Paul Cilliers

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

Paul Cilliers sou nog ‘n essay oor kompleksiteit vir LitNet geskryf het. Ten minste, ek het so gehoop, maar voordat hy op my versoek kon antwoord, is hy skielik oorlede. Dammit!

Vir Paul het ek die eerste keer ontmoet toe ek ‘n tyd lank aan die filosofiedepartement in Stellenbosch verbonde was. Hy het my nie net met sy akademiese briljantheid imponeer nie, maar ook met sy wye belangstellings, lewenspassie en humor. Die humor het onder meer in sy deelname aan die jaarlikse Filosofiekafee wonderlik na vore gekom. ‘n Hele klompie van hierdie filosofiese grappies (wat terselfdertyd diepsinnig was) kan gelukkig aanlyn gelees word.

As boekeredakteur by Die Burger het ek veral met hom as resensent te doen gehad. Hy was een van die heel bestes, maar ek kan nie onthou dat hy selfs een boek wat ek hom gevra het om te resenseer aanvaar het nie! Nee, hy het self met voorstelle gekom oor boeke wat hy sou wou resenseer as ek belangstel. Wie sou nie “belangstel” nie. Baie van sy resensies het my persoonlik na boeke gelei wat ek waarskynlik andersyds nie sou gelees het nie. Never Let me Go is vir my die belangrikste – waarskynlik my gunstelingroman.

Op ‘n dag is ‘n breintumor by my identifiseer en moes ek geopereer word. Paul-hulle het ons dadelik opgesoek. Hy het jare daarvoor ‘n brein-aneurisme net-net oorleef (dit waaraan hy uiteindelik tog oorlede is), en kon sterk identifiseer met die ervaring van iemand wat weet daar gaan deur dokters aan sy brein gekarring word. Hy kon humoristies oor sy ervarings in daardie verband praat. Wat my veral laat lag het, is sy belydenis dat hy banmg was die operasie het sy persoonlikheid verander. In sy proefskrif het hy immers ‘n siening van die brein as komplekse sisteem ontwikkel waarvolgens spesifieke kwaliteite (soos persoonlikheid) nie op spesifieke plekke is nie, maar in die sisteem as geheel. ‘n Mens kan ‘n deurdagte mening huldig en nogtans sukkel om daaraan te bly glo wanneer dit die nodigste is!

‘n Verdere kinkel in hierdie storie was dat hy lank gevoel het hy sal nooit weet as sy persoonlikheid verander het nie, want terwyl die meeste mense hom nie goed genoeg geken het om subtiele persoonlikheidsveranderings op te let nie, sou die mense naaste aan hom, as hulle veranderings sou opmerk, dit nie teenoor hom wou erken nie, om hom die ontsteltenis te spaar!

In onlangse maande het ek hom veral meegemaak in sy hoedanigheid as gespreksleier in ‘n interdissiplinêre diskussiegroep oor kompleksiteit. Sy publikasies oor hierdie onderwerp het ek geken, maar in die gesprekke het ‘n nog groter genialiteit ontdek: die vermoë om ander werklik te probeer verstaan, hulle ernstig op te neem, en uiters insigryk op hulle te reageer. Ons gaan hom baie mis.

 

Klik hier om ander herinnerings oor Paul Cilliers te lees.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

3 antwoorde op Paul Cilliers

  1. Jammer om te hoor van dit.

    Ek dink hy was reg oor die setel van die persoonlikheid in die kompleksiteit van die brein – die ding is ongelooflik kompleks, en het ‘n vermo-e om goed op verskeie plekke te stoor, en weer uit te haal self na skade aan van die dele.

    Sterkte vir jou!

  2. Ja dis sowaar ‘n wonder in die ‘natuurlike’ sin van die woord.

  3. Jip – soort van ‘n krokodil in ‘n perd in ‘n aap tipe van ding…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.