Leer solank die woorde

Junie 28, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

“Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” begin die Heidelbergse Kategismus. Dink daaraan: dis ’n kategese-handleiding vir kinders. ’n Hedendaagse Sondagskool-boek sal nie maklik só praat nie. My enigste troos? Begin liewer met iets positiefs!

 

Vir wat wil ons dan getroos word? (Al gehoor hoe die man wat ’n paar weke gelede die wegraping verwag het se vriende hom ná die teleurstelling getroos het? “Toemaar, dis nie die einde van die wêreld nie.”) Ons dink nie graag aan onsself as troos-behoewend nie. Ons wil drome bewaarheid, ambisies realiseer, sukses behaal, ’n merk maak. Ja, ons struikel soms, “maar as jy val, dan moet jy gou weer opstand, uithou, aanhou, altyd voortgaan …” Wenners wil ons wees!

 

In ’n konsert vertel Leonard Cohen hoe hy in New York teen ’n man voor hom aanskuur en toe later die plakkaat op sy rug raaklees: “O please don’t pass me by, o please don’t pass me by, for I am blind, but you can see, yes, I’ve been blinded totaly, o please don’t pass me by.” Later sien Cohen op ’n straathoek “curious mutilations of the human vorm”: ’n skool vir gestremde kinders – kreupeles, mense op rystoele, mense met krukke. En dit sneeu. Dit voel vir hom asof die hele stad sing: “Please don’t pass me by …”

 

Hy sing nie net vir die blindes en kreupeles nie, maar ook “for the Jews and the Gypsies and the smoke that they made”. Gestremdes, gemutileerdes, slagoffers van gruweldade. Terwyl hy verder stap, dink hy: “it was them who were singing it … it was they who were singing it … it was the other who was singing it … it was someone else. But as I moved along I knew it was me …” Asof hy iets by daardie blinde man aangesteek het – soos in Jan Rabie se kortverhaal “Die man met die swaar been”.

 

Dat die “minder bevoorregtes” só ’n lied sing, is verstaanbaar vir Cohen se gehoor. Selfs wanneer hy bely “it was me”, weet hy dat hulle dit op ’n afstand hou, “sitting there deep in your velvet seats”. Hy lees hul gedagtes: “Uh, he’s up there saying something that he thinks about, but I’ll never have to sing that song.” Leer dit nogtans, sê Cohen: “I promise you friends, that you’re going to be singing this song … one day you’ll be on your knees and I want you to know the words when the time comes …”

 

“Wat is jou enigste troos?” Dis mos húlle vraag, die ander se vraag, iemand anders s’n. Dalk ’n vraag vir Protestante van die 16de eeu toe die Kategismus geskryf is; die lewe was toe swaarder. Dalk die armes, die siekes, die onderdruktes, die miljarde “Jews and Gypsies” van ons dag. Dis ’n vraag vir húlle, dié vraag oor ’n “enigste troos”. Dalk ’n vraag vir jou, dominee. Dalk sing die hele wêreld saam, maar nie ek nie. Ek sal húlle troos, en vir jóú, maar ék hoef nie getroos te word nie!

 

Cohen se lied is nie net vir gestremdes en slagoffers nie, maar ook: “I sing this for a saviour with no one to save …” Ons het mos nie ’n verlosser, ’n trooster, nodig nie. Óns hoef nie te sing “O please, don’t pass me by …” of “waarom het U my verlaat?” nie.

 

Toemaar, sê die Kategismus, julle hoef nie te verstaan nie, maar leer solank die woorde: Wat is jou enigste troos? “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.”

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

10 antwoorde op Leer solank die woorde

  1. Stefaansie het gesê op Junie 28, 2011

    Laat ‘n mens dink, voorwaar !

  2. O ja! ek het roos noig. Dag vior dag vir dag! Eb HY gee dit!

  3. nie ROOS nie, TROOS =- maar rose sal ook help! Ek het vandag albei ontvang. En my hart sing ‘n danklied

  4. dinkweer het gesê op Junie 30, 2011

    So in my omgang met mense, het al ontdek dat eksistensiële krisisse nie vra hoe oud jy is nie. Ek gesels met een met wie dit nie goed gaan nie. Gelukkig het haar dominee die Heidelbergse Kategismus nog deeglik met hulle behandel. Terwyl ek soek na iets om vir haar te sê, haal sy hierdie woorde uit die HK aan. So effe verbaas vra ek of sy dit dan so goed onthou? “Ja”, sê sy. “Ek hou die HK in my Bybel en lees dit gereeld.”

  5. Stefaan het gesê op Julie 12, 2011

    “O please, don`t pass me by…” is sekerlik maar `n ander weergawe van die tollenaar se gebed nml ” wees my arme sondaar genadig”. In die bergrede leer Jesus dat die koninkryk van die hemel aan diegene behoort wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Troos is juis die geborgenheid van weet dat ek dit nie maak sonder Christus nie. Troos dat die Here my nooit aan myself sal oorlaat nie, want ek behoort nie aan myself nie maar aan Hom. My dogterjie kom op `n dag huil huil by die huis aan met `n voetjie wat gebrand het teen `n warm plaat. Ek sê toe vir haar dat pa nie kan help dat sy seerkry nie maar dat pa altyd daar sal wees om haar te troos. Daar breek tussen die trane `n glimalaggie deur, en toe weet ek die troos het meer geword as die seer. So verduidelik die Here nie altyd aan ons waarom seer dinge met ons gebeur nie (soms deur ons eie toedoen), maar Hy verseker ons dat Hy ons altyd sal troos as ons met ons pyn na Hom toe sal gaan.

  6. Stefaan het gesê op Julie 15, 2011

    Schopenhauer, as die Bybel vir jou maar net nog `n historiese roman is, kan ek verstaan dat jy redeneer soos jy doen. Jy is dan ook tegnies korrek. Die Bybel is egter vir baie intellektuele mense die Woord van die lewende God en nie maar net die woorde van mense oor God nie. Daarom kyk ons anders daarna, vanuit `n geloofsdimensie.

  7. Schopenhauer, gelukkig hoef jy nie my blog te lees nie.

  8. Stefaan het gesê op Julie 15, 2011

    Schopenhauer, ek verstaan waarom jy die Bybel as `n vrot historiese roman kan beskou. “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (1 Kor 2:14)”. Vir my is die Bybel die Woorde van die ewige Lewe. Dis `n belydenis wat my lewe verander het.

  9. Schoperhauer, wie’t nou weer gese “As ek die woord ‘kultuur’ hoor, gryp ek na my pistool”? Jy klink nogal soos hy. Baie “intellektueel” (wat ‘n pretensieuse woord).

  10. Dis nie as ‘n ‘intellektuele’ comeback bedoel nie, maar as ‘n reaksie op jou kinderagtige opmerking (waarop jy uiteraard geregtig is). Dis soos wanneer iemand oor “vieslike goed op televisie” kla en dan daaraan herinner moet word dat hy nie hoef te kyk nie. Terloops, daar is min dinge so pateties soos iemand wat homself as ‘intellektueel’ beskou en dan die heeltyd almal en alles wat hy teekom as ‘intellektueel’ of ‘onintellektueel’ klassifiseer – soos in ‘cool’ en ‘uncool’, of ‘myne is groter as joune’. Jy verwag tog nie iemand moet ernstig opneem nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.