Stry voort teen dié wat stemme stilmaak

Augustus 3, 2011 in Sonder kategorie

‘n Onlangse artikel van my in Rapport (2011/07/23):

 

Die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk is glo aangerand oor ’n artikel wat hy geskryf het.

Hoe beïnvloed die vermeende aanranding (en sommiges se goedpraat daarvan) ons verstaan van die artikel, en omgekeerd?

Dit is ’n belangrike vraag, want woorde is dade, soos die filosoof J.L. Austin illustreer in How to Do Things with Words, maar soos Jakobus ook reeds 2000 jaar vantevore betoog het in sy beskrywing van die tong as ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif”.

Maar ook omgekeerd: Dade is woorde; dit dra boodskappe oor. Dink maar aan die hys van ’n vlag of die omhelsing van ’n geliefde.

Wat sê die aanranding? Dit sê: “Ek hou nie van wat jy geskryf het nie.” (“Al het ek dit nie gelees nie.”) Dalk ook: “Ek is gatvol vir die alewige kritiek op Afrikaners.” (“Al weet ek nie of jy dit gelewer het nie.”) Bes moontlik: “Apartheid was in elk geval nie so sleg nie en ek wil my kaartjie na die Nuwe Suid-Afrika teruggee, dankie.”

Dit is hoe heelparty mense dink, maar baie min van hulle sê dit met vuiste, die omgooi van tafels of dreigemente. Laasgenoemde soort “taal” sê dus iets meer – ook iets meer radikaal – as wat reeds genoem is. Dit sê: “Ek verkies daad-woorde bo woord-dade, moorddadigheid bo woorddadigheid.” Wat hier spreek, is ’n verwerping van spraakvryheid, van die waarde van gesprek en argumentasie, in elk geval sover dit andersdenkendes betref.

Omdat woorde dade en dade woorde is, staan spraakvryheid nie teenoor handelingsvryheid nie, maar is dit ’n vorm daarvan. Voorstanders van die vrye woord wat reken mondwoorde is skadeloos, is naïef. Die 19de eeuse filosoof John Stewart Mill het dit beter verstaan toe hy in On Liberty spraakvryheid as deel van ’n breër libertynse ideaal gesien het; ’n ideaal wat daarvan uitgaan dat vrye mededinging tussen verskillende maniere van dink en leef gesond is omdat die “bestes” uiteindelik sal triomfeer. Van Wyk Louw had met sy “oop gesprek” iets soortgelyks in gedagte.

Minder idealistiese voorstanders van spraakvryheid (ook mediavryheid) sien dit eerder as ’n beskermingsmaatreël: As almal mag praat, skep dit hopelik ’n magsbalans. Die beste gedagtes sal nie triomfeer nie (ook nie die beste media nie), maar die slegste en gevaarlikste ook nie so maklik nie.

My siniese sielsgenote stem egter oor een ding met Mill saam: Mense moet kan doen wat hulle wil, solank hulle nie andere te nakom (injure) nie. Waaraan Mill tereg die spelreël toevoeg: Aanstoot (offence) gee, tel nie as te na kom (injury) nie.

Dit alles word met minagting deur aanranding en dreigemente verwerp.

Wat “doen” Van Niekerk se skrywe dan? Eerstens funksioneer dit as uitoefening, en daardeur versterking, van die vrye woord. Hiervoor is Van Niekerk bekend (anders as baie ander akademici wat die rol van openbare intellektueel systap).

Elkeen wat, soos Van Niekerk, aan lewendige openbare debatte deelneem, is in ’n sekere sin ’n heldhaftige vegter vir vryheid. Heldhaftig, want akademiese arbeid word gou (soos Van Niekerk nou weer ervaar het) ’n kontaksport. Die spreekwoordelike ivoortoring mag fraai wees, maar is nie (soos die goudpaleise van politici en sakereuse) teen fisieke aanvalle bestand nie.

Van Niekerk se kritici is in dié sin sy strydgenote. Dis soos twee rugbyspanne wat teen mekaar speel: Albei is ewe lief vir rugby. Daarom sou dit ’n groot fout wees om die kritici oor dieselfde kam te skeer as die vuisboelies. Die konflik tussen hierdie twee kampe is veel feller as dié tussen Van Niekerk en sy kritici. Laasgenoemdes moet, net soos Van Niekerk, vir hul vryheidstryd geloof word.

Nietemin ís daar natuurlik ’n stoeigeveg tussen Van Niekerk en sy woord-teenstanders.

Van Niekerk meen mense wat die heersende afwysende geskiedsblik op Suid-Afrika se grensoorloë alte veel kwalifiseer deur byvoorbeeld te argumenteer dat dié oorloë ’n Stalinistiese oorname in die weg gestaan het, kan soos apartheidsapologete oorkom en verswak sodoende ’n gepaste skuldgevoel by wit mense. Oor die feite in hul betoog verskil hy nie juis nie, maar hy reken ander belangrike feite word oor die hoof gesien en dit, voel hy, het ’n onwenslike uitwerking op rasseverhoudings.

Sy intelligenter teenstanders, soos Leopold Scholtz, Breyten Breytenbach en Charl-Pierre Naudé, kan geensins as vergoeilikers van apartheid beskryf word nie. Scholtz se historiese argumente wil beslis nie rassisme of onreg vergoeilik nie, maar eerder erkenning gee aan historiese kompleksiteit.

Breytenbach en Naudé se kritiek wil ook nie vir vergoeiliking in die bres tree nie (allesbehalwe!), maar stel eerder vrae oor Van Niekerk se woorde as dade: Die kontekstuele tydsberekening daarvan; die wyse waarop dit volgens hulle ’n diskoers versterk waarin huidige misstande alte maklik op sondes van die verlede geblameer word.

Deel van die konteks, reken sommiges, is plaasmoorde en rassistiese haatspraak (woord-dade wat regstreeks met fisieke geweldsdade verbind kan word). Is die gedagte van kollektiewe skuld nie ’n gevaarlike gedagte nie, soos die geskiedenis van anti-Semitisme met sy wortels in die idee van ’n Joodse “bloedskuld” so ontstellend demonstreer?

Sommiges beskou die skuldpraatjies weer as ’n moralistiese nat handdoek waarmee Van Niekerk andersdenkendes bydam. Van Niekerk sal dit natuurlik ten sterkste ontken.

Dis ’n belangrike debat! Een wat moet voortgaan. Almal wat vry van haat­spraak daaraan deelneem, stry in ’n sekere sin dieselfde goeie stryd: Die stryd teen geweldenaars wat die stemme wil stilmaak.

Aluta continua!

Lees ook Charles Malan se reaksie op my skrywe.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

?

6 antwoorde op Stry voort teen dié wat stemme stilmaak

  1. Ek dra redelike gebrekkige kennis oor die inhoud van die saak maar het wel raakgelees dat Prof Anton van Niekerk deur n ontstoke Mnr Abel Malan aangerand was.

    Baie goeie punte wat jy aangeraak het en iets wat ek met my sal saamdra:
    Woorde is dade. Omgekeerd is dade woorde en dra in die geval die boodskap van “Ek hou nie van wat jy geskryf het nie” en “Ek is gatvol vir die alewige kritiek op Afrikaners”.

    Watter straf word opgelê teen die ene Prof se duidelik opstokerige skrywe?

    Ek sal beslis werk maak daarvan om meer deeglik te gaan kennis maak met die brief en aanranding, die saak – want JOU reaksie op die aanvaller se aksie is hier vir my baie goed.

  2. Baie mooi woordpaar moorddadigheid – woorddadigheid’. Pragtig!
    Woorde is bemagtigend en kan as bomme, steke, kappe, grype en stampe aangewend word in ‘n debat, maar wanneer mense bevrees, gefrustreerd, besteel, beledig en beangs voel en hulle woordwapens skiet kort, dan gaan hulle dikwels oor tot daadwoorde. Ek hou ook van jou jou hermeneutiese hantering, die ‘lees’, die ‘hoor’ van die daadwoorde. Ons taak is miskien om te sorg dat mense meer toegerus word met woordwapens vir die woeste stryd van ons tyd.

  3. Vryheid van spraak en persvryheid is vir my on-onderhandelbaar en fisiese geweld ‘n teken van onbeskaafdheid (en ‘n swak argument). ‘n Aspek wat in die onverkwiklike Van Niekerk/Malan-debakel miskien meer aandag gegee kon word, is die rol van die boodskapdraer in die klasieke kommunikasie-drieluik van mededeler, medium en ontvanger van die boodskap. Ek het self die oggend wat Van Niekerk se artikel in die koerant verskyn het gevoel hoe mijn griebbel over mijn grabbel gaan toe ek die Die Burger se opskrif op die voorblad en op die pale lees: Afrikaners is “oneerlik” . By die lees van Van Niekerk se artikel het ek nie so ‘n blatante stelling teengekom nie. Onlangse voorbeelde van sulke “misleiding”? Aandagtrekkers? Teasers? deur net hierdie een koerant kom in gedagte. Die skietery in Noorwee het bv tot gevolg gehad dat Die Burger na ‘n “SA verbintenis” verwys het. By die (koop van) en lees van die koerant, kom ‘n mens agter dit is gegrond op ‘n stelling deur iemand dat dit ook in SA kan voorkom.

  4. Hoor graag weer van jou!

  5. Absoluut! Fisieke geweld vloei dikwels voort uit ‘n onvermoe om met woorddade te “veg”. Dis ‘n opvoedingstaak.

  6. Ja, koerantkoppe is ‘n onderwerp op sy eie. Joernaliste sal aanvoer dat in die genre van koerantjoernalistiek dit nie die funksie van ‘n kop is om die berig of artikel saam te vat nie, maar om een aspek daarvan uit te lig om lesers se aandag te trek. Lesers is veronderstel om dit te weet, word geredeneer. Dit neem egter nie weg dat ‘n kop wat mislei oor die inhoud van die onderliggende teks aanvaarbaar is nie. Daaroor is ek dit met jou eens.

    Daar is ook ‘n interessante vraag oor die funksionering van diskoers: Gestel die lesers sou weet waarvoor koppe “eintlik” is. Sal die koppe dan nog dit kan wees? Sal hulle nog aandag trek? Met ander woorde: Berus die effektiwiteit van koerantkoppe nie op lesers se “onkundige” oor die ware funksie daarvan nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.