Watse WATwoord sal jy borg?

Februarie 10, 2011 in Sonder kategorie

’n Vriendjie in die buurt waar ek grootgeword het, het dikwels gespog dat sy pa “’n woord uitgevind het”. Wat my maat bedoel het, is dat sy pa, ’n landboukundige, suksesvol by woordeboekmakers aanbeveel het dat die woord “jaart” in die woordeboek opgeneem word. Ek weet nie watter woordeboek dit was nie, maar ná al die jare het ek uiteindelik in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan kyk en sowaar, die woord “jaart” kom daarin voor – sommer in ’n klomp betekenisse. Die J-tot-KJ-uitgawe het in 1968 verskyn, so as die prof nog redelik jonk was toe hy die woord “uitgevind” het, kan dit bes moontlik aan sy inspanning te danke wees. Sy argument sou seker gewees het dat hoewel die woord “jaart” dikwels as ’n anglisisme afgemaak word, dit in werklikheid al so ingeburger geraak het dat dit as Afrikaanse woord beskou moet word. ’n Gepaste argument vir ’n landboumens.

Hoe dit ook al sy, die prof, of enigiemand anders, het nou die geleentheid om die woord wat al so lank terug “uitgevind” is ook te “borg”. Die WAT gee as deel van ’n fondsinsameling-aksie aan belangstellendes die geleentheid om ’n woord in die woordeboek teen R100 te borg. Behalwe dat jy daarmee die voortgesette werk aan die woordeboek help bemoontlik (ja, dié woord staan in die A-tot-C-uitgawe van die WAT), het jy die kans om daarmee R20 000 te wen. Boonop verskyn jou naam in die volgende deel van die WAT en kry jy ‘n sertifikaat wat jou weldaad bevestig.

Self sou ek graag die geleentheid gebruik om die woord “leerder”, wat deur een of ander onbesonne opvoedkundige “uitgevind” is (en beslis ’n anglisisme, en boonop ’n lelike een, is), uit te roei, maar ek verneem dat dit helaas nie moontlik is om woorde ook te “ontborg” nie, nog minder om hulle, nou ja, “in te vind” (die teenoorgestelde van “uit te vind”). Die beste wat ek dan kan doen, is maar om die woord “leerling” te borg, aangesien dit ten minste ’n woord is wat bestaan. Toe ek hierdie gedagte met die direksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR) gedeel het, het die voorsitter, Wannie Carstens, egter dadelik laat weet dat die ATR “leerling” saam met ’n lys ander woorde sal borg. Dankie dus aan die ATR vir hul reusebydrae tot die Afrikaanse taal!

Al wat vir my oorbly, is dan om die woord “skolier” vir my rekening te neem. Dis ook ’n egte woord, en boonop een wat, soos “trek”, “springbok” en so meer, in Engels oorgeneem is. Weliswaar net in Suid-Afrikaanse Engels (in geen ander vorm van Engels beteken “scholar” dieselfde as “skolier” nie), maar nogtans. Het ek dan nie beswaar daarteen dat hierdie Engelse woord ’n Afrikaansisme is nie? Nee!

Nou wil ek net vra: is daar dalk iemand wat bereid is om “onderwyser” te borg? Dié spesie sterf blykbaar uit, vermoedelik weens verdringing deur ’n indringerspesie genaamd “opvoeder”.

En wat van “wanopvatting”? Na al die jare van gereelde gebruik van hierdie woord deur elke denkende Afrikaanssprekende, staan dit nog steeds nie in die nuutste Pharos nie. Ek wonder of ’n borgskap ’n miskende woord se deurgang na die hemel kan verseker (om ’n Zumaiaanse metafoor te leen)? En of so ’n heldhaftige daad as “uitvinding” van ’n woord sal kwalifiseer.

Aan die WAT-span: Hoeveel kos dit om ’n woord uit die boek te laat verdwyn?

(Mense wat ’n woord in die WAT wil borg – dit maak nie saak watse WAT-woord nie – kan dit by http://www.wat.co.za/ doen.)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

22 antwoorde op Watse WATwoord sal jy borg?

  1. Daar’s iets vir almal: meer as een k-woord, f-woorde … net wat jou fancy tickle.

    Ek ondersteun in elk geval onderwyserES (en skryfSTer).

    ‘n Geveg wat ek by die koerant verloor het, was oor “kongregasionalisties”. Ter wille van populisme is besluit om van die “Congregational Kerk” te praat. Ek sien dis in Nederlands “congregationeel”. Daarmee (in Afrikaans dan “kongregasioneel”) sou ek kan leef. Ek hou ook nogal van die Nederlandse “Pentacostaal” ipv ons “Pentakostalisties”.

  2. Die woord “leerder” het sy meriete. Dit maak van die kind ‘n aktiewe deelnemer aan die leerproses. ‘n Leerling, hierteenoor, is passief. Vergelyk die woorde “huurder” (iemand wat self huur) met “huurling” (iemand wat gehuur word). As ons wil hê skoolkinders moet aktiewe deelnemers aan hul leerproses wees, moet hulle leerders word en nie net leerlinge bly wat geleer moet word nie.

  3. Jaart het ook (in my kinderdae in die Oos-Kaap) ‘n ander betekenis gehad, seker onder invloed van Engels. Ons het van ons agterplaas as jaart gepraat, die Engelse yard. My pa het ons daarop gewys dat jaart nie ‘n Afrikaanse woord is nie, maar dit het tog so lekker gesê.

  4. Hallo, Neels! Man, ek dink soms vandag se kinders kan eerder meer geleer word en minder self leer. Lg beteken alte maklik NIE leer nie. Maar OK, opvoedkundig het jy gelyk. Taalkundig het “leerling” egter nooit die konnotasie gehad wat jy (en ander wat dieselfde argument aanvoer) daaraan heg nie.

    ‘n Paar interessante ‘linge’ wat jou argument steun, is: enkeling, banneling, huurling, kleurling, drenkeling en verstoteling. Teen jou betoog is daar egter (met dank aan die Derde Afrikaanse Retrogade Woordeboek by http://www.oocities.com/retrogade_af/gh2.html): howeling, ouderling, jongeling, stedeling, bekeerling, inboorling en nogmaals kleurling (of dit positief of negatief is, hang af van wie jy vra!).

    Maar afgesien daarvan: Wil jy of iemand anders nie dalk “leer” borg nie? Net soos die Engelse “learner” as “leerder” ingesluip het, word “teaching and learning” asof doodnormaal deesdae met “onderrig en leer” vertaal – asof “leer” in Afrikaans nie reeds albei betekenisse in hom dra en daarmee, beter as Engels, hul verweefdheid weergee nie. Niks fout met die woord “onderrig” nie, maar “onderrig en leer” is ‘n toutologie.

  5. Nou ja, Kobus Victor, jou pa was dus verkeerd! (My pa het weer volgehou die woord “asook” bestaan nie. So lief ek vir hom is, was hy verkeerd daaroor.)

  6. Terloops, die jaart waarvan jy praat, die agterplaas, is juis die een wat glo deur my vriendjie se pa “uitgevind” is. Dit word so erken. Vandaar dat ek se jou pa was verkeerd.

  7. Gerrit, as ek woorde sou borg, sou ek straks na ander woorde as “leer” kyk – hoe belangrik dit ook al is.
    As ek nou vinnig dink aan woorde om te borg, sou kandidate vir my lysie woorde wees soos “witvlerkvleikuiken”, “skaakmat”, “verwonder”, “enjambement”, “deernis” en les bes, “genade”.
    Hoe gaan ‘n mens te werk om ‘n woord te borg?

  8. Kirpan het gesê op Februarie 10, 2011

    Wanopvatting is mooi – maar bestaan in Afrikaans nie ‘wanbegrip’ nie? Of verskil die betekenis? Moontlik.
    Ek stem saam oor leerling pleks leerder. Die konnotasies word nuut uitgevind. Jy gee voldoende voorbeelde van die neutrale gebruik van die agtervoegsel – ling.
    Afrikaans het voldoende eie, egte woorde en hoef nie ‘leentjiebuur’te speel nie by Engels.
    Ek gru nog by die lees van Harde ware pleks Ysterware by ‘n winkel.
    Wyle Dr Eloff het ook gepleit vir die gebruik van Siekehuis pleks Hospitaal.

    Cornelis

  9. Eiger het gesê op Februarie 10, 2011

    Nederlandse familie wat onlangs weer hier gekuier het, het hulle weer verkneukel in Afrikaanse woorde soos rekenaar, tuinslang, oulik ens. Hoewel hul taal maklik woorde oorneem, was ek verbaas om te sien in hoe ‘n mate die Duitse woord uberhaupt (met umlaut)in die taal van die tydskrifte en geskiedenisboeke wat hulle saamgebring het voorkom. Klink vir my na ‘n woord wat ek bereid is om te borg.

  10. Kyk die skakel aan die einde van my hoofinskrywing hierbo. As jy daarop klik, is jy op die WAT se webwerf, vanwaar jy direk die betaling kan doen.

  11. Ja, dis ‘n lekker woord. Jy weet seker van die oudjie wat ‘n sin met “tuinslang” moes maak en toe geskryf het: “My pa slaan die tuinslang met die hosepipe dood.”

  12. “Wanbegrip” staan ook nie in Pharos nie, maar al sou dit (en dit behoort!), sien ek dit tog effens anders as “wanopvatting”. Wanbegrip is vir my nader aan misverstand, terwyl ‘n wanopvatting meer soos ‘n verwronge oortuiging is – nie net vals nie, maar totaal die kluts kwyt. Maar dalk is dit ‘n wanbegrip. Of ‘n wanopvatting?

  13. Die WAT se webwerf sê jy kan ‘n woord borg teen R100, nie R20 nie.

  14. Oeps, jy reg! Ek stel dit gou hierbo ook reg.

  15. Een vannie goed wat my gat brand is hoe die radio en ander mense die woord “getal” gebruik ipv die woord “aantal”.

    Die nommer drie is ‘n getal, maar die aantal appels in die mandjie is drie.

    En die ouens sê: “Die getal appels…”

    Dissie vir my lekker nie.

  16. Ten minste is die WAT se woorde nie goedkoop woorde nie!

  17. Nou ja, borg dan “aantal”. Of dalk selfs ‘n aantal woorde?

  18. *grin*

    Ten minste het nie gesê: “‘n getal woorde” nie.

  19. Hoekom stertjies aanheg vir die vroulike vorms? Wel, mans het reeds in ander opsigte stertjies aangeheg, maar dit daar gelaat … Gestel ons sou van die stertjies (die vrouens s’n) ontslae raak. Sal ons dan voortaan nie meer na ‘n lugwaardin verwys nie, maar selfs ‘n vrou in daardie beroep ook ‘n lugwaard noem? Of as ons die stertjies wil behou: sal ons voortaan “lugwaardin” ook vir mans gebruik?

    Hoekom nie “dokterin” en “doktorin” nie? Wel, omdat hierdie woorde nie bestaan nie – anders as “skryfster” en dergelike woorde wat wel bestaan. Taal is nie logies of konsekwent nie; dis iets wat spontaan evolueer. Wat my irriteer is as ons dit nou wil suiwer en orden deur dit alte bewustelik te wil aanpas en verander. Maar goed, dit behoort my nie so erg te irriteer nie!

    Ja, asb borg hofnaar. (Ek het reeds my sertifikaat vir “skolier” ontvang.)

  20. Hofnar, taal verdra baie oortollighede. Die hele Engelse taal met sy absurde spelling en grammatika getuig hiervan. Selfs ons gbrk vn mdklnkrs s rtllg (soos sprekers van Hebreeus weet). Die rede hoekom taal allerhande nie-funksionele dinge behou, is omdat dit nie funksioneel is nie. Dis ‘n rare produk van evolusie wat wel funksioneel ingespan kan word, maar ook sy eie vreemde wette volg. Daarin sit die sjarme van taal.

    Terloops, ek was onlangs weer lank in Nederland. Hulle gebruik baie geslagswoorde, selfs (anders as ons) vir vroulike teoloe.

  21. kammakazi, ek hou darem meer van “doktorres” en dokterres” as van “dokerin” of “doktorin”! Maar moenie hoop verloor oor jou neologismes nie. Neologiste is a eensame spesie, maar groots. Vra vir Leon Rousseau.

  22. Hallo Gerrit

    ek dink al jare lank dat ek graag die woord “insnip” in Afrikaans sou wou he^ – in plaas van die Engelse “inchip” – die “snip” in “insnip” se^ so lekker presies: hoe “cheeky” (watter woord kan ons daarvoor maak??)die insnipper is! Christine Bsrkhuizen le R

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.