Welvaartbelasting? Rasbelasting?

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

LitNet se jongste miniseminaar heet “Welvaartbelasting? Rasbelasting?”. Die bydraers is Rothney Tshaka en Kallie Kriel. Ja, dis na aanleiding van Desmond Tutu se onlangse heropname van hierdie onderwerp, maar dit strek wyer, aangesien die idee van so ‘n belasting al jare gelede geopper is. Die reaksies op Tutu se terloopse gedagte (in ‘n lesing wat volgens die teenwoordiges eintlik oor ‘n veel groter en belangriker onderwerp, te wete die miskenning van menswaardigheid in ons samelewing, gehandel het) wys dat dit sowel ‘n komplekse as ‘n emosionele aangeleentheid is.

Interessant is dat sommige kommentators Tutu se opmerking met ‘n onlangse uitlating deur een van die rykste mense op aarde, die Amerikaner Warren Buffett, vergelyk het. Buffett het naamlik iets kwytgeraak wat selde oor skatrykes se lippe rol: dat rykes in Amerika meer belasting moet betaal om die lot van armes te help verbeter (klik hier vir die koerantberig). In hierdie geval kom ras nie ter sprake nie. Buffett se argument berus op die aanname dat mense wat ryk is ‘n verantwoordelikheid het om armoede te help bestry. In Suid-Afrika sou dieselfde logika outomaties geld. Maar wat van die koppeling met witheid hier te lande?

Die argument lui dat wittes deur slawerny, kolonialisme en apartheid bevoordeel is en daarom moet opdok. Hierdie argument berus nie slegs op die rykdom van baie wittes (soos Buffett se argument op die rykdom van mense soos hy berus) nie, want dan sou ras irrelevant wees. Ja, daar is meer ryk wittes as swart rykes, en ja, dit is onder meer deur rassistiese toestande in die verlede veroorsaak, maar daar is ook wel ryk swartes, en as die rede vir die nodigheid van ‘n welvaartbelasting op mense se rykdom berus, dan sal alle rykes dit moet betaal. Die feit dat die meeste betalers dan wit sou wees, sou nie beteken dat hulle op grond van hul ras uitgesonder word nie. Die vraag is dus: Sal ook swart rykes die welvaartbelasting moet betaal? Uit die Buffett-logika sou dit wel volg.

En arm wittes? Daar is wittes wat werkloos is en in plakkerskampe woon. Is hulle deur slawerny, kolonialisme en apartheid bevoordeel? En indien hulle wel so bevoordeel is, maak dit dan hul huidige armoede irrelevant? Sal voorstanders van ‘n welvaartbelasting wil sien dat ook hierdie armes opdok? Moet ‘n mens dalk hul klere konfiskeer as hulle nie geld het nie? Of die bietjie geld wat hulle het van hulle afneem en sodoende die brood uit hul monde neem? Weer eens, natuurlik is daar min arm wittes in vergelyking met die aantal arm swartes, maar dit neem nie die vraag weg of brandarmes ook ‘n welvaartbelasting moet betaal bloot omdat hulle wit is nie.

As die terme “welvaart” en “wit” in die gesprek oor die welvaartbelasting as sinonieme gebruik word, beteken dit ras word die maatstaf, en dan sou op albei bogenoemde vra ja geantwoord moet word: Ryk swartes sal nie moet opdok nie, wit armes wel. Wie nie hierdie ja wil onderskryf nie, kan dit slegs konsekwent volhou as hy of sy die welvaartbelasting op mense se relatiewe rykdom laat berus, ongeag hul ras. Wat is die grondslag van die argument: die skuld van bevoordeeldes of die welvaart van rykes?

Wat is in elk geval die morele basis, in watter land ook al, van die eis dat rykes moet opdok om armoede te beveg – ‘n eis wat ek heelhartig onderskryf? Sou ‘n ryke wat oortuigend kan redeneer dat hy of sy nie deur onregverdige bevoordeling nie, maar deur harde werk en/of bietjie geluk ryk geword het moreel kwytgeskeld wees van welvaartbelasting? Ek dink nie so nie. As Christen glo ek nie in heil en versoening deur “goeie werke” of die delging van skuld deur straf of satisfaksie nie, maar in genade – ‘n genade wat die begenadigdes tot genade teenoor hul medemens inspireer. Rykes moet gee omdat hulle omgee, nie uit ‘n skuldgevoel nie. Ironies genoeg is dit juis wanneer ons deur skuld gemotiveer word dat ons ego, ons eie belang, ons gedrag lei.

Boonop is nie almal in ons samelewing Christene nie. Die regering se taak is beslis ook nie om mense se morele heil te bewerk nie. Die staat moet armoede uitwis, en as ekstra belasting daarvoor nodig is, dan moet dit gehef word, of die burgers nou skuldig, begenadig of vere daaroor voel. Daar is geen rede hoekom die betalers op grond van hul ras uitgesonder moet word nie. Hul rykdom is genoeg.

(Lees genoemde bydraes hierbo en kom gesels dan saam oor die onderwerp deur hieronder op “Kommentaar” te klik.)

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

15 antwoorde op Welvaartbelasting? Rasbelasting?

  1. Briljant.

  2. zephur het gesê op Augustus 25, 2011

    In 1995 is ‘n soortgelyke tax gehef…

    ‘Transitional levy (tax)’

    Dit was ‘n totaal van 5% vir corporate…

    ‘To finance transition costs incurred during the 1993 and 1994 transition process to democracy, an once of transitional levy was charged during the 1995 year of assessment. This levy was calculated as a certain percentage of taxable income in excess of R50 000 before set off of any balance of assessed loss brought
    forward’

    en 1.67% vir individue…
    so ook 1.67% vir alle trust…

    ‘In addition to the normal tax, a transitional levy was payable at a rate of 1,67% of taxable income exceeding R50 000’

    So as soort gelyke belasting al gehef is waarom nog en weer betaal.

  3. Ons het nie nóg ‘n belasting nodig nie – ons betaal al reeds oorlogsvlakke van belasting – en die goed wat gedoen moet word, word nie gedoen nie – dis asof almal vergeet hoekom die staat sy ontstaan gehad het – veilighed, oftewel wet en orde – dis die eerste ding. As jy dit nie het nie, het jy niks. Die tweede ding wat nodig is, is infrastruktuur – paaie, brue, damme, krag, ens. En as die staat hier sou ophou,is dit al genoeg – behalwe vir nog een ding wat nodig is om ‘n regverdige bedeling daar te stel – opvoeding van gehalte.

    Al die res kan voorsien word deur mark meganismes, en HOORT deur markmeganismes voorsien te word.

    Die probleem in die land is nie te min belasting nie, dis te veel belasting, wat verkwis word.

  4. Sjoe, ek weet darem nie, maar dankie.

  5. Het ek dit reg dat in daardie gevalle die betaler se ras nie in ag geneem is nie?

  6. Ek dink ook soms ons probleem is nie dat die staat te min geld het om al die nodige dinge te doen nie, maar eerder dat hulle dit nie doen nie. Ons is nie noodwendig ‘n “arm land” nie, maar ‘n ryk land vol armes. En ‘n ryk land vol misdaad, swak infrastruktuur, korrupsie en so meer.

    Of ek in beginsel oor die “te veel belasting” sal saamstem? Ek is dalk te links gesind. ‘n Amerikaanse regter het ‘n keer gese hy hou van belasting, want dit beteken hy kan beskawing koop. Ek het in Europa gesien hoe mense werklik voordeel trek uit allerlei dinge wat die staat verskaf deur belastinggeld, en in Amerika hoe baie mense in armoede krepeer terwyl die vrye mark alles bepaal.

    Maar goed, dis nie my eintlike punt nie. My punt is dat die vraag oor hoeveel belasting rykes moet betaal losgemaak moet word van die vraag na hoeveel skuld wittes het – nie omdat ek enigiemand se skuld ontken nie, maar omdat ek nie dink skuldvlakke is ‘n goeie basis vir belastingvlakke nie. Geld is!

  7. “Geld is!”

    Presies!

  8. Hoe verskil mens van Kallie se siening? Hoe kan verwag word dat bykomende belasting betaal moet word wanneer die huidige staatsinkomste nie behoorlik (en ook wan-) bestee word? Dit maak mos nie sin nie.

  9. By die lees van hierdie stuk, Gerrit, kry ek die indruk dat jy nie Desmond Tutu se artikel op p.9 van die Cape Times van laas Vrydag, 19 Augustus, gelees het nie – nog die kommentaar van Helen George op p.8 van dieselfde koerant. In die artikel het Tutu uitgebrei op sy “terloopse” uitspraak in Stellenbosch en beslis versigtiger formuleer. Ek meen dat ‘n aantal vrae wat jy hier bo vra, nie nodig sou wees (oor wat Tutu bedoel), indien jy wel ‘n insae hierin gehad het.

  10. Skuus, lyk my, ek moes dalk Rothney Tshaka en Kallie Kriel aangespreek het…. Hoe dit ookal sy, ek dink dit sou weldeeglik ‘n positiewe stap wees om ondergenoemde artikel in die Cape Times te gaan lees asook die artikel op vandag, 24 Augustus, se voorblad verskyn, oor wat Tutu gister by die Universiteit van Kaapstad gelewer het. Daarin maak hy melding van moontlike gemeenskapsdiens. Ek persoonlik dink laasgenoemde is ‘n uitstekende gedagte. Maar ek meen dit sal ‘n nog meer positiewe uitwerking op gesindhede in die land hê as daar ‘n algemene reëling kom dat alle jongmense wat nie militêre diens gaan doen nie, soos in Duitsland, vir ‘n jaar na skool gemeenskapdiens moet verrig. Ek het met my besoeke aan Duitsland meermale beleef hoe daardie gemeenskapsdiens die jongmense help om ‘n wyer perspektief op die lewe te kry en om meer volwasse te word – mense word wat geleer het om verantwoordelikheid vir hulself en vir hul medemens en vir die samelewing neem – voordat hulle gaan studeer of werk. Daarbenewens sal dit goed wees as ander mense, eenvoudig omdat hulle meen dis die regte ding om te doen, sulke diens op hul af dae sal verrig. Een van die persone in duitsland, van wie ek weet, het oumense wat alleen bly, gaan was, kos gegee, hul kamer skoongemaak en medikasie gegee ens. ‘n Ander moes by ‘n skool vir verstandelik gestremdes die middagetes voorberei. So is daar tallose take wat deur hierdie mense verrig word, wat van onskatbare waarde vir hulself en vir die samelewing is.

  11. zephur het gesê op Augustus 26, 2011

    Ek is nie seker nie…maar weer daai tyd was die welvaart in net wit se hand…so 90% van daai bydrae het gekom van paleface af

  12. Dit is so, ja, maar dit sou nie beteken dat mense op grond van hul ras belas is nie. Hulle is op grond van hul rykdom belas, en omdat byna alle rykdom in wit hande was, was die meestes wat belas is, wit.

  13. Jy’s dalk reg, maar my argument gaan nie oor of ekstra belasting deur rykes betaal moet word nie. Dit gaan oor of, indien meer belasting gehef word, die keuse van betalers op ras moet berus.

  14. Ek het inderdaad nie daardie stukke gelees nie, en ek weet ook dat Tutu in elk geval nie noodwendig bedoel het wittes moet op grond van hul ras opdok nie. Daarom reageer ek nie op Tutu nie, maar op die wyer debat oor hierdie saak. Baie mense het die idee van ‘n welvaartbelasting wat op ras gebaseer is met passie verdedig. Ek reageer daarop.

  15. Ek het al jare gelede vir gemeenskapsdiens gepleit, maar weer eens: as sulkie diens deur ‘n sekere ras gelewer moet word, en nie deur ander rasse nie (hoe vrot smaak die gebruik van daardie woord “ras” in ‘n mens se mond), dan keur ek dit af. Ek weet nie wat Tutu presies hieroor gese het nie, maar dit sou my verbaas as hy bedoel het slegs wittes moet sulke diens lewer. In die debat oor die welvaartbelasting neem baie kommentators, onder andere gesiene regsgeleerdes, egter duidelik die standpunt in dat dit ‘n rasbelasting moet wees. Dis waarteen ek argumenteer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.