Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Swak, onkundig en onrein

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

Hoe oud is Adam en Eva geskep? Of liewer: Hoe oud het hulle op nul jaar gelyk?

Om dit te vra, is soos om te spekuleer oor die verlore seun (Luk 15:11-32) se naam of die ligging van die “ver land” waar hy sy erfporsie verkwis het. Daar is geen regte óf verkeerde antwoord nie, want die verlore seun wás nooit nie. Óns is die verlore seun.

Netso, verduidelik Danie du Toit op sy blog, Wolketrapper, is die tuinverhaal (Gen 2:4–3:24) nie ’n foto-album met prentjies van lank gelede nie, maar ’n spieël waarin ons onsself herken. Daar wás nie ’n Adam en Eva nie; óns is Adam en Eva.

Deur die eeue is die tuinverhaal (en die res van Gen 1–11) dikwels misverstaan as letterlike verslaggewing. (Sowel “jong-aarde-kreasioniste” as sommige ateïste mislees Gen 1:1–2:3 byvoorbeeld as in stryd met die Oerknal en evolusie.) Ook invloedryke
kerkvaders het hierdie fout gemaak, deels omdat hulle die verhale in Griekse of Latynse vertaling gelees het, sodat die  betekenis van name soos Adam (letterlik: Mens) en Eva (Lewe), en van woordspelings soos dié tussen Adam en “Adama” (grond), misgekyk is. Die kerkvaders het daarom ook na Adam en Eva se “ouderdom” gevra.

Irenaeus (3de eeu) meen die Eden-bewoners was kinderlik. Hulle is nie pasklaar geskep nie, maar moes tot  geloofsvolwassenheid groei. Dit was onvermydelik dat hulle sou sondig (veral met verkeerde vriende soos die slang!). Die skuld lê meer by die duiwel as by hulle.

Augustinus (4de-5de eeu) meen weer hulle was volwassenes op die kruin van hulle lewe en dat hulle so sou gebly het as dit nie vir die sondeval was nie – “forever young”, soos Bob Dylan sing. Vir Adam en Eva was dit moontlik om nie te sondig nie; hulle is voluit aanspreeklik vir hulle misstap.

Beteken die korrekte lees van die tuinverhaal (as ’n spieël en nie ’n foto-album nie) dat die kerkvaders se vraag verdwyn? Nie heeltemal nie. Ja, óns is Adam en Eva, maar is ons soos kindertjies aan die kwaad uitgelewer, of is dit alles ons eie skuld?

Willem Wilmink se vertaling van ’n Jacques Brel-lied (gesing deur Hermann van Veen) suggereer eersgenoemde: “Worden er steden stukgesmeten / door kinderen van 50 jaar …” Bomme oor Dresden, Hirosjima, Bagdad … die werk van kinders wat gefrustreerd hulle speelgoed stukkend gooi. In Wilmink se “station vol met verdwaalden …” staan nie skuld nie, maar tragiek voorop.

Hoe kan God dan veroordelend roep: “Waar is jy?” (Gen 3:9); “Wat het jy nou gedoen?” (Gen 3:13); en “Waar is jou broer?” (Gen 4:9)?

Mense-ouers doen dit ook. Ons weet “kinders is kinders”; tog wys ons hulle tereg, hou ons hulle verantwoordelik. Marcel Sarot gebruik (in ’n ander verband) die voorbeeld van ’n ouer wat haarself as ’t ware kwaad máák – omdat dit die gepaste reaksie is, in die kind se belang. Die ou cliché sê mos: “Dit maak my seerder as vir jou!”

“Verantwoordelik hou” is nie die wrokkige onverbiddelikheid van “geregtigheidsmaniakke” (Johan Heyns) nie, maar beteken eintlik “verantwoordelik máák”, tot wasdom help kom, ’n wêreld van persoonlike verhoudings ontsluit – oordeel as ’n soort genade.

Hoekom maak God sulke “weerlose, weerlose mense” (Koos du Plessis) wat soveel kwaad aanrig? In ’n verhaal in die Koran pleit die engele by God om nie mense te skep nie omdat dit net tot ellende kan lei, waarop God antwoord: “Julle weet nie wat Ek weet nie.” Wát God weet, bly egter geheim!

Ook ons bring kinders in die wêreld, al sal nóg ons, nóg hulle die lewensreis ongeskonde voltooi. Daarmee beaam ons die Skeppergod se woorde: “En dit was baie goed” (Gen 1:31). Weet ons dalk tóg wat God weet?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Wie ken die ou, ou liedjie?

Maart 23, 2011 in Sonder kategorie

‘n Vorige rubriek in die Kerkbode:

 

Is dit nie vreemd nie? Die Gees van God het pas sigbaar, in die gestalte van ’n duif, op Jesus neergedaal ter bekragtiging van die Vader se verklaring dat Jesus die Seun van God is (Mt 3:16-17; Mk. 1:9-11; Lk. 3:21-22). Is die resultaat ekstase, innerlike vrede, blydskap? Nee, die Gees dryf Jesus in die woestyn in om eensaam met die betekenis en implikasies van sy messiaanse roeping te stoei (Mt. 4:1-11; Mk. 1:12-13; Lk. 4:1-13). Wat verwag God van Hom? Hoe moet Hy sy taak aanpak?

 

Dan is daar ’n stem, ’n gewaarwording, ’n aanloklike voorstelling van messiasskap, wat hom aan Jesus se bewussyn opdring. Die evangeliste sê dit was die Duiwel, die leuenaar en versoeker. (Is die Duiwel regtig? vra iemand dalk. Karl Barth sou glo ’n keer gesê het: “Dis nie belangrik of die slang gepraat het nie, maar wat hy gesê het!”)

 

Is dit vir Jesus ook so glashelder? Sou dit vir Hom ’n egte versoeking wees as Hy meteen duidelik kon sien dis die Bose wat hom tot grootdoenerige magsvertoon aanpor? Gestel ou Nick staan met stert, horings, vurk en al voor jou of my en sê: “Buig voor my neer!” Sou selfs ons hom nie aflag nie?

 

Volgens Paulus doen die Duiwel hom as ’n engel van lig voor (2 Kor. 11:14); in Openbaring 17:4 is sy “uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels”. Lê daarin nie ’n sleutel tot die verstaan van Jesus se versoekings nie? Die stem bied hom as die stem van God aan. Die stilte, “honger” en verlatenheid van die woestyn, die skynbare afwesigheid van die Vader, word deur ’n vriendelike, aansporende, selfs vertroostende stem verdryf: “Hier is die plan van aksie …”

 

As die Duiwel nie aan die klank van sy heuningsoet stem of sy sjarmante voorkoms uitgeken kan word nie, waaraan dan? Aan sy vals note. Dié wysie klink nie vals wanneer dit in isolasie beluister word nie. Dis eers wanneer die klank van God se Woord daarnaas weerklink (“Dit staan geskrywe …,” antwoord rabbi Jesus telkens) dat harmonie onmoontlik blyk, die wanklanke hoorbaar word. Sit dit af, sit dit af!

 

Dis nie dat Jesus toepaslike teksverse kan vind nie. Dit doen die Duiwel self uitmuntend! Nee, Jesus van Nasaret lééf met en uit die skriftelike neerslag van Israel se herinnerings en getuienis – “oordink dit dag en nag” (Ps. 1:2). Die taal van die Skrif het sy taal geword, die denkbeelde sy denkbeelde, die waardes en sentimente ook syne. Dít is die deuntjie – of liewer: die simfonie – wat voortdurend in sy hart weerklink, soos ’n musiekstuk selfs in die “geestesoor” van die dowe Ludwig von Beethoven hoorbaar was. Vandaar dat Jesus die opsigself meesleurende ritme van die Duiwelslied onmiddellik as ’n wanklank herken.

 

Die versoeking is nie om bewustelik die Duiwel bo God lief te hê nie, maar om die stem van boosheid as God se heilige stem te hoor. Die Here is nie, soos die afgod Baäl, in stormwind, aardbewing en vuur nie, maar soos “’n fluistering in die windstilte” (1 Kon. 19:11-13). Die klanke wat hulle luiddrugtig aan ons opdring, is makliker hoorbaar as die stem van God.

 

Paulus verwys na die “onderskeiding van geeste” (1 Cor. 12:10). Hoe dan? Deur van elke gees te vra of dié se lied (al is dit ook tale, wonders of “geestelike” prestasies) met die geklank van die Woord resoneer. Daardie Woord was nie net voedsel vír Jesus, en is nie net déúr Hom uitgedeel, nie, maar het (sou dit blyk) ás Jesus “mens geword” (Jn. 1:14). Laat ons dan ook daardie Woord dag en nag oordink.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word. 

Die saligsprekinge: opdrag of konstatering?

Maart 23, 2011 in Sonder kategorie

 

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

Almal ken die saligsprekinge (Mt 5:1-12): “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is …”

 

Ek het al in eredienste hierdie teksgedeelte as wetsvoorlesing in samehang met die skuldbelydenis en genadeverkondiging gebruik. Ook in preke word dit meestal verbind met een van Calvyn se “drie gebruike van die wet”: die saligsprekinge as

 

– etiese voorskrif of ideaal,

– aanklaer wat ons na Christus laat vlug of

– riglyn vir ’n dankbare lewe.

 

Verstaan ons dit reg as ons dit só verstaan?

 

Dit tref my onlangs weer dat Jesus nie in die imperatief (bevelend) oor die geseëndes praat nie. Dan sou dit lui: “Julle moet honger en dors na wat reg is!” Nee, Hy praat indikatief (sê hoe dit ís): “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is.”

 

Jare gelede, in die Sondagskoolklas, het Oom Anton verduidelik dat as ’n mens wil weet wat “salig” (“geseënd” in die 1983- vertaling) beteken, jy moet dink aan hoe dit is om langs die swembad te lê – ’n voorstelling wat nog altyd tot my spreek! Gestel nou iemand sou aan die sonbaaiers vra: “Wie is lus vir ’n yskoue koeldrank?”, en wanneer almal roep: “Ek!”, antwoord met: “Het ek goeie nuus vir julle!”

 

Weerklink iets hiervan nie in die saligsprekinge nie? Behalwe: dié wat aangespreek word, lê nie langs ’n swembad nie. Inteendeel. In Lukas se weergawe praat Jesus met “julle wat arm is … honger het … huil”, vir wie die mense “haat … verstoot en uitskel”, wie se naam “vermy” word “soos iets wat sleg is”.

 

Hulle het nie iets gedoen om seën te verdien nie. Hul armoede, smart en hongerpyne is nie ’n prestasie nie, maar ’n bittere lot. Matteus se weergawe, waarin die armes die “armes van gees” of “armes aan lewenskrag” genoem word (in die 1983-vertaling: “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is”), en die hongeriges “dié wat honger en dors na wat reg is”, sê dieselfde, want wie anders smag na geregtigheid as dié wat onreg ly? Waar kom Jesus dan daaraan dat hulle “geseën” is? Hy sê selfs: “Wees bly en verheug” (Mt 5:12), “spring rond van vreugde” (Lk 6:23)!

 

Beteken dit armoede is romanties, mooi of edel, soos Jesus ook al (veral deur welvarendes) verstaan is? Nee! Jesus verbind die blydskap aan “daardie dag” – die dag van die Here, die dag wanneer Gods heerskappy aanbreek en alles herskep, nuut gemaak, reggestel, word. Dié dag bring ’n einde aan armoede, hartseer en hongerte (Op 21:4), en “het naby gekom” (Mk 1:15). Jesus die digter draai in die saligsprekinge alles op sy kop omdat Hy vas glo die hele wêreld gaan op sy kop gedraai word en dat dit reeds in en deur Hom aan die gebeur is: “Het ek goeie nuus vir julle!”

 

Dit het ’n keersy: “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg.” (Lk 6:24) Die wêreld soos dit nou is, pas julle goed, maar “daar kom ’n tyd, en dit is nou,” (Jn 4:23) dat alles anders gaan lyk.

 

Desnieteenstaande is David Bosch se boekie oor die Lukas-evangelie getitel Goeie nuus vir armes … en rykes. As rykes kan leer om saam met armes te huil, honger en dors, sal ook hulle die onderstebowêreld wat deur Jesus ingelui word, kan verwelkom.

 

Dis soos die Belhar-belydenis sê: “Ons glo dat God … op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.” Miskien tel selfs rykes onder die lidmate van hierdie kerk.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Carel Boshoff

Maart 17, 2011 in Sonder kategorie

Carel Boshoff is dood, en saam met hom ‘n era wat deur hom en drie van sy oorlede klasmaats aan die teologiefakulteit van Tukkies – Johan Heyns, Willie Jonker en Nico Smith – beliggaam is. ‘n Merkwaardige viermanskap!

 

In rugbyterme sou ‘n mens dalk wil sê dat, as Smith linkervleuel, Jonker buitesenter en Heyns binnesenter gespeel het, Boshoff die regtervleuel was – behalwe dat hulle nie vir dieselfde span gespeel het nie! Mense wat enige een van hierdie vier teoloë geken het, sal egter protesteer dat dit te simplisties is. Tereg ook. Nie net is die terme “regs” en “links” te grof om posisies op die meerkantige politieke speelveld te karteer nie, maar die oortuigings en optrede van Smith, Jonker, Heyns en Boshoff onderskeidelik was te multidimensioneel om op een plek geplaas te word.

 

Boshoff was, van die vier, die een wat die langste bly glo het dat geografiese skeiding en afsonderlike ontwikkeling van die verskillende “volke” in Suid-Afrika die beste manier is om vreedsame naasbestaan te verseker. Hoewel hy ten einde laaste tog van daardie droom van sy skoonpa, Hendrik Verwoerd, afgesien het, in die sin dat hy aanvaar het die swart etniese groepe gaan dit nooit steun nie, het hy bly glo dat sy eie minderheidsgroep, die Afrikaners, slegs met ‘n eie volkstaat hul kultuur kan handhaaf. Van hierdie oortuiging is Orania die vergestalting.

 

Wat Boshoff van die meeste ander “regses” onderskei het, is dat hy vroeër as hulle, en selfs vroeër as die sogenaamde “verligtes” in die Nasionale Party, ingesien het dat afsonderlike ontwikkeling sowel prakties tot mislukking gedoem, as moreel onverdedigbaar, sou bly solank wittes daarop sou bly aandring om die grootste deel van die land te beset en ekonomies van swart arbeid afhanklik te bly. Smith, as politieke opponent, maar ook lewenslange vriend, van Boshoff, skryf dan ook in sy boek Mosaïek van mense: “Getrou aan sy oortuiging, het Carel dus ‘n eie gebied , Orania, vir die Afrikaners help stig. Daardeur het hy bewys dat hy gewillig was om die daad by die woord te voeg … Vir die manier waarop hy aan sy oortuiging gestalte gegee het, verdien hy erkenning.”

 

Dis ‘n ope vraag of Boshoff se gevolgtrekking, dat Afrikaners as minderheid met ‘n kleiner deel van die land tevrede sou moet wees indien hulle hulself wou bly regeer, in lyn was met die diepste bedoeling van sy skoonpa se oorspronklike visie. Ons vergeet te maklik dat deel van die apartheidsideoloë se argument vir afsonderlike ontwikkeling bestaan het uit ‘n morele kritiek op eers die Britte en daarna die Suid-Afrikaanse Party se bereidheid om swartes permanent ondergeskik te hou. As swartes nie in “blank Suid-Afrika” politieke regte kon geniet nie (so is geargumenteer), moes gebiede aan hulle toegeken word waar hulle wel volwaardige burgers kon wees, die sogenaamde “tuislande”. Hierdie argument het myns insiens grootliks gefunksioneer as ‘n ideologiese middel om ‘n morele kleurtjie aan ‘n onmenslike beleid te probeer verleen, en was in dié sin selfbedrog.

 

Ek het mense al hoor sê dat Verwoerd die eerste staatshoof was wat die morele argument ernstig probeer neem het. Of dit waar is, weet ek nie (ek weet wel dat gruweldade onder Verwoerd se termyn as staatshoof gepleeg is – bes moontlik in die oortuiging dat dit vir ‘n goeie saak was). Maar ek twyfel vir geen oomblik nie dat Boshoff sowel die pragmatiese as die etiese oorwegings hoe langer hoe meer ernstig geneem het. Dit blyk onder meer uit sy afskeid van die Broederbond waarvan hy jare lank ‘n getroue lid was, omdat hy nie meer aan dié organisasie se toekomsvisie geglo het nie. Belangriker nog is egter twee staaltjies oor Boshoff wat ‘n groot indruk op my gemaak het.

 

Een het te doen met die NG Kerk-sinode waarby die dokument Kerk en samelewing aanvaar is. Blykbaar sou die normale prosedure wees dat oor elke afdelings of artikels in die dokument afsonderlik gestem word. Toe die proses moet begin, het Boshoff egter glo voorgestel dat die hele dokument aanvaar word – ‘n voorstel wat deur die sinode aanvaar is. Kerk en samelewing is die dokument waarmee die NG Kerk amptelik van apartheidsteologie afskeid geneem, die verkeerdheid van sy eie teologiese verdediging daarvan bely, en die kerk vir alle rasse oopgestel, het. Kennelik kon Boshoff hom met die inhoud daarvan vereenselwig – anders as die groepie regses in die kerk was uit protes afgestig, en die Afrikaanse Protestantse Kerk opgerig, het.

 

Smith skryf in sy vertelling oor Boshoff: “Wat vreemd is, is dat Carel in die NG Kerk gebly het, wetende dat die NG Kerk die beleid van afsonderlike ontwikkeling van volkere in Suid-Afrika finaal afgewys het. Waarom hy gekies het om nie by die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) aan te sluit nie, sal hý alleen weet.” Miskien help dit wat oor die Kerk en samelewing-sinode vertel word om Smit se vraag te beantwoord. Sou dit kan wees dat Boshoff se geloof tog sy nasionalisme getemper het in die sin dat hy, hoewel steeds toegewy aan Afrikaner-selfbeskikking, nie meer in ‘n volkskerk geglo het nie, maar die implikasies van die kerk se eenheid en katolisiteit ernstig wou neem?

 

Dan is daar die vertelling oor hoe Boshoff, by die opening van die eerste Noord-Kaapse parlement, sy eerste toespraak as lid van dié parlement in Sotho gelewer het. Die simboliese krag van sowel sy konstruktiewe deelname aan die post-1994-regering (waarin sy seun Carel Boshoff IV hom nagevolg het) as sy taalkeuse spreek vanself. Dit verbaas nie dat sy afsterwe deur politici van die linker- tot die regtervleuel betreur en met woorde van lof en waardering begroet is nie.

 

Ek het Carel Boshoff nooit ontmoet nie. Die naaste wat ek daaraan gekom het, was toe hy en sy vrou, Anna, baie jare gelede by ‘n Voortrekkerkamp waarop ek en honderde ander kinders was ‘n praatjie gegee het. Dit was onder die reuseboom waarna die woonbuurt Wonderboom in Pretoria genoem is. Wat hy gesê het, kan ek nie onthou nie. Wel dat hy vriendelik en energiek oorgekom het. Ek weet dat hy, soos Nio Smit, ‘n toegewyde sendeling was. Vir die werk wat hy in daardie verband gedoen het, het ek groot respek. Sy akademiese bydrae as sendingwetenskaplike aan Tuks ken ek nie regtig nie, maar as student is ek geraak deur ‘n boekie wat voortgevloei het uit een van sy studente, Attie van Niekerk, se proefskrif, met die mooii titel Dominee, are you listening to the drums?. Met sy politiek het ek altyd skerp verskil, sowel wat sy geloof in apartheid betref as oor die rol wat hy in die oorgangsjare as “behoudende” gespeel het, wat soms ingehou het dat hy die optrede van die destydse weermag en polisie goedgepraat het.

 

Uit bogenoemde mymerings sal dit egter duidelik wees dat hy, sonder om daarvan bewus te wees, ‘n merk op my lewe gelaat het. Dis waar, ja: Motho ke motho kan batho.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.