Is kapitalisme se dae getel? Indien wel, wat dan?

September 15, 2011 in Sonder kategorie

Is kapitalisme se dae getel? Indien wel, wat dan? In die jongste miniseminaar antwoord vier kundiges op hierdie vraag. Die aanleiding tot Hans Pienaar, Christi van der Westhuizen, Sampie Terreblanche en Cornelius Jansen van Rensburg se gedagtes hieroor is die waarneming dat, veral sedert die onlangse wêreldwye ekonomiese krisis, selfs “ortodokse”, konserwatiewe ekonome al by geleentheid begin wonder het of kapitalisme werklik die antwoord is.

As dit so is (en uit die bydraers se kommentaar is dit duidelik dat dit geen uitgemaakte saak is nie), wat is dan die alternatief? Tot so 20 jaar gelede sou baie kritici van die kapitalisme nog glo dat sosialisme die antwoord is. Dit is ‘n vae begrip, maar baie voorstanders het daaronder verstaan ‘n kommunistiese model waarin private besit beëindig word, die ekonomie in detail beplan word en ‘n eenparty-staat gevolglik die septer swaai. In Kuba bestaan nog so iets; so ook in Noord-Korea. In China het die eenparty-staat oorgebly, maar egter kommunisme het lankal reeds gegroet. Egte kommunisme is in Suid-Afrika so goed soos dood – ook in die sogenaamde Kommunistiese Party. Speel-speel-kommuniste soos Julius Malema is ‘n grap.

Aan die ander kant praat ek onlangs by ‘n internasionale akademiese kongres met ‘n man uit Bulgarye. Hy is ongelukkig met die Europese Unie, reken dit hou geen voordele vir sy land in nie. Ja, hierdie soort ontevredenheid word deesdae al hoe meer gehoor, sê ek toe, maar was dit nie ten minste aan die begin goed om deel van die groter Europese ekonomie te word nie? Is Bulgarye nie daardeur ekonomies gelig nie?

“Nee,” reken my gespreksgenoot, “Bulgarye was ekonomies sterker voor die tyd. Dinge was veel beter onder kommunisme, ook ekonomies. Die lewenstandaard was beter; die staat het vir mense gesorg; nou neem armoede en werkloosheid hand oor hand toe.”

En die inperking van individuele regte soos spraakvryheid? wonder ek.

“Nee wat, antwoord hy, ons kon in daardie jare vryelik ons mening lug, ook in die openbaar, en het dit die heeltyd gedoen; ons sogenaamde diktator het ons nie ingeperk nie.”

Of die Sowjet-unie die heeltyd dreigend geloer het? “Glad nie, ons het ons nie aan hulle gesteur nie.”

Hulle was dan so autoritêr! Het byvoorbeeld Tjegoslowakye ingeval toe daardie weerstand teen growwe kommunisme ontstaan het. En wat van al die gruwels in Oos-Duitsland?

“Ja, maar Tjegoslowakye is in die middel van Europa; dit was ‘n status-ding vir die Russe. En wat Duitsland betref: wat verwag jy van Duitsers?”

Nou ja, die Israelite in die woestyn het ook na die vleispotte van Egipte verlang. Is dit wat hier aan die gang is? Ek sal nie kan sê nie; ek was nooit in Bulgarye nie.

Maar nogmaals: hoe dit ook al was; niemand pleit meer vir ‘n terugkeer na Sowjets-styl-kommunisme nie. Die versorgingstaat, ja, maar nie meer ‘n gesentraliseerde soort sosialisme nie. Wat is die alternatief? Gedesentraliseerde ekonomieë? Plaaslike geldeenhede vir klein gemeenskappies, “talent exchanges”, kiboetse?

Ek weet nie, maar dis vrae wat nog lank oordink sal moet word. Lees die bydraes en lug julle mening hier.

Lees Petrus Pap se kommentaar op hierdie miniseminaar.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blad ingelig te word.

19 antwoorde op Is kapitalisme se dae getel? Indien wel, wat dan?

  1. Selfversorgende klein gemeenskappe, dit gebeur al reeds…..

  2. Oorkruisende konsepte . Almal werk onder Sosialisme
    maar hoe doeltreffend. Die Chinese is realisties met
    hul een kind beleid. Minder mense beteken elkeen kry
    n groeiende deel. Is daar n natuurwet wat se versorg
    die swakkes ten alle koste en die specie versleg ?

  3. Kleiner, gedesentraliseerde instellings: want dit is altyd moeilik vir mense om enige simpatie/empatie te voel vir mense met wie hulle nie kan identifiseer nie. Tog, sal elke gemeenskap baie makliker die hand in die sak steek om hul medegemeenskapslede te help. Sodra ‘n saak te groot word om te bestuur, is dit ‘n verlore saak. (Kommunisme word aangehang deur mense wat nog nooit ‘n ander soort ideologie geken het nie.)

  4. Lees gerus, onder meer, Matt Ridley se “The rational optimist”

    Ook, daar moet ‘n goeie rede wees waarom state met demokratiese vryemark stelsels, met al sy gebreke, veel beter daaraan toe is as sosialistiese/kommunistiese state. kyk maar na die verskil, tussen Noord- en Suid Korea.

    Oeps: “… heeltyd drygend geloer …”, drygend? Dreigend?

  5. Ek dink nie daar is so ‘n natuurwet nie, nee.

  6. Dankie! Spelfout reggestel …

  7. Ek’s daar teen!

  8. Soos geweld en bedrog (gesien mense se aard). Dit beteken nie dit mag nie bestry word nie.

  9. Vetjan het gesê op September 16, 2011

    Die Bulgaar praat ‘n klomp twak. Geen van my Tsjeggiese, Hongaarse, of Bulgaarse vriende stenm enigsins met die man saam oor kommunisme nie.

  10. Oeps ” … vryemark stelsels … “. Vryemarkstelsels?

  11. Kapitalisme bestaan amper nerens nie.Dit het in die VSA bestaan tot 1913 en het sedertdien al meer sosialisties geword.Dit het nou reeds so ver gevorder dat verdere groei baie moeilik word.Die weste het afgedwaal van sy kapitalistiese verlede en doen dit steeds onder allerlei name. Agteruitgang word dus geblameer op kapitalisme terwyl dit eintlik ‘n verwronge vorm van sosialisme is met enkele klein eilandjies van kapitalisme.
    My oortuiging is juis dat elke heel geringste afwyking van SUIWER kapitalisme moreel eties en christelik nie verantwoordbaar is nie. Om met dwang geld te vat van die aan wie dit behoort en dit uit te deel (nadat die burokrasie die grootste deel verbruik het)aan die, aan wie dit nie behoort nie, is volgens my diefstal. Om die staat aan te stel as agent om my naaste se goed te steel verander die diefstal nie in ‘n edele daad nie.Dan is daar die sosialistiese probleem van inflasie. Geld se “gewig” is dan sus en dan weer so. Dis ‘n gruwel in die oe van die Here. Geld moet waardevas wees en nie manipuleerbaar deur politici wees nie. Om geld uit niks te skep is om jou lyf God te hou. Hierdie “chickens” is besig om huis toe te kom om te “roost”. Dit gebeur egter altyd ten koste van die minder gegoedes. Die rykes en slimmes het baie maniere en moontlikhede om hulle teen die diefstal van inflasie te beskerm. Die wees en die weduwee/wewenaar het meestal nie daardie vermoe nie en is uitgelewer aan die owerheid.Dis tyd dat ons terugkeer na die wortels van ‘n eerlike ekonomie en geldstelsel.

  12. So Jesus was verkeerd toe hy die ryk jong man advies gegee het? Ek dink nogal nie so nie.

    Terloops, volgens Sampie Terreblanche het kapitalisme, soos deur Adam Smith bedink, nog nooit bestaan nie. Kapitaliste verwys graag na Smith, maar vir Smith kon die “invisible hand” net onder heel definitiewe toestande werk, en daardie toestande (byvoorbeeld dat almal op dieselfde vlak begin) bestaan nie. “Suiwer” kapitalisme is dus onmoontlik. Dit het ook die implikasie dat dit nog nooit getoets is nie.

  13. So hy is die enigste Bulgaar in die wereld wat so voel?

  14. Jy’s nog in die rondte Jan Rap!

  15. vuurklip, kommunisme werk nie; ek stem saam. Maar kapitalisme, lyk dit my toenemend, ook nie. Ek weet nie wat die alternatief is nie, maar albei modelle het op ‘n sekere tyd ontstaan. Daar is dus niks noodsaakliks aan hierdie twee opsies nie. Dis die moeite werd om steeds vrae te stel en aan alternatiewe te probeer dink, of hoe? Karl Popper maak hierdie punt nogal goed in ‘The open society and its enemies’.

  16. Vetjan het gesê op September 27, 2011

    Nee, vergelyk dit met mense wat na apartheid terug verlang.

  17. Miskien. Ek was nooit in Bulgarye nie, en my instinktiewe aanname is dat dinge daar sleg was onder kommunisme. Vandaar dat ek so deur hierdie duidelik intelligente en ingeligte ou se siening verbaas is. Dinge was dalk nie heeltemal soos ek dit voorgestel het nie? Dit verander egter nie my siening dat kommunisme alles behalwe die antwoord is nie.

  18. Dis interesant dat jy noem kapitalisme het nog nooit regtig bestaan wat is dan aan die gang in die ekonomie-ek het gedink dis kapitalisme- wat dit ook al beteken- maar in die lig van veral ons situasie in SA dink ek regtig nie dit werk vir ons nie- ongelykhede groei net- onaanvaarbare situasie- wanneer mense egter hieroor praat debatteer hulle nie oor of kapitalisme werk nie- maar herhaal net beloftes wat al die afgelope 17 jaar gemaak word…

  19. My punt is dat Smith, die vader van die kapitalisme, wat gereeld as heilige mantra deur pleidbesorgers vir die vrye mark aangehaal word, nie die soort vrye mark wat in werklikheid bestaan verdedig het nie. Hy het ‘n ideale situasie verbeel waarin almal op gelyke vlak begin. Wie Smith ernstig neem, sal dus teen die vryemark-stelsel soos ons dit ken gekant wees. Of Smith se utopie ook kan werk, is ‘n ander vraag. Hoe sal ons weet?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.