Die Gees is glad nie so geestelik nie

Junie 18, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

“The shade of a fabulous ghost / That we try to embrace in vain.” Só dig Jonas Ntsiko (1860-1915), ’n Christen-evangelis en -onderwyser wat onder andere as die skrywer van tientalle Xhosa-gesange onthou word. Hy skryf dit op ’n tydstip dat hy toenemend gedisillusioneer raak met die Christelike geloof. Dié geloof, so het hy begin insien, is alte nou met Britse imperiale belange verstrengel en maak geen verskil aan die “cares and fortunes of my kin” nie. Kan dit as ’n bevestiging van Ntsiko se agterdog geld dat die Christelike koerant Isigidimi SamaXhosa, waarvoor hy gereeld geskryf het, toe nie meer sy artikels wou plaas nie omdat dit “te anti-Brits” was?

 

En is dit nie hoe ons steeds oor die Heilige Gees dink nie: ’n fabelagtige, ongrypbare spook? Wat doen ons anders wanneer “geestelike” sake vir ons belangriker as “wêreldse” dinge is, “geestelike” musiek meer aanvaarbaar as die gewone soort, die “gees” waardevoller as die liggaam? Verklaar dit dalk hoekom soveel Christene op die voortbestaan van hul “onsterflike gees”, in plaas van op die “opstanding van die vlees”, hoop? Wat het só ’n gees met die sorge en lotgevalle waarna Ntsiko verwys te doen? Geen wêreldse mag hoef iets van dié gees te vrees nie.

 

Hierdie spookagtige verstaan van die Gees het meer met Plato en Hegel as met die Bybel te doen. Wat ons met “Gees”, “Geist”, “Ghost” of “Spirit” vertaal, heet in die Bybel roeag (Hebreeus) of pneuma (Grieks): wind, asem, vitaliteit of lewenskrag. Die “Gees van God” wat in Genesis 1:2 “oor die waters gesweef” het, kan ewegoed as “wind van God” of “kragtige wind” vertaal word. Dit gaan oor ’n lewende krag wat die dreigende “waters” van chaos tot orde roep! Wanneer Jesus sê “die wind waai waar hy wil” (Joh. 3:8), is dit die Gees waarvan Hy praat. En wanneer, in Handelinge 2:1-2, die Gees uitgestort word, is dit “met ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind”, wat vuurtonge op mense laat neerdaal en hulle veeltalig maak. Die Gees bring dinge in beweging – tasbaar, voelbaar, hoorbaar.

 

G’n wonder nie dat, wanneer Jesus “vol van die Heilige Gees” is (Luk. 4:1), Hy ’n bedreiging vir die bestaande orde inhou en uit die weg geruim moet word – tevergeefs, want dieselfde Gees wek Hom weer op!

 

Van opstanding gepraat: Dit is te hope dat, in die nuwe Bybelvertaling-in-wording, die frase “geestelike liggaam” nie meer aan Paulus toegedig sal word waar hy dit oor die opstandingsliggaam het nie (1 Kor. 15:44). Dikwels word gesê dat dit hier om ’n paradoks gaan, asof “geestelik” en “liggaamlik” teenoorgesteldes is. Ons kyk egter mis dat die kontras in hierdie vers een van ’n hele reeks kontraste is: verganklik teenoor onverganklik (42), gering teenoor verheerlik, swak teenoor kragtig (43). Nêrens word die tasbare met die ontasbare gekontrasteer nie. In plaas van ’n spookagtige “geestelike liggaam” kan ons eerder van ’n “Geesvervulde”, “lewenskragtige” of “vitale” liggaam praat.

 

Wat die ander kontrasterm betref, is die 1933- en ’83-vertaling se “natuurlike liggaam” darem veel beter as die International Standard Version se “physical body”. Die Griekse term psugikon wat daar gebruik word, beteken nie “fisies” nie, maar lê aan die oorsprong van ons woord “psigies” (sielkundig). Juis hierdie sielerige liggaam is “verganklik”, “gering” en “swak” – of dan “sielig”, soos die Nederlanders iets jammerliks of pateties noem …

 

Ntsiko is reg: ’n “geestelike” gees is waardeloos vir mense wat om hulp ten hemele roep, maar waar die troostende, oproerige Gees van God neerdaal, hoor mens “’n geluit uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind” wat mense “ander tale” laat praat. Soos Ntsiko se protes-taal?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

3 antwoorde op Die Gees is glad nie so geestelik nie

  1. lora2me het gesê op Junie 18, 2011

    Ek dink jy is reg. Dis die metaforiese “gees” wat verkeerd verstaan word. Ek sien dit as ‘n gewaarwording wat plaasvind wanneer ‘n mens uiteindelik besef dat jy iets meer as net ‘n blote sekulêre skepsel kan wees. In elk geval, ek sê altyd: ek weet wat ek weet en ek glo wat ek glo, want ek het dit ook vir myself uitgeklaar sonder blomtaal en slim interpretasies. Interessante inskrywing.

  2. Klink soos daai Paul Simon-liedjie: “Ek know what I know …”!

  3. lora2me het gesê op Junie 20, 2011

    Amper so iets …;D

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.