Nuwe essay: Konformering tot sekere manlikhede is dodelik

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

In die Seminaarkamer het die essay van die maand, Christi van der Westhuizen se “Konformering tot sekere manlikhede is dodelik”, pas verskyn. Haar betoog word met verwysing na die film Skoonheid uitgewerk. Lees dit en kom lewer hier kommentaar.

Ek hou van daardie begrip “manlikhede”. Dit herinner aan “hebbelikhede”. Omdat ek pas vir ‘n ander publikasie iets oor gender-stereotipes geskryf het wat ek binnekort hier ook sal plaas, bly ek nou vir eers stil, maar ek hoor graag van julle almal!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

18 antwoorde op Nuwe essay: Konformering tot sekere manlikhede is dodelik

  1. Gerrit, ek lees net af en toe hier.
    Is Christi nie bietjie geniepsig met haar woorde nie?
    Is dit dalk omdat sy self lesbies is?
    Nêrens lees ek dat sy die manlike hegemonie geneties verklaar nie of watter oplossing sy bied nie.
    Jammer ek wil nie stir nie.

  2. Geen vuil foto’s by hierdie skakel nie! Dis gewoon op goeie ou LitNet. Meer nog, dis die amptelike LitNet-essay van die maand, deur myself uitgekies. Ek beveel dit aan.

  3. Nefertiti, ek dink nie ‘n skrywer se seksuele orientasie is my saak nie. Ek dink ook nie dis relevant tot die beoordeling van wat iemand skryf nie. En as seksuele orientasie dan ter sprake kom, sien ek geen rede hoekom ‘n gay vrou noodwendig iets teen mans sal he nie. Ek hou van vrouens, maar het niks teen mans nie. Beter dus: lees wat sy skryf, reageer op die inhoud.

  4. Gerrit, Kan nie met jou saamstem nie. Waar jy staan word bepaal deur waar jy “sit”.

  5. Gerrit, Jy vra dat ons op die inhoud moet reageer. My (baie) beskeie bydrae: Is die tyd vir hierdie post-modernistiese abrakadabra nie verby nie? Wat van die realistiese benadering wat aanvaar dat die vrou en die man gelykberegtig moet word en dat die boodskap in die samelewing tuisgebring moet word sonder die ideogiese snert wat aangevoer word. Baklei vir vroueregte en die vooroordele daarteen sonder om al die filosofiese snert van ‘n verbygane era by te sleep.

  6. amoron het gesê op Augustus 25, 2011

    As Afrikanerman is ek net baie bly dat ek nie in Christi se stereotipe pas nie. En ek is seker baie Afrikanervroue is nie vasgevang in ‘n huis waar hulle deur hegemone mans regeer en misken word nie. Ek wil my indink dat indien Christi iets oor die Duitsers skryf die fokus net op hakekruise en sterfkampe sal wees. Sy skryf wel oor ‘n fliek, maar dit klink regtig uit haar skrywe asof die tema haar geval.

  7. Hegemonie – leierskap,oorwig bv. die hegemonie van een taal oor ‘n ander, dit is onder andere die WAT se verklaring vir hegemonie.
    Christi le dus oordadige klem op die oorheersing van die man oor die vrou? die vraag is egter of dit die algemene ervaring van alle Afrikaner huisgesinne is. Of ervaar ons gewone gesinne eerder ‘n harmonie van gelyke bestuur van die gesin. Is ons almal so? Of is net sommige van ons so? My persoonlike ervaring is dat sogenaamde manlike hegemonie of net in die verbeeldingswereld van sommiges bestaan, of dat dit in ons “gewone” gesiine bloot goed weggesteek word.
    Miskien moet mens eers die fliek gaan kyk voordat ‘n behoorlike mening gegee kan word. Ek sien dalk uit my oogpunt ander dinge raak as Christi,wat sterk reageer op die manlike hegemonie ( kom die term in die fliek voor? ).

  8. En waar sit jy?

  9. Dekadenise neem baie vorme aan, ook heteroseksuele vorme. Ek sien nie heeltemal die relevansie daarvan vir Christi se essay nie?

  10. As “die tyd vir hierdie post-modernistiese abrakadabra … verby” is, hoekom is dit dan nog daar? En as iets “filosofiese snert” genoem word, waarop berus hierdie oordeel? Iemand kan skryf die tyd daarvoor het aangebreek en dis filosofiese briljantheid. Wat dan? Dit help nie om net stellings te maak nie. Verdedig die stelling.

  11. Skryf Christi iewers dat ALLE “Afrikanervroue vasgevang (is) in ‘n huis waar hulle deur hegemone mans regeer en misken word”?

  12. Ek dink nie mens kan ontken dat manlike hegemonie (as dit die regte woord is) in baie Afrikanergesinne voorkom nie – ek sien dit dikwels met my eie oe. Ek twyfel wel of dit meer algemeen by Afrikaners as by ander die geval is.

  13. amoron het gesê op Augustus 26, 2011

    Gerrit, Christi se hele aanslag is van ‘n stereotipe Afrikanerman. Dit impliseer tog dat die stereotipe Afrikanervrou in so ‘n huis vasgevang is? Ek ken Afrikaner en ander huise waar die mans binne hierdie stereotipe val, maar hulle is die minderheid van die mense wat ek ken – net enkele gevalle in ‘n lang lewe. Daarmee sê ek nie die meerderheid is gesinne met volle gelykheid tussen man en vrou nie; dit is raar. Maar hegemonie, in die sin wat Christi beskryf, is vir my ook raar. Wat dalk net beteken my kennis van Afrikanergesinne is beperk – wel so.

  14. Ek is teen alle stereotipering: of dit op vroue, gays, ‘n rassegroep of Afrikaners gemik is.

  15. ANNEMIE BOSCH SKRYF:

    Ek het wel die fliek gesien en ek het gelees wat ‘n aantal ander daaroor sê. Ek sien daar is pryse aan die fliek toegeken en ek lees dat Christi en ander sê Skoonheid is briljant…. Ek is oortuig daarvan dat die feite bekend gemaak moet word, maar oor die “briljant” stem ek nie 100% saam nie.

    Ek weet dat, net soos daar baie vroue is wat aangetrokke voel tot ander vroue, daar baie “normaal-getroude mans” met “normale gesinne”is, wat aangetrokke voel tot mans. Trouens, ek ken ‘n aantal van hulle persoonlik. Een van my kennise het altyd smalend gesê “As hul gay is, is dit een ding, maar as hul agter hul eggenotes wegkruip…!”

    Maar hulle het geen keuse gehad nie….
    Die probleem is dat, soos met baie sake wat as “morele kodes” beskou word, dit tot onlangs – en ja, vandag nog – die algemene opinie, die publiek, die samelewing, die kerklui, die kerk self was/is wat dit vir mans (en vroue) onmoontlik gemaak het om net spontaan en natuurlik en openlik dit te wees wat hul in werklikheid is. Manne het hulself noodgedwonge in hul kassies toegesluit en dikwels met ‘n vrou getrou om bloot vir die samelewing aanvaarbaar te wees. Sulke mense het baie gely en het die vroue wat hul vir die samelewing aanvaarvbaar moes maak, en die kinders wat uit sulke verhoudings gebore is, ontsettend seergemaak. ‘n Algeheel ongesonde en ongelukkige situasie.

    Dit is dus vir my verstaanbaar, en broodnodig, dat Oliver Hermanus (en beslis ‘n wye kring om hom), die benarde posisie, ellende en die lyding van sulke manne en hul huisgesinne aan die algemene publiek bekend wou stel.

    Waaroor ek wel bedenkinge het, is oor die wyse waarop dit gedoen is. Vir my voel dit asof Oliver Hermanus en sy span nog veel te leer het oor die rol en gebruik van suggestie en metafoor. Vir my gevoel is die wyse waarop die verhaal vertel word plek plek hopeloos te kru en daardeur verloor hul dikwels die simpatie en empatie van hul gehoor. Iemand wat saam met my die fliek gekyk het, het gesê, Dis goed dat ons oor die dinge ingelig word, maar hulle hoef dit nie letterlik “in jou keel af te druk nie” – ‘n sentiment waarmee ek nogal saamstem.

    Myns insiens sou ‘n mens dieselfde boodskap op ‘n BAIE meer subtiele en vefynde manier kon oordra – sonder om die waarheid te verbloem of om doekies om te draai …

  16. Annemie, as ek jou reg verstaan, gaan dit in jou waarderende kritiek nie oor die ‘boodskap’ wat oorgedra word of die realiteit van die soort situasie waaroor dit gaan nie, maar oor die estetiese (in ‘n wye sin – nie noodwendig dit wat met ‘mooiheid’ te doen het nie) vraag: slaag die film as kuns wat lig op ‘n aspek van ons realiteit werp?

    Ek weet nie, aangesien ek die fliek nog nie gesien het nie, maar ek is tog bly jy lug hierdie kwessie, want in debatte oor “omstrede” kuns bly dit dikwels buite rekening. Die debat bly gewoonlik vassteek by die vraag of die uitbeelding akkuraat is, maar dit is nie die doel van kunswerke om feitelik akkuraat te wees nie. Belangriker is die vraag of die kunswerk slaag. Jy meen interessant genoeg dat dit waaroor die film handel akkuraat in die sin van werklikheidsgetrou is, maar jy wonder of dit nie beter gedoen kon gewees het nie.

    Weer eens, ek weet nie of jou beoordeling van die film reg is nie, maar jy stel die regte soort vraag. Dankie daarvoor. In my heel eerste inskrywing op hierdie blog, het ek iets soortgelyks met verwysing na ‘n ander omstrede kunswerk probeer doen. Jy kan dit lees by http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/koos-sas-se-skedels-herbesoek

  17. Nefertiti, jy is die een wat geniepsig is! Wat het dit met enigiets te doen of Christi gay is, tensy jy haar integriteit as joernalis/skrywer wil bevraagteken.

    Ek is straight soos ‘n lineaal, hou van mans, en ek het presies raakgesien wat sy beskryf.

    Natuurlik is dit nie alle getroude Afrikanermans wat so is nie; natuurlik behoort mens nie hier veralgemeen nie, maar die prentjie is duidelik: Daar is mans wat doodeenvoudig hul omgewing met ‘n ysterhand wil regeer/beheer. En wat geweld sal gebruik om die reg toe te eien.

    Ek dink ook nie dis so uniek aan Afrikanermans nie (dink aan die Britse seunsskole, dink aan bv. die Amerikaanse fliek Deliverance), dis ‘n ‘ware man’-ding by sekere mans.

    Ek het vandag Tree of Life gesien, en daarin kry mens ook ‘n blik op ‘n gesinsman en sy ‘tirannie’. Weer eens, natuurlik is alle mans nie so nie, en ek glo ook nie sulke mans is noodwendig gelukkige mense nie.

    Moet byvoeg, die Francois-karakter in Skoonheid het my so aangegryp in die laaste toneel waar ek die ontreddering, die weerloosheid in sy o”e kon raaksien.

    Briljante akteur, Deon Lotz. Briljante fliek! Maar geen ligte vermaak nie. Inteendeel.

  18. Die “ware-man-ding” is ‘n belangrike ding. Wat my toenemend interesseer, is hoe die feministiese retoriek soms onbedoeld die “ware-man-ding” in stand help hou deurdat vanuit sekere verwagtings van die “ware man” oor geslagspolitiek gepraat word. Byvoorbeeld: verkragting van ‘n vrou is erger as verkragting van ‘n man; geweld teen ‘n vrou is erger as geweld teen ‘n man; mans is daders, vroue slagoffers; ens. Dit bevestig dat ‘n man dit kan “vat” en ‘n vrou nie. Ek stel dit hier nou baie eenvoudig. In ‘n ander inskrywing (http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/gender-ubuntu-en-geweld) probeer ek dit ‘n bietjie verder uitwerk.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.