Is dit alles die moeite werd?

September 15, 2011 in Sonder kategorie

Better Never to have Been is die titel van ’n boek deur David Benatar. Dit sou beter wees as ons nooit bestaan het nie, dink hy. Meer nog, dis altyd verkeerd om kinders in die wêreld te bring, ’n morele plig om alle swangerskappe vroegtydig te beëindig.


Hoe kom Benatar tot dié gevolgtrekking? Deur ’n gangbare etiese teorie toe te pas: die sogenaamde negatiewe utilitarisme. Die woord “utilitarisme” kom van “utiliteit” oftewel nut, wenslikheid, goedheid. Volgens die vader van die utilitarisme, Jeremy Bentham, moet ons gedrag gerig word deur die beginsel van die grootste geluk vir die grootste aantal mense. Veral in debatte oor wetgewing en beleidmaking is dit steeds ’n invloedryke meetsnoer: Hoeveel mense sal hoeveel voordeel trek?


Mettertyd het die gedagte in ’n ander rigting ontwikkel: Ons moenie vra hoe die meeste mense die gelukkigste gemaak kan word nie, maar hoe die ergste swaarkry van so veel moontlik lydendes verlig kan word. Dis belangriker om hongersnood, siekte en onveiligheid te bestry as om geluk te vermeerder.


Dink aan die debatte oor die nuwe stadions vir verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi. Moes die geld nie eerder vir ’n “goeie doel” gegaan het nie – die versorging van weeskinders of veldtogte teen huishoudelike geweld? Of sal die ekonomiese inspuiting van die toernooi tog op die lang duur ook armes se las verlig? Albei argumente gaan daarvan uit dat dit belangriker is om lyding te verlig as om pret te hê. Om miljarde aan vermaak te bestee sonder dat dit ook ten bate van minder bevoorregtes in ons samelewing is, voel nie reg nie.


Wat van ons persoonlike lewe? Hier gaan dit nie oor wetgewing en beleid nie, maar oor hoe ons elke dag leef – ons doelwitte, ideale, waardes en lojaliteite. Streef ek na geluk, na sin en lewensvreugde vir my en andere? Of is my grootste sorg om so min moontlik te ly? Benatar meen mense se lewe is slegter is as wat hulle dink; hulle beoordeel dit positiewer as wat dit is – ’n argument wat herinner aan die grap oor die psigiater wat haar pasiënt ná ’n breintoets inlig dat hy depressief is, waarop hy geskok antwoord: “En ek dog al die tyd ek is gelukkig!” Oor een ding is Benatar reg: die strewe na geluk hou risiko’s in. As ek liefhet, kan die wederliefde uitbly; as ek vir mense omgee, maak dit seer as hulle iets oorkom.


In die Christelike tradisie word liefdesgemeenskap met God, wat naasteliefde insluit, as die hoogste waarde beskou, verduidelik die godsdiensfilosoof Vincent Brümmer, maar liefde word in vryheid gegee. Die vryheid wat ons het om lief te hê, kan misbruik word; mense kan mekaar seermaak. Hoe verrukliker die liefde wat moontlik is, hoe duiselingwekkender die vryheid wat gegee is en hoe groter die risiko. Wanneer die hoogste val, val dit die diepste, sê CS Lewis.


As ons geskape is, beteken dit hierdie risiko, met al die moontlikhede van lyding wat dit inhou, word deur God die moeite werd geag. Christene bely nie net dat die skepping uit die hoogte vir God goed is nie (“God is watching us from a distance,” sing Bette Midler). Nee, in Christus kom dra God self ons weerlose bestaan. Ondanks alles bly die Skepper glo dis die moeite werd.


Maar ís dit – ook vir ons? As dit ons hoogste sorg is om so min moontlik te ly, sal ons met die Boeddha moet sê: Die lewe is lyding en die antwoord onthegting: die geheim is om bevry te word van die verknogtheid aan die lewe met sy verleidelike aanloklikhede. Dan sal ons uit die hart bely: Better Never to have Been.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

11 antwoorde op Is dit alles die moeite werd?

  1. Sluit dit díe in wat so graag vir Zuma wil sterf?

  2. Sometimes “yes”, sometimes “no”. Die lewe is ‘n sinuskurwe (sê my man).

  3. Alles kan die moeite werd wees, of geen moeite wees nie, maar slegs as ‘n mens besef wat sy doel op aarde en in die lewe is.

  4. Sjoe. nou raak ons filosofies diepsinnig. Ek steel so effens by Jurgen Moltmann as hy se: “How can we play in a strange land?”
    How can we laugh, how we rejoice without care, when we are worried, depressed and tortured by the state of the world in which we live? Laat mens dink aan Ps. 137 : “Hoe sou ons die lied van die Here kan sing in ‘n vreemde land?”
    Moltmann vra dan ook: “Is there really such a thing as freedom in the midst of slavery, joy in the midst of suffering, and praising God in the groaning of his creatures?”
    As ons ‘n begrip wil kry van hierdie misterie, sal ons noukeurig en krities moet kyk na vreugde in sy gemartelde en bevrydende vorm.
    “What are the patterns and functions of fortune, play and enjoyment in our society?”
    Sonder om ons oor te gee aan fatalisme, moet ons ons aandag vestig op hoop, en dan spesifiek die Christelike hoop. Die Christelike hoop wat as basis het die opstanding van Jesus Christus, sien altyd ‘n wereld vol moontlikhede, naamlik die moontlikhede van die God van hoop. Dit sien die realiteite en die mensdom in die hand van Hom wie se stem vanuit die toekoms roep : ” Kyk, Ek maak alles nuut.” Deur hierdie belofte verkry ons die vryheid om die lewe weer van vooraf te begin en om die wereld om ons te verander.

  5. Malema het onlangs die “for” uit “kill for Zuma” verwyder – by wyse van spreke. Hy reken nou Mbeki was die man.

  6. Met die geboorte van my kinders het ek gevoel: Dit is ongekwalifiseerd goed en geen kwaad in die hele wereld kan die goedheid van wat hier gebeur het minder goed maak nie. In daardie oomblik is “better never to have been” pervers.

  7. Bly dat jy Moltmann aanhaal. Meer Christene (nie net teoloe nie) moet hom lees.

    (Terloops, Helmut Thilicke vertel ‘n dame het hom eenkeer met ‘n traktaatjie in die trein genader en gevra: “Het jy al van Jesus gehoor?” Hy antwoord toe: “Mevrou, ek is ‘n teoloog!” Sy wis nie wat vir ‘n ding dit is nie, maar antwoord toe: “Toemaar, meneer, niemand is so ver van die Here dat hy nie gered kan word nie.”)

  8. Uitbundig geniet toe die traktaatjie dame die teoloog
    troos.

  9. Kammakazi, ek ken geen mens wat gewillig is om sommer vir sy medemens te sterf nie.

  10. Dammit, ek het dit gemis!

  11. Regtig, bruggie? Sjoe.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.