Om oor SA te kan droom, is reeds ’n begin

Februarie 9, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

 

By ’n onlangse filosofie-simposium praat Andrew Nash van die Universiteit van Kaapstad se departement politieke studie oor “Suid-Afrika as Medittereense land”.

 

By die aanhoor van dié titel word opnuut bevestig dat ’n mens die Transvaler uit die Transvaal kan haal, maar nie die Transvaal uit die Transvaler nie, want die uwe sit toe en wonder hoe op aarde die Hoëveld as Medittereens voorgestel kan word. Alweer ’n blik op “Suid-Afrika” wat nie verby die druiwe-gordyn kan sien nie?

 

Dalk, dink ek, sal Nash, synde ’n skerp kritiese linksgesinde denker, die aanbieding van Suid-Afrika as Medittereense streek as romantiserende toeristetaal afmaak. Dit sal die oordrewe “Kaapsheid” wat ek vrees help relativeer.

 

Al gou is dit egter duidelik dat Nash met iets heel anders besig is.

 

Boeiend vertel hy hoe verskillende skrywers, onder andere Olive Schreiner, Uys Krige, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en R.W. Johnson, deur ’n (weliswaar romantiese) idee van die Medittereense wêreld geïnspireer is om ’n droom oor SA te droom: ’n droom waarin nie volk, bloed en bodem nie, maar vloeibare, selfs chaotiese verskeidenheid, die deurslag gee; waarin geld en politieke mag nie oorheers nie en waarin al die verskillende groeperings in die land hul besondersheid kan uitleef. Lees Krige se Sol y Sombra of Breytenbach se “Bruin Reisbrief” om die idee te kry.

 

En nee, die visie was nie uitsluitlik Kaapsentries nie (al herinner die pragtige Boland so veel aan die Medittereense wêreld), want Schreiner had onder meer ’n groot bewondering vir Paul Kruger en die Boererepublieke. Sy was ook sterk gekant teen rassehiërargie en -diskriminasie. Haar ideaal was dat Suid-Afrikaners hul eiesoortigheid, hul plaaslikheid, hul andersheid sou waardeer en vier – ’n prentjie wat lynreg indruis teen die verskillende nasionalismes (Brits, Afrikaner- en Afrika-) wat mekaar in die land se geskiedenis opgevolg het, en wat telkens, ook vandag nog, daarna streef om één identiteit, één kultuur, één oorheersende owerheid te vestig.

 

Die “Medittereense” droom is nooit gerealiseer nie. Nash se kritiese samelewingsontleding maak dit in sy lesing dan ook duidelik dat dit nie onder huidige toestande kán realiseer nie. Solank die skerp ekonomiese ongelykhede in die land voortduur, kan diversiteit nie gevier word nie, en volgens Nash kan dié ongelykhede nie in die heersende neoliberale orde uitgeskakel word nie). Die bruisende lappieskombers waarvan die “Medittereniane” droom (om sommer ’n drietal metafore te vermeng) bestaan dus net in hul geskrifte en in die hart en gedagtes van dié wat dit lees en daardeur geraak word.

 

As teoloog meen ek dat “onrealistiese” versugtings soos “SA as Medittereense land” belangrik en waardevol is. Dat mense oor sulke dinge kan droom, dit vir hulle kan voorstel, daarna verlang, beteken reeds dat die “teenswoordige wêreld” nog nie die oorhand het nie. In die versugting, die “hoop”, kom die toekoms ons te gemoed, skryf die teoloog Jürgen Moltmann in sy Teologie van Hoop.

 

Wat as die teologie nie tot ’n mens spreek nie? Dan kan jy dalk aanklop by ’n ateïstiese denker soos die Neo-Marxis Ernst Bloch deur wie se Filosofie van Hoop Moltmann geïnspireer is.

 

Daar was ’n tyd toe Marxiste geglo het dat die geskiedenis van die klassestryd onwrikbaar op die uitkoms van ’n klaslose, selfs regeringlose samelewing afstuur. Deesdae glo niemand meer só nie. Trouens, die paar oorblywende Marxiste is oor die algemeen sinies en neerslagtig oor die rigting waarin die wêreld gaan.

 

Daar is egter denkers uit die Marxistiese tradisie, soos Terry Eagleton en Slavoj Žižek, wat meen dat die wêreld darem nog nie heeltemal verlore is as daar nog mense is wat van ’n beter wêreld droom nie. Al is Karl Marx dan dood en begrawe, skryf Jacques Derrida, leef sy “spook” nog onder ons.

 

Dromers van ’n Medittereense SA het (met die moontlike uitsondering van Breytenbach) nie oor sosialisme gedroom nie. Iemand soos R.W. Johnson is selfs ’n blinkoog-kapitalis. Hulle het egter gedroom, en ons kan steeds droom, van ’n wêreld waarin die waardigheid van wat klein, plaaslik en spesifiek is nie deur geld en mag tot eenselwigheid en banaliteit gedwing word nie.

 

Dit is darem al iets, of hoe?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

11 antwoorde op Om oor SA te kan droom, is reeds ’n begin

  1. Dankie Gerrit…. goeie perspektief.

  2. Mens kan droom – en mens MOET droom – dis net so moeilik om raak te sien wat mens moet DOEN om nader aan die droom te kom.

    Ek wens ek het geweet.

  3. Droom is al doen, want dit ondergrawe die bestaande. Leonard Cohen: “There’s a crack in everything, that’s how the light gets it.”

  4. Dankie, Dries. (Is jy die Dries wat ek dink jy is?)

  5. Hoe moet hy nou weet watter Dries jy dink
    hy is?

    🙂

  6. Jaa- daai Oosterse dink is doen ding – wie weet – kan dalk help…

  7. Jy meen dis ‘n Catch 22? Stel dit so: as hy die Dries is wat ek dink hy is, sal hy weet dis hy!

  8. ‘n “Oosterse” vraag (in die gees van “Hoe klink een hand wat klap?”): as daar ‘n “dink-is-doen-ding” is, is daar dan ook ‘n “doen-is-dink-doen”?

  9. Mooi gestel. Gaan nou en doen dit.

  10. Hmmm – Positive feedback loop…

    Gewoonlik onstabiel…

    🙂

  11. Ek volstaan met ‘n ferm: “Miskien!”

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.