Godsdiens, moderniteit en al daai jazz

September 5, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Onlangs het die Amerikaanse teoloog Harvey Cox, skrywer van The Secular City (1965), ’n eredoktorsgraad van die Berlynse Humboldt-universiteit ontvang. Genoemde topverkoper was ’n uitvloeisel van Cox se verblyf in Berlyn kort ná die Tweede Wêreldoorlog. In sy daaglikse heen-en-weer-pendel tussen Oos- en Wes-Berlyn omdat hy aan beide kante klasgegee het, is hy getref deur die sekulêre karakter van die stad, die beperkte invloed van die kerk, die oënskynlike afwesigheid van God. Christene moes dié verwêreldliking verwelkom, het Cox betoog, want dit skep ’n nuwe moontlikheid: ’n minder wêreldvreemde kerk wat sonder magsuitoefening ’n mondige samelewing kan dien.

 

In sy aanvaardingstoespraak die ander dag het Cox ’n ommekeer bely. Soos heelparty teoretici wat aanvanklik die sekularisasie-tese onderskryf het, glo hy nie meer godsdiens is aan die kwyn nie. Dit mag wees dat minder mense kerk toe gaan, maar dit beteken nie geloof het verdwyn nie. Cox meen dis nie akkuraat om van ’n “terugkeer” van die godsdiens te praat nie. Nee, sê hy, die godsdiens was nooit weg nie!

 

Hoe móét ons dan oor die moderne stad dink? Cox gryp terug na Aristoteles se definisie van ’n stad as “’n plek waar vreemdelinge ontmoet”. Die moderne stad is nie ’n enkelvoudige verskynsel wat in een rigting ontwikkel nie, maar ’n komplekse interaksie tussen mense met uiteenlopende identiteite, oortuigings, waardes en doelwitte. Kultuur- en godsdiensgroepe sal nooit eenvormig word nie, maar sal ook nie dieselfde bly nie omdat hulle mekaar beïnvloed en ou grense vir nuwes plekmaak.

 

Die metafoor wat Cox hiervoor gebruik, is jazz: Wat in ’n jazz-uitvoering gebeur, is onvoorspelbaar. Jazz-musici reageer op mekaar, speel in op temas wat ontwikkel en bring nuwe temas daaruit voort. Elke speler het ’n eie instrument, klank en styl, maar is ingestel op dié van medespelers. Nuwe kombinasies kom tot stand; verskillende instrumentaliste neem beurtelings die leiding. Regte jazz-musici, verduidelik Cox, gebruik nie bladmusiek nie. En om sy metafoor te demonstreer neem Cox toe sommer sy tenoor-saxofoon op en gee ’n uitvoering saam met Berlynse jazz-musici!

 

Maar wat as die nodige talent sou ontbreek? Wat as een groepie die ander dwing om slegs één wysie te speel? Of as die klanke in ’n skril chaos ontaard, soos nou weer in Brittanje gebeur het? Bewys die misdaad, xenofobie en rassistiese woord-dadigheid in ons samelewing nie dat geslaagde jazz geen vanselfsprekendheid is nie?

 

Cox het self al – hoewel nie met die jazz-metafoor nie – gesuggereer dat die polsende musiek van die moderne stad ook stil kan word. In 1999 skryf hy die koerantartikel “The Market as God”. Berus die vryemarkstelsel nie op die aanname dat, as elkeen sy eie materiële belang najaag, die ekonomie vanself welvaart vir almal skep nie? Die godsdienstige aard van hierdie oortuiging word verklap in Adam Smith, die vader van die kapitalistiese teorie, se verwysing na ekonomiese wetmatighede as ’n “invisible hand”.

 

Ons ervaring leer egter dat die Onsigbare Hand geen genade ken nie – ’n hand wat almal op één wysie wil laat marsjeer, die ontwikkeling van samelewings deur één krag wil laat aandryf, aandring dat alle dinge – hetsy kulture, ekosisteme, menseverhoudings of ja, geloof – finansieel moet slaag of sterf. In stede van kreatiewe samespel kry ons dan ’n meganiese proses waarop ons geen betekenisvolle invloed het nie. Dat godsdiens toe al die tyd nog daar was, is nie noodwendig goeie nuus nie …

 

As geen ander gees die Onsigbare Hand kan troef nie, is geen “nuwe stad Jerusalem” moontlik waarin jazz weerklink nie. En as daardie stad net in die hemel bly en nooit op aarde neerdaal nie, is die geloof in ’n lewegewende Gees bloot opium vir ’n klinkende kabaal.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

9 antwoorde op Godsdiens, moderniteit en al daai jazz

  1. avega het gesê op September 5, 2011

    Ek sien eintlik uit om te sien hoe ‘godsdiens’ gaan ontwikkel, want dit gaan afhang van individue, nie georganiseerde godsdiens instellings nie. Die wereld soek relevansie. Ek het twee boeke gelees, ‘When Heaven invades Earth’ deur Bill Johnson en ‘Releasing Heaven on Earth’ deur Alistair Petrie, oor die ‘restoration’ van die gebroke aarde. Baie interessant.

  2. Ja, die Onsigbare Hand moet getemper word maar hoekom
    deur iets so irrasioneel soos geloof ? Is die moderne hip gelowige se hidden agenda nog steeds “My Ouboet is
    wel onsigbaar maar hy is sterker as joune.” ?

  3. Ja, godsdiens neem altyd weer nuwe vorme aan. Ek is egter minder optimisties oor huidige ontwikkelings, want wat as “individuele” godsdiens voorgehou word, is meestal ‘n geldelike produk. Buitendien lei alle nuwe vorme van godsdiens kort voor lank tot instellings. Gevestigde tradisies het al die truuks probeer en die lesse geleer; hulle is ryker aan wysheid en diepgang. Maar dis net my “individuele” mening!

  4. bruggie, elkeen het sy ouboet, jy ook. As dit nie die Onsigbare Hand is nie, is dit iets anders. “Ons” glo nie in een ekstra ding nie; “ons” huldig ‘n sekere opvatting oor die aard van wat ook al absoluut is. Jy het weer ‘n ander opvatting oor die aard daarvan, of jy dit weet of nie. Dis maar hoe menswees is.

  5. Dag, Naamloos. Ek praat nie namens die NG Kerk of die Kerkbode nie, so ek kan nie jou vraag beantwoord nie. Wat ek wel interessant vind, is dat jy dat as ‘n deug beskou wanneer instansies nooit hul kyk op dinge verander nie. Vir my lyk dit na ‘n swakheid. Lyk my ‘Nietzsche’ is soos daardie voormalige moderator wat bely het hy is dankbaar dat hy nooit nodig gehad het om sy mening oor enigiets te verander nie.

  6. Die eerste getuies het bely dat daardie koninkryk in Christus reeds gekom het en dan ons reeds iets daarvan kan proe, al wag ons nog op die voleinding. Anders is dit “pie in the sky when you die”.

  7. avega het gesê op September 5, 2011

    Dis waar wat jy sê. Ek ken net al hoe meer mense wat nie kerk toe gaan nie, maar hulle geloof in God uitlewe deur ‘n veskil te maak waar hul werk en lewe. Maar op die einde vorm daar weer groepe en word dit georganiseerd.

  8. Daar is mense wat dink hulle het die alomvattende waarheid beet. Die NG Kerk het ook sulke mense as lidmate, maar ook weer ander wat nie so is nie, en dit geld elke organisasie. Maar ek verstaan nou die bron van jou aggressie: jy koester ‘n wrok teen die NG Kerk oor iets wat een of ander dominee jou aangedoen het. Toemaar, ‘n mens ontgroei hierdie dinge mettertyd. Ek probeer simpatiseer, maar aangesien ek nie gelowig grootgemaak is nie, deel ek nie die ervaring nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.