Honde, akkedisse, spinnekoppe en God

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Die kerkvader Augustinus skryf in sy Belydenisse: “Ons hart is gemaak vir U, o Heer, en bly onrustig tot dit rus in U.” Ware geluk (wat eers in die hiernamaals volkome sal wees) is, volgens Augustinus, om God bo alles lief te hê. Om ’n mens of ander skepsel te bemin met die grenslose liefde wat slegs God toekom, is om die voorwerp van jou liefde te oorvra.

 

Wanneer Augustinus dan in nog ’n bekende uitspraak sê dat dié wat reg liefhet, kan maak soos hulle wil, val die klem op “reg”: Wie elke liefdesvoorwerp rég liefhet, met die liefde wat daarby pas, en slegs God onbegrens bemin, sal God se wil nie meer móét gehoorsaam nie, maar dit vryelik doen.

 

Augustinus bely nie net dat slegs God dié liefde waardig is nie, maar bely ook ’n sonde: dat ander dinge sy aandag van God aflei. Hy is dankbaar dat hy nie meer begeer om hom in die arena se geweld te verlustig nie. (Sou hy in ons tyd dalk na gewelddadige films of rekenaarspeletjies verwys?) Nee, hy gaan nie meer na die Romeinse sirkus om te kyk hoe ’n hond ’n haas jaag nie. Tog moet hy erken dat, indien hy toevallig op so ’n toneeltjie afkom – of op ’n akkedis wat ’n vlieg vang, of ’n spinnekop wat haar web spin – hy dit onwillekeurig agterna wil kyk! Selfs al kyk hy nie, volg sy geestesoog die gebeure – vergeet sy siel momenteel van God …

 

Is dié selfkastyding nie effe oordrewe nie?

 

Menige Christen worstel met ’n oënskynlike spanning tussen geestelike en wêreldlike instinkte: Goeie dinge kom van God en moet dankbaar ontvang word, maar hoe ver mag ons gaan? Moet ons terughoudend geniet? Moet ons skuldig voel as die natuurtoneel vir ons té mooi is, die kunswerk té ontroerend, die biefstuk té smaaklik of die seks té genotvol?

 

Baie dink so en streef na ’n God-gerigte lewe arm aan plesier. Andere roep die geloof vaarwel om die plesiere van die lewe met diep teue te kan geniet. Daar is ook Christene wat ’n geestelike vroomheid wantrou en leer om God nie as Geliefde nie, maar as onpersoonlike misterie of etiese verwysingspunt te dink, want só ’n God is ten minste nie wêreldvreemd nie, laat ruimte vir lewensvreugde. Hoe kan ons in elk geval iemand liefhê wat ons nie sien nie?

 

C.S. Lewis, ’n geesgenoot van Augustinus, suggereer as alternatief die ervaring van “joy” (nog voor hy sy latere vrou, Joy, ontmoet het!). Hy ontleen dit aan Wordsworth: “Surprised by Joy – impatient as the wind”. “Joy”, skryf Lewis, is nie die besit van iets nie, maar die verlange daarna – ’n verlange wat só oorweldigend ontroer dat dit heerliker as die besit van enigiets anders is. Dié verlange word onverwags by ons opgewek deur iets wat ons beleef – ’n gedig, ’n stuk musiek, kinderspel – en die gevaar is dat ons dié ervaring van verlange met sy objek verwar: Ons dink as ons die ervaring kan herhaal, ons die soete weemoed weer sal smaak. Dis egter soos om na ’n wysende vinger te staar.

 

Die verlange is na God – “Ons hart is gemaak vir U, o Heer …” – maar dit beteken nie ons moet weg kyk van die wêreld nie. Ons moet skepsels nie verag om God meer te kan bemin nie, maar God juis ín en déúr die glorie van skepsels en die “impatient … wind” wat soms daaruit opwaai, liefhê. Ons moet geskape dinge ás God se skeppings bemin, en God ás Skepper van daardie dinge.

 

Augustinus mag maar agter die hond aan kyk.

 

Of verstaan ek Augustinus verkeerd?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

13 antwoorde op Honde, akkedisse, spinnekoppe en God

  1. “Of verstaan ek Augustinus verkeerd?”

    Maak dit saak? – wat hy geskryf het was bloot sy opinie…

  2. Natuurlik was dit net sy opinie? Gee my skryfseltjie die indruk dat ek verplig voel om met hom saam te stem? Ek dag ek kritiseer hom. Aan die einde vra ek net: is my kritiek dalk onregverdig? Het ek hom dalk verkeerd verstaan? Ek vra dit omdat ek vermoed die antwoord is dalk ja … Ek probeer maar net billik wees teenoor hom, al het hy lankal ontbind.

  3. ‘n Sekere lisa het kommentaar hier gelewer, waaroor die program my ingelig het, maar nou kan ek dit nie lees nie. Het jy dit uitgevee, lisa?

  4. Ja – jammer – wou redigeer en toe skrap ek! Kan jy die kommentaar lees of moet ek oortik?

  5. Hallo Henry!!!!!

  6. Ek kan niks sien in wat jy gesê het wat lyk of jy hom te na gekom het nie – so my reaksie is eiltlik een van “moenie worry nie, gaan aan – die ou was net ook ‘n mens” – as dit oorkom of ek bedoel het jy moet hom volg is dit sleg geskryf – ek wou nie juis ‘n opstel skryf nie, is my lam verweer…

  7. Hier is jou oorspronklike kommentaar (hoop dis OK dat ek dit hier plaas?):

    “Dis ‘n vrek moeilike ding die. Daar kom seker ‘n punt in jou lewe dat jy balans kry, maar wat ‘n geswoeg om daar uit te kom. Ek het nou al beide kante van die skaal afgedonder – die wereld laat los vir God en andersom. As dit nie goed is vir jou om die hond agterna te kyk nie is dit nie goed nie – ongeag. En wat vir my ‘n stryd is is nie vir jou ‘n stryd nie. Ek dink egter tog dat dit waarmee ek my gedagtes vul deel word van my – en ek is kieskeuring oor wat ek hier binne wil he. Ek dink Augustinus het goed bedoel – vir myself hoop ek egter dat ek die balanspunt sal vind!”

  8. Nee, my indruk was eerder dat jy dink ek gee te veel gesag aan Augustinus! Duidelik dan nie. Die rede vir my wonder oor hom is dat, by die herlees van die stukke waarna ek verwys, dit vir my lyk of dit eintlik nie vir hom om genieting van wereldse dinge gaan nie, maar oor die fassinasie met wreedhede en geweld (die sirkus, die hond wat die bok jaag, die spinnekop wat haar web spin). Arme Augustinus word al klaar so geredlik van allerlei booshede beskuldig dat ek nie nog verkeerdelik iets daarby wil voeg nie!

  9. Gerrit ek dink jy verstaan Augustinus reg. Ek hou ook van dit wat Lisa se. Jy sien die een ou kan die hond agterna kyk en dit daar laat. Die ander ou kyk die hond agterna en soek na erger dinge as die hond om na te kyk. Dit word progresiewe soeke na dinge wat dan wel die laaste ou se aandag in beslag neem.
    Sonder om Henry nog meer sinies te maak haal ek Prediker aan: “—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ‘n gawe van God”. ( 3:13 ) op ‘n ander plek se hy ook: “verheug jou oor die vrou van jou jeug”.
    So miskien het Augustinus homself verniet gemartel.

  10. Dis reg so dankie – ek wou die donder-deel uithaal, dit lyk erger op papier as wat dit in my gedagtes klink, maar daar is dit nou…heel beskrywend van die val!

  11. Ag jy kan maar ophoop as jy wil “Arme Augustinus” sal gladnie omgee nie…

    🙂

  12. Interessant van Augustinus se wereldvreemde gedagte dat alle seksuele omgang wellustig en daarom sondig is (‘n idee wat hy aan die Griekse denke ontleen het, nie die Bybelse nie – soos jy hierbo illustreer!), is dat sommiges onder sy velste kritici, te wete feministe, ‘n soortgelyke argument voer. Ek het dit hier wel oor bepaalde radikale randfigure, maar dis nietemin interessant. Augustinus se feministiese kritici het dit gewoonlik oor sy sogenaamde vroue-haat en afkeer in wereldse dinge; tog is dit juis die mins godsdienstige kritici wat baie soos Augustinus oor seks dink – behalwe dan dat dit in die taal van ‘objektivering’ gebeur. Daar is niks nuuts onder die son nie.

  13. Stefaan het gesê op Augustus 23, 2011

    Gerrit, ek dink aan Jesus wat gesê het dat ons in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie. Sommige gelowiges probeer so om nie van die wêreld te wees nie, dat hulle eintlik wêreldvreemd word. Vanuit hul kloosters beteken hulle vir niemand iets nie. Aan die ander kant “donder” christene weer af deur so in die wêreld te probeer wees dat hulle eintlik wêrelds word. Hulle beteken ook nie vir iemand iets nie,maak geen verskil nie, want die sout het laf geword. Hier tussen in soek die mense van die wêreld heimlik na gelowiges wat voluit in die wêreld is en hul ding doen, op so `n manier dat hulle die hond met vreugde agterna kyk, sonder om soos die hond te word. Was dit Luther wat gesê het dat ek so christen moet wees dat selfs die hond in my huis kan agterkom dat ek een is!?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.