Afrikaanses nie talryker, maar dalk tog taalryker

April 19, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

Dit gebeur van tyd tot tyd dat iemand in die regering sy of haar stem oor veeltaligheid dik maak, so asof hulle (vir wie?) wil sê: “Nee, só kan dit nie aangaan nie; Afrikatale moet nou ook tot hul reg kom!”

Dít terwyl die regering se eie taal-in-onderwys-beleid én hoëronderwys-taalbeleid (wat albei op veeltaligheid in die onderwys gemik is) ná al die jare nog lê en stof vergaar.

Om nie te praat van die versuim om, soos die Grondwet vereis en ’n hof onlangs beveel het, wetgewing aan te neem wat die regering se gebruik van amptelike tale reguleer nie.

Wie se skuld is dit dan dat Afrikatale aan die agterspeen suig? Is regeringslui se sporadiese “protes” teen hierdie stand van sake dalk ’n geval van “keer my voordat ek myself keer”?

Onlangs was dit weer dr. Blade Nzimande, minister van (ja) hoër onderwys, wat sy beurt gekry het om sy stem dik te maak: Dis nou tyd dat inheemse tale op hoëronderwys-gebied bevorder word, het hy glo gesê, en ’n goeie begin sal wees dat van elke student vereis word om ’n inheemse taal te leer voordat hy of sy gradueer. (Só praat ’n minister wat alewig ’n verwytende vinger wys na die enkele universiteite wat reeds meer as een taal gebruik – bloot omdat een van dié tale Afrikaans is.)

Hoe deurdag is Nzimande se voorstel? Is dit slegs studente met ’n “uitheemse” moedertaal wat ook ’n “inheemse” taal sal moet leer? Die regering verwag reeds van alle studente om Engels (vermoedelik “uitheems”) te bemeester – die amptelike dompas waarsonder niemand ’n graad kan kry nie. Ook Afrikaanssprekendes moet Engels leer.

Maar is Afrikaans nou “uitheems” of “inheems”? Indien eersgenoemde, dan volg dit dat Afrikaanssprekendes, naas hul moedertaal én Engels, ’n derde, “inheemse” taal moet leer.

Daarteenoor sal Engelssprekende studente net een taal, ’n “inheemse” taal, naas hul moedertaal moet leer – tensy hulle dom genoeg is om ook Afrikaans, wat nie as “inheems” kwalifiseer nie, as vak te neem. Ook studente met ’n Afrikataal sal net een ander taal, die “uitheemse” taal Engels, hoef te leer. Dit sal beteken dat slegs Afrikaanssprekendes drie tale moet ken. Hulle sal dan weliswaar nie talryker nie, maar táálryker as die res wees!

Of is Afrikaans “inheems”? Dit sal beteken dat sowel Afrikaanssprekende studente as dié met ’n ander “inheemse” moedertaal slegs Engels, die “uitheemse” taal, moet leer. Maar dit is reeds die geval. Is Nzimande se meesterplan dan slegs op die handjievol Engelssprekendes wat nog in die land oor is, gerig? Is al waarna hy streef, dat ook Engelssprekende studente ’n tweede taal moet leer? Dit klink billik, maar nie juis aardskuddend nie.

Miskien wil Nzimande hê dat almal, of hul moedertaal nou “inheems” of “uitheems” is, nog twee tale moet leer – dus drie altesaam. ’n Zoeloe- of Sothosprekende student sal dan ook nie net Engels nie, maar boonop ’n derde taal (byvoorbeeld Afrikaans of Venda) moet leer.

Maar hoekom sê Nzimande dit dan nie? Hoekom al dié ge-“inheems” en -“uitheems”?

Wat maak ’n groep mense of hul taal in elk geval “inheems” of “uitheems”?

Van sommige plant- of dierspesies kan ’n mens sê dat hulle inheems tot ’n sekere gebied is, en van andere dat hulle uitheems is, maar behoort mense nie almal tot dieselfde spesie nie?

Is Engelssprekendes (en dalk ook Afrikaanssprekendes) dan indringerspesies in Suid-Afrika? Toe ek laas gekyk het, het ons Grondwet nog al die amptelike tale oor een kam geskeer en nie een of meer tale as belangriker uitgesonder nie.

Van tale wat “voorheen gemarginaliseer” is (dieselfde tale wat in die huidige bedeling nog verder gemarginaliseer is), word wel melding gemaak, maar die spesiale aandag wat kragtens die Grondwet aan daardie tale gegee moet word, het niks met hul “inheemsheid” te doen nie.

Drietaligheid as voorvereiste vir graad vang? Amen! sal ek sê, maar dan moet dieselfde reëls vir almal geld, en “uit-” en “inheems” uit die gesprek gehou word. Belangriker nog: Die regering moet ophou grootpraat en begin doen.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
l

5 antwoorde op Afrikaanses nie talryker, maar dalk tog taalryker

  1. lora2me het gesê op April 19, 2011

    Ja, hoe meer tale ‘n mens magtig is, hoe meer verryk is jou lewe. Ek dink dis ‘n voordeel vir die Afrikaanssprekendes. Die derde taal moet egter funksioneel wees en nie onnodige sinne soos “Die hoenders is in die hok” ten koste van “Hoeveel kos hierdie langbroek” aan die beginner leer nie. Daar is Engelssprekendes in KZN wat net een taal kan praat en glad nie Afrikaans verstaan nie – weet nie hoe hulle matriek geslaag het nie, maar nou ja, seker maar soos Afrikaanses soms Engels verkrag.

  2. bloukaap het gesê op April 20, 2011

    Daar was ‘n tyd wat ek geglo het die ‘mond’ van die ‘volk’ alleen is genoeg. En selfs dat Moeder-en-Taal tot en met die vierde geslag sou erwe.
    ‘heems’ nie.
    ek is dom.

  3. Pruimtwak, ek is nie seker wat jy bedoel nie?

  4. Ek het ‘n Xhosa-aanleer-kasset vol sinne soos: “Kan u asb vir ons sjampanje bring?” en “Ek wil graag met kamerdiens praat”! Daar is ook ‘n inleidende gedeelte wat verduidelik Xhosa word in verskeie lande, soos SA, Transkei en Ciskei, gepraat …

  5. hacjones het gesê op Mei 1, 2011

    Hm. Om ander tale aan te leer verg nogal deursettingsvemoe. Veral as mens dink aan die onderrigmetodes wat taalkundiges gebruik. Ek was in die jare tagtig betrokke by ‘n navorsingsprojek in die MO. Gekyk na die beste “metode/ tegnieke” om volwassenes nuwe tale te leer. Twee aspekte voorop by verre: Taalritme en veral woordeskat. Vergeet eers van sinne en naamvalle en ander taalgedrogte. So het ek myselwers Sumeries en Goties geleer. Ek wens ek kon ‘n Sumerier… (Hehe)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.