Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

Leer solank die woorde

Junie 28, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

“Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” begin die Heidelbergse Kategismus. Dink daaraan: dis ’n kategese-handleiding vir kinders. ’n Hedendaagse Sondagskool-boek sal nie maklik só praat nie. My enigste troos? Begin liewer met iets positiefs!

 

Vir wat wil ons dan getroos word? (Al gehoor hoe die man wat ’n paar weke gelede die wegraping verwag het se vriende hom ná die teleurstelling getroos het? “Toemaar, dis nie die einde van die wêreld nie.”) Ons dink nie graag aan onsself as troos-behoewend nie. Ons wil drome bewaarheid, ambisies realiseer, sukses behaal, ’n merk maak. Ja, ons struikel soms, “maar as jy val, dan moet jy gou weer opstand, uithou, aanhou, altyd voortgaan …” Wenners wil ons wees!

 

In ’n konsert vertel Leonard Cohen hoe hy in New York teen ’n man voor hom aanskuur en toe later die plakkaat op sy rug raaklees: “O please don’t pass me by, o please don’t pass me by, for I am blind, but you can see, yes, I’ve been blinded totaly, o please don’t pass me by.” Later sien Cohen op ’n straathoek “curious mutilations of the human vorm”: ’n skool vir gestremde kinders – kreupeles, mense op rystoele, mense met krukke. En dit sneeu. Dit voel vir hom asof die hele stad sing: “Please don’t pass me by …”

 

Hy sing nie net vir die blindes en kreupeles nie, maar ook “for the Jews and the Gypsies and the smoke that they made”. Gestremdes, gemutileerdes, slagoffers van gruweldade. Terwyl hy verder stap, dink hy: “it was them who were singing it … it was they who were singing it … it was the other who was singing it … it was someone else. But as I moved along I knew it was me …” Asof hy iets by daardie blinde man aangesteek het – soos in Jan Rabie se kortverhaal “Die man met die swaar been”.

 

Dat die “minder bevoorregtes” só ’n lied sing, is verstaanbaar vir Cohen se gehoor. Selfs wanneer hy bely “it was me”, weet hy dat hulle dit op ’n afstand hou, “sitting there deep in your velvet seats”. Hy lees hul gedagtes: “Uh, he’s up there saying something that he thinks about, but I’ll never have to sing that song.” Leer dit nogtans, sê Cohen: “I promise you friends, that you’re going to be singing this song … one day you’ll be on your knees and I want you to know the words when the time comes …”

 

“Wat is jou enigste troos?” Dis mos húlle vraag, die ander se vraag, iemand anders s’n. Dalk ’n vraag vir Protestante van die 16de eeu toe die Kategismus geskryf is; die lewe was toe swaarder. Dalk die armes, die siekes, die onderdruktes, die miljarde “Jews and Gypsies” van ons dag. Dis ’n vraag vir húlle, dié vraag oor ’n “enigste troos”. Dalk ’n vraag vir jou, dominee. Dalk sing die hele wêreld saam, maar nie ek nie. Ek sal húlle troos, en vir jóú, maar ék hoef nie getroos te word nie!

 

Cohen se lied is nie net vir gestremdes en slagoffers nie, maar ook: “I sing this for a saviour with no one to save …” Ons het mos nie ’n verlosser, ’n trooster, nodig nie. Óns hoef nie te sing “O please, don’t pass me by …” of “waarom het U my verlaat?” nie.

 

Toemaar, sê die Kategismus, julle hoef nie te verstaan nie, maar leer solank die woorde: Wat is jou enigste troos? “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.”

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Die Gees is glad nie so geestelik nie

Junie 18, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

“The shade of a fabulous ghost / That we try to embrace in vain.” Só dig Jonas Ntsiko (1860-1915), ’n Christen-evangelis en -onderwyser wat onder andere as die skrywer van tientalle Xhosa-gesange onthou word. Hy skryf dit op ’n tydstip dat hy toenemend gedisillusioneer raak met die Christelike geloof. Dié geloof, so het hy begin insien, is alte nou met Britse imperiale belange verstrengel en maak geen verskil aan die “cares and fortunes of my kin” nie. Kan dit as ’n bevestiging van Ntsiko se agterdog geld dat die Christelike koerant Isigidimi SamaXhosa, waarvoor hy gereeld geskryf het, toe nie meer sy artikels wou plaas nie omdat dit “te anti-Brits” was?

 

En is dit nie hoe ons steeds oor die Heilige Gees dink nie: ’n fabelagtige, ongrypbare spook? Wat doen ons anders wanneer “geestelike” sake vir ons belangriker as “wêreldse” dinge is, “geestelike” musiek meer aanvaarbaar as die gewone soort, die “gees” waardevoller as die liggaam? Verklaar dit dalk hoekom soveel Christene op die voortbestaan van hul “onsterflike gees”, in plaas van op die “opstanding van die vlees”, hoop? Wat het só ’n gees met die sorge en lotgevalle waarna Ntsiko verwys te doen? Geen wêreldse mag hoef iets van dié gees te vrees nie.

 

Hierdie spookagtige verstaan van die Gees het meer met Plato en Hegel as met die Bybel te doen. Wat ons met “Gees”, “Geist”, “Ghost” of “Spirit” vertaal, heet in die Bybel roeag (Hebreeus) of pneuma (Grieks): wind, asem, vitaliteit of lewenskrag. Die “Gees van God” wat in Genesis 1:2 “oor die waters gesweef” het, kan ewegoed as “wind van God” of “kragtige wind” vertaal word. Dit gaan oor ’n lewende krag wat die dreigende “waters” van chaos tot orde roep! Wanneer Jesus sê “die wind waai waar hy wil” (Joh. 3:8), is dit die Gees waarvan Hy praat. En wanneer, in Handelinge 2:1-2, die Gees uitgestort word, is dit “met ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind”, wat vuurtonge op mense laat neerdaal en hulle veeltalig maak. Die Gees bring dinge in beweging – tasbaar, voelbaar, hoorbaar.

 

G’n wonder nie dat, wanneer Jesus “vol van die Heilige Gees” is (Luk. 4:1), Hy ’n bedreiging vir die bestaande orde inhou en uit die weg geruim moet word – tevergeefs, want dieselfde Gees wek Hom weer op!

 

Van opstanding gepraat: Dit is te hope dat, in die nuwe Bybelvertaling-in-wording, die frase “geestelike liggaam” nie meer aan Paulus toegedig sal word waar hy dit oor die opstandingsliggaam het nie (1 Kor. 15:44). Dikwels word gesê dat dit hier om ’n paradoks gaan, asof “geestelik” en “liggaamlik” teenoorgesteldes is. Ons kyk egter mis dat die kontras in hierdie vers een van ’n hele reeks kontraste is: verganklik teenoor onverganklik (42), gering teenoor verheerlik, swak teenoor kragtig (43). Nêrens word die tasbare met die ontasbare gekontrasteer nie. In plaas van ’n spookagtige “geestelike liggaam” kan ons eerder van ’n “Geesvervulde”, “lewenskragtige” of “vitale” liggaam praat.

 

Wat die ander kontrasterm betref, is die 1933- en ’83-vertaling se “natuurlike liggaam” darem veel beter as die International Standard Version se “physical body”. Die Griekse term psugikon wat daar gebruik word, beteken nie “fisies” nie, maar lê aan die oorsprong van ons woord “psigies” (sielkundig). Juis hierdie sielerige liggaam is “verganklik”, “gering” en “swak” – of dan “sielig”, soos die Nederlanders iets jammerliks of pateties noem …

 

Ntsiko is reg: ’n “geestelike” gees is waardeloos vir mense wat om hulp ten hemele roep, maar waar die troostende, oproerige Gees van God neerdaal, hoor mens “’n geluit uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind” wat mense “ander tale” laat praat. Soos Ntsiko se protes-taal?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Om dooptaal te kan praat moet dit geleer word

Junie 3, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

  

“Dís tog nie waaroor dit gaan nie,” sê ‘n vriendin oor die Wes- en Suid-Kaapse sinode se besinning oor sommige lidmate se wens om herdoop te word. Is dit nie haarklowery nie? Sy voeg by: “Jy kan mos nie mense tot die hel verdoem omdat hulle weer gedoop is nie?”

 

Die gesprek oor herdoop gaan egter nie oor wie hemel of hel toe gaan nie. Dié punt is ook destyds in die sinode van die NG Sendingkerk waar die Belydenis van Belhar die eerste keer aanvaar is, gemaak, en op die onlangse NG sinode herdenk: Om te sê dat ‘n teologie van rasse-eksklusiwiteit ‘n dwaalleer is, het betrekking op die inhoud daarvan en nie op die ewige lot van individue nie. Dieselfde geld ons belydenisskrifte se uitlatings oor die doop, wat nou in die spervuur is. Selfs kerklike tug behels nie verdoeming nie, maar verantwoordelikheid vir mekaar.

 

Waaroor gaan die debat dan? Maak dit saak wanneer of hoe dikwels iemand gedoop word??Kom ons vra eers iets anders: Was die gestoei oor of die eerste Christene uit die heidendom besny moes word belangrik? Vir Paulus was dit! Hy het dit selfs met die hart van die evangelie verbind. Hoekom?

 

Paulus het verstaan wat veral moderne mense maklik miskyk: dat simbole iets sê, en dat wat dit sê, afhang van die omstandighede waarin dit gesê word. J.L. Austin se ontdekking, in sy boek How to Do Things with Words, dat praat ook doen is, moet aangevul word met die insig dat doen ook praat is: “how to say things with deeds.”?As die kerk dit belangrik vind om die evangelie suiwer te verkondig, móét ons dus ook omgee oor wat met die sakramente as daad-woorde gesê word.

 

‘n Aandrang op die besnydenis het in die vroeë kerk “gesê”: Christus se genade is nie voldoende nie; ek wil dit met ‘n menslike daad aanvul. Daarom is Paulus, wat self besny is, so skerp daaroor.?Sê ek iets anders wanneer ek, wat reeds as kind gedoop is, dit belangrik vind om weer gedoop te word? Is dit nie omdat ek die gevoel wil hê dat ek selfs ook iets tot my heil bygedra het nie? Impliseer dit nie dat God se genade onvoldoende is nie?

 

Ons vind dit nou maar eenmaal moeilik om te glo dat, “voordat ek kon kies, kon vra”, God my reeds as kind aangeneem het. Maar wat kan meer vertroostend en bevrydend wees as om dit te léér glo? Ek dink die kerk moet duideliker sê dat gelowiges wat reeds gedoop is hulle nie behoort te laat herdoop nie, omdat dít ‘n praktyk is wat op die lang duur die geloofsgemeenskap van die genade-evangelie kan beroof.

 

Veroordeel ons dan daardie kerke, soos die Baptistekerk, waarin slegs die volwasse doop gepraktiseer word? Nie noodwendig nie, want die betekenis wat herdoop in ‘n NG konteks kry, gesien die bestaande praktyk van die verbondsdoop, is nie noodwendig die betekenis wat dit in ‘n ander konteks het nie.

 

“Maar wat as ek nie my tweede doop bedóél as ’n poging om iets aan God se genade toe te voeg nie?” hoor ek iemand vra. Die antwoord is: omdat dit nie oor mý gaan nie, maar oor óns as geloofsgemeenskap. Die betekenis van ’n simbool soos die doop word nie bepaal deur wat die betrokke individu daarmee bedoel nie, maar deur hoe dit die gemeenskap se geloofsgrammatika help vorm.

Daar is ‘n verwante vraag: Wat gaan aan met ons kategese dat volwasse lidmate, selfs ampsdraers, na afloop daarvan nog nie die diep aangrypende verstaan van die doop in ons belydenisskrifte verstaan, of dalk selfs daarvan weet, nie?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.