Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

Is die Springbokke my span?

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

Party Suid-Afrikaners ondersteun die All Blacks. Belaglik. Tog wonder ek self of die Springbokke regtig “my” span is. OK, ek jok. Daar is nie ‘n groter Bok-ondersteuner as ek nie. Ek het goeie hoop dat ons die Groot Beker suksesvol gaan verdedig. Ek ondersteun selfs die afrigter!

Nou wat is my probleem dan? Die Bokke is veronderstel om die nasionale span te wees – die Suid-Afrikaanse rugbyspan, “ons” span. Tog kan net ‘n klein groepie welvarendes deur hul private TV-kanaal die span se wedstryde sien. Wanneer aangekondig word dat die Bokke se komende wedstryde wel op die nasionale sender uitgesaai gaan word (lewend of eers na die wedstryd?), is dit asof ons nou ‘n guns gedoen word. Die regering – ONS regering – het mooi gevra en die eienaar het goedgunstiglik toegestem. Toe die groep wat Nieu-Zeeland toe gaan aangekondig sou word, hoor ek op die radio die aankondiging gaan lewend op TV uitgesaai word. “TV” beteken toe egter die rykman-kanaal, nie die SAUK nie.

Na ons eerste groot rugbytriomf – Mandela met die no. 6-trui en al daai dinge – was daar ‘n blink geleentheid om miljoene nuwe rugby-entoesiaste oor te wen. Ware transformasie sou dit wees. Maar nee, toe koop ‘n twyfelagtige geldmagnaat van ‘n ander land wie se koerante nou een vir een skandes maak as hulle nie regse politieke agendas bevorder nie die uitsluitlike regte om al die wedstryde uit te saai – sowel van die Bokke as van die provinsiale spanne. Suid-Afrikaners kan nie meer na “hulle” spanne, die vermeende nasionale en provinsiale spanne, kyk nie. Wie se span is dit dan in werklikheid?

Blykbaar ‘n private winsonderneming genaamd SA Rugby s’n. Selfs die Springbok-embleem behoort aan hulle. So beweer hulle ten minste. Jare gelede kon elkeen vir hom sy eie vlag of plakkaat met ‘n Bok op maak; deesdae is dit groot onwettig. Die handelsmerk is die eienaar s’n en ons, die landsburgers, is nie die eienaar nie. As jy ‘n goedkoop Boktrui in plaas van ‘n dure koop, dan tree jy glo oneties op, pleeg jy misdaad. Onsin, dink ek, maar as dit waar is, is dit dan “ons” span? is dit “myne”?

Hoe sal dit wees as die regering ons landsvlag aan ‘n maatskappy genaamd SA Vlagte verkoop en ons voortaan net die “amptelike” vlag ten duurste mag aanskaf terwyl ons verbied word om ons eie te maak en te swaai? Sal dit dan nog ‘n nasionale vlag, ‘n landsvlag, wees?

Die regering moet ‘n wet maak dat sportspanne wat amptelike erkenning as nasionale spanne het se wedstryde sonder uitsondering en kosteloos vir uitsending op die nasionale sender beskikbaar moet wees, en dat die spanne se embleme openbare besit moet wees. As ‘n span prostetuut speel en uitsendingsregte aan ‘n private persoon of instansie verkoop of eiendomsreg op sy embleem eis, verloor hy outomaties se status as nasionale span.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Nuwe essay: Konformering tot sekere manlikhede is dodelik

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

In die Seminaarkamer het die essay van die maand, Christi van der Westhuizen se “Konformering tot sekere manlikhede is dodelik”, pas verskyn. Haar betoog word met verwysing na die film Skoonheid uitgewerk. Lees dit en kom lewer hier kommentaar.

Ek hou van daardie begrip “manlikhede”. Dit herinner aan “hebbelikhede”. Omdat ek pas vir ‘n ander publikasie iets oor gender-stereotipes geskryf het wat ek binnekort hier ook sal plaas, bly ek nou vir eers stil, maar ek hoor graag van julle almal!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Welvaartbelasting? Rasbelasting?

Augustus 25, 2011 in Sonder kategorie

LitNet se jongste miniseminaar heet “Welvaartbelasting? Rasbelasting?”. Die bydraers is Rothney Tshaka en Kallie Kriel. Ja, dis na aanleiding van Desmond Tutu se onlangse heropname van hierdie onderwerp, maar dit strek wyer, aangesien die idee van so ‘n belasting al jare gelede geopper is. Die reaksies op Tutu se terloopse gedagte (in ‘n lesing wat volgens die teenwoordiges eintlik oor ‘n veel groter en belangriker onderwerp, te wete die miskenning van menswaardigheid in ons samelewing, gehandel het) wys dat dit sowel ‘n komplekse as ‘n emosionele aangeleentheid is.

Interessant is dat sommige kommentators Tutu se opmerking met ‘n onlangse uitlating deur een van die rykste mense op aarde, die Amerikaner Warren Buffett, vergelyk het. Buffett het naamlik iets kwytgeraak wat selde oor skatrykes se lippe rol: dat rykes in Amerika meer belasting moet betaal om die lot van armes te help verbeter (klik hier vir die koerantberig). In hierdie geval kom ras nie ter sprake nie. Buffett se argument berus op die aanname dat mense wat ryk is ‘n verantwoordelikheid het om armoede te help bestry. In Suid-Afrika sou dieselfde logika outomaties geld. Maar wat van die koppeling met witheid hier te lande?

Die argument lui dat wittes deur slawerny, kolonialisme en apartheid bevoordeel is en daarom moet opdok. Hierdie argument berus nie slegs op die rykdom van baie wittes (soos Buffett se argument op die rykdom van mense soos hy berus) nie, want dan sou ras irrelevant wees. Ja, daar is meer ryk wittes as swart rykes, en ja, dit is onder meer deur rassistiese toestande in die verlede veroorsaak, maar daar is ook wel ryk swartes, en as die rede vir die nodigheid van ‘n welvaartbelasting op mense se rykdom berus, dan sal alle rykes dit moet betaal. Die feit dat die meeste betalers dan wit sou wees, sou nie beteken dat hulle op grond van hul ras uitgesonder word nie. Die vraag is dus: Sal ook swart rykes die welvaartbelasting moet betaal? Uit die Buffett-logika sou dit wel volg.

En arm wittes? Daar is wittes wat werkloos is en in plakkerskampe woon. Is hulle deur slawerny, kolonialisme en apartheid bevoordeel? En indien hulle wel so bevoordeel is, maak dit dan hul huidige armoede irrelevant? Sal voorstanders van ‘n welvaartbelasting wil sien dat ook hierdie armes opdok? Moet ‘n mens dalk hul klere konfiskeer as hulle nie geld het nie? Of die bietjie geld wat hulle het van hulle afneem en sodoende die brood uit hul monde neem? Weer eens, natuurlik is daar min arm wittes in vergelyking met die aantal arm swartes, maar dit neem nie die vraag weg of brandarmes ook ‘n welvaartbelasting moet betaal bloot omdat hulle wit is nie.

As die terme “welvaart” en “wit” in die gesprek oor die welvaartbelasting as sinonieme gebruik word, beteken dit ras word die maatstaf, en dan sou op albei bogenoemde vra ja geantwoord moet word: Ryk swartes sal nie moet opdok nie, wit armes wel. Wie nie hierdie ja wil onderskryf nie, kan dit slegs konsekwent volhou as hy of sy die welvaartbelasting op mense se relatiewe rykdom laat berus, ongeag hul ras. Wat is die grondslag van die argument: die skuld van bevoordeeldes of die welvaart van rykes?

Wat is in elk geval die morele basis, in watter land ook al, van die eis dat rykes moet opdok om armoede te beveg – ‘n eis wat ek heelhartig onderskryf? Sou ‘n ryke wat oortuigend kan redeneer dat hy of sy nie deur onregverdige bevoordeling nie, maar deur harde werk en/of bietjie geluk ryk geword het moreel kwytgeskeld wees van welvaartbelasting? Ek dink nie so nie. As Christen glo ek nie in heil en versoening deur “goeie werke” of die delging van skuld deur straf of satisfaksie nie, maar in genade – ‘n genade wat die begenadigdes tot genade teenoor hul medemens inspireer. Rykes moet gee omdat hulle omgee, nie uit ‘n skuldgevoel nie. Ironies genoeg is dit juis wanneer ons deur skuld gemotiveer word dat ons ego, ons eie belang, ons gedrag lei.

Boonop is nie almal in ons samelewing Christene nie. Die regering se taak is beslis ook nie om mense se morele heil te bewerk nie. Die staat moet armoede uitwis, en as ekstra belasting daarvoor nodig is, dan moet dit gehef word, of die burgers nou skuldig, begenadig of vere daaroor voel. Daar is geen rede hoekom die betalers op grond van hul ras uitgesonder moet word nie. Hul rykdom is genoeg.

(Lees genoemde bydraes hierbo en kom gesels dan saam oor die onderwerp deur hieronder op “Kommentaar” te klik.)

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Paul Cilliers

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

Paul Cilliers sou nog ‘n essay oor kompleksiteit vir LitNet geskryf het. Ten minste, ek het so gehoop, maar voordat hy op my versoek kon antwoord, is hy skielik oorlede. Dammit!

Vir Paul het ek die eerste keer ontmoet toe ek ‘n tyd lank aan die filosofiedepartement in Stellenbosch verbonde was. Hy het my nie net met sy akademiese briljantheid imponeer nie, maar ook met sy wye belangstellings, lewenspassie en humor. Die humor het onder meer in sy deelname aan die jaarlikse Filosofiekafee wonderlik na vore gekom. ‘n Hele klompie van hierdie filosofiese grappies (wat terselfdertyd diepsinnig was) kan gelukkig aanlyn gelees word.

As boekeredakteur by Die Burger het ek veral met hom as resensent te doen gehad. Hy was een van die heel bestes, maar ek kan nie onthou dat hy selfs een boek wat ek hom gevra het om te resenseer aanvaar het nie! Nee, hy het self met voorstelle gekom oor boeke wat hy sou wou resenseer as ek belangstel. Wie sou nie “belangstel” nie. Baie van sy resensies het my persoonlik na boeke gelei wat ek waarskynlik andersyds nie sou gelees het nie. Never Let me Go is vir my die belangrikste – waarskynlik my gunstelingroman.

Op ‘n dag is ‘n breintumor by my identifiseer en moes ek geopereer word. Paul-hulle het ons dadelik opgesoek. Hy het jare daarvoor ‘n brein-aneurisme net-net oorleef (dit waaraan hy uiteindelik tog oorlede is), en kon sterk identifiseer met die ervaring van iemand wat weet daar gaan deur dokters aan sy brein gekarring word. Hy kon humoristies oor sy ervarings in daardie verband praat. Wat my veral laat lag het, is sy belydenis dat hy banmg was die operasie het sy persoonlikheid verander. In sy proefskrif het hy immers ‘n siening van die brein as komplekse sisteem ontwikkel waarvolgens spesifieke kwaliteite (soos persoonlikheid) nie op spesifieke plekke is nie, maar in die sisteem as geheel. ‘n Mens kan ‘n deurdagte mening huldig en nogtans sukkel om daaraan te bly glo wanneer dit die nodigste is!

‘n Verdere kinkel in hierdie storie was dat hy lank gevoel het hy sal nooit weet as sy persoonlikheid verander het nie, want terwyl die meeste mense hom nie goed genoeg geken het om subtiele persoonlikheidsveranderings op te let nie, sou die mense naaste aan hom, as hulle veranderings sou opmerk, dit nie teenoor hom wou erken nie, om hom die ontsteltenis te spaar!

In onlangse maande het ek hom veral meegemaak in sy hoedanigheid as gespreksleier in ‘n interdissiplinêre diskussiegroep oor kompleksiteit. Sy publikasies oor hierdie onderwerp het ek geken, maar in die gesprekke het ‘n nog groter genialiteit ontdek: die vermoë om ander werklik te probeer verstaan, hulle ernstig op te neem, en uiters insigryk op hulle te reageer. Ons gaan hom baie mis.

 

Klik hier om ander herinnerings oor Paul Cilliers te lees.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die verdwynende grens tussen reklame- en ander inhoud

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

In vandeesmaand se LitNet-essay skryf George Claassen krities oor die vervagende grens tussen egte redaksionele en kunsinhoud enersyds en reklame andersyds – onder meer met verwysing na onlangse uitsendings van die sepie 7de Laan. Ek is dit heelhartig met hom eens.

‘n Mens sou ook ander programme kan noem – soos die episode van The Gillmore Girls waarin die jong meisie se verhouding met haar pa die tema is, en sy dan op ‘n stadium noem dat elke goeie pa vir sy dogter ‘n Barby-pop koop wanneer sy ‘n vrou word (!?), terwyl haar afwesige pa dit nooit gedoen het nie. Nie net word die produknaam ingesmokkel nie, maar die mark word sommer ook doelbewus verbreed! En dan die rolprente, soos die James Bond-films waarin, sedert daardie een waarin 007 skielik ‘n BMW in plaas van die gebruiklike Britse motor uit die romans ry, aanhangers by elke nuwe aflewering wag om te kyk watter motormaatskappy nou die meeste aan die filmmaker-prostitute opgedok het.

Net so erg, of dalk selfs erger, as die geplante advertensies in 7de Laan is die wanpraktyke in die vroegoggendprogram Expresso op SABC 3. Dis ‘n teksboekvoorbeeld van die oortreding van ‘n fundamentele etiese beginsel in die joernalistiek.

‘n Onderhoud word byvoorbeeld met ‘n bekende sportman- of vrou gevoer. Op ‘n stadium word dan gevra of ‘n mens op so ‘n gevorderde vlak sport kan beoefen as jy nie voeding-aanvullings gebruik nie. O nee, beslis nie, antwoord die sportheld. En watter aanvullings gebruik jy? vra die onderhoudvoerder. Waarop die gas antwoord: Ek gebruik … Sodra die naam van die produk genoem word, verskyn ‘n prentjie met detail oor daardie produk op die skerm. Aanbieders en deelnemers aan die program praat oor ‘n produk asof hulle daarmee hul eie mening gee, terwyl hulle in werklikheid geld vir die program verdien deur daardie menings te lug en soveel aandag aan die produk te gee. Dis misleidend en dus oneties.

Ek onthou ‘n onderhoud met ‘n bekende Afrikaanse middelafstand-atleet (wie se naam ek nie kan onthou nie) in die jare tagtig. Die vrou wat die onderhoud voer, vra hom toe ook hoe sy dieet lyk. Hy antwoord dat hy dit en dat (byvoorbeeld spek en eiers) vir ontbyt eet, maar vir middagete net iets ligs, soos ‘n … (en toe noem hy die naam van ‘n bekende yogurt-drankie). Oeps! Die aanbieder bloos; die atleet besef sy fout en vra verskoning. Ons noem eintlik nie produkname op televisie nie, word hy herinner. Dit is die soort kultuur wat in daardie jare gegeld het.

Alles het deesdae ‘n geldelike betekenis. Die idee dat iets vir ‘n ander doel gedoen kan word as om geld daaruit te maak of skuld af te betaal, het vreemd, selfs onverstaanbaar geword.

Die mees radikale daad wat ‘n mens vandag kan pleeg, is om iets kreatiefs te doen sonder om daarvoor betaal te wil word. Daar is ook ander moontlikhede. Ek dink ek gaan ‘n Facebook-groep begin met die naam “Ek gebruik NIE ‘n Blackberry nie”.

Die Facebook-groep is toe gestig: “Ek het NIE ‘n Swartbessie nie! / I do NOT have a Blackberry!” Sluit aan!

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Honde, akkedisse, spinnekoppe en God

Augustus 17, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Die kerkvader Augustinus skryf in sy Belydenisse: “Ons hart is gemaak vir U, o Heer, en bly onrustig tot dit rus in U.” Ware geluk (wat eers in die hiernamaals volkome sal wees) is, volgens Augustinus, om God bo alles lief te hê. Om ’n mens of ander skepsel te bemin met die grenslose liefde wat slegs God toekom, is om die voorwerp van jou liefde te oorvra.

 

Wanneer Augustinus dan in nog ’n bekende uitspraak sê dat dié wat reg liefhet, kan maak soos hulle wil, val die klem op “reg”: Wie elke liefdesvoorwerp rég liefhet, met die liefde wat daarby pas, en slegs God onbegrens bemin, sal God se wil nie meer móét gehoorsaam nie, maar dit vryelik doen.

 

Augustinus bely nie net dat slegs God dié liefde waardig is nie, maar bely ook ’n sonde: dat ander dinge sy aandag van God aflei. Hy is dankbaar dat hy nie meer begeer om hom in die arena se geweld te verlustig nie. (Sou hy in ons tyd dalk na gewelddadige films of rekenaarspeletjies verwys?) Nee, hy gaan nie meer na die Romeinse sirkus om te kyk hoe ’n hond ’n haas jaag nie. Tog moet hy erken dat, indien hy toevallig op so ’n toneeltjie afkom – of op ’n akkedis wat ’n vlieg vang, of ’n spinnekop wat haar web spin – hy dit onwillekeurig agterna wil kyk! Selfs al kyk hy nie, volg sy geestesoog die gebeure – vergeet sy siel momenteel van God …

 

Is dié selfkastyding nie effe oordrewe nie?

 

Menige Christen worstel met ’n oënskynlike spanning tussen geestelike en wêreldlike instinkte: Goeie dinge kom van God en moet dankbaar ontvang word, maar hoe ver mag ons gaan? Moet ons terughoudend geniet? Moet ons skuldig voel as die natuurtoneel vir ons té mooi is, die kunswerk té ontroerend, die biefstuk té smaaklik of die seks té genotvol?

 

Baie dink so en streef na ’n God-gerigte lewe arm aan plesier. Andere roep die geloof vaarwel om die plesiere van die lewe met diep teue te kan geniet. Daar is ook Christene wat ’n geestelike vroomheid wantrou en leer om God nie as Geliefde nie, maar as onpersoonlike misterie of etiese verwysingspunt te dink, want só ’n God is ten minste nie wêreldvreemd nie, laat ruimte vir lewensvreugde. Hoe kan ons in elk geval iemand liefhê wat ons nie sien nie?

 

C.S. Lewis, ’n geesgenoot van Augustinus, suggereer as alternatief die ervaring van “joy” (nog voor hy sy latere vrou, Joy, ontmoet het!). Hy ontleen dit aan Wordsworth: “Surprised by Joy – impatient as the wind”. “Joy”, skryf Lewis, is nie die besit van iets nie, maar die verlange daarna – ’n verlange wat só oorweldigend ontroer dat dit heerliker as die besit van enigiets anders is. Dié verlange word onverwags by ons opgewek deur iets wat ons beleef – ’n gedig, ’n stuk musiek, kinderspel – en die gevaar is dat ons dié ervaring van verlange met sy objek verwar: Ons dink as ons die ervaring kan herhaal, ons die soete weemoed weer sal smaak. Dis egter soos om na ’n wysende vinger te staar.

 

Die verlange is na God – “Ons hart is gemaak vir U, o Heer …” – maar dit beteken nie ons moet weg kyk van die wêreld nie. Ons moet skepsels nie verag om God meer te kan bemin nie, maar God juis ín en déúr die glorie van skepsels en die “impatient … wind” wat soms daaruit opwaai, liefhê. Ons moet geskape dinge ás God se skeppings bemin, en God ás Skepper van daardie dinge.

 

Augustinus mag maar agter die hond aan kyk.

 

Of verstaan ek Augustinus verkeerd?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Strooipoppe van die ateïsme

Augustus 5, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

 

“Wanneer ons die ateïstiese propaganda van die Ooste bestudeer, skrik ons eintlik van die lae peil en die primitiwiteit van die argumentasie – hoe daar klaarblyklik volledig aan die wese van die Christelike geloof verbygegaan word.”

 

Só praat die teoloog Gerhard Ebeling in een van ’n reeks gepubliseerde radio-lesings uit die jare 50, Das Wesen des Christlichen Glaubens (in Nederlands: Christelijk geloof). Die kommunisme (“die Ooste”) waaroor hy dit het, het intussen van die toneel verdwyn, maar die soort “propaganda” wat hy beskryf, is springlewendig in die kapitalistiese Weste – en in Suid-Afrika. Sommige waarnemers, soos die linkse Terry Eagleton, reken selfs die “nuwe ateïsme” van mense soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens (in sy boek Reason, Faith, and Revolution sommer “Ditchkins” genoem!) is onlosmaaklik met die kapitalisme verstrengel.

 

Vir teoloë skep dit ’n dilemma. Verdien die opgewarmde 19de-eeuse argumente van die nuwe ateïsme om ernstig opgeneem te word? Argumente soos dat evolusie die skeppingsgedagte weerlê, of dat geloofsoortuigings onbewysbaar is. Is dit billik om van denkende Christene te verwag om te antwoord op kritici wat nie eens ’n poging aanwend om aan die objek van hul kritiek reg te laat geskied nie? In die wetenskap (wat meer as die natuurwetenskappe insluit) vereis professionele etiek dat ’n mens jou opponent se siening akkuraat probeer weergee. Hoekom sal gelowiges vir ’n strooipop in die bresse tree?

 

Soms mis ek die “goeie ou” ateïste van weleer – mense wat tot rasionele besinning verbind was, gretig om deur argumente te oortuig of oortuig te word. Ja, in daardie dae was die “Oosterse propaganda” nie die enigste vorm van ateïsme nie; hulle was “nie almal so nie”. ’n Mens dink aan strydrosse van die ongeloof soos C.E.M. Joad, Antony Flew en Alasdair McIntyre.

 

Miskien is die laer standaard van ateïsme vandag deels daaraan te wyte dat hierdie en ander topspelers later vir die opponent begin kolf het? Dit verklaar dalk die weersin in rasionele debat onder heelparty hedendaagse pleitbesorgers vir die ateïsme. Ek ervaar dikwels in hierdie soort debatte ’n aggressiewe ongeduld met logiese argumente. Wie weet, miskien het die ervaring geleer dat eerlike dialoog onwenslike gevolgtrekkings in die hand kan werk? C.S. Lewis, self eers ’n ateïs, het later opgemerk dat jong ateïste nie versigtig genoeg kan wees met wat hulle lees nie, want soveel van die beste skrywers is gelowig dat dit ’n aanvegting vir die ongelowige jongeling kan word.

 

Tog was daar ook ateïste van formaat, soos Bertrand Russell, Albert Camus, Simone de Beauvoir en Jean-Paul Sartre, wat op indrukwekkende wyse volhard het in die ongeloof. Dis vandag nog ’n plesier om hul geskrifte te lees. Ek weet daar is nog baie “gewone ongelowiges” (om kerktaal te gebruik) wat deurdag, ingelig en intelligent met andersdenkendes in gesprek kan tree, maar in die openbare domein is hulle dun gesaai. Twee van die uitsonderings, die wetenskapsfiksie-koning Isaac Asimov van onder meer I Robot-faam en my gunstelingskrywer, Kurt Vonnegut, is onlangs oorlede.

 

Waaroor Christene hulle die meeste moet bekommer, is egter nie die lae peil van ateïstiese retoriek teen die geloof nie. Ná sy afwysende opmerking oor die “ateïstiese propaganda in die Ooste” en dié se wanvoorstellings van die Christendom, sê Ebeling: “Die verskriklike daarvan is egter dat die teiken van dié bytende spot juis dit is wat Christene in hul onwetendheid lank genoeg as wesenlik vir die Christelike geloof beskou het, en vir ’n deel nog steeds beskou, of dat hulle dit miskien nóú eers regtig beskou as iets wesenliks wat verdedig moet word.”

 

Miskien as ons daardie strooipop uit ons eie kop haal, sal die skille ook uit hulle s’n val? Dán kan ons gesels!

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Stry voort teen dié wat stemme stilmaak

Augustus 3, 2011 in Sonder kategorie

‘n Onlangse artikel van my in Rapport (2011/07/23):

 

Die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk is glo aangerand oor ’n artikel wat hy geskryf het.

Hoe beïnvloed die vermeende aanranding (en sommiges se goedpraat daarvan) ons verstaan van die artikel, en omgekeerd?

Dit is ’n belangrike vraag, want woorde is dade, soos die filosoof J.L. Austin illustreer in How to Do Things with Words, maar soos Jakobus ook reeds 2000 jaar vantevore betoog het in sy beskrywing van die tong as ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif”.

Maar ook omgekeerd: Dade is woorde; dit dra boodskappe oor. Dink maar aan die hys van ’n vlag of die omhelsing van ’n geliefde.

Wat sê die aanranding? Dit sê: “Ek hou nie van wat jy geskryf het nie.” (“Al het ek dit nie gelees nie.”) Dalk ook: “Ek is gatvol vir die alewige kritiek op Afrikaners.” (“Al weet ek nie of jy dit gelewer het nie.”) Bes moontlik: “Apartheid was in elk geval nie so sleg nie en ek wil my kaartjie na die Nuwe Suid-Afrika teruggee, dankie.”

Dit is hoe heelparty mense dink, maar baie min van hulle sê dit met vuiste, die omgooi van tafels of dreigemente. Laasgenoemde soort “taal” sê dus iets meer – ook iets meer radikaal – as wat reeds genoem is. Dit sê: “Ek verkies daad-woorde bo woord-dade, moorddadigheid bo woorddadigheid.” Wat hier spreek, is ’n verwerping van spraakvryheid, van die waarde van gesprek en argumentasie, in elk geval sover dit andersdenkendes betref.

Omdat woorde dade en dade woorde is, staan spraakvryheid nie teenoor handelingsvryheid nie, maar is dit ’n vorm daarvan. Voorstanders van die vrye woord wat reken mondwoorde is skadeloos, is naïef. Die 19de eeuse filosoof John Stewart Mill het dit beter verstaan toe hy in On Liberty spraakvryheid as deel van ’n breër libertynse ideaal gesien het; ’n ideaal wat daarvan uitgaan dat vrye mededinging tussen verskillende maniere van dink en leef gesond is omdat die “bestes” uiteindelik sal triomfeer. Van Wyk Louw had met sy “oop gesprek” iets soortgelyks in gedagte.

Minder idealistiese voorstanders van spraakvryheid (ook mediavryheid) sien dit eerder as ’n beskermingsmaatreël: As almal mag praat, skep dit hopelik ’n magsbalans. Die beste gedagtes sal nie triomfeer nie (ook nie die beste media nie), maar die slegste en gevaarlikste ook nie so maklik nie.

My siniese sielsgenote stem egter oor een ding met Mill saam: Mense moet kan doen wat hulle wil, solank hulle nie andere te nakom (injure) nie. Waaraan Mill tereg die spelreël toevoeg: Aanstoot (offence) gee, tel nie as te na kom (injury) nie.

Dit alles word met minagting deur aanranding en dreigemente verwerp.

Wat “doen” Van Niekerk se skrywe dan? Eerstens funksioneer dit as uitoefening, en daardeur versterking, van die vrye woord. Hiervoor is Van Niekerk bekend (anders as baie ander akademici wat die rol van openbare intellektueel systap).

Elkeen wat, soos Van Niekerk, aan lewendige openbare debatte deelneem, is in ’n sekere sin ’n heldhaftige vegter vir vryheid. Heldhaftig, want akademiese arbeid word gou (soos Van Niekerk nou weer ervaar het) ’n kontaksport. Die spreekwoordelike ivoortoring mag fraai wees, maar is nie (soos die goudpaleise van politici en sakereuse) teen fisieke aanvalle bestand nie.

Van Niekerk se kritici is in dié sin sy strydgenote. Dis soos twee rugbyspanne wat teen mekaar speel: Albei is ewe lief vir rugby. Daarom sou dit ’n groot fout wees om die kritici oor dieselfde kam te skeer as die vuisboelies. Die konflik tussen hierdie twee kampe is veel feller as dié tussen Van Niekerk en sy kritici. Laasgenoemdes moet, net soos Van Niekerk, vir hul vryheidstryd geloof word.

Nietemin ís daar natuurlik ’n stoeigeveg tussen Van Niekerk en sy woord-teenstanders.

Van Niekerk meen mense wat die heersende afwysende geskiedsblik op Suid-Afrika se grensoorloë alte veel kwalifiseer deur byvoorbeeld te argumenteer dat dié oorloë ’n Stalinistiese oorname in die weg gestaan het, kan soos apartheidsapologete oorkom en verswak sodoende ’n gepaste skuldgevoel by wit mense. Oor die feite in hul betoog verskil hy nie juis nie, maar hy reken ander belangrike feite word oor die hoof gesien en dit, voel hy, het ’n onwenslike uitwerking op rasseverhoudings.

Sy intelligenter teenstanders, soos Leopold Scholtz, Breyten Breytenbach en Charl-Pierre Naudé, kan geensins as vergoeilikers van apartheid beskryf word nie. Scholtz se historiese argumente wil beslis nie rassisme of onreg vergoeilik nie, maar eerder erkenning gee aan historiese kompleksiteit.

Breytenbach en Naudé se kritiek wil ook nie vir vergoeiliking in die bres tree nie (allesbehalwe!), maar stel eerder vrae oor Van Niekerk se woorde as dade: Die kontekstuele tydsberekening daarvan; die wyse waarop dit volgens hulle ’n diskoers versterk waarin huidige misstande alte maklik op sondes van die verlede geblameer word.

Deel van die konteks, reken sommiges, is plaasmoorde en rassistiese haatspraak (woord-dade wat regstreeks met fisieke geweldsdade verbind kan word). Is die gedagte van kollektiewe skuld nie ’n gevaarlike gedagte nie, soos die geskiedenis van anti-Semitisme met sy wortels in die idee van ’n Joodse “bloedskuld” so ontstellend demonstreer?

Sommiges beskou die skuldpraatjies weer as ’n moralistiese nat handdoek waarmee Van Niekerk andersdenkendes bydam. Van Niekerk sal dit natuurlik ten sterkste ontken.

Dis ’n belangrike debat! Een wat moet voortgaan. Almal wat vry van haat­spraak daaraan deelneem, stry in ’n sekere sin dieselfde goeie stryd: Die stryd teen geweldenaars wat die stemme wil stilmaak.

Aluta continua!

Lees ook Charles Malan se reaksie op my skrywe.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

?