Bin Laden: Die wolf is nie werklik dood nie

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

 

“Die wolf is dood! Die wolf is dood! Hiep, hiep, hoera, die wolf is dood!” Iets soos hierdie triomfantelike slot van “Die wolf en die sewe bokkies” het ná die moord op Osama bin Laden in die strate van New York en elders in die Verenigde State weerklink.

 

Die laaste keer dat ek so iets beleef het, was toe ek in 1998 in Nederland was tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Frankryk, toe Nederland teen Duitsland gelykopgespeel het. Ja, selfs ’n gelykopuitslag was voldoende om die oranje massas tot laatnag te laat feesvier. Gedagtig aan die Tweede Wêreldoorlog is daar vir Nederlanders niks belangriker op sokkergebied as om die Duitsers te laat les opsê nie.

 

Is dit ’n smaaklose vergelyking? Inderdaad! Wat in en om Afganistan gebeur, is geen spel soos sokker nie, maar oorlog. “Looks at the score board” is slegs van toepassing as daarmee die tel van dooie en verminkte lywe en geknakte siele bedoel word, en die wenners is nie dié wat die meeste skade aanrig nie. In oorlog en terrorisme (is daar deesdae nog ’n verskil tussen die twee?) is daar, soos die cliché lui, net verloorders.

 

Die dood van Bin Laden is ook geen sprokie nie. In sprokies word nie moeilike vrae oor kollektiewe verantwoordelik gestel nie. Wie het nou weer uit vrees die bordkryt verskaf waarmee mnr. Wolf sy stem verhoog het? Wie het nou weer in eie belang liefderik die donker wolfpote met deeg besmeer en met meel besprinkel?

 

Wie was dit nou weer wat tydens die Koue Oorlog Bin Laden bewapen, en in sy soort godsdiensfundamentalisme ’n bondgenoot gesien, het? Wie se huidige optrede in Irak, Libië en elders is vandag steeds besig om nuwe terroriste vir die toekoms te kweek?

 

Nee wat, dis eenvoudiger en aangenamer om die bose as een individu, hetsy Hitler, Stalin, Mao of Bin Laden, voor te stel en dan fees te vier as hy uit die weg geruim word. In cowboy- en ander aksiefilms werk dit; “ons manne op die grens” sal ons veilig hou. Daarom oortref ons met ons hiep, hiep, hoera selfs Jimmy Kruger, minister van justisie in die jare sewentig, se berugte uitlating ná die dood van Steve Biko in die gevangenes: “Dit laat my koud.” Of soos een inbeller by ’n plaaslike radiostasie dit stel: “Good riddens to bad rubbish.”

 

’n Groot deel van die debat oor Bin Laden en sy huisgaste se onwettige teregstelling gaan oor die vraag of dit geregverdig was. Ek meen dit was nie, maar hier gaan dit nie vir my daaroor nie. Dit gaan oor watter soort mense ons is as ons oor die dood van ’n mens kan vrolik wees. Ook al sou die moord op Bin Laden verdedig kan word, beteken dit mos nie dat ’n mens plesier daarin moet vind nie?

 

Toe die kring waarin die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer hom voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog bevind het, tot die besluit gekom het om Hitler te probeer vermoor, was dit met onsekerheid, wroeging, en vrees en bewing: Sal God ons daarvoor vergewe? Kan daar ’n sterker kontras met die helse kabaal van vandag se bloeddorstige feesvierings wees?

Iemand vra my: Wat van Jesus se waarskuwing dat almal wat na die swaard gryp deur die swaard sal omkom (Matteus 26:42)? Maar Jesus sê dit aan sy eie dissipel wat sy swaard gryp en die slaaf van die hoë priester, wat Jesus wou arresteer, se oor afkap. Oorafkappers moet hulle dus nie verbeel dat Jesus bly is oor wat hulle doen nie. In Esegiël 33:11 klink dit dan ook: “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.”

 

Selfs al móés Bin Laden sterf (wat ek ontken), bly dit aaklig dat ’n medemens wat as ’n Godswonder vol belofte gebore is só moes eindig. Ewe pynlik is dat die skuld en kwaad wat deur Bin Laden verpersoonlik is veel weier strek as wat ons graag wil weet, soos die hiep, hiep, hoera getuig.

 

Die wolf is springlewendig. Ook daarin skep God geen behae nie.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Bin Laden: Die wolf is nie werklik dood nie

  1. spieel het gesê op Mei 26, 2011

    Puik rubrieke, baie dankie.

  2. Blikskottel het gesê op Mei 26, 2011

    Die wolf is nie dood nie. Net een van die luise op se gat is dalk dood.

  3. loudavisi het gesê op Mei 26, 2011

    Ek weet te min, maar dankie vir al die inligting.

  4. swong het gesê op Mei 26, 2011

    Is dit nie so tipies van Amerikaners nie.

  5. bloukaap het gesê op Mei 27, 2011

    hoe power die mens op elk van die 64 blokkies van die ronde-skaakbord

  6. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Gaaf van jou.

  7. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Dit sou beter wees as ons ‘n mens liewer nie ‘n luis noem nie, maar jy’s reg. En ons sou die metafoor kan uitbrei: Is die wolf dalk nog meer lewenskragtig noudat die luis dood is? Iets soos: As die luis weg is, is die wolf baas?

  8. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Of ek nou vreeslik inligting verskaf weet ek nie, maar dis gaaf van jou om so te se! Ek lug maar menings. Dit gee mense die geleentheid om teiken te skiet.

  9. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Ja, dit is. Maar is ons so anders?

  10. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Pruimtwak, jy rook ‘n pyp terwyl jy dit skryf, ne?

  11. gerritbrand het gesê op Mei 27, 2011

    Ek steun nie die doodstraf nie, maar die Amerikaners is baie lief daarvoor. As hy gevang is, sou hy waarskynlik tereggestel gewees het. Dan was daar ten minste ‘n regsproses.

Los ’n antwoord vir swong. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.