Ons obsessie oor die koninklikes is mos gek

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

‘n Onlangse rubriek van my in Die Burger:

 

Weet sy in watter familie sy introu? vra Robert Brand op Facebook oor ene Catherine Middleton se (toe nog voorgenome) huwelik met die soldaat William Louis. En van Suid-Afrikaners se fassinasie met die doen en late van Britse koninklikes bied Johannes de Villiers, ook op Facebook, die Stockholmsindroom as verklaring aan.

 

Laasgenoemde verwys na die verskynsel dat gyselaars simpatie met hul gevangenemers ontwikkel en sterk met hulle identifiseer. De Villiers het gelyk. Hoekom anders sou burgers van ’n Afrikaland wat al in 1961 onafhanklik geword het so intens met hul voormalige koloniseerder meeleef?

 

In SA noem ons die tradisionele Zoeloe-monarg “koning Goodwill Zwelethini”, maar sy Britse ampsgenoot is sommer “die Koningin”. En die familiariteit! Dis “Kate” links en “Kate” regs asof die hertogin van Cambridge ons persoonlike vriendin is.

 

Een omroeper by ’n SA geselsradiostasie pik tydens die lewende uitsending ’n traan weg: “I know Diana would have loved this”. Soos wanneer ons sê: “Dink net hoe lekker sou ou Piet daardie grap geniet het!” Of dalk eerder soos: “Toe ek gister by die Ruperts geëet het …”?

 

Ek onthou verhale van my ma oor die jare voor republiekwording toe “God Save the Queen” by elke bioskoopvertoning gespeel, en van die teenwoordiges verwag, is om dan op te staan. My ouers se generasie Afrikaners – ten minste dié van hulle met ’n bietjie selfrespek – het dan baie pertinent bly sit!

 

Reeds in die 1920’s (so skryf Jan-Jan Joubert ’n keer in Die Burger) het die destydse Pakt-regering, ’n koalisie tussen Afrikanernasionaliste en sosialiste, voor die koningin van Brittanje se besoek aan ons land versoek dat geen titels deur haar aan Suid-Afrikaners toegeken word nie – op dié punt het nasionaliste se weersin in imperialisme en linkses se afsku in klassisme mekaar ontmoet.

 

Dis ook nie net ’n “wit ding” nie. Saam met die Boere-vroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het tienduisende swart Suid-Afrikaners ook gesterf, om van die Britte se moorddadige oorloë teen onder meer die Xhosas en Zoeloes nie eens te praat nie. Rassewetgewing om swartes van eiendomsreg in “blank SA” te ontneem, is eerste deur Cecile John Rhodes as premier van die Kaapkolonie ingestel, en ná die Anglo-Boereoorlog het Boer en Brit saam besluit om in die Unie van SA geen stemreg aan swartes te gee nie. Selfs meer as Afrikaners het swartes dus rede om nié met Britse sentimente te identifiseer nie.

 

Dit gaan dieper: watter soort mentaliteit is dit om spesiale ontsag en liefde aan enige koninklikes, hetsy dié van jou koloniseerder of van jou eie volk, te hê? Alle koninklikheid is per definisie elitêr, ondemokraties en die produk van magsvergrype in die verlede. Gestel ek en my vriende sit om die braaivleisvuur en ek stel voor: “Hoekom word ek nie julle almal se baas en vat ’n klomp van julle geld en besittings vir my nie? Julle kan dan altyd voor my neerbuig wanneer julle my sien, en ek hoef vir die res van my lewe nie ’n steek werk te doen nie.” Iets sê vir my ek sal hulle nie sonder geweld kan oorreed nie!

 

Op Speakers’ Corner in Londen het ek eenkeer ’n toespraak van ’n boemelaar gehoor waarin hy vir die wettiging van diefstal pleit – op grond van die feit dat die hele Britse samelewing op diefstal berus. ’n Stem van redelikheid! Of is die koningshuise van Europa se uitspattige rykdom aan hul harde werk en entrepreneurskap te danke?

 

Het ek dan iets teen “Kate” en “William”? Wel, hulle sou van hul titels kan afstand doen … Maar nee, ’n mens kan jou familie nie kies nie; ek gun hulle alle lewensvreugde. Maar hoekom moet hulle troue ’n event in óns lewe wees? Hoekom nie eerder ons eie verkose staatshoof, Jacob Zuma, se volgende troue lewend op televisie uitsaai en weke lank as ons eie familiefees vier nie? Hoekom het selfs die internasionale-ikoon-om-’n-rede Nelson Mandela se troue met Grace Machel nie naastenby die aandag getrek van twee Britse rykmanskinders s’n nie?

 

’n Vraag aan alle sielkundiges: Hoe behandel ’n mens die Stockholmsindroom?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op Ons obsessie oor die koninklikes is mos gek

  1. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Modderkoekie, ek het nie die huidige koningin of haar seuntjie persoonlik beledig of selfs kritiek op hul gedrag uitgespreek nie. Ek skryf oor die monargie as simbool van ‘n staat, en die vreemde verskynsel dat burgers van ‘n ander staat, wat ‘n republiek is, dan so sterk met die buitelandse monargie identifiseer – terwyl dit toevallig die monargie, en dus die simbool, is van ‘n moontheid waaronder die betrokke republiek in die geskiedenis al baie gely het. Ek is bly jy koester geen wrok oor die verlede jeens die Britte nie. Ek ook nie. Maar om van daar na verering van hul koninklikers te spring, lyk vir my ‘n bietjie ‘n groot sprong.

    Ek is ook teen monargiee in die algemeen. Dis ‘n onding. Ek weet hulle is belangrik vir sekere state. Dis juis waarteen ek is. Maar weer eens: dit gaan nie oor tannie Elisabeth of haar seuntjies nie. Dit skryf ek selfs eksplisiet in die stuk.

  2. gerritbrand het gesê op Junie 1, 2011

    PIET LE ROUX SKRYF:

    Ek het jou rubriek oor die Britse troonsitters geniet – maar moes tot my verbasing sien hoeveel mense hul verafgoding in die kommentaarafdeling voortsit. Ek dink jy sal Ettienne de la Boetie (1530 – 1563) se “The Politics of Obedience: The Discourse of Voluntary Servitude” geniet.

    “Poor, wretched, and stupid peoples, nations determined on your own misfortune and blind to your own good! You let yourselves be deprived before your own eyes of the best part of your revenues; your fields are plundered, your homes robbed, your family heirlooms taken away. You live in such a way that you cannot claim a single thing as your own; and it would seem that you consider yourselves lucky to be loaned your property, your families, and your very lives.

    “All this havoc, this misfortune, this ruin, descends upon you not from alien foes, but from the one enemy whom you yourselves render as powerful as he is, for whom you go bravely to war, for whose greatness you do not refuse to offer your own bodies unto death. He who thus domineers over you has only two eyes, only two hands, only one body, no more than is possessed by the least man among the infinite numbers dwelling in your cities; he has indeed nothing more than the power that you confer upon him to destroy you.”

    En verder…

    “Roman tyrants invented a further refinement. They often provided the city wards with feasts to cajole the rabble, always more readily tempted by the pleasure of eating than by anything else. The most intelligent and understanding amongst them would not have quit his soup bowl to recover the liberty of the Republic of Plato. Tyrants would distribute largess, a bushel of wheat, a gallon of wine, and a sesterce: and then everybody would shamelessly cry, “Long live the King!” The fools did not realize that they were merely recovering a portion of their own property and that their ruler could not have given them what they were receiving without having first taken it from them.”

Los ’n antwoord vir gerritbrand. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.