Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Van Biko naar Tatane

Julie 15, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Tijdens een demonstratie tegen de gebrekkige openbare voorzieningen in het Vrystaatse dorp Ficksburg op 13 april, kwam door bruut politieoptreden de 33-jarige onderwijzer en activist Andries Tatane om het leven. Aanleiding voor Gerrit Brand om te betogen dat de Tweede Republiek zijn onschuld heeft verloren.

 

Brandpunte

Gerrit Brand

 

Ek verwys nie na Frankryk in die jare 1848 tot 1852 nie, maar na Suid-Afrika ná die einde van apartheid. Suid-Afrika (SA) se Eerste Republiek is in 1961 gebore toe die Grondwet van die Unie van SA, wat in 1910 onder die Britse kroon tot stand gekom het, met ’n nuwe Grondwet vervang is waardeur SA ’n volkome soewereine staat geword het.

 

Die SA Republiek was ’n wit republiek (net soos die Unie ’n wit staatkundige orde was), aangesien swart inwoners, wat die meerderheid uitgemaak het, geen burgerskap, en dus geen stemreg, geniet het nie. Teen hul sin moes hulle hul politieke regte in die sogenaamde swart ‘tuislande’, wat deur die SA regering as onafhanklike swart ‘republieke’ beskou is, uitoefen.

 

Nogtans was republiekwording ’n belangrike oomblik in die SA geskiedenis omdat dit die land se (weliswaar grootliks simboliese) ondergeskiktheid aan ’n buitelandse koloniale moondheid finaal beëindig het. In die nierassige, demokratiese Grondwet ná apartheid heet die land steeds die Republiek van SA. Al verwys baie Suid-Afrikaners nog na die Britse monarg as ‘die Koningin’, al is daar van hulle wat groot waarde aan ’n Britse koninklike titel heg, en al ontsnap hulle moeilik aan voormalig gekoloniseerdes se fassinasie met die doen en late van Britse koninklikes (opnuut geïllustreer deur die oneindige nuus- en skinderberigte oor die huwelik tussen prins William en Kate Middleton – of ‘Kate’, soos die SA media familiêr na haar verwys), sal geen Suid-Afrikaner meer die land se soewereiniteit wil prysgee nie.

 

Met die ontstaan van die Eerste Republiek was dit nie die geval nie. Die meeste Engelssprekende Suid-Afrikaners, heelparty Anglofiele Afrikaners en byna alle swart landgenote was toe teen republiekwording gekant – sommiges uit lojaliteit aan die Britse kroon, andere omdat hulle tereg gevrees het dat ’n soewereine SA staat nog hardkoppiger as voorheen aan die rassistiese apartheidbeleid sou vasklou. As SA op daardie stadium nie ’n republiek geword het nie, sou die land ná die einde van apartheid dalk nog steeds sy identiteit deur die Britse kroon laat medebepaal het – soos tot vandag toe in byvoorbeeld Australië die geval is.

  

Ontmaskering van korruptheid

 

Die Tweede Republiek ontleen sy ongekwalifiseerde soewereiniteit in sekere sin dus aan die Eerste Republiek. Daar is ook ooreenkomste tussen die twee: Net soos republiekwording in 1961 groot weerstand opgeroep het, is ook die geboorte van ’n nierassige demokrasie in die jare negentig deur baie (veral wit) Suid-Afrikaners teengestaan en uiteindelik teensinnig aanvaar; maar net soos alle Suid-Afrikaners hul land se republikeinse status mettertyd as vanselfsprekend aanvaar het, bepleit ook geen Suid-Afrikaner vandag meer ’n terugkeer na apartheid nie. Nog ’n ooreenkoms is dat die regerings van die twee republieke (daar was in die hele bestaan van die Eerste Republiek slegs een party aan bewind, net soos die Tweede Republiek tot dusver nog deur net een party regeer is) maklik hul mislukkings en tekortkomings aan hul voormalige onderdrukkers – die Britte en die wittes onderskeidelik – toegeskryf het.

 

Dan is daar die saak waarmee ek hierdie artikel begin het: die feit dat die Tweede Republiek, nes die Eerste Republiek, met die jare sy onskuld verloor het. Wanneer verloor ’n staatsbestel sy onskuld? Is dit wanneer die regering foute maak of verkeerde dinge doen? Nie noodwendig nie. Regeringslui is mense; volmaaktheid kan nie van hulle verwag word nie. Naïwiteit, kortsigtigheid, ideologiese blinde vlekke en ’n gebrek aan ervaring maak dit onvermydelik dat dinge verkeerd kan loop. Voeg daarby die versoekings van mag, en dis eintlik te verwagte dat ook immorele optrede, soos korrupsie, van tyd tot tyd sy opwagting sal maak. Met die verlies van onskuld bedoel ek nie die inherente feilbaarheid van regerings nie, maar iets meer ingrypends – iets wat moeilik presies gedefinieer kan word, maar wat tog op die een of ander manier vir almal duidelik is.

 

Laat ek dit probeer verduidelik aan die hand van Allan Boesak se boek Farewell to Innocence van 1976. Met daardie boek het Boesak, ’n invloedryke kerkleier en teoloog, en ’n leidende figuur in die stryd teen apartheid, op profetiese wyse ’n ingrypende oomblik – ’n mens sou, met apologie aan Fritjof Capra, van ’n beslissende “turning point” kan praat – gediagnoseer. Tot op daardie stadium sou sommige Suid-Afrikaners, veral dié wat deur die politieke bestel bevoordeel is, dalk nog kon glo dat alles tog nog kon uitwerk – dat die spanning tussen swart en wit dalk nog uitgestryk kon word sonder om grondig van apartheid afskeid te neem. ’n Oomblik het egter aangebreek dat niemand dít meer kon glo nie – selfs nie diegene wat voorgegee het, of hulself wou oortuig, dat hulle dit glo nie. Verskeie faktore het daartoe gelei: die brutale onderdrukking van swart politieke weerstand in die jare sestig; die hernieude uitbraak van opstand en woede jeens apartheid in die jare sewentig, wat as ’n jeugopstand in die swart township Soweto begin, en van daar landwyd uitgekring, het; die ekstreme owerheidsgeweld teen die jong opstandelinge, meestal kinders; die toenemende ondubbelsinnige internasionale veroordeling van apartheid; en ander faktore wat ’n keerpunt aangedui het. Simbolies hiervan – ’n dramatiese ontmaskering van die korruptheid en onverdedigbaarheid van die heersende orde – was die dood van Steve Biko. Hierdie jong leier in die sogenaamde Swartbewustheidsbeweging, wat die herwinning van swart selfrespek as noodsaaklik vir die oorwinning oor wit heerskappy beskou, en dit langs geweldlose weë bevorder, het, is in aanhouding deur polisie dood gemartel. Die publieke reaksie van die destydse minister van Justisie, Jimmy Kruger, het legendaries geword: “Dit laat my koud.”

  

Alledaagse brutaliteit

 

En nou is daar die dood van Andries Tatane, ’n onderwyser van die dorp Ficksburg wat tydens ’n plaaslike protesaksie teen swak openbare-dienslewering, deur polisie aangerand en doodgeskiet is – in die openbare oog, weens die televisiekameras wat teenwoordig was. Opstande teen swak dienslewering – dit wil sê gebrekkige elektrisiteit- en watervoorsiening, lae-gehalte-huisvesting, swak instandhouding van paaie en dergelike tekortkomings – het alledaags in SA geword. Hele township-gemeenskappe het al van die stembus weggebly om die regering hiervoor te straf – hoewel dié tendens nog nie so ver gegaan het dat ontstoke township-bewoners op groot skaal vir ’n opposisieparty begin stem het nie – behalwe in sogenaamde bruin townships.

 

 Die verwaarlooste gemeenskappe gaan reeds onder erge armoede, werkloosheid en geweldsmisdaad gebuk, en dít in ’n konteks van grootskaalse regeringskorrupsie. Polisiebrutaliteit en -magsmisbruik, wat nogmaals korrupsie insluit, het ook alledaags geword. Die dood van Tatane is dus, nes Biko se dood destyds, geen geïsoleerde wandaad wat betreur, strafregtelik hanteer, en daarna vergeet, kan word nie, maar simbolies van dieperliggende spanning en frustrasies wat die land teister. Hiervan getuig die massabywoning van Tatane se begrafenis en van die hofsaak teen sy vermeende moordenaars, gekenmerk deur plakkate met slagspreuke soos: “Andries Tatane: Your death shall not be in vain!”

 

Hoe reageer politici? Een ontken dat daar ’n waterprobleem in Ficksburg is (die saak waaroor die protesaksie waarby Tatane dood is, gegaan het) en illustreer dit deur die bottel Valpré-mineraalwater by hom aan die media te toon – ’n bietjie soos Marie Antoinette se berugte opmerking oor brood en koek, maar ook nie veel anders as Kruger se destydse “Dit laat my koud” nie. ’n Ander blameer apartheid: die toestand in die townships is naamlik daaraan te wyte. Meer rasioneel verbind nog andere dit aan gebrekkige opleiding van polisielede wat opstandige massas moet hanteer. Feit bly egter, daar ís opstandige massas; selfs die bes opgeleide polisiemag in die wêreld gaan dit nie verander nie.

 

Farewell to innocence

 

Die grondoorsaak van die onrus in die land, só reken baie kritici, is ’n ekonomiese stelsel wat armoede en werkloosheid laat toeneem eerder as afneem. Onlangs skryf die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, ’n permanente alliansievennoot van die regerende African National Congress (ANC), die probleem van armoede toe aan die feit dat die huidige regering ’n “apartheidsekonomie” geërf het. Daar steek baie waarheid in, maar dis ook waar dat vandag se neoliberale ekonomiese beleid ekstreem “regs” is in vergelyking met die ekonomiese beleid van die apartheidsjare, en dat korrupsie, wanbestuur en politieke aanstellings wat onbekwaamheid in die hand werk die pynlike apartheid-erfenis verder gevestig, eerder as teengewerk, het. Dit alles herinner inderdaad aan die Franse Tweede Republiek, wat in wese konserwatief was en onder meer weens sosialistiese weerstand nie kon stand hou nie.

 

Gebeure soos massa-aanvalle op immigrante en die populariteit van musikale haatspraak soos die ANC-jeugleier Julius Malema se gunsteling, “Skiet die Boer”, getuig van die grootskaalse frustrasie, maar niks ontmasker die ware stand van sake in die land soos die dood van Tatane nie. Ja, niemand in SA glo meer dat die land se probleme bolangs is, en met ’n paar kosmetiese beleidsverskuiwings reggestel kan word, nie. Farewell to innocence …

 

Dis teen hierdie agtergrond dat ek onlangs opnuut getref is deur die lirieke van Peter Gabriel se poptreffer getitel “Biko” oor die dood van Biko in September 1977:

  

   You can blow out a candle

   but you can’t blow out a fire.

   Once the flames begin to catch

   the wind will blow it higher.

   Oh Biko, Biko, because Biko,

   yihla Moja, yihla Moja*

   -the man is dead.

 

* Die Nguni-frase “Yihla Moja” kan in Afrikaans met óf “Kom, Gees”, óf “Kom, wind” vertaal word.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

?