Voorspelbaar en onvoorstelbaar

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My Kerkbode-rubriek wat in die Paastyd verskyn het:

Hoekom het Jesus gesterf?

Omdat die gesagsdraers van toe – die keiser se verteenwoordiger in Jerusalem en die elite onder die plaaslike bevolking – hom uit die weg wou ruim. En omdat sy ondersteuners onder die gewone volk, wat dit eers vir die elite moeilik gemaak het om teen Hom op te tree, later teen Hom gedraai, en Hom sodoende aan sy lot oorgelaat, het.

Hoekom moes hy uit die weg geruim word?

Omdat hy oënskynlike heiligskennis gepleeg, die winsgewende tempeldiens ontwrig, die gesag van genoemde elites uitgedaag, gevaarlike eindtydverwagtings onder die volk aangevuur, en die goeie orde versteur, het. Maghebbers verkies rus en vrede en dat hulle gerespekteer word.

Hoekom het die volk teen hom gedraai?

Oor hul teleurstelling met dié sogenaamde “messias”. Anders as wat gehoop is, het dit geblyk dat Hy meer lam as leeu is. Hy wou nie ’n belastingboikot afkondig, tot koning gekroon word, of die wapen teen die onderdrukker opneem, nie; en het hom sonder enige weerstand deur sy vyande gevange laat neem. Opstandige menigtes soek ’n sterk leier, nie ’n swakkeling nie. Laat die grootkoppe dan met Hom maak wat hulle wil. Dit sal ten minste vermaak verskaf, soos in die Romeinse arena.

Wat het Jesus dan gedoen wat die magtiges so verontrus, en sulke hoë verwagtings by die volk geskep, het?

Hy het met apokaliptiese ywer die nabye koms van die “dag van die Here”, “die koninkryk van God”, aangekondig: die opwekking van die dooies, die oordeel oor die goddeloses deur ’n “Seun van die Mens” en die verheerliking van God se seun Israel. Hy het beweer dis “op hande”, “hier by julle”, en dat van sy toehoorders dit self sou aanskou. Boonop het Hy dié gebeure met Homself en sy missie verbind, byvoorbeeld deur Homself Seun van die Mens te noem. Hy het mense se sondes vergewe, asof Hy God self is; die Skrif baie vry uitgelê asof Hý kan besluit wat dit beteken; en die wonderwerke wat aan Hom toegeskryf is as tekens van die aanbrekende koninkryk beskryf.

Hoewel Hy ’n vroom Israeliet was wat uit die Tora geleef het, het Hy ’n skerp tong gehad wat Hy veral op die vroomstes onder die vromes, die wakers oor die godsdienstige establishment, gerig het. Tog het hy sondaars en onreines, selfs nie-Jode, sy vriende genoem en maaltye met hulle gedeel. Kortom: Hy het die bestaande orde fundamenteel bevraagteken, sonder huiwering teengegaan en radikaal uitgedaag. Is dit dan ’n wonder dat hy vyande onder invloedryke mense gemaak het? Verbaas dit dat die hooggespanne verwagtings wat sy optrede by die “kleinstes” en “armes” gewek het uiteindelik op teleurstelling móés afloop?

Ook vóór Jesus, en ná sy dood, het talle “messiasse” die volk se verwagtings opgejaag en die wrewel van die owerhede gewek. Dit is elke keer gewelddadig tot ’n einde gebring, meestal met die “messias” wat op die wreedste denkbare manier in die openbaar aan ’n kruis moes sterf om as voorbeeld en waarskuwing vir ander potensiële oproeriges te dien. Die betrokke “messias” is dan ook deur die massas bespot en sy volgelinge het uitmekaar gespat in die verwoestende besef dat dit toe tog nie hy was wat sou kom nie.

Dat die Jesusbeweging ook só sou eindig – dat sy gekose weg ’n kruisweg sou wees – was voorspelbaar. Albert Schweitzer skryf: “In die oortuiging dat Hy die Seun van die Mens is, neem Hy die wiel van die wêreld in sy hande … om die gewone geskiedenis tot ’n einde te bring. Dit wil nie draai nie en Hy werp hom daarop. Dan draai dit. En vermorsel Hom.”

En nou vertel hulle Hy is opgewek. Onvoorstelbaar!

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

3 antwoorde op Voorspelbaar en onvoorstelbaar

  1. annemiebosch het gesê op Mei 27, 2011

    ‘n stuk wat van diep insig en ware begrip van waarop dit werklik aankom, spreek! Dankie! Maar verstaan ek werklik? En wat doen ek daaromtrent? Jesus – en sy volgelinge het inderdaad die bestaande orde op sy kop gedraai. Wat doen ons?

  2. gerritbrand het gesê op Mei 28, 2011

    Ek dink ons moet minder daarop gerig wees om die wereld op sy kop te probeer keer, en meer net probeer leef asof ons regtig glo dis reeds op sy kop gekeer. Om so te leef sal die wereld dan op sy kop keer …

  3. annemiebosch het gesê op Mei 29, 2011

    Inderdaad! Wyse woorde. Kom ons probeer so leef! Dit sal natuurlik makliker wees as ons nie net “maak asof” dit reeds gebeur het nie, maar werklik GLO dat dit ‘n voldonge feit is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.