Misplaaste protes teen Zuma se God-uitlatings

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Verskoon die gaap … OK, oor Zuma se God-uitlatings:

1. Dis enersyds goeie nuus dat Zuma soveel openlike twak praat, want dit beteken mense gaan hom al hoe minder ernstig opneem, en dis altyd aan te bevele.

2. Wat Zuma kwytraak, is problematies, maar nie omdat dit God se gevoelens seermaak of aan gelowiges aanstoot gee nie. (God kan dit vat en gelowiges moenie so lig geraak wees nie.) Die rede hoekom dit kommerwekkend is, is dat dit op totalistiese uitsprake neerkom. Zuma gee te kenne dat DIE PARTY waardevoller en belangriker as enigiets anders is en ‘n aanspraak op ongekwalifiseerde lojaliteit het. Dit kan mens oordra deur die party met God te verbind (soos Zuma doen), maar jy kan dit ook in ander taal doen (soos byvoorbeeld kommunistiese regerings in die ou Sowjet-unie of in China).

Zuma verklaar basies dat hy nie die land se liberaal-demokratiese Grondwetlike orde onderskryf nie. (Hy het immers voorheen al in soveel woorde sy mening uitgespreek dat die ANC belangriker as die Grondwet is.) Immers, daardie Grondwet stel enige spesifieke politieke party ondergeskik aan fundamentele menseregte en stel sekere beperkings op die mag van watter party ook al regeer. Deur sy absolutistiese aansprake skaar Zuma hom by die Hitler’s, Stalin’s en Mao’s van die geskiedenis. Dit slaan my dronk dat juis hierdie aspek hoegenaamd nie in die vroom reaksies uitgelig word nie.

3. In die lig van bogenoemde gaan dit in die Zuma-uitsprake nie oor iets wat net Christene (of ander gelowiges) betref nie, maar oor iets wat alle Suid-Afrikaners, gelowiges of nie, tot kommer behoort te stem. Zuma meen mense wat nie ANC stem nie gaan hel toe. Nou ja, ek meen dat elkeen wat op hierdie dag en datum nog wel vir die ANC stem medeaandadig is aan die totalitarisme wat meer en meer in daardie party na vore kom. Moenie eendag terugkyk en verskonend protesteer, “As ons maar geweet het …”, nie.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

11 antwoorde op Misplaaste protes teen Zuma se God-uitlatings

  1. Dis nou wat mens kry as jy ‘n halfwas, onopgevoede, ongeskoolde pateet kies as ‘n president.

  2. “Deur sy absolutistiese aansprake skaar Zuma hom by die Hitler’s, Stalin’s en Mao’s van die geskiedenis. Dit slaan my dronk dat juis hierdie aspek hoegenaamd nie in die vroom reaksies uitgelig word nie.”

    Ek is dankbaar dat daar darem ten minste een persoon is dit aantoon en wens dat hierdie insig so wyd as moontlik uitgedra word.

  3. Ja-nee. ‘n Gekerm gaan op oor die verkeerde ding. Oor kruipende totalitarisme praat die Raad van Kerke nie. Jy is reg Gerrit. Zuma se “metafore” kan God nie skaad nie. Ek hoop net nie ons kry nou weer stortings van eposse in ons email van Christene wat seergemaak is vir God se onthalwe nie. GAAN STEM REG!!

  4. Ja, en hy maak misbruik daarvan.

  5. UNPOCO het gesê op Februarie 9, 2011

    Natuurlik stem die ANC se uitlatings ons tot kommer. Elke keer as hulle sulke ondeurdagte uitlatings maak dan kom hulle agterna met verskoninkies van ” dit was nie so bedoel nie ” of “dit was anders bedoel.” Ek sien hulle beskuldig nou die opposie partye wat hulle stemme dik gemaak het daarteen van kinderagtigheid. Argument op argument bewys hulle net hulle onintellektuele mentaliteit weer en weer. Sjoe, die wêreld moet staan en lag vir die sirkus.

  6. carinp het gesê op Februarie 9, 2011

    Wys my watter president of leier van watter nasie nie tog maar aan die “Hitler”-club behoort nie. Mag en toegang tot rykdom (hoe gering ookal) dryf menig na onoordenkte uitsprake en lofsange wat die volk WIL hoor. Hoe anders bly hulle in beheer? Ek dink ongelukkig dat ons Zuma hopeloos te veel krediet gee vir sy belaglike uitlating. Hoe meer leeg die blik – hoe groter die geraas!

  7. Diamond, ek dink ek se eintlik presies wat jy se. Jammer as dit nie so oorgekom het nie!

  8. carinp het gesê op Februarie 9, 2011

    Ek jubel dat ons darem oor kwessies in die land debatteer. Watter kant toe ookal – die punt bly, ‘n stil nasie is ‘n onderdrukte nasie. Basuin jou opinies – ek draf kliphard agter jou!

  9. Pasop net vir as ek in die sloot in hardloop! Wil jy nie liewer voor hardloop nie?

  10. carinp het gesê op Februarie 9, 2011

    Ek hol dalk te vinnig vir jou! 😉

  11. Heel waarskynlik.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.