6 Christen 6:6

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My Jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Wie het onlangs weer 1 Petrus 3:15 en 16 gelees?

 

“Wees altyd gereed om julle slagtande te wys aan elkeen wat dit durf waag om oneerbiedig te praat oor julle godsdiens en kerk. Doen dit woedend en met minagting vir die Goddeloses. Sorg dat julle dreigend oorkom, sodat dié wat julle oor julle godsdienstige taal en simbole belaster daarvoor kan betaal dat hulle kwaad van julle gepraat het, en dat nóg hulle, nóg enigiemand anders dit ooit weer sal waag om dit te doen.”

 

Wat van Romeine 12:19-21:

 

“Neem self wraak, geliefdes, en moet dit nie oorlaat aan die oordeel van God nie … want deur dit te doen, maak jy jou vyand bleek van skrik. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin dit met groot spiere en doeltreffende strategie.”

 

Dan is daar Jesaja 15:6:

 

“Ek hou nie my rug vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek, nie. Ek draai my gesig eers weg wanneer ek bespot word en draai dit dan terug om my bespotters te bespoeg.”

 

En die sinspeling daarop in Matteus 5:38-41:

 

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ’n tand vir ’n tand.’ So is dit ook: Julle moet julle teen ’n kwaadwillige mens verset. As iemand jou op die regterwang slaan, slaan nog harder terug. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, trek hóm kaal uit in die hof. As iemand jou wil dwing om sy goed een kilometer ver te dra, gee hom ’n loesing wat hy nie sal vergeet nie. En roep vriende nader, want eendrag maak mag.”

 

Die belangrikste teksvers kom uit 6 Christen 6:6:

 

“Kyk na die Moslems. Niemand waag dit meer om hulle God se eer aan te tas of hulle heilige simbole met minagting te behandel nie. Wanneer een van hulle skrywers sy geloof afsweer en in hulle oë die Koran bespotlik maak, word ’n doodsvonnis oor hom uitgespreek en moet hy op ’n geheime plek gaan wegkruip om sy lewe te kan behou. As die pous in ’n toespraak lyk te suggereer dat die Islam ’n irrasionele, gewelddadige godsdiens is, sterf talle onskuldiges in die oproer. As ’n Deense spotprent oor Mohammed verskyn, is daar wéér perde, en as ’n Nederlandse filmmaker die Islam beledig, word hy vermoor. Is dit dan ’n wonder dat die media, kunstenaars en politici twee keer, nee sewe maal sewentig keer, dink voordat hulle vir Moslems aanstoot gee?

 

“Julle moet leer by hulle. As ’n rubriekskrywer iets kwytraak wat vir julle aanstootgewend is, dreig die koerant met ’n Christen-boikot sodat die redakteur gedwing word om die rubriekskrywer af te dank. As Lady Gaga ’n lied oor Judas sing wat ’n bietjie te kompleks en dubbelsinnig is vir die meeste Christene om te verstaan, maak julle stem so dik dat radiostasies geen ander keuse het as om die speel van die lied te staak nie. As ’n politikus in ’n verkiesingsveldtog godslasterlike uitsprake maak, moet julle nie oor die maatskaplike implikasies daarvan besorg wees nie, maar oor julle eie ego, en op grond daarvan ’n verskoning eis. Wie nie wil hoor nie moet voel. Só kan Christene ’n indruk op die wêreld maak en seker maak dat niemand sommer oor hulle loop nie.”

 

Alle aanhalings behalwe die laaste een (uit ’n geliefde apokriewe evangelie in hedendaagse Christen-kringe) is uit die OAF (Opgedateerde Afrikaanse Vertaling) van 2011 – ’n poging tot vernuwing van die verouderde 1933- en 1983-vertaling en die nog verouderder Hebreeuse en Griekse weergawes.

 

(Veralgemenings oor Moslems in 6 Christen 6:6 word nie deur die rubriekskrywer onderskryf nie.)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

1 antwoord op 6 Christen 6:6

  1. gerritbrand het gesê op Mei 28, 2011

    Tot my verbasing is daar blykbaar lesers wat dink dat die Opgedateerde Afrikaanse Vertaling (OAV) waarna ek hierbo verwys werklik bestaan, en wat nou die Bybelgenootskap bydam omdat hulle so ‘n Bybel uitgegee het! Asseblief tog, mense, die OAV is ‘n fiktiewe Bybelvertaling – dit bestaan slegs in my sprokie – en is bedoel om die “opgedateerde” manier waarop baie Christene die Bybel lees te illustreer. Ek het nie gedink dat sal nodig wees om dit uit te spel nie, maar daar is dit nou. Los die Bybelgenootskap uit; hulle doen uitmuntende werk.

Los ’n antwoord vir gerritbrand. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.