrikaners hier die teiken is, en nie swartes of Jode nie, is die uitspraak omstrede. Polities korrektes vind dit nog steeds grillerig om aan Afrikaners as mense met regte te dink.

Die suggestie dat die lied “Skiet die Boer!” deel van die ANC se trotse vryheidstryd-erfenis is, is nie juis vlyend teenoor daardie erfenis nie, want dit suggereer dat dit rassisties, moorddadig en terroristies was. Dis nie ek wat so sê nie, maar die apologete vir die lied. Ook die argument (selfs deur die regter aangevoer) dat liedere soos hierdie een in die konteks van die vryheidstryd aanvaarbaar was, maar dit nou, in ‘n demokratiese samelewing, nie meer is nie, is problematies. Kan dit ooit in orde wees om mense tot die doodmaak van ‘n etniese groep aan te spoor, of daardie groep nou die “vyand” is of nie?

Dan is daar die lagwekkende suggestie dat die lied geensins deur die massas verstaan word as aanhitsing tot geweld nie. Die reële effek van sulke “struggle-liedjies” het relatief onlangs al duidelik geblyk toe die skuldiges in die xenofobiese townshipgeweld hulself met Jacob Zuma se “Bring my masjiengeweer!” aangepor het (iets wat terloops nooit deur Zuma afgekeur is nie). Die Malema-lied weerklink in ‘n konteks waar boere gereeld aangeval en vermoor word. ‘n Paar jaar gelede is groot gewag gemaak van ‘n studie wat bevind het dat swart boere net so gereeld soos wit boere op hul plaas aangeval word, maar minder aandag is gegee aan dieselfde studie se bevinding dat aanvalle op wit boere geneig is om meer gewelddadig te wees. “Boer” met ‘n hoofletter en “boer” met ‘n kleinletter is kennelik tog met mekaar verstrengel. Dis dan ook nie net in die lied “Skiet die Boer!” dat Boere honde en diewe genoem word nie; Malema verwys ook in sy toesprake na wittes as diewe.

Malema, Mantashe en andere se argument dat die Grondwet en die howe die meerderheid in hul strewes strem, verraai baie oor hul gebrek aan insig in die konsep van menseregte. Die hele punt van ‘n Menseregte-handeves is om burgers, ook minderhede, teen die massa se grille te beskerm! Die meerderheid mag besluit hoe ‘n land bestuur word, maar daar is perke: Hulle mag nie basiese regte aantas nie, en dit sluit in dat hulle nie haatspraak mag beoefen nie – of dit nou hul “strewe” is of nie. Daarom is die Freedom of Expression Institute ook verkeerd om die hofuitspraak as gevaarlik vir spraakvryheid te beoordeel. Spraakvryheid kan nooit die reg op haatspraak insluit nie, nes die reg op godsdiensvryheid nooit steniging of huishoudelike geweld kan insluit nie.

In vergelyking met Duitsland, waar ontkenning van die Jodemoord strafbaar is, is ons Grondwet baie verdraagsaam. Selfs die Britte se uitwissingsveldtog op die Xhosas of die volksmoord op wit én swart slagoffers van die konsentrasiekampe kan ontken, afgewater of bespot word sonder dat daar enige geregtelike gevolge is. Die enigste beperking is haatspraak, en dit word eng gedefinieer – eksplisiete aanhitsing tot haat en geweld. Dat Malema dááraan skuldig bevind word, is ‘n aanduiding van hoe verwerplik sy optrede is, en selfs al sou die Grondwetlike hof later anders bevind, sou dié verwerplikheid nie verminder nie. Ek sou ook steeds volhou: As “Skiet die Boer!” (of “Skiet die K**!” of “Juden raus!”) nie as haatspraak kwalifiseer nie, dan bestaan haatspraak nie.

Die mees kommerwekkende soort reaksie op die hofuitspraak is dat dit jammer is omdat dit tot groter oproer onder Malema se volgelinge kan lei. Dit is onder andere Max du Preez se siening. AfrikForum word dan verwyt dat hulle rassespanning stook deur so ‘n saak na die hof te bring. Dink ‘n bietjie daaroor na: Dis verkeerd om ‘n menseregte-vergryp deur die howe te beveg, want dit kan die vergrypers kwaad maak en tot nog groter vergrype lei. Dit laat ‘n mens aan Mussolini se Swart Hemde dink, of aan antisimitiese jeugdiges gedurende die opkoms van Hitler as Duitse leier. Selfs binne die ANC word stappe teen die onbeheerde Malema versigtig aangepak uit vrees vir massa-geweld – ‘n tendens wat veral momentum gekry het toe Malema (wat onlangs die “for” uit “I will kill for Zuma” verwyder het) saam met ander ANC-leiers die howe en die media met geweld en ‘n onregeerbare land gedreig het sou hulle die reg sy loop in die geval Zuma laat neem. Dat daardie openbare intimidasie van ons regbank suksesvol was, was ‘n slegte keerpunt in ons geskiedenis. Moet ons aan dié soort intimidasie toegee?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

8 antwoorde op As dit nie haatspraak is nie, bestaan haatspraak nie

  1. Hutus in beheer van radiostasies het aanhoudend en ongestoord uitgesaai dat Tutsis kokkerotte is. Ons Grondwet moet eerbiedig word en as die ANC een nasie
    wil bou, moet hy die opposisiepartye se steun vra om die Grondwet te wysig sodat haatspraak minder eng omlyn word.

  2. Ek het ‘n probleem met die feit dat hierdie lied hoegenaamd in die hof gaan draai het. Die regering van die dag moes onmiddellik gereageer het, toe daar sprake was dat dit “dalkies” verkeerd geinterpreteer word deur, let wel, massas werkloses wat dikwels nie heeltemal geletterd is nie en op oorlewering staat maak om die geskiedenis korrek te verstaan (dis ‘n feit hierdie en nie rassisties bedoel nie). Wat verwag ‘n mens van ‘n regering wat deur ‘n president wat ‘n masjiengeweerliedjie sing, gelei word en waar die “jeugdige” dertigjarige deur ‘n vrou wat “necklacing” van haar eie mense toegelaat het, ondersteun word as ‘n “seun”? Max kan maar verskoning soek en die uitspraak kritiseer soveel as wat hy wil, want dis sy reg. Dis my reg om te sê die blote uiting van daardie woorde is verkeerd. Iets is lelik skeef en siek hierso.

  3. Gerrit, dankie vir hierdie rigtinggewende artikel. Jy verwoord die saak op so ‘n logiese manier dat ek my ten volle daarmee kan vereenselwig. Hierdie saak openbaar maar net weer dat ons ‘n land met ‘n gebrek aan waardes is. MensWAARDIGHEID is baie skaars. Dankie.

  4. Duidelik voel die ANC rassiste anders oor die saak, maar soos gewoonlik is hulle verkeerd….sommer donners ver verkeerd die keer.

  5. Jy’s reg. AfriForum word nou veroordeel omdat hulle langs die korrekte Grondwetlike kannale die aantasting van hul menseregte aangepak het – so asof hulle nou rassespanning opjaag (‘n klassieke geval van “blaming the victim”), maar dit alles kon vermy gewees het as die regering in die eerste plek teen die rassistiese, teengrondwetlike lied standpunt ingeneem het,.

  6. Jip. Menswaardigheid. Wie dit ernstig opneem, kan nooit sing skiet hierdie of daardie groep honde en diewe nie, en wie daardie soort gesingery goedkeur, of selfs net verskook, vertoon daarmee self ‘n gebrek aan ‘n menswaardigheidsbesef. Dan word ideologie belangriker as mense.

  7. Volgende spelfoute kom voor in u skrewe: ‘gelykheidshoefuitspraak’, ‘vlyend’, ‘Afrikforum’ en ‘antisimitiese’. Daar is geen duidelike definisie van haatspraak in ons regsboeke nie. Indien etimologie ons taal se erfenis is, is alle plek- en plantname met die name ‘Boesman’ en ‘Hotnot’ ook haatspraak.

  8. Jammer oor die spelfoute. Die definisie in die Grondwet is nie heeltemal betekenisloos nie, maar natuurlik moet dit in spesifieke gevalle vertolk word in rigtings wat nie deur die formulering in die wet uitgespel word nie. Dis die aard van regspraak: interpetasies wat dan presedente skep.

    “Boesman” het al voor die hof gekom, en die gebruik daarvan wanneer dit nie neerhalend bedoel word nie is aanvaar. Die saak teen Die Burger oor die gebruik van die woord was onsuksesvol. Tereg ook, want “Boesman” (anders as die polities korrekte “San”) was nooit ‘n neerhalende woord nie.

    Die ander woord wat jy noem, ken ek net in die benaming hotnotsvy. “Hottentot” kom wel in plekname voor. Interessant genoeg is pogings om Hottentotsholland se naam te verander juis deur mense uit die Koi-agtergrond teengestaan. Nogmaals het ons hier te doen met ‘n woord wat aanvanklik geen kwade betekenis gehad het nie. Ek weet nie of daar al hofsake oor was nie.

    Die beginsel wat in die “Boesman”-saak gegeld het, is dat die konteks waarin ‘n woord gebruik word bepalend is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.