Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Hannes Smit vra: Wat is rassisme?

Mei 27, 2011 in Sonder kategorie

Die jongste maandelikse essay op LitNet is deur die filosoof Hannes Smit. Hy stel die vraag: Wat is rassisme? ‘n Goeie vraag! Ons praat almal heeltyd oor rassisme, maar weet ons wat dit is? Gaan lees wat hy skryf en kom gesels hier dan saam daaroor.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

Steve Hofmeyr het op Hannes se artikel gereageer. Klik hier om dit te lees.

Bin Laden: Die wolf is nie werklik dood nie

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

 

“Die wolf is dood! Die wolf is dood! Hiep, hiep, hoera, die wolf is dood!” Iets soos hierdie triomfantelike slot van “Die wolf en die sewe bokkies” het ná die moord op Osama bin Laden in die strate van New York en elders in die Verenigde State weerklink.

 

Die laaste keer dat ek so iets beleef het, was toe ek in 1998 in Nederland was tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Frankryk, toe Nederland teen Duitsland gelykopgespeel het. Ja, selfs ’n gelykopuitslag was voldoende om die oranje massas tot laatnag te laat feesvier. Gedagtig aan die Tweede Wêreldoorlog is daar vir Nederlanders niks belangriker op sokkergebied as om die Duitsers te laat les opsê nie.

 

Is dit ’n smaaklose vergelyking? Inderdaad! Wat in en om Afganistan gebeur, is geen spel soos sokker nie, maar oorlog. “Looks at the score board” is slegs van toepassing as daarmee die tel van dooie en verminkte lywe en geknakte siele bedoel word, en die wenners is nie dié wat die meeste skade aanrig nie. In oorlog en terrorisme (is daar deesdae nog ’n verskil tussen die twee?) is daar, soos die cliché lui, net verloorders.

 

Die dood van Bin Laden is ook geen sprokie nie. In sprokies word nie moeilike vrae oor kollektiewe verantwoordelik gestel nie. Wie het nou weer uit vrees die bordkryt verskaf waarmee mnr. Wolf sy stem verhoog het? Wie het nou weer in eie belang liefderik die donker wolfpote met deeg besmeer en met meel besprinkel?

 

Wie was dit nou weer wat tydens die Koue Oorlog Bin Laden bewapen, en in sy soort godsdiensfundamentalisme ’n bondgenoot gesien, het? Wie se huidige optrede in Irak, Libië en elders is vandag steeds besig om nuwe terroriste vir die toekoms te kweek?

 

Nee wat, dis eenvoudiger en aangenamer om die bose as een individu, hetsy Hitler, Stalin, Mao of Bin Laden, voor te stel en dan fees te vier as hy uit die weg geruim word. In cowboy- en ander aksiefilms werk dit; “ons manne op die grens” sal ons veilig hou. Daarom oortref ons met ons hiep, hiep, hoera selfs Jimmy Kruger, minister van justisie in die jare sewentig, se berugte uitlating ná die dood van Steve Biko in die gevangenes: “Dit laat my koud.” Of soos een inbeller by ’n plaaslike radiostasie dit stel: “Good riddens to bad rubbish.”

 

’n Groot deel van die debat oor Bin Laden en sy huisgaste se onwettige teregstelling gaan oor die vraag of dit geregverdig was. Ek meen dit was nie, maar hier gaan dit nie vir my daaroor nie. Dit gaan oor watter soort mense ons is as ons oor die dood van ’n mens kan vrolik wees. Ook al sou die moord op Bin Laden verdedig kan word, beteken dit mos nie dat ’n mens plesier daarin moet vind nie?

 

Toe die kring waarin die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer hom voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog bevind het, tot die besluit gekom het om Hitler te probeer vermoor, was dit met onsekerheid, wroeging, en vrees en bewing: Sal God ons daarvoor vergewe? Kan daar ’n sterker kontras met die helse kabaal van vandag se bloeddorstige feesvierings wees?

Iemand vra my: Wat van Jesus se waarskuwing dat almal wat na die swaard gryp deur die swaard sal omkom (Matteus 26:42)? Maar Jesus sê dit aan sy eie dissipel wat sy swaard gryp en die slaaf van die hoë priester, wat Jesus wou arresteer, se oor afkap. Oorafkappers moet hulle dus nie verbeel dat Jesus bly is oor wat hulle doen nie. In Esegiël 33:11 klink dit dan ook: “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.”

 

Selfs al móés Bin Laden sterf (wat ek ontken), bly dit aaklig dat ’n medemens wat as ’n Godswonder vol belofte gebore is só moes eindig. Ewe pynlik is dat die skuld en kwaad wat deur Bin Laden verpersoonlik is veel weier strek as wat ons graag wil weet, soos die hiep, hiep, hoera getuig.

 

Die wolf is springlewendig. Ook daarin skep God geen behae nie.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Ons obsessie oor die koninklikes is mos gek

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

‘n Onlangse rubriek van my in Die Burger:

 

Weet sy in watter familie sy introu? vra Robert Brand op Facebook oor ene Catherine Middleton se (toe nog voorgenome) huwelik met die soldaat William Louis. En van Suid-Afrikaners se fassinasie met die doen en late van Britse koninklikes bied Johannes de Villiers, ook op Facebook, die Stockholmsindroom as verklaring aan.

 

Laasgenoemde verwys na die verskynsel dat gyselaars simpatie met hul gevangenemers ontwikkel en sterk met hulle identifiseer. De Villiers het gelyk. Hoekom anders sou burgers van ’n Afrikaland wat al in 1961 onafhanklik geword het so intens met hul voormalige koloniseerder meeleef?

 

In SA noem ons die tradisionele Zoeloe-monarg “koning Goodwill Zwelethini”, maar sy Britse ampsgenoot is sommer “die Koningin”. En die familiariteit! Dis “Kate” links en “Kate” regs asof die hertogin van Cambridge ons persoonlike vriendin is.

 

Een omroeper by ’n SA geselsradiostasie pik tydens die lewende uitsending ’n traan weg: “I know Diana would have loved this”. Soos wanneer ons sê: “Dink net hoe lekker sou ou Piet daardie grap geniet het!” Of dalk eerder soos: “Toe ek gister by die Ruperts geëet het …”?

 

Ek onthou verhale van my ma oor die jare voor republiekwording toe “God Save the Queen” by elke bioskoopvertoning gespeel, en van die teenwoordiges verwag, is om dan op te staan. My ouers se generasie Afrikaners – ten minste dié van hulle met ’n bietjie selfrespek – het dan baie pertinent bly sit!

 

Reeds in die 1920’s (so skryf Jan-Jan Joubert ’n keer in Die Burger) het die destydse Pakt-regering, ’n koalisie tussen Afrikanernasionaliste en sosialiste, voor die koningin van Brittanje se besoek aan ons land versoek dat geen titels deur haar aan Suid-Afrikaners toegeken word nie – op dié punt het nasionaliste se weersin in imperialisme en linkses se afsku in klassisme mekaar ontmoet.

 

Dis ook nie net ’n “wit ding” nie. Saam met die Boere-vroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het tienduisende swart Suid-Afrikaners ook gesterf, om van die Britte se moorddadige oorloë teen onder meer die Xhosas en Zoeloes nie eens te praat nie. Rassewetgewing om swartes van eiendomsreg in “blank SA” te ontneem, is eerste deur Cecile John Rhodes as premier van die Kaapkolonie ingestel, en ná die Anglo-Boereoorlog het Boer en Brit saam besluit om in die Unie van SA geen stemreg aan swartes te gee nie. Selfs meer as Afrikaners het swartes dus rede om nié met Britse sentimente te identifiseer nie.

 

Dit gaan dieper: watter soort mentaliteit is dit om spesiale ontsag en liefde aan enige koninklikes, hetsy dié van jou koloniseerder of van jou eie volk, te hê? Alle koninklikheid is per definisie elitêr, ondemokraties en die produk van magsvergrype in die verlede. Gestel ek en my vriende sit om die braaivleisvuur en ek stel voor: “Hoekom word ek nie julle almal se baas en vat ’n klomp van julle geld en besittings vir my nie? Julle kan dan altyd voor my neerbuig wanneer julle my sien, en ek hoef vir die res van my lewe nie ’n steek werk te doen nie.” Iets sê vir my ek sal hulle nie sonder geweld kan oorreed nie!

 

Op Speakers’ Corner in Londen het ek eenkeer ’n toespraak van ’n boemelaar gehoor waarin hy vir die wettiging van diefstal pleit – op grond van die feit dat die hele Britse samelewing op diefstal berus. ’n Stem van redelikheid! Of is die koningshuise van Europa se uitspattige rykdom aan hul harde werk en entrepreneurskap te danke?

 

Het ek dan iets teen “Kate” en “William”? Wel, hulle sou van hul titels kan afstand doen … Maar nee, ’n mens kan jou familie nie kies nie; ek gun hulle alle lewensvreugde. Maar hoekom moet hulle troue ’n event in óns lewe wees? Hoekom nie eerder ons eie verkose staatshoof, Jacob Zuma, se volgende troue lewend op televisie uitsaai en weke lank as ons eie familiefees vier nie? Hoekom het selfs die internasionale-ikoon-om-’n-rede Nelson Mandela se troue met Grace Machel nie naastenby die aandag getrek van twee Britse rykmanskinders s’n nie?

 

’n Vraag aan alle sielkundiges: Hoe behandel ’n mens die Stockholmsindroom?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

6 Christen 6:6

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My Jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Wie het onlangs weer 1 Petrus 3:15 en 16 gelees?

 

“Wees altyd gereed om julle slagtande te wys aan elkeen wat dit durf waag om oneerbiedig te praat oor julle godsdiens en kerk. Doen dit woedend en met minagting vir die Goddeloses. Sorg dat julle dreigend oorkom, sodat dié wat julle oor julle godsdienstige taal en simbole belaster daarvoor kan betaal dat hulle kwaad van julle gepraat het, en dat nóg hulle, nóg enigiemand anders dit ooit weer sal waag om dit te doen.”

 

Wat van Romeine 12:19-21:

 

“Neem self wraak, geliefdes, en moet dit nie oorlaat aan die oordeel van God nie … want deur dit te doen, maak jy jou vyand bleek van skrik. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin dit met groot spiere en doeltreffende strategie.”

 

Dan is daar Jesaja 15:6:

 

“Ek hou nie my rug vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek, nie. Ek draai my gesig eers weg wanneer ek bespot word en draai dit dan terug om my bespotters te bespoeg.”

 

En die sinspeling daarop in Matteus 5:38-41:

 

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ’n tand vir ’n tand.’ So is dit ook: Julle moet julle teen ’n kwaadwillige mens verset. As iemand jou op die regterwang slaan, slaan nog harder terug. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, trek hóm kaal uit in die hof. As iemand jou wil dwing om sy goed een kilometer ver te dra, gee hom ’n loesing wat hy nie sal vergeet nie. En roep vriende nader, want eendrag maak mag.”

 

Die belangrikste teksvers kom uit 6 Christen 6:6:

 

“Kyk na die Moslems. Niemand waag dit meer om hulle God se eer aan te tas of hulle heilige simbole met minagting te behandel nie. Wanneer een van hulle skrywers sy geloof afsweer en in hulle oë die Koran bespotlik maak, word ’n doodsvonnis oor hom uitgespreek en moet hy op ’n geheime plek gaan wegkruip om sy lewe te kan behou. As die pous in ’n toespraak lyk te suggereer dat die Islam ’n irrasionele, gewelddadige godsdiens is, sterf talle onskuldiges in die oproer. As ’n Deense spotprent oor Mohammed verskyn, is daar wéér perde, en as ’n Nederlandse filmmaker die Islam beledig, word hy vermoor. Is dit dan ’n wonder dat die media, kunstenaars en politici twee keer, nee sewe maal sewentig keer, dink voordat hulle vir Moslems aanstoot gee?

 

“Julle moet leer by hulle. As ’n rubriekskrywer iets kwytraak wat vir julle aanstootgewend is, dreig die koerant met ’n Christen-boikot sodat die redakteur gedwing word om die rubriekskrywer af te dank. As Lady Gaga ’n lied oor Judas sing wat ’n bietjie te kompleks en dubbelsinnig is vir die meeste Christene om te verstaan, maak julle stem so dik dat radiostasies geen ander keuse het as om die speel van die lied te staak nie. As ’n politikus in ’n verkiesingsveldtog godslasterlike uitsprake maak, moet julle nie oor die maatskaplike implikasies daarvan besorg wees nie, maar oor julle eie ego, en op grond daarvan ’n verskoning eis. Wie nie wil hoor nie moet voel. Só kan Christene ’n indruk op die wêreld maak en seker maak dat niemand sommer oor hulle loop nie.”

 

Alle aanhalings behalwe die laaste een (uit ’n geliefde apokriewe evangelie in hedendaagse Christen-kringe) is uit die OAF (Opgedateerde Afrikaanse Vertaling) van 2011 – ’n poging tot vernuwing van die verouderde 1933- en 1983-vertaling en die nog verouderder Hebreeuse en Griekse weergawes.

 

(Veralgemenings oor Moslems in 6 Christen 6:6 word nie deur die rubriekskrywer onderskryf nie.)

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Voorspelbaar en onvoorstelbaar

Mei 26, 2011 in Sonder kategorie

My Kerkbode-rubriek wat in die Paastyd verskyn het:

Hoekom het Jesus gesterf?

Omdat die gesagsdraers van toe – die keiser se verteenwoordiger in Jerusalem en die elite onder die plaaslike bevolking – hom uit die weg wou ruim. En omdat sy ondersteuners onder die gewone volk, wat dit eers vir die elite moeilik gemaak het om teen Hom op te tree, later teen Hom gedraai, en Hom sodoende aan sy lot oorgelaat, het.

Hoekom moes hy uit die weg geruim word?

Omdat hy oënskynlike heiligskennis gepleeg, die winsgewende tempeldiens ontwrig, die gesag van genoemde elites uitgedaag, gevaarlike eindtydverwagtings onder die volk aangevuur, en die goeie orde versteur, het. Maghebbers verkies rus en vrede en dat hulle gerespekteer word.

Hoekom het die volk teen hom gedraai?

Oor hul teleurstelling met dié sogenaamde “messias”. Anders as wat gehoop is, het dit geblyk dat Hy meer lam as leeu is. Hy wou nie ’n belastingboikot afkondig, tot koning gekroon word, of die wapen teen die onderdrukker opneem, nie; en het hom sonder enige weerstand deur sy vyande gevange laat neem. Opstandige menigtes soek ’n sterk leier, nie ’n swakkeling nie. Laat die grootkoppe dan met Hom maak wat hulle wil. Dit sal ten minste vermaak verskaf, soos in die Romeinse arena.

Wat het Jesus dan gedoen wat die magtiges so verontrus, en sulke hoë verwagtings by die volk geskep, het?

Hy het met apokaliptiese ywer die nabye koms van die “dag van die Here”, “die koninkryk van God”, aangekondig: die opwekking van die dooies, die oordeel oor die goddeloses deur ’n “Seun van die Mens” en die verheerliking van God se seun Israel. Hy het beweer dis “op hande”, “hier by julle”, en dat van sy toehoorders dit self sou aanskou. Boonop het Hy dié gebeure met Homself en sy missie verbind, byvoorbeeld deur Homself Seun van die Mens te noem. Hy het mense se sondes vergewe, asof Hy God self is; die Skrif baie vry uitgelê asof Hý kan besluit wat dit beteken; en die wonderwerke wat aan Hom toegeskryf is as tekens van die aanbrekende koninkryk beskryf.

Hoewel Hy ’n vroom Israeliet was wat uit die Tora geleef het, het Hy ’n skerp tong gehad wat Hy veral op die vroomstes onder die vromes, die wakers oor die godsdienstige establishment, gerig het. Tog het hy sondaars en onreines, selfs nie-Jode, sy vriende genoem en maaltye met hulle gedeel. Kortom: Hy het die bestaande orde fundamenteel bevraagteken, sonder huiwering teengegaan en radikaal uitgedaag. Is dit dan ’n wonder dat hy vyande onder invloedryke mense gemaak het? Verbaas dit dat die hooggespanne verwagtings wat sy optrede by die “kleinstes” en “armes” gewek het uiteindelik op teleurstelling móés afloop?

Ook vóór Jesus, en ná sy dood, het talle “messiasse” die volk se verwagtings opgejaag en die wrewel van die owerhede gewek. Dit is elke keer gewelddadig tot ’n einde gebring, meestal met die “messias” wat op die wreedste denkbare manier in die openbaar aan ’n kruis moes sterf om as voorbeeld en waarskuwing vir ander potensiële oproeriges te dien. Die betrokke “messias” is dan ook deur die massas bespot en sy volgelinge het uitmekaar gespat in die verwoestende besef dat dit toe tog nie hy was wat sou kom nie.

Dat die Jesusbeweging ook só sou eindig – dat sy gekose weg ’n kruisweg sou wees – was voorspelbaar. Albert Schweitzer skryf: “In die oortuiging dat Hy die Seun van die Mens is, neem Hy die wiel van die wêreld in sy hande … om die gewone geskiedenis tot ’n einde te bring. Dit wil nie draai nie en Hy werp hom daarop. Dan draai dit. En vermorsel Hom.”

En nou vertel hulle Hy is opgewek. Onvoorstelbaar!

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Zuma is reg oor die geval Ben Laden

Mei 8, 2011 in Sonder kategorie

Ek stem saam met Jacob Zuma: Die Verenigde State van Amerika het net so min reg as enige ander land, of dit nou Suid-Afrika, Brittanje of Noord-Korea is, om ’n ander land in te vaar en daar mense te gaan teregstel. Dit geld nie net die moord op Osama ben Laden nie, maar ook die aanval op Moeamar Ghadafi se tuiste, waarby van sy familielede se lewe beëindig is.

Die VSA het eensydig opgetree, sonder goedkeuring deur die Verenigde Nasies of selfs net die Veiligheidsraad. In die geval van die onwettige betreding van Pakistan was die teikenland nie eens in ’n staat van oorlog teen Noord-Amerika nie, maar, inteendeel, ’n koalisievennoot. Voeg daarby dat ’n ongewapende Ben Laden, voor die oë van sy dogter en met fatale gevolge vir ander teenwoordiges, summier doodgeskied is, eerder as om gevange geneem en strafregtelik vervolg te word soos dit selfs by die allergrootste skurke hoort. So tree ’n wettelose staat, ’n kriminele staat, ’n rogue state, op.

Hierdie soort optrede is niks nuuts vir Amerika nie. Dink maar aan die talle ander militêre ingrepe in soewereine state wat niks aan Amerika gedoen het nie onder Ronald Reagan, George Bush Sr., Bill Clinton, George W. Bush Jr. … en nou ook Barack Obama – dieselfde Obama wat, as een van sy eerste dade as president van die magtigste staat op aarde, besluit het om Amerikaanse soldate wat hulle aan marteling skuldig gemaak het van vervolging kwyt te skeld. Wat die dood van burgerlikes betref, dink aan veral Irak, maar ook verder terug: aan Hirosjima en Nagasaki, om maar twee van tallose voorbeelde te noem. Die VSA gee nie net onderdak aan terroriste nie, maar is self ’n terroristiese staat.

In die geval Ben Laden verklaar die Navy Seals dat hulle uitdruklike toestemming van Obama gehad het om hul teiken van die gras af te maak – “licenced to kill”, soos agent 007, ’n presidensiële fatwa. Nie eens “You find him, I’ll fix him”, soos in die gelyknamige roman deur James Hadley Chace nie, maar nog eenvoudiger: “You find him and fix him.” Die spreekwoordelike judge, jury and executioner.

“Good riddence to bad rubbish,” sê ’n inbeller op een van ons plaaslike radiostasies. “Die Moslems het nie oor ’n wettige verhoor omgegee to hulle opdrag gegee het dat Salmal Rushdie vermoor word nie,” argumenteer ’n ander. Die vreemde logika is glashelder: “die Moslems” (wie is dit?) het dit aan “ons” gedoen, so laat “ons” dieselfde aan “hulle” doen. Wie is die ons? Christene? Maar wat het die fatwa op Rushdie dan met die saak uit te waai? Hy was tog nie ’n Christen nie? Nog ’n rasionalisering op die lug: As iemand ’n “known criminal” is, hoekom dan nog met ’n verhoor sukkel? Spaar tyd en skiet hom dood.

Gestel ons regering sou voorstel dat hierdie soort benadering, nes in die apartheidsjare, ook in SA gevolg word: gee vrye teuels aan die polisie. Laat hulle maak soos hulle goed dink: vermeende misdadigers “uithaal”, dié se gesin en kennisse (selfs as dit minderjarige kinders is) nie ontsien nie, verdagtes se huise sonder ’n lasbrief betree. Laat ons dan openbare juigpartye reël vir elke bad guy wat deur ’n sheriff bokveld toe gestuur is – sonder om ons oor die implikasies vir die regsproses te steur. Ons het mos almal volle vertroue in ons politieke leiers en die polisie se goeie oordeel?

Ja, Zuma, sou dit nie erg wees as die beginsel “skiet om dood te skiet” die norm was nie?

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blad ingelig te word.