Kom ons boikot die “amptelike” Springbok-ondersteunersdrag

September 5, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend praat mense op Cape Talk oor die feit dat Springbok-ondersteunersdrag so duur is. Die amptelike klere word in China vervaardig, maar die plaaslike “namaaksels” (sic), wat presies dieselfde is, is sommer baie goedkoper. Moes ‘n Suid-Afrikaanse vervaardiger nie eerder die kontrak gekry het nie?

Nee! Wat moet gebeur, is dat SA burgers die “amptelike” kleding moet boikot – en nie in die eerste plek omdat dit duur is en in die buiteland vervaardig word nie. Fundamenteler is die onding dat die Springbok-embleem as SA Rugby se handelsmerk beskou word, en dat hulle geag word seggenskap daaroor te hê. Van wanneer af?

Kan ek die protea of die landsvlag as my onderneming se handelsmerk registreer? Wat van die ou SA vlag of die Rasta-haarstyl? Of jazz? Dis mos twak (kan ek dalk daarop ook eiendomsreg bekom?). Die Springbok as simbool vir die nasionale rugbyspan het aanvanklik informeel gefunksioneer – as deel van die volkstaal – voordat dit die nasionale sportembleem geword het. Die Springbok as spesie was weer die nasionale dier, nes die protea die nasionale blom was, en die bloukraanvoël die nasionale voël. Hoe kan dit aan iemand behoort, hul privaatbesit wees?

Eintlik wens ek iemand wil die saak hoef toe vat. Die vakbonde het pas teen die hoë koste van die Springbok-drag protesteer. Wat nog beter sal wees, is om SA Rugby se aanspraak op die besit van die sogenaamde “handelsmerk” in die hof te bestry.

En die boikot? Moet dit insluit dat almal doelbewus “onwettige” Springbok-drag aanskaf? Die vraag is natuurlik: ís dit onwettig?

Besluit self.

As jy die voorgestelde boikot ondersteun, klik hier en sluit aan by die Facebook-groep.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

6 antwoorde op Kom ons boikot die “amptelike” Springbok-ondersteunersdrag

  1. ek het eers gedink “ai hier kom nog ‘n doemprofeet storie”… maar die waarheid praat mos reg. dankie dvir die blog. ek het self nog nie ‘n trui gekoop nie. dit voel nie reg dat ons soveel moet betaal tot die “reg” om ons eie land te ondersteun nie.

  2. Mag ek die “amptelike” nasionale sportsimbool van die Protea as my handelsmerk registreer? Probeer dit ‘n bietjie!

  3. Viva, kammakazi, viva!

  4. Presies my punt. Nee, doemprofeet is ek nie. Ek ondersteun ons span, ons kaptein, ons afrigter, die lot, en ek is heel optimisties oor die beker.

  5. Ek sien, so een private onderneming besit die embleem van die atletiekspan, die krieketspan, die hokkiespan, die sokkerspan en al die ander nasionale spanne? Ek dink nie so nie, ou slimpie.

  6. Jy het in ‘n vorige kommentaar gesuggereer dat die Springbok-embleem destyds al deur die Rugbyraad besit is. My punt is dat dit nie kan wees nie, aangesien daardie embleem ook deur nasionale spanne in ander sportsoorte gebruik is, nes die Protea vandag. Dit gaan ver terug. Kyk byvoorbeeld die foto’s van Ken McArthur (baanatleet) by http://www.mcarthur.org.za/k_k_mcarthur.htm.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.