Die verdwynende grens tussen reklame- en ander inhoud

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

In vandeesmaand se LitNet-essay skryf George Claassen krities oor die vervagende grens tussen egte redaksionele en kunsinhoud enersyds en reklame andersyds – onder meer met verwysing na onlangse uitsendings van die sepie 7de Laan. Ek is dit heelhartig met hom eens.

‘n Mens sou ook ander programme kan noem – soos die episode van The Gillmore Girls waarin die jong meisie se verhouding met haar pa die tema is, en sy dan op ‘n stadium noem dat elke goeie pa vir sy dogter ‘n Barby-pop koop wanneer sy ‘n vrou word (!?), terwyl haar afwesige pa dit nooit gedoen het nie. Nie net word die produknaam ingesmokkel nie, maar die mark word sommer ook doelbewus verbreed! En dan die rolprente, soos die James Bond-films waarin, sedert daardie een waarin 007 skielik ‘n BMW in plaas van die gebruiklike Britse motor uit die romans ry, aanhangers by elke nuwe aflewering wag om te kyk watter motormaatskappy nou die meeste aan die filmmaker-prostitute opgedok het.

Net so erg, of dalk selfs erger, as die geplante advertensies in 7de Laan is die wanpraktyke in die vroegoggendprogram Expresso op SABC 3. Dis ‘n teksboekvoorbeeld van die oortreding van ‘n fundamentele etiese beginsel in die joernalistiek.

‘n Onderhoud word byvoorbeeld met ‘n bekende sportman- of vrou gevoer. Op ‘n stadium word dan gevra of ‘n mens op so ‘n gevorderde vlak sport kan beoefen as jy nie voeding-aanvullings gebruik nie. O nee, beslis nie, antwoord die sportheld. En watter aanvullings gebruik jy? vra die onderhoudvoerder. Waarop die gas antwoord: Ek gebruik … Sodra die naam van die produk genoem word, verskyn ‘n prentjie met detail oor daardie produk op die skerm. Aanbieders en deelnemers aan die program praat oor ‘n produk asof hulle daarmee hul eie mening gee, terwyl hulle in werklikheid geld vir die program verdien deur daardie menings te lug en soveel aandag aan die produk te gee. Dis misleidend en dus oneties.

Ek onthou ‘n onderhoud met ‘n bekende Afrikaanse middelafstand-atleet (wie se naam ek nie kan onthou nie) in die jare tagtig. Die vrou wat die onderhoud voer, vra hom toe ook hoe sy dieet lyk. Hy antwoord dat hy dit en dat (byvoorbeeld spek en eiers) vir ontbyt eet, maar vir middagete net iets ligs, soos ‘n … (en toe noem hy die naam van ‘n bekende yogurt-drankie). Oeps! Die aanbieder bloos; die atleet besef sy fout en vra verskoning. Ons noem eintlik nie produkname op televisie nie, word hy herinner. Dit is die soort kultuur wat in daardie jare gegeld het.

Alles het deesdae ‘n geldelike betekenis. Die idee dat iets vir ‘n ander doel gedoen kan word as om geld daaruit te maak of skuld af te betaal, het vreemd, selfs onverstaanbaar geword.

Die mees radikale daad wat ‘n mens vandag kan pleeg, is om iets kreatiefs te doen sonder om daarvoor betaal te wil word. Daar is ook ander moontlikhede. Ek dink ek gaan ‘n Facebook-groep begin met die naam “Ek gebruik NIE ‘n Blackberry nie”.

Die Facebook-groep is toe gestig: “Ek het NIE ‘n Swartbessie nie! / I do NOT have a Blackberry!” Sluit aan!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

9 antwoorde op Die verdwynende grens tussen reklame- en ander inhoud

  1. Laat my dink aan Dok Craven se woorde dat geld die spel gaan doodmaak. Inderdaad speel geld ‘n al groterwordende rol in ons totale bestaan. Die vraag is egter of ‘n Christen homself daarmee kan vereenselwig. Ek besef dit is nie moontlik om die subtiliteite van die reklame wereld mis te kyk nie, om daaraan deel te neem is ‘n ander saak.

  2. Geld in sport is ‘n saak wat ‘n keer bespreek moet word. Was sport nie lekkerder, vir spelers en kykers, toe dit ‘n stokpertjie, ‘n amateuraktiwiteit, was nie? Ja, dis nou harder, meer indrukwekkend, verstommend selfs, maar dis ook gevaarliker, behels meer misbruik van allerlei middele, word ‘n opsessie wat aan die religieuse grens en nog baie ander dinge. As ouer sien ek hoe reeds op laerskole sport al hoe minder iets vir plesier is.

    Dit hou alles verband met die kwessie van reklame-inhoud wat egte journalistiek en vermaak verdring – nie net omdat sport so deur allerlei vorme van reklame oorheers word nie, maar ook in die breer sin dat die reklame-ding, nes die professionele-sport-ding ‘n uitvloeisel is van die geloofsoortuiging dat alles “soos ‘n besigheid bestuur moet word” (soos dikwels gese word). Wat nie geld maak nie, het geen waarde nie. Marx het hieroor insiggewend geskryf.

  3. Ek mis self die ou-atieste wat met rede&nie net gevoel n argument kon voer&bereid was om van siening te verander of aan te pas as dit blyk na die meer rasionele opsie.dit gese,wil dit vir my voorkom dat n negatiewe siening aangaande n blackberry,sonder enige gestaafde redes, as nie-rasioneel beskryf kan word.

    In my oe was die bb ook n plaag,want mense los nie hulle fone uit nie..selfs nie as hulle met jou praat nie.die vermeetelheid om by n tafel te sit&mekaar te bbm en opmerkings te maak oor mede gaste is plein weg onmenslik.

    Ek het wel besef dat die misbruik van die bb nie iets se van die produk nie,maar eerder iets van die meeste gebruikers (dieselfde kan gese word van bloggers;-) – n punt wat Dawkins duidelik nie verstaan nie.na n bietjie navorsing het ek gevind dat n bb n baie goedkoop opsie vir internetgebruik is&dat dit die kostes verbonde aan gereelde dag-tot-dag kontak tussen vriende meer as halfveer. Ek is nou self n bb gebruiker&vind dit baie gerieflik om maklik n e-pos te kan stuur terwyl ek 10min wag vir n gebruiker van african-time,asook n vinnige wikipedia vraag op te los. Dit gese, vind ek dat dit baie self-dissipliene veg om nie heeldag besig te wees met die foon nie&om aandag te gee aan die mense in wie se teenwoordigheid mens is.

    Ek dink dat die misbruik van die bb deur meeste gebruikers dui op die verskriklike lae vlak van self-dissipliene &respek vir mense in ons kultuur.

    Dus, sal ek nie deel kan wees van die facebook groep nie. N verandering van die groep-stelling sal my wel oortuig om dit weer te oorweeg.

    Vriendelike groete
    Gys
    Sent via BlackBerry

  4. Absoluut! Soveel so dat ‘n mens ‘n duidelike verskil kan maak ten opsigte van die kwaliteit van spelers voor die geld era en die era daarna.
    Onrusbarend wat in skole aangaan rakende middele wat ingeneem word om groter en sterker te word. Alles natuurlik ‘n najaging van die lekker pakette wat top spelers aangebied word.
    Soos die Engelse se: “It’s just not cricket anymore old boy”.

  5. die eerste deel van gys se kommentaar is om my vorige blog oor strooipoppe van die ateisme.

  6. Bly ek is nie ‘n stem roepende in die woestyn nie!

  7. Ja, maar die kwaliteitsvraag is anders. Ek het dit hier oor misleiding. ‘n Advertensie is ‘n advertensie en moet as sodanig herkenbaar wees. Redaksionele inhoud (nuus, kuns, wat ook al) is iets anders. Waar dit nie duidelik is waarmee die leser/kyker/luisteraar in ‘n spesifieke geval te doen het nie, is daar sprake van misleiding. Dis nie net ‘n kwessie van verbruikersvoorkeure nie, maar eerder ‘n etiese kwessie.

  8. Gelukkig ja!

    Wat jy dus suggereer is dat joernaliste, kunstenaars en akademici (behalwe dan teoloe …) die oudste beroep in die wereld beoefen?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.