Jy blaai in die argief vir 2011 September.

Ja, lag maar lekker

September 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Oor “die sin van die lewe” is al baie geskerts – byvoorbeeld in die klassieke Monty Python-prent The Meaning of Life. In die film Zelig vertel die naamkarakter (gespeel deur die regisseur, Woody Allen) hoe hy hom na die sinagoge gehaas het om die rabbi na die sin van die lewe te vra. Die rabbi antwoord, maar in Hebreeus – en wil toe $600 vir Hebreeus-lesse vra!

Humor werk net as dit oor iets herkenbaars gaan. Dit laat ons die lekkerste lag as die onderwerp ons raak, en dis die heel snaakse, meen Kurt Vonnegut, as dit eintlik tragies is. Oor die sin van die lewe word dan ook altyd weer ernstig besin. Einste Vonnegut vra sy seun ‘n keer waarvoor hy dink ons hier is. Die wyse seun antwoord: “Father, we are here to help each other get through this thing whatever it is.” Skreeusnaaks.


‘n Sinvolle lewe, meen Marcel Sarot, is ‘n goeie lewe – een wat die moeite werd is. In Het goede leven laat hy verskillende modelle van ‘n goeie lewe teen die tragiek van die kwaad “bots” om te kyk of dit die toets deurstaan. Sy voorkeur gaan uit na ‘n model wat “intersubjektief” is, eerder as suiwer “objektief” (die sin van die lewe is ‘n gegewe) of “subjektief” (ons besluit self wat sinvol is). Intersubjektiwiteit verwys na verhoudings – vir Sarot ‘n persoonlike liefdesverhouding met God en ons medemens. As dít ‘n goeie lewe is, is ons lewensin teen die kwaad bestand, want ook in situasies van lyding kan liefde blom (“we are here to help each other …”).


Sin kan ook op betekenis dui, op sin máák. As ons die lewe verstaan, het dit vir ons sin. Dit gaan hier nie oor ‘n vryblywende, teoretiese verstaan nie, maar oor ons vertolking van ervarings. Ons lewe het sin, verduidelik Vincent Brümmer, as ons weet hoe om konkrete uitdagings te lees. Hoe beoordeel ek ‘n stand van sake? Hoe moet ek daarop reageer? Om sulke vrae te kan beantwoord moet ek ‘n ideaal hê, iets waarna ek streef.


Ook vir Brümmer is die hoogste lewensideaal die liefde van God en mens. Ons streef dan daarna om te weet wat God wil (naasteliefde), om dit te kán doen, en om die soort mense te word wat dit wíl doen. In die lig van hierdie strewe kan ons in verskillende situasies verstaan watter houding om in te neem en hoe om op te tree, die sin of betekenis van ‘n situasie begryp. In hierdie lewe sal ons die ideaal van volmaakte liefde tussen God en mens nie bereik nie. Ons kan daarna streef, maar ons sal steeds soms God se wil misverstaan, daarin faal om dit te gehoorsaam of dit teensinnig eerder as met vreugde doen. Juis die “reikhalsende verlange” (Rom. 8:19) na die ideaal maak ons lewe sinvol.


En as die ideaal in ‘n hiernamaals wel verwesenlik word? Sal daar dan geen ideaal meer oor wees nie? Geen sin nie? Is die strewe na volmaakte liefde versoenbaar met geloof in ‘n ewige lewe? Dit is ‘n vraag wat Brümmer self ook stel. Maar is liefde as ideaal slegs gemik op die herstel van ‘n gebroke verhouding? Kan daar in ‘n herstelde verhouding nie verdere, ryker oogmerke wees nie – soos om die geliefde steeds beter te leer ken?


Ons kan ‘n ander (en onsself) nooit volledig verstaan nie, en in die Christelike tradisie word onder meer van die Gans Andere se onuitputlike rykdom en heerlikheid gepraat. Die Westminsterse Kategismusse sê mos ‘n mens se “chief end” (die sin van ons lewe) is om God te verheerlik en vir altyd te geniet.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

As dit nie haatspraak is nie, bestaan haatspraak nie

September 20, 2011 in Sonder kategorie

Die jongste miniseminaar, waaraan Danny Titus en Cornelius Thomas tot dusver deelgeneem het, gaan oor die gelykheidshoef-uitspraak waardeur Julius Malema en kie. verbied word om hardop in die openbaar oor rassemoord te fantaseer. Oor “Skiet die K**!” of “Juden raus!” sou die hof seker dieselfde besluit het, maar omdat wit Afrikaners hier die teiken is, en nie swartes of Jode nie, is die uitspraak omstrede. Polities korrektes vind dit nog steeds grillerig om aan Afrikaners as mense met regte te dink.

Die suggestie dat die lied “Skiet die Boer!” deel van die ANC se trotse vryheidstryd-erfenis is, is nie juis vlyend teenoor daardie erfenis nie, want dit suggereer dat dit rassisties, moorddadig en terroristies was. Dis nie ek wat so sê nie, maar die apologete vir die lied. Ook die argument (selfs deur die regter aangevoer) dat liedere soos hierdie een in die konteks van die vryheidstryd aanvaarbaar was, maar dit nou, in ‘n demokratiese samelewing, nie meer is nie, is problematies. Kan dit ooit in orde wees om mense tot die doodmaak van ‘n etniese groep aan te spoor, of daardie groep nou die “vyand” is of nie?

Dan is daar die lagwekkende suggestie dat die lied geensins deur die massas verstaan word as aanhitsing tot geweld nie. Die reële effek van sulke “struggle-liedjies” het relatief onlangs al duidelik geblyk toe die skuldiges in die xenofobiese townshipgeweld hulself met Jacob Zuma se “Bring my masjiengeweer!” aangepor het (iets wat terloops nooit deur Zuma afgekeur is nie). Die Malema-lied weerklink in ‘n konteks waar boere gereeld aangeval en vermoor word. ‘n Paar jaar gelede is groot gewag gemaak van ‘n studie wat bevind het dat swart boere net so gereeld soos wit boere op hul plaas aangeval word, maar minder aandag is gegee aan dieselfde studie se bevinding dat aanvalle op wit boere geneig is om meer gewelddadig te wees. “Boer” met ‘n hoofletter en “boer” met ‘n kleinletter is kennelik tog met mekaar verstrengel. Dis dan ook nie net in die lied “Skiet die Boer!” dat Boere honde en diewe genoem word nie; Malema verwys ook in sy toesprake na wittes as diewe.

Malema, Mantashe en andere se argument dat die Grondwet en die howe die meerderheid in hul strewes strem, verraai baie oor hul gebrek aan insig in die konsep van menseregte. Die hele punt van ‘n Menseregte-handeves is om burgers, ook minderhede, teen die massa se grille te beskerm! Die meerderheid mag besluit hoe ‘n land bestuur word, maar daar is perke: Hulle mag nie basiese regte aantas nie, en dit sluit in dat hulle nie haatspraak mag beoefen nie – of dit nou hul “strewe” is of nie. Daarom is die Freedom of Expression Institute ook verkeerd om die hofuitspraak as gevaarlik vir spraakvryheid te beoordeel. Spraakvryheid kan nooit die reg op haatspraak insluit nie, nes die reg op godsdiensvryheid nooit steniging of huishoudelike geweld kan insluit nie.

In vergelyking met Duitsland, waar ontkenning van die Jodemoord strafbaar is, is ons Grondwet baie verdraagsaam. Selfs die Britte se uitwissingsveldtog op die Xhosas of die volksmoord op wit én swart slagoffers van die konsentrasiekampe kan ontken, afgewater of bespot word sonder dat daar enige geregtelike gevolge is. Die enigste beperking is haatspraak, en dit word eng gedefinieer – eksplisiete aanhitsing tot haat en geweld. Dat Malema dááraan skuldig bevind word, is ‘n aanduiding van hoe verwerplik sy optrede is, en selfs al sou die Grondwetlike hof later anders bevind, sou dié verwerplikheid nie verminder nie. Ek sou ook steeds volhou: As “Skiet die Boer!” (of “Skiet die K**!” of “Juden raus!”) nie as haatspraak kwalifiseer nie, dan bestaan haatspraak nie.

Die mees kommerwekkende soort reaksie op die hofuitspraak is dat dit jammer is omdat dit tot groter oproer onder Malema se volgelinge kan lei. Dit is onder andere Max du Preez se siening. AfrikForum word dan verwyt dat hulle rassespanning stook deur so ‘n saak na die hof te bring. Dink ‘n bietjie daaroor na: Dis verkeerd om ‘n menseregte-vergryp deur die howe te beveg, want dit kan die vergrypers kwaad maak en tot nog groter vergrype lei. Dit laat ‘n mens aan Mussolini se Swart Hemde dink, of aan antisimitiese jeugdiges gedurende die opkoms van Hitler as Duitse leier. Selfs binne die ANC word stappe teen die onbeheerde Malema versigtig aangepak uit vrees vir massa-geweld – ‘n tendens wat veral momentum gekry het toe Malema (wat onlangs die “for” uit “I will kill for Zuma” verwyder het) saam met ander ANC-leiers die howe en die media met geweld en ‘n onregeerbare land gedreig het sou hulle die reg sy loop in die geval Zuma laat neem. Dat daardie openbare intimidasie van ons regbank suksesvol was, was ‘n slegte keerpunt in ons geskiedenis. Moet ons aan dié soort intimidasie toegee?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Siek en sat vir Dettol se kiem-propaganda

September 15, 2011 in Sonder kategorie

Ek het pas die brief hieronder aan Dettol gerig en die Facebook-groep Dettol products and germs – fact or fiction? begin waar dit deur die publiek gelees en bekommentarieer kan word. As die antwoorde nie bevredigend is nie is die Advertensie-klagtekommisie die volgende stap.

  

Dear Madam/Sir

 

Based on a current series of advertisements of Dettol products on South African television please provide the following information:

 

          Is it true that the vast majority of germs people are exposed to in their everyday lives are harmless? If not, what is the scientific basis of this claim?

          Is there any scientific proof that regular use of Dettol products (or similar products) decrease the likelihood of disease caused by germs?

          What is the scientific basis of the claim that Dettol kills 99% of germs?

          Is the actual amount of germ types in the world known?

          Of what can consumers of Dettol be sure in the phrase “Be 100% sure” in Dettol advertisements, and how does this phrase relate to the claimed ability of Dettol products to kill 99% of germs?

          Do you agree that obsessive compulsive disorder is a serious psychological condition that often involves constant washing due to an irrational fear of germs, and that continual reminders of the presence of countless germs in the environment can worsen or even cause this condition?

          Can an increase in the prevalence of obsessive compulsive disorder focused on the fear of germs hold financial benefits for your company?

 

Please take note that this letter will be publically distributed, as will your reply if forthcoming.

 

Regards,

 

Dr Gerrit Brand

Stellenbosch University

 

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Gender, ubuntu en geweld

September 15, 2011 in Sonder kategorie

My jongste Brandpunte-rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

Twee relatief onlangse leenwoorde in Afrikaans is gender en ubuntu. Anders as laasgenoemde is eersgenoemde nog nie in die woordeboek opgeneem nie. Dit word dikwels in skuinsdruk geskryf – soos ander nie-Afrikaanse woorde. Nietemin is gender en ubuntu met mekaar vervleg.

Ubuntu is ’n Nguni-woord. Die ekwivalent in die Sotho-tale, botho, word nie in Afrikaans gebruik nie. ’n Mens sou dit dalk met “menslikheid” kan vertaal, maar in die oorspronklike tale weerspieël dit ’n spesifieke mensbeskouing verwoord in die spreekwoord (bekend in verskeie Afrikatale): “’n Mens is ’n mens deur mense.” Die idee dat mense hul identiteit aan relasies met andere te danke het, is nie uniek aan Afrika-kulture nie. Dink maar aan Martin Buber se Ich und Du, wat duidelik maak dat “ek” en “jy” net saam gedink kan word. Dieselfde is egter nooit dieselfde nie, soos ’n Nederlandse interkulturele filosoof ’n keer gesê het. Afrikane (ek veralgemeen) verstaan nie net dat ons menswees sosiaal bepaal word nie, maar beleef dit ook spontaan so. In Sotho word dikwels aan ’n individu gevra: “Le kae?” (Hoe gaan dit met julle), eerder as “O kae?” (Hoe gaan dit met jou?). Jy en julle is hier meer vervleg as in die Westerse “Hoe gaan dit?” (waar dit nog hoegenaamd in die Weste gevra word).

Nadelige gender-konstruksies

Die woord gender behoort ook ’n Afrikaanse woord te wees. Dit beteken nie dieselfde as geslag nie. Dit verwys nie na biologiese verskille, aangebore geslagtelikheid, nie, maar na iets wat sosiaal gekonstrueer word. Biologiese manlikheid of vroulikheid is een ding; die verstaan van mense deur gangbare voorstellings en verwagtings van manlikheid en vroulikheid iets anders. Gender verwys na geslagskonstruksies wat in die loop van die geskiedenis verander, tussen kulture verskil en ook ín kulture gekontesteer word.

Tot relatief onlangs het “vroulikheid” in die Weste onder meer verwys na iemand wat nie buite die huislike sfeer werk nie. Deesdae is dit nie maar ’n aspek van vroulikheid nie; die gender-konstruksie het verander. Die idee van vroulike huislikheid is in die koloniale era egter na Afrika uitgevoer. Waar vroue in baie Afrika-kulture eers landbouers was, is die Westerse gender-konstruksies oorgeneem; die verbintenis tussen vroulikheid en huislikheid het deel van Afrika-kulture geword. In televisie-advertensies gemik op swart verbruikers is die vrouekarakter dikwels ’n tuisversorgster wat oor skottelgoedseep en gesonde ontbytkos besorg is, terwyl die man, wat in motors en finansiële produkte belangstel, ná werk tuiskom om die maaltyd wat sy vrou liefderyk voorberei het te geniet. Dié gender-konstruksie was 100 jaar gelede onvoorstelbaar in Afrikakulture. Gender verander voortdurend.

’n Algemene misverstand wanneer maatskaplike verskynsels konstruksies genoem word, is dat dit op ontkenning van werklikhede neerkom. Konstruksies is egter net so werklik soos biologiese feite; geboue net so reëel soos bome. Gender is nie minder werklik as geslag nie; dis ’n ander sóórt werklikheid. Gender, ras en ander konstruksies kan nie sommer so uit die weg geruim word nie, maar het ’n eie lewe. Tog beteken die gekonstrueerdheid daarvan, en die onvermydelikheid van verandering, dat skadelike stereotipes bestry kan word. Dis wat vroueregte-aktivisme onder meer behels. Naas die stryd vir regverdiger wette en beleide, en die skep van geleenthede vir vroue, word geveg teen nadelige gender-konstruksies.

Patriargie en geweld

Een gebied waarop in Suid-Afrika sulke konstruksies beveg word, hou verband met geweld teen vroue. Ek skryf hierdie artikel in Augustus, Vrouemaand in SA. Dit het afgeskop met Vrouedag op 2 Augustus, ’n nasionale vakansiedag. Jaarliks is daar 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders. Of dit alles ’n uitwerking op mans se behandeling van vroue het, is moeilik bepaalbaar. Sover ek weet, is daar nie ’n aanduibare afname in die geweld nie, maar dit is moeilik om met sekerheid te bepaal, want daar moet rekening gehou word met die moontlikheid dat meer of minder gevalle aangemeld word. ’n Mens moenie eendimensioneel na komplekse verskynsels soos geweld teen vroue kyk nie. Die meeste vroueregte-aktiviste gaan dus daarvan uit dat hoe ons oor gender práát deel uitmaak van ’n kultuur van geweld teen vroue.

Deur bewusmaking word daarom gepoog om gevestigde konstruksies te bestry: Suid-Afrikaners moet leer dat vroue gelykwaardig is en nie slaansakke nie. Mans het nie gesag oor vroue nie. Vroue is nie seks-objekte wat vir manlike bevrediging en voortplanting bestaan nie. Dat ’n vrou sexy aantrek of met ’n man flankeer, beteken nie sy wil by hom slaap nie; nog minder dat sy “daarvoor gevra” het as sy verkrag word. Lesbiërs mag nie deur afkeurende mans “reggehelp” word, soos soms wel gebeur, nie. Kortom, geweld teen vroue is onder geen omstandighede toelaatbaar nie – ’n boodskap waarvan ek die relevansie besef het toe ek as onderwyser in die jare negentig deur skoolkinders (ook meisies) gevra is of ek regtig glo mans mag nóóit hul vrou slaan nie. Is daar dan nie gevalle waar ’n vrou haar só sleg gedra, of so min respek teenoor haar man toon, dat dit sy plig is om haar te dissiplineer nie? het hulle ongelowig gevra.

Op hierdie punt moet nie van ubuntu vergeet word nie. As ’n mens ’n mens is deur ander mense, geld dit vroue ook. Die konstruksie van vroue se menslikheid hou verband met die konstruksie van manlikheid. Daarom word patriargie as ’n sleutelfaktor in die kultuur van geweld teen vroue uitgewys. Deel van die rede hoekom baie mans geregtig daarop voel om gewelddadig teenoor vroue op te tree, en hoekom baie vroue dit gedweë as hul lot verdra, is dat mans as patriarge, hoof van hul gesin, besluitnemers in die samelewing, beskou word. Die emansipasie van vroue, byvoorbeeld in die beroepswêreld, is dus belangrik, nie net omdat dit vroue bemagtig nie, maar ook omdat dit patriargie en verwante gender-konstruksies ondermyn.

Gender-sensitiewe taalgebruik

Daar is een terrein waarop gevestigde gender-konstruksies met betrekking tot manlikheid nie genoegsaam uitgedaag word nie. Selfs waar bedoelings goed is, kan die taal waarin dit uitgedruk word negatiewe vooroordele in stand hou. Dink aan die Weduwees-en-wese-fonds vir gesinne van polisie-lede wat in die stryd teen misdaad sterf. Baie polisievroue sterf ook op hierdie manier, maar die fonds word nie met die term wewenaars benoem nie. Vroue kan as weerlose weduwees gesien word, maar nie as gestorwe helde wat ’n gesin of man sonder heenkome agterlaat nie. Baie vroueregte-aktiviste sal hierdie geval herken as voorbeeld van ’n gebrek aan gender-sensitiewe taalgebruik, maar daar is subtieler diskursiewe praktyke wat in die gesprek oor geweld teen vroue oor die hoof gesien word.

Een daarvan is die begrip “geweld teenoor vroue en kinders”. Natuurlik hang hierdie vorms van geweld dikwels saam, maar moet vroue as ’t ware verkinderlik word: swak en hulpeloos teenoor mans as aktiewe geweldenaars? Is daar nie ook vroue wat geweld teen kinders pleeg nie? ’n Gruwelike geval in SA is dié van ’n seuntjie wat gereeld deur sy ma se saamwoon-vriendin fisiek mishandel is totdat hy aan dié geweld beswyk het. Sy pa, wat van die ma geskei was, was bewus hiervan en het voortdurend probeer om die kind onder sy sorg te laat plaas. Hy het meermale die geweld by maatskaplike werkers aangemeld en die liggaamlike bewyse daarvan onder hul aandag gebring, maar tevergeefs. Dat ’n seuntjie deur ’n vrou mishandel word, dat sy ma hierdie geweld aanskou sonder om in te gryp, of dat ’n kind onder sy pa se sorg geplaas word om hom teen die geweld van ’n vrou te beskerm, druis só in teen gevestigde idees oor vroue as alleen maar kinderlike slagoffers van geweld, en mans as geweldenaars teen wie vroue en kinders beskerm moet word, dat dit doodeenvoudig nie geglo is nie.

Dan is daar die feit dat, hoewel veel meer mans as vroue in SA gewelddadig sterf, geweld teen vroue veel meer aandag kry. Daar is ’n Vrouedag, Vrouemaand en 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teenoor Vroue en Kinders, maar geen soortgelyke tye om op geweld teen mans (of “mans en kinders”) of geweld in die algemeen te fokus nie. Miskien kan ’n mens redeneer dat, wanneer mans gewelddadig sterf, dit dikwels in ’n konteks van bendegeweld of straatgevegte gebeur. Dit sou egter ’n erge veralgemening wees. Behalwe vir gevalle soos dié van bogenoemde kinderslagoffer vind daar ook gewetenlose moorde van mans deur vroue plaas. Relatief onlangs was daar byvoorbeeld twee sulke moorde op bekende mans, onderskeidelik ’n regter en ’n bekende musikant, en kort gelede is ’n jong man én vrou aangekla vir ’n bisarre kultiese gruwelmoord in ’n begrafplaas op ’n manlike slagoffer. In geen van dié gevalle word die wandaad as gender-geweld gekonstrueer nie. Mans is ook dikwels, soos vroue, die onskuldige slagoffer van geweld deur ander mans.

Sterk en gevaarlik?

Maar selfs al sou meer mans as vroue weens eie betrokkenheid by geweld sterf, word dikwels misgekyk dat deelname aan sulke geweld met gender-konstruksies met betrekking tot manlikheid verband hou. Mans word as die sterkes gesien, daders eerder as slagoffers – ’n konstruksie wat die ander pool vorm van die voorstelling van vroue as kinderlik, swak en weerloos. Nes die begrippe “ek” en “jy” mekaar impliseer, en soos individuele menswees onlosmaaklik met ander mense verband hou (ubuntu), impliseer die konstruksie van vroue as swak en weerloos dié van mans as sterk en gevaarlik. Dis nie net dat geweld teen mans nie ernstig genoeg opgeneem word nie, maar ook dat daardeur ’n gender-konstruksie in stand gehou word wat tot geweld teen vroue bydra. Mans kan geweld “vat”, anders as vroue, lui die onuitgesproke logika. Mans bewys hul manlikheid deur “vreesloos” in gevaarlike situasies te beland. Dit is dus nou maar eenmaal nie so erg om geweld teen ’n man te pleeg as teen ’n vrou nie. Tog vuur juis hierdie manier van dink geweld teen vroue aan, want mans wat leer om in ’n geweldskonteks “hul man te staan”, is meer geneig tot gewelddadige impulse teenoor vroue. ’n Mens sou kan sê: ’n vrou is ’n vrou deur ander mense, te wete mans – súlke mans.

’n Voorbeeld: baie volwasse mans is, soos baie volwasse vroue, slagoffers van huishoudelike geweld – van vroue wat hul lewensmaat aanrand. Dis ’n bewese sosiale verskynsel, maar hoor ’n mens protes hierteen van aktiviste wat geweld teenoor vroue en kinders beveg? Baie mans word, nes baie vroue (weliswaar meestal deur ander mans), verkrag, maar in SA val dit nie onder die wetlike definisie van verkragting nie; niemand kan aan die verkragting van ’n man skuldig bevind word nie. ’n Mens hoor min hieroor van aktiviste teen geweld op vroue – al is verkragting van mans ’n algemene verskynsel, onder meer in tronke. Dis asof, in die diskoers oor geweld teen vroue, onbewustelik van gevestigde konstruksies van manlikheid uitgegaan word: mans kan nie slagoffers van geweld wees nie en kan dit mos “vat”.

Sy klap hom

Een van die nasionale televisiestasies het dikwels advertensies oor die verskeidenheid van programme wat deur hulle uitgesaai word. In hierdie advertensies word kort uittreksels uit verskeie programme vertoon waarin ’n bepaalde tema die samebindende element is. In al die tonele sal ’n paartjie byvoorbeeld passievol soen, of sal iemand ’n snaakse gesig trek. Al die advertensies adem ’n lighartige gees. Relevant vir die tema van gender-konstruksies is een van hierdie advertensies met as samebindende tema vroue wat mans klap. Hoe gereeld is daar nie so ’n tema in TV-programme nie? Die vrou vind uit haar man was ontrou en klap hom. Die man sê iets leliks vir sy vrou; sy klap hom. Die man lieg vir haar; sy klap hom. Opvallend is dat, in sulke tonele, kykers spontaan met die vrou identifiseer: die man verdien ’n klap. Dis ewe opvallend dat die meeste sulke tonele uit sitkoms geneem is – die kyker kry lag daaroor. Ook die aanbieding van die advertensie is, nes by die ander advertensies, lighartig; dis ’n feel-good-advertensie. Sou kykers dit ewe grappig en lighartig vind as die tonele mans gewys het wat vroue klap? Tog hoor ek nie gender-aktiviste protesteer nie.

Weer eens: Dis nie net dat geweld teen mans geïgnoreer word nie, maar ook dat die konstruksie van manlikheid wat agter hierdie stilswye skuil gevaarlike konstruksies van vroulikheid bevestig. Die stilswye misken nie net die lot van manlike slagoffers nie, maar verydel ook diskursief die oogmerk van aktivisme teen geweld teenoor vroue.

Dat ’n mens deur ander mense mens is, is nie altyd goeie nuus nie.

Klik hier vir Joan Hambidge en Anita Cloete se reaksies op die artikel

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Is kapitalisme se dae getel? Indien wel, wat dan?

September 15, 2011 in Sonder kategorie

Is kapitalisme se dae getel? Indien wel, wat dan? In die jongste miniseminaar antwoord vier kundiges op hierdie vraag. Die aanleiding tot Hans Pienaar, Christi van der Westhuizen, Sampie Terreblanche en Cornelius Jansen van Rensburg se gedagtes hieroor is die waarneming dat, veral sedert die onlangse wêreldwye ekonomiese krisis, selfs “ortodokse”, konserwatiewe ekonome al by geleentheid begin wonder het of kapitalisme werklik die antwoord is.

As dit so is (en uit die bydraers se kommentaar is dit duidelik dat dit geen uitgemaakte saak is nie), wat is dan die alternatief? Tot so 20 jaar gelede sou baie kritici van die kapitalisme nog glo dat sosialisme die antwoord is. Dit is ‘n vae begrip, maar baie voorstanders het daaronder verstaan ‘n kommunistiese model waarin private besit beëindig word, die ekonomie in detail beplan word en ‘n eenparty-staat gevolglik die septer swaai. In Kuba bestaan nog so iets; so ook in Noord-Korea. In China het die eenparty-staat oorgebly, maar egter kommunisme het lankal reeds gegroet. Egte kommunisme is in Suid-Afrika so goed soos dood – ook in die sogenaamde Kommunistiese Party. Speel-speel-kommuniste soos Julius Malema is ‘n grap.

Aan die ander kant praat ek onlangs by ‘n internasionale akademiese kongres met ‘n man uit Bulgarye. Hy is ongelukkig met die Europese Unie, reken dit hou geen voordele vir sy land in nie. Ja, hierdie soort ontevredenheid word deesdae al hoe meer gehoor, sê ek toe, maar was dit nie ten minste aan die begin goed om deel van die groter Europese ekonomie te word nie? Is Bulgarye nie daardeur ekonomies gelig nie?

“Nee,” reken my gespreksgenoot, “Bulgarye was ekonomies sterker voor die tyd. Dinge was veel beter onder kommunisme, ook ekonomies. Die lewenstandaard was beter; die staat het vir mense gesorg; nou neem armoede en werkloosheid hand oor hand toe.”

En die inperking van individuele regte soos spraakvryheid? wonder ek.

“Nee wat, antwoord hy, ons kon in daardie jare vryelik ons mening lug, ook in die openbaar, en het dit die heeltyd gedoen; ons sogenaamde diktator het ons nie ingeperk nie.”

Of die Sowjet-unie die heeltyd dreigend geloer het? “Glad nie, ons het ons nie aan hulle gesteur nie.”

Hulle was dan so autoritêr! Het byvoorbeeld Tjegoslowakye ingeval toe daardie weerstand teen growwe kommunisme ontstaan het. En wat van al die gruwels in Oos-Duitsland?

“Ja, maar Tjegoslowakye is in die middel van Europa; dit was ‘n status-ding vir die Russe. En wat Duitsland betref: wat verwag jy van Duitsers?”

Nou ja, die Israelite in die woestyn het ook na die vleispotte van Egipte verlang. Is dit wat hier aan die gang is? Ek sal nie kan sê nie; ek was nooit in Bulgarye nie.

Maar nogmaals: hoe dit ook al was; niemand pleit meer vir ‘n terugkeer na Sowjets-styl-kommunisme nie. Die versorgingstaat, ja, maar nie meer ‘n gesentraliseerde soort sosialisme nie. Wat is die alternatief? Gedesentraliseerde ekonomieë? Plaaslike geldeenhede vir klein gemeenskappies, “talent exchanges”, kiboetse?

Ek weet nie, maar dis vrae wat nog lank oordink sal moet word. Lees die bydraes en lug julle mening hier.

Lees Petrus Pap se kommentaar op hierdie miniseminaar.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blad ingelig te word.

Is dit alles die moeite werd?

September 15, 2011 in Sonder kategorie

Better Never to have Been is die titel van ’n boek deur David Benatar. Dit sou beter wees as ons nooit bestaan het nie, dink hy. Meer nog, dis altyd verkeerd om kinders in die wêreld te bring, ’n morele plig om alle swangerskappe vroegtydig te beëindig.


Hoe kom Benatar tot dié gevolgtrekking? Deur ’n gangbare etiese teorie toe te pas: die sogenaamde negatiewe utilitarisme. Die woord “utilitarisme” kom van “utiliteit” oftewel nut, wenslikheid, goedheid. Volgens die vader van die utilitarisme, Jeremy Bentham, moet ons gedrag gerig word deur die beginsel van die grootste geluk vir die grootste aantal mense. Veral in debatte oor wetgewing en beleidmaking is dit steeds ’n invloedryke meetsnoer: Hoeveel mense sal hoeveel voordeel trek?


Mettertyd het die gedagte in ’n ander rigting ontwikkel: Ons moenie vra hoe die meeste mense die gelukkigste gemaak kan word nie, maar hoe die ergste swaarkry van so veel moontlik lydendes verlig kan word. Dis belangriker om hongersnood, siekte en onveiligheid te bestry as om geluk te vermeerder.


Dink aan die debatte oor die nuwe stadions vir verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi. Moes die geld nie eerder vir ’n “goeie doel” gegaan het nie – die versorging van weeskinders of veldtogte teen huishoudelike geweld? Of sal die ekonomiese inspuiting van die toernooi tog op die lang duur ook armes se las verlig? Albei argumente gaan daarvan uit dat dit belangriker is om lyding te verlig as om pret te hê. Om miljarde aan vermaak te bestee sonder dat dit ook ten bate van minder bevoorregtes in ons samelewing is, voel nie reg nie.


Wat van ons persoonlike lewe? Hier gaan dit nie oor wetgewing en beleid nie, maar oor hoe ons elke dag leef – ons doelwitte, ideale, waardes en lojaliteite. Streef ek na geluk, na sin en lewensvreugde vir my en andere? Of is my grootste sorg om so min moontlik te ly? Benatar meen mense se lewe is slegter is as wat hulle dink; hulle beoordeel dit positiewer as wat dit is – ’n argument wat herinner aan die grap oor die psigiater wat haar pasiënt ná ’n breintoets inlig dat hy depressief is, waarop hy geskok antwoord: “En ek dog al die tyd ek is gelukkig!” Oor een ding is Benatar reg: die strewe na geluk hou risiko’s in. As ek liefhet, kan die wederliefde uitbly; as ek vir mense omgee, maak dit seer as hulle iets oorkom.


In die Christelike tradisie word liefdesgemeenskap met God, wat naasteliefde insluit, as die hoogste waarde beskou, verduidelik die godsdiensfilosoof Vincent Brümmer, maar liefde word in vryheid gegee. Die vryheid wat ons het om lief te hê, kan misbruik word; mense kan mekaar seermaak. Hoe verrukliker die liefde wat moontlik is, hoe duiselingwekkender die vryheid wat gegee is en hoe groter die risiko. Wanneer die hoogste val, val dit die diepste, sê CS Lewis.


As ons geskape is, beteken dit hierdie risiko, met al die moontlikhede van lyding wat dit inhou, word deur God die moeite werd geag. Christene bely nie net dat die skepping uit die hoogte vir God goed is nie (“God is watching us from a distance,” sing Bette Midler). Nee, in Christus kom dra God self ons weerlose bestaan. Ondanks alles bly die Skepper glo dis die moeite werd.


Maar ís dit – ook vir ons? As dit ons hoogste sorg is om so min moontlik te ly, sal ons met die Boeddha moet sê: Die lewe is lyding en die antwoord onthegting: die geheim is om bevry te word van die verknogtheid aan die lewe met sy verleidelike aanloklikhede. Dan sal ons uit die hart bely: Better Never to have Been.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.  

Die teensinnige nuwe Wetsontwerp op SA Tale

September 5, 2011 in Sonder kategorie

Die jongste miniseminaar gaan oor die onlangs bekendgestelde Wetsontwerp op SA Tale. Wic Webb en Jacques van der Elst gee hul mening daaroor. Jason Lloyd het ook al vroeër van hom laat hoor, en die FW de Klerk-stigting het ‘n verklaring oor die saak uitgeryk. Jacques du Preez (‘n advokaat) kyk verder na die regsaspekte daarvan. Die Afrikaanse Taalraad het reeds in 2009 hieroor besin en is tans met kundiges uit verskillende oorde oor die nuwe wetsontwerp in gesprek.

Maar was daar nie al so ‘n wetsontwerp nie? Inderdaad. Dit is al byna 10 jaar gelede. Die wetsontwerp is vir openbare oorweging uitgeryk, die voorleggings en besprekings (onder meer ‘n regsmening wat deur die Taalsekretariaat bekom is) het plaasgevind … maar die wetsontwerp het nooit voor die parlement gedien nie. Daardeur is die Grondwet oortree – ‘n feit waarop sekere veeltaligheidsaktiviste al jare wys, maar wat onlangs, danksy die optrede van Cerneels Lourens (‘n prokureur), deur die hog bevestig is. Die regering is dus gedwing om sulke wetgewing te ontwikkel, maar die wetsontwerp wat nou opgestel is, sien heel anders daar uit as die een wat destyds op die tafel was. Hoekom?

Van ‘n betroubare bron het ek destyds verneem dat die kabinet besluit het om nie die talewet aan te neem nie uit vrees vir ‘n “stroom van regstappe” – dit ten spyte daarvan dat die voorgestelde wet presies in ooreenstemming was met die taalbeleid wat reeds voorheen deur dieselfde kabinet aangeneem is. Die regering het dus reeds onderneem om nie die Grondwet te gehoorsaam deur ‘n talewet wat aan die grondwetlike vereistes voldoen te gehoorsaam nie. Miskien verklaar dit hoekom die nuwe wetsontwerp volgens verskeie kenners ‘n erg afgewaterde weergawe is?

Lees maar die bydraes en besluit self.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Kom ons boikot die “amptelike” Springbok-ondersteunersdrag

September 5, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend praat mense op Cape Talk oor die feit dat Springbok-ondersteunersdrag so duur is. Die amptelike klere word in China vervaardig, maar die plaaslike “namaaksels” (sic), wat presies dieselfde is, is sommer baie goedkoper. Moes ‘n Suid-Afrikaanse vervaardiger nie eerder die kontrak gekry het nie?

Nee! Wat moet gebeur, is dat SA burgers die “amptelike” kleding moet boikot – en nie in die eerste plek omdat dit duur is en in die buiteland vervaardig word nie. Fundamenteler is die onding dat die Springbok-embleem as SA Rugby se handelsmerk beskou word, en dat hulle geag word seggenskap daaroor te hê. Van wanneer af?

Kan ek die protea of die landsvlag as my onderneming se handelsmerk registreer? Wat van die ou SA vlag of die Rasta-haarstyl? Of jazz? Dis mos twak (kan ek dalk daarop ook eiendomsreg bekom?). Die Springbok as simbool vir die nasionale rugbyspan het aanvanklik informeel gefunksioneer – as deel van die volkstaal – voordat dit die nasionale sportembleem geword het. Die Springbok as spesie was weer die nasionale dier, nes die protea die nasionale blom was, en die bloukraanvoël die nasionale voël. Hoe kan dit aan iemand behoort, hul privaatbesit wees?

Eintlik wens ek iemand wil die saak hoef toe vat. Die vakbonde het pas teen die hoë koste van die Springbok-drag protesteer. Wat nog beter sal wees, is om SA Rugby se aanspraak op die besit van die sogenaamde “handelsmerk” in die hof te bestry.

En die boikot? Moet dit insluit dat almal doelbewus “onwettige” Springbok-drag aanskaf? Die vraag is natuurlik: ís dit onwettig?

Besluit self.

As jy die voorgestelde boikot ondersteun, klik hier en sluit aan by die Facebook-groep.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Laat ons weer oor die UDF besin

September 5, 2011 in Sonder kategorie

UDF-nostalgie is aan die orde van die dag. Verstaanbaar ook, want voormalige strydrosse teen apartheid is oor die algemeen diep teleurgestel deur die regerende party se rekord sedert sy bewindsoorname in 1994:

– Armoede en werkloosheid het toegeneem;

– landsburgers is weens misdaad onveiliger as ooit tevore;

– die gehalte van onderwys het verswak eerder as verbeter;

– meertaligheid het minder eerder as meer geword;

– belastinggeld word vermors en ondoeltreffend gebruik;

– regeringslui en staatsamptenare leef in uitspattige weelde;

– rassistiese taal en houdings is weer aan die opvlam;

– die regering is openlik teen mediavryheid en ‘n onafhanklike regbank gekant;

– korrupsie het ‘n integrale deel van die nasionale kultuur geword;

– politieke konflikte, ook in die regerende party, is op persoonlikehede eerder as beleidskwessies gebaseer;

– deelnemers aan alle kante van sulke konflikte gebruik intimidasie-tegnieke om hul sin te kry;

– immigrasie word wanbestuur terwyl geweld teen (swart) buitelanders kort-kort uitbreek …

So sou ‘n mens kan aanhou. Dit alles laat mense wat in die jare tagtig by die United Democratic Front betrokke was, wonder hoekom hulle ooit besluit het om te ontbind en die land in die hande van die ANC te plaas. Ek self moet ook hierdie nostalgie bely.

Tog moet die UDF ook nie romantiseer word nie. Ons moet byvoorbeeld nie vergeet van halsnoermoorde nie. Nietemin was daar sterk leiers wat wanpraktyke aan die kaak gestel en beveg het, en was die UDF ‘n gemeenskaplike aksie van ‘n groot verskeidenheid burgerlike groeperings. En dit was nierassig in die ware sin van die woord: die beginsel dat ras geen rol moet speel nie. Terugskouend kan ‘n mens wonder: Wie het nou eintlik die stryd teen apartheid gewen? Het die UDF met sy in beginsel geweldlose stryd nie meer reggekry nie as die ANC met sy sogenaamde gewapende stryd wat nooit kon slaag nie en dikwels die vorm van immorele aanvalle op weerlose burgerlikes behels het? Was die gees van die UDF nie demokratieser as die ANC se verbintenis tot ‘n eenpartystaat nie? Wat van ander politieke bewegings, veral die Swartbewustheidsbeweging, wat byvoorbeeld op die Soweto-opstand uitgeloop het?

Baie van hierdie vrae word aan die orde gestel in ‘n onlangse lesing deur Allan Boesak, ‘n leiersfiguur in die UDF se destydse stryd, wat nou hier op LitNet gelees kan word. Lees dit en kom neem hier deel aan die gesprek.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Godsdiens, moderniteit en al daai jazz

September 5, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Onlangs het die Amerikaanse teoloog Harvey Cox, skrywer van The Secular City (1965), ’n eredoktorsgraad van die Berlynse Humboldt-universiteit ontvang. Genoemde topverkoper was ’n uitvloeisel van Cox se verblyf in Berlyn kort ná die Tweede Wêreldoorlog. In sy daaglikse heen-en-weer-pendel tussen Oos- en Wes-Berlyn omdat hy aan beide kante klasgegee het, is hy getref deur die sekulêre karakter van die stad, die beperkte invloed van die kerk, die oënskynlike afwesigheid van God. Christene moes dié verwêreldliking verwelkom, het Cox betoog, want dit skep ’n nuwe moontlikheid: ’n minder wêreldvreemde kerk wat sonder magsuitoefening ’n mondige samelewing kan dien.

 

In sy aanvaardingstoespraak die ander dag het Cox ’n ommekeer bely. Soos heelparty teoretici wat aanvanklik die sekularisasie-tese onderskryf het, glo hy nie meer godsdiens is aan die kwyn nie. Dit mag wees dat minder mense kerk toe gaan, maar dit beteken nie geloof het verdwyn nie. Cox meen dis nie akkuraat om van ’n “terugkeer” van die godsdiens te praat nie. Nee, sê hy, die godsdiens was nooit weg nie!

 

Hoe móét ons dan oor die moderne stad dink? Cox gryp terug na Aristoteles se definisie van ’n stad as “’n plek waar vreemdelinge ontmoet”. Die moderne stad is nie ’n enkelvoudige verskynsel wat in een rigting ontwikkel nie, maar ’n komplekse interaksie tussen mense met uiteenlopende identiteite, oortuigings, waardes en doelwitte. Kultuur- en godsdiensgroepe sal nooit eenvormig word nie, maar sal ook nie dieselfde bly nie omdat hulle mekaar beïnvloed en ou grense vir nuwes plekmaak.

 

Die metafoor wat Cox hiervoor gebruik, is jazz: Wat in ’n jazz-uitvoering gebeur, is onvoorspelbaar. Jazz-musici reageer op mekaar, speel in op temas wat ontwikkel en bring nuwe temas daaruit voort. Elke speler het ’n eie instrument, klank en styl, maar is ingestel op dié van medespelers. Nuwe kombinasies kom tot stand; verskillende instrumentaliste neem beurtelings die leiding. Regte jazz-musici, verduidelik Cox, gebruik nie bladmusiek nie. En om sy metafoor te demonstreer neem Cox toe sommer sy tenoor-saxofoon op en gee ’n uitvoering saam met Berlynse jazz-musici!

 

Maar wat as die nodige talent sou ontbreek? Wat as een groepie die ander dwing om slegs één wysie te speel? Of as die klanke in ’n skril chaos ontaard, soos nou weer in Brittanje gebeur het? Bewys die misdaad, xenofobie en rassistiese woord-dadigheid in ons samelewing nie dat geslaagde jazz geen vanselfsprekendheid is nie?

 

Cox het self al – hoewel nie met die jazz-metafoor nie – gesuggereer dat die polsende musiek van die moderne stad ook stil kan word. In 1999 skryf hy die koerantartikel “The Market as God”. Berus die vryemarkstelsel nie op die aanname dat, as elkeen sy eie materiële belang najaag, die ekonomie vanself welvaart vir almal skep nie? Die godsdienstige aard van hierdie oortuiging word verklap in Adam Smith, die vader van die kapitalistiese teorie, se verwysing na ekonomiese wetmatighede as ’n “invisible hand”.

 

Ons ervaring leer egter dat die Onsigbare Hand geen genade ken nie – ’n hand wat almal op één wysie wil laat marsjeer, die ontwikkeling van samelewings deur één krag wil laat aandryf, aandring dat alle dinge – hetsy kulture, ekosisteme, menseverhoudings of ja, geloof – finansieel moet slaag of sterf. In stede van kreatiewe samespel kry ons dan ’n meganiese proses waarop ons geen betekenisvolle invloed het nie. Dat godsdiens toe al die tyd nog daar was, is nie noodwendig goeie nuus nie …

 

As geen ander gees die Onsigbare Hand kan troef nie, is geen “nuwe stad Jerusalem” moontlik waarin jazz weerklink nie. En as daardie stad net in die hemel bly en nooit op aarde neerdaal nie, is die geloof in ’n lewegewende Gees bloot opium vir ’n klinkende kabaal.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.