Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Drie denkers reageer op Katolieke teoloë oor die kerk en seksuele misbruik

Februarie 24, 2011 in Sonder kategorie

Die jongste LitNet-miniseminaar handel oor ’n onlangse verklaring deur ’n groot groep Duitse Katolieke teoloë (die oorspronklike Duitse weergawe is ook beskikbaar) oor seksuele misbruik in hul kerk, die hantering daarvan deur kerklike gesagsfigure en -liggame, en ander sake wat daarmee verband hou – ook wat betref die kerk se selfverstaan en funksionering. Die politieke wetenskaplike Amand Gouws, die teoloog Laurie Gaum en die filosoof Louise du Toit reageer op dié verklaring en gee hul mening oor die onderwerp daarvan. Lees dit en kom vertel ons dan hoe jy oor hierdie saak dink.

Daar sal natuurlik lesers wees wat reken “godsdiens” as sodanig is die probleem (die “belydende ateïste”), andere wat sal beweer Katoliekheid is die probleem (omdat dit ‘n ander Christelike tradisie as hul eie is) en nog ‘n klompie wat al die moeilikheid aan “premoderne” geloof sal toeskryf (sommige “Nuwe Hervormers”). Sulke menings is uiteraard welkom, maar miskien is daar ook interessanter, insigryker perspektiewe waaroor ons kan gesels. Ek dink in elk geval dat die drie bydraers tot die miniseminaar waardevolle gespreksonderwerpe aan die orde stel.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Pro Bono?

Februarie 18, 2011 in Sonder kategorie

Toe die “Wit Wolf” Barend Strydom in 1988 op Strijdomplein in Pretoria wild en wakker swart mense doodgeskied het, was A.P. Treurnicht, toe leier van die regse Konserwatiewe Party, se reaksie dat, hoewel ’n mens natuurlik nie Strydom se daad kan goedkeur nie, dit tog “verstaanbaar” is dat ’n jong Boerseun so gefrustreer kan voel deur die NP-regering se hervormings dat hy iets onbesonne aanvang …

Hopelik sal my lesers, of ten minste darem die meerderheid van hulle, met my saamstem dat Treurnicht se reaksie uiters onvanpas was. Soms moet ’n mens nie “maar” sê nie. Die Strydom-massamoord was so ’n oomblik. As leier van die grootste opposisieparty van daardie tyd, en dus iemand met ’n mate van invloed in regse kringe, moes Treurnicht hom ondubbelsinnig teen Strydom se misdaad en teen enige soortgelyke optredes uitgespreek het. Daarmee sou hy selfs kon wys dat, soos hy dikwels aangevoer het (onder meer in sy boek Credo van ’n Afrikaner), die Verwoerdiaanse apartheidsideaal nie op rassevooroordeel en -haat berus nie, maar op kultuurgroepe se reg op selfbeskikking. (Hy kon dit egter nie bewys nie omdat dit nie so was nie. “Hulle smaak so lekker, want hulle eet so lekker,” het Farmer Brown destyds in die hoenderadvertensie gesê. Hier sou geld: hulle klink so rassisties, want hulle is so rassisties.)

As Bono se omstrede “vryheidsliedere”-uitspraak van nou die dag my aan Treurnicht se destydse reaksie herinner, is dit nie omdat ek die twee op dieselfde vlak plaas nie. In die een geval gaan dit oor ’n lied vol haatspraak (“Skiet die Boer …”), in die ander oor daadwerklike massamoord (Strydom) – eersgenoemde is erg, maar laasgenoemde baie, baie erger. Ek wil Bono dus nie oor dieselfde kam as Treurnicht skeer nie. Trouens, ek het ook niks persoonliks teen Treurnicht nie. Hy was maar ’n mens soos die res van ons, en het dus foute gemaak. Mag hy in vrede rus. Soos Kurt Vonnegut sou sê: “He never asked to be born in the first place.”

So wat probeer ek dan sê? Wel, dat ’n sekere soort logika in sowel Treurnicht se uitspraak van toe en Bono s’n van die ander dag herkenbaar is.

As Treurnicht oor sy uitspraak gekritiseer is, en as hy hom aan die kritiek sou gesteur het, sou hy kon protesteer: “Ek het mos gesê wat Strydom gedoen het, is verkeerd. Wat ek oor jong Boerseuns se frustrasie gesê het, het nie daarna verwys nie. Dit was ’n algemene opmerking oor die politiek. Om dit as ’n verskoning vir Strydom te interpreteer is ’n verdraaiing.” Hoe oortuigend sou u dit vind?

Hoor nou hoe die Bono-gesprek glo verloop het (volgens die joernalis Diane Coetzer soos in Die Burger aangehaal): “Bono is om sy mening gevra oor ’n ‘omstrede liedjie’. Hy het geantwoord ‘Bedoel jy Malema?’ Die joernalis het dit bevestig, waarop Bono net gesê het: ‘Interessant’. Hy het toe nostalgies geraak oor die Ierse vryheidsliedjies wat hulle destyds gesing het.” (Soos wyd gearapporteer, was die liedere waaroor Bono nostalgies geraak het juis liedere waarin die Ierse Republikeinse Leer se oorlog verheerlik is.) Hieraan voeg Coetzer dan in haar eie woorde toe: “In geen stadium het hy (Bono) gesê ‘Ek ondersteun Malema se reg om hierdie liedjie te sing’ nie’.”

Dit mag so wees, Diane, maar ook Treurnicht het destyds “op geen stadium” Strydom se rassemoorde goedgepraat nie. Trouens, hy het dit uitdruklik veroordeel. Tog is dit nie vergesog nie om, gesien die spesifieke konteks waarin Treurnicht oor “jong Boerseuns se frustrasie” begin praat het, af te lei dat hy tog bedoel het om daardeur sy kritiek op Strydom te versag. ‘n Geval van: ja, maar …

Selfs Coetzer se “saak vir die verdediging” maak duidelik dat Bono se nostalgie oor gewelddadige Ierse vryheidsliedere direk gevolg het op, en dus uitgespreek is in die konteks van, ’n vraag oor Malema se rassistiese moordlied. Meer nog: waar Treurnicht nog gesê het Strydom se optrede was “natuurlik” verkeerd, is al wat Bono ten tye van die omstrede onderhoud direk oor “Skiet die Boer” gesê het: “Interessant.”

Het Bono nie teen hierdie tyd duidelik genoeg laat blyk dat hy nié die sing van Malema se gunsteling-“vryheidslied” goedkeur nie? Hy het en dis goed so. Soos Treurnicht destyds het hy ’n oordeelsfout begaan. Hy het nie die implikasies of gevolge van sy woorde deurdink nie. Hy probeer terugkrabbel sonder om te erken hy was verkeerd. Dis menslik. Sy uitlating in ’n radio-onderhoud dat dit “mal” is om te suggereer dat hy die skietlied goedgepraat het, is weliswaar ’n geval van “the lady doth protest too much”, maar kom ons laat dit daar. Ek het in elk geval simpatie met Bono se politieke sentimente, terwyl Treurnicht destyds vir my die verpersoonliking was van alles wat ek politiek verwerplik vind, so ek sal dit nie teen die rocker hou nie.

Wat my meer interesseer, is die manier waarop Bono se aanhangers reageer. Een jong man sê op die radio toe hy gehoor het van Bono se vermeende uitlating, hy “dadelik geweet het dat Bono dit nie kon gesê het nie”. Hy het dus besluit wat hy wil glo nog voordat hy die feite ondersoek het. Noudat deur mense soos Diane ge-special plead word dat Bono niks problematies bedoel het nie, beskou die jong man met die intuïsie dit as bewys dat sy vermoede korrek was! Dis maar een voorbeeld van die manier waarop Bonoïste oor die aangeleentheid praat. Gaan kyk maar op Facebook.

In die proses word kritici van Bono, soos Steve Hofmeyr, liederlik sleg gesê oor sy “leuens”, asof daar geen gronde voor was nie. Ek het al vir Steve oor ander dinge gekritiseer, maar hierdie keer moet ek darem tot sy verdediging kom: hy het goeie rede gehad om teen Bono se uitlating protes aan te teken. Dis juis hierdie protes deur hom en andere wat Bono daartoe genoop het om “toe te lig” wat hy nou eintlik sou bedoel het en duidelik te maak dat haatspraak verwerplik is ook wanneer dit ‘n wysie en ritme het.

Dit wil lyk asof Bono vir tienduisendes ’n soort messias is van wie dit geheel en al ondenkbaar is dat hy ooit iets verkeerds kan sê of doen, sodat enige kritiek op hom heiligskennis is.

Ter illustrasie: Vanoggend gee die radiostasie Cape Talk ses U2-kaartjies weg. Soos met enige ander groot optrede word “comps” immers aan die media gegee; dis deel van die bemarkingsaksie. Die Cape Talk-omroeper reken toe dat, in plaas van om gewoon die kaartjies aan die eerste inbellers te gee of hulle dit deur ’n vasvra te laat wen, hy dit sal gee aan wie ook al die grootste geldskenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie doen. Hierop reageer ’n woedende luisteraar deur te sê dis skokkend dat “slegs rykes” ’n kans het om die kaartjies te kry. Dis immers gratis gegee. “Bono sou dit nooit goedgekeur het nie.” (Die etiek van “What would Bono do?”) Vreemd nè, dat Bono tot dusver geen beswaar aangeteken het teen die 60 000 aanhangers wat hul beursies so hard moes skut om sy konsert te kan bywoon nie. ’n Mens sou amper dink hy’s per ongeluk skatryk, teen sy sin! Miskien wil hy eintlik pro bono optree, maar verstaan hy die betekenis van dié uitdrukking net effe verkeerd?

Aan dié wat die konsert gaan kyk: geniet dit. Sommer baie. Maar moet tog asseblief nie die arme man aanbid nie. Dis ’n verleentheid vir alle betrokkenes.

Het ek U2-kaartjies? Nee, ek spaar vir Neil Diamond …

* Stuur ’n e-pos met die word “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word. 

Onsin, geheimtaal, spekulasie of belydenis?

Februarie 16, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

 

“Ek glo in God, maar nie in die Drieëenheid nie,” sê iemand onlangs weer. Wat word bedoel met dié gepraat oor God wat een is, maar ook drie? Waar kom die kerk daaraan?

 

Sommige teoloë verlustig hulle in die absurditeit van dié numeriese onmoontlikheid, eerder as om dit te probeer ophelder. Karen Armstrong erken dat die Triniteitsleer geen sin maak nie Dís juis die bedoeling, meen sy: dit wys op die onuitspreeklikheid van God. Maar sou ’n mens dan dieselfde misterie kan oproep deur te verklaar dat God vyf en een, of sewe en drie, is? Of enigiets willekeurigs.

 

Armstrong se vertolking verklaar nie hoekom dit vir die vroeë kerk belangrik was om juis só te praat nie, en nog minder waarom ander formulerings van die misterie afgewys is. As trinitariese taal bedoel was om onverstaanbaar te wees, ’n klank-meditasie, sou dit geen ander formulerings teenspreek nie. Dan is alle God-taal ewe geldig: leef en laat leef.

 

Ander teoloë weet presies hoe die Drieëenheid “in mekaar sit”. Volgens die (gewilde) “sosiale Triniteitsleer” is daar drie “Ekke” of “Subjekte” wat Goddelike eienskappe deel en in alles eensgesind is. ’n Bietjie soos in Don Mclean se “American Pie”: “the three men I admire most, the Father, Son and the Hoy Ghost …”

 

Op die beswaar dat dít nie na één God klink nie, het die sosiale Trinitariër Richard Swinburne al gesuggereer dat ’n mens maar van “three Gods” kan praat, mits die eensgesindheid steeds benadruk word. (Swinburne se Oxford-kollega Keith Ward skerts dat Swinburne se God ’n komitee is wat altyd konsensus het.)

 

Ander sosiale Trinitariërs verstaan die eenheid so dat Vader, Seun en Gees slegs in hul onderlinge verhoudings bestaan – soos mense, wie se ek-bewussyn van ’n bewustheid van andere afhang. Maar is ek, my vrou en my kind dan ’n “drieënig”?

 

 Die sosiale Triniteitsleer het die aantrekkingskrag dat dit ’n verhoudingsetiek motiveer: As God ’n verhouding ís, dan is verhoudings, liefde, ubuntu allerbelangrik. Maar het ons spekulasies oor God se “binnewerkinge” nodig om verhoudings te waardeer? Jode en Moslems bely ook ’n Verhoudingsgod: In die Abrahamitiese geloofstradisie is God (Trinitaries of nie) die Een wat vir verhoudings kies, dit skep, opsoek, onderhou en herstel.

 

Wat van God in sigself? Dáároor kan ons niks sê nie, behalwe dat wat God in sigself is nie indruis teen hoe God in verhouding tot ons is nie: die gesig wat God aan ons wys, is nie ’n masker wat ’n fiktiewe karakter ten tonele voer nie. Dís wat die Triniteitsleer wil sê – niks meer nie, niks minder nie.

 

Wat bely word, is nie dat die een God toe al die tyd (ook) drie is nie, maar dat die drievoudige Godstaal van die Bybel na een en dieselfde God verwys. Die Redder wat ons in Christus ontmoet, is nie ’n ander God as die Skepper waarvan Israel getuig nie (die “Joodse God” is nie met ’n “Christelike God” vervang nie), en die Gees wat deur Woord en sakrament die wêreld vernuwe, is die Gees van dáárdie God.

 

Die Drieëenheidsleer wil benadruk dat daar net één God is! Dit is gemik teen antieke én hedendaagse neigings om die Verlosser teen die Skepper af te speel, of omgekeerd.

 

Is dit intellektueel verantwoordelik om die Triniteitsleer te verwerp bloot omdat ’n mens dit nie onmiddellik verstaan nie? Die wetenskapshistorikus Thomas Kuhn skryf dat, wanneer ’n mens in ou tekste op onverstaanbare wetenskaplike opvattings (soos Aristoteles se fisika) afkom, jy waarskynlik op die drumpel van ’n deurbraak in begrip staan. Wat sou ons van Kuhn dink as hy sou sê: “Van Aristoteles verstaan ek niks”, en dit dan daar laat?

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Lank lewe die staatsrede?

Februarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Vandeesmaand se LitNetminiseminaar is oor pres. Jacob Zuma se onlangse staatsrede. Die eerste bydrae is deur die ekonoom Stan du Plessis. Verdere standpunte en gedagtes van onder andere Alana Bailey (Afriforum) en die direksie van die Afrikaanse Taalraad sal binnekort hierop volg. Hou dus die Seminaarkamer dop.

Wat my die meeste van die staatsrede opgeval het, was die pomp and circumstance – en nie in positiewe sin nie. Al die spoggerige klere van die dames en die donker pakke van die manne praat saam ‘n taal wat vreemd is aan die mensliker styl van Mandela met sy informele hemde wat deur burgers aan hom geskenk is en sy stukkende sokkies. Dis asof Mandela sy gesag in homself gedra het terwyl sy opvolgers (reeds sedert Thabo Mbeki se presidentstermyn) hul gesag met ‘n uiterlike vertoon van belangrikheid wil waar maak.

Dit alles het vir my (ek erken ek gee ‘n subjektiewe perspektief) iets sinisters verleen aan die dawerende 39 (of hoeveel ook al) saluutskote, wat deur die TV-kommentator beskryf is as “wêreldwyd die hoogste eerbewys wat aan ‘n staatshoof gegee kan word”. Watter soort “eer” word met doodsgereedskap aangedui? Met die klank van ‘n luidende simbaal.

Ek moes dink aan die NP-dae van pakke, veerhoede en militêre vertonings: “Kyk, ons is groot, sterk en belangrik! Look on my works, ye Mighty, and depair!

 

Gelukkig plaas die gedig deur P.B. Shelley waaruit laasgenoemde frase geneem is alles in perspektief:

 

OZYMANDIAS
 

I met a traveller from an antique land
Who said: Two vast and trunkless legs of stone
Stand in the desert. Near them, on the sand,
Half sunk, a shattered visage lies, whose frown
And wrinkled lip, and sneer of cold command
Tell that its sculptor well those passions read
Which yet survive, stamped on these lifeless things,
The hand that mocked them and the heart that fed.
And on the pedestal these words appear:
“My name is Ozymandias, king of kings:
Look on my works, ye Mighty, and despair!”
Nothing beside remains. Round the decay
Of that colossal wreck, boundless and bare
The lone and level sands stretch far away.

 

Alana Bailey se reaksie op die staatsrede is ook nou in die Seminaarkamer te lese.

 

Ook die Afrikaanse Taalraad het op aspekte van die staatsrede kommentaar gelewer – klik hier en lees.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Watse WATwoord sal jy borg?

Februarie 10, 2011 in Sonder kategorie

’n Vriendjie in die buurt waar ek grootgeword het, het dikwels gespog dat sy pa “’n woord uitgevind het”. Wat my maat bedoel het, is dat sy pa, ’n landboukundige, suksesvol by woordeboekmakers aanbeveel het dat die woord “jaart” in die woordeboek opgeneem word. Ek weet nie watter woordeboek dit was nie, maar ná al die jare het ek uiteindelik in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan kyk en sowaar, die woord “jaart” kom daarin voor – sommer in ’n klomp betekenisse. Die J-tot-KJ-uitgawe het in 1968 verskyn, so as die prof nog redelik jonk was toe hy die woord “uitgevind” het, kan dit bes moontlik aan sy inspanning te danke wees. Sy argument sou seker gewees het dat hoewel die woord “jaart” dikwels as ’n anglisisme afgemaak word, dit in werklikheid al so ingeburger geraak het dat dit as Afrikaanse woord beskou moet word. ’n Gepaste argument vir ’n landboumens.

Hoe dit ook al sy, die prof, of enigiemand anders, het nou die geleentheid om die woord wat al so lank terug “uitgevind” is ook te “borg”. Die WAT gee as deel van ’n fondsinsameling-aksie aan belangstellendes die geleentheid om ’n woord in die woordeboek teen R100 te borg. Behalwe dat jy daarmee die voortgesette werk aan die woordeboek help bemoontlik (ja, dié woord staan in die A-tot-C-uitgawe van die WAT), het jy die kans om daarmee R20 000 te wen. Boonop verskyn jou naam in die volgende deel van die WAT en kry jy ‘n sertifikaat wat jou weldaad bevestig.

Self sou ek graag die geleentheid gebruik om die woord “leerder”, wat deur een of ander onbesonne opvoedkundige “uitgevind” is (en beslis ’n anglisisme, en boonop ’n lelike een, is), uit te roei, maar ek verneem dat dit helaas nie moontlik is om woorde ook te “ontborg” nie, nog minder om hulle, nou ja, “in te vind” (die teenoorgestelde van “uit te vind”). Die beste wat ek dan kan doen, is maar om die woord “leerling” te borg, aangesien dit ten minste ’n woord is wat bestaan. Toe ek hierdie gedagte met die direksie van die Afrikaanse Taalraad (ATR) gedeel het, het die voorsitter, Wannie Carstens, egter dadelik laat weet dat die ATR “leerling” saam met ’n lys ander woorde sal borg. Dankie dus aan die ATR vir hul reusebydrae tot die Afrikaanse taal!

Al wat vir my oorbly, is dan om die woord “skolier” vir my rekening te neem. Dis ook ’n egte woord, en boonop een wat, soos “trek”, “springbok” en so meer, in Engels oorgeneem is. Weliswaar net in Suid-Afrikaanse Engels (in geen ander vorm van Engels beteken “scholar” dieselfde as “skolier” nie), maar nogtans. Het ek dan nie beswaar daarteen dat hierdie Engelse woord ’n Afrikaansisme is nie? Nee!

Nou wil ek net vra: is daar dalk iemand wat bereid is om “onderwyser” te borg? Dié spesie sterf blykbaar uit, vermoedelik weens verdringing deur ’n indringerspesie genaamd “opvoeder”.

En wat van “wanopvatting”? Na al die jare van gereelde gebruik van hierdie woord deur elke denkende Afrikaanssprekende, staan dit nog steeds nie in die nuutste Pharos nie. Ek wonder of ’n borgskap ’n miskende woord se deurgang na die hemel kan verseker (om ’n Zumaiaanse metafoor te leen)? En of so ’n heldhaftige daad as “uitvinding” van ’n woord sal kwalifiseer.

Aan die WAT-span: Hoeveel kos dit om ’n woord uit die boek te laat verdwyn?

(Mense wat ’n woord in die WAT wil borg – dit maak nie saak watse WAT-woord nie – kan dit by http://www.wat.co.za/ doen.)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Om oor SA te kan droom, is reeds ’n begin

Februarie 9, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in Die Burger:

 

By ’n onlangse filosofie-simposium praat Andrew Nash van die Universiteit van Kaapstad se departement politieke studie oor “Suid-Afrika as Medittereense land”.

 

By die aanhoor van dié titel word opnuut bevestig dat ’n mens die Transvaler uit die Transvaal kan haal, maar nie die Transvaal uit die Transvaler nie, want die uwe sit toe en wonder hoe op aarde die Hoëveld as Medittereens voorgestel kan word. Alweer ’n blik op “Suid-Afrika” wat nie verby die druiwe-gordyn kan sien nie?

 

Dalk, dink ek, sal Nash, synde ’n skerp kritiese linksgesinde denker, die aanbieding van Suid-Afrika as Medittereense streek as romantiserende toeristetaal afmaak. Dit sal die oordrewe “Kaapsheid” wat ek vrees help relativeer.

 

Al gou is dit egter duidelik dat Nash met iets heel anders besig is.

 

Boeiend vertel hy hoe verskillende skrywers, onder andere Olive Schreiner, Uys Krige, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en R.W. Johnson, deur ’n (weliswaar romantiese) idee van die Medittereense wêreld geïnspireer is om ’n droom oor SA te droom: ’n droom waarin nie volk, bloed en bodem nie, maar vloeibare, selfs chaotiese verskeidenheid, die deurslag gee; waarin geld en politieke mag nie oorheers nie en waarin al die verskillende groeperings in die land hul besondersheid kan uitleef. Lees Krige se Sol y Sombra of Breytenbach se “Bruin Reisbrief” om die idee te kry.

 

En nee, die visie was nie uitsluitlik Kaapsentries nie (al herinner die pragtige Boland so veel aan die Medittereense wêreld), want Schreiner had onder meer ’n groot bewondering vir Paul Kruger en die Boererepublieke. Sy was ook sterk gekant teen rassehiërargie en -diskriminasie. Haar ideaal was dat Suid-Afrikaners hul eiesoortigheid, hul plaaslikheid, hul andersheid sou waardeer en vier – ’n prentjie wat lynreg indruis teen die verskillende nasionalismes (Brits, Afrikaner- en Afrika-) wat mekaar in die land se geskiedenis opgevolg het, en wat telkens, ook vandag nog, daarna streef om één identiteit, één kultuur, één oorheersende owerheid te vestig.

 

Die “Medittereense” droom is nooit gerealiseer nie. Nash se kritiese samelewingsontleding maak dit in sy lesing dan ook duidelik dat dit nie onder huidige toestande kán realiseer nie. Solank die skerp ekonomiese ongelykhede in die land voortduur, kan diversiteit nie gevier word nie, en volgens Nash kan dié ongelykhede nie in die heersende neoliberale orde uitgeskakel word nie). Die bruisende lappieskombers waarvan die “Medittereniane” droom (om sommer ’n drietal metafore te vermeng) bestaan dus net in hul geskrifte en in die hart en gedagtes van dié wat dit lees en daardeur geraak word.

 

As teoloog meen ek dat “onrealistiese” versugtings soos “SA as Medittereense land” belangrik en waardevol is. Dat mense oor sulke dinge kan droom, dit vir hulle kan voorstel, daarna verlang, beteken reeds dat die “teenswoordige wêreld” nog nie die oorhand het nie. In die versugting, die “hoop”, kom die toekoms ons te gemoed, skryf die teoloog Jürgen Moltmann in sy Teologie van Hoop.

 

Wat as die teologie nie tot ’n mens spreek nie? Dan kan jy dalk aanklop by ’n ateïstiese denker soos die Neo-Marxis Ernst Bloch deur wie se Filosofie van Hoop Moltmann geïnspireer is.

 

Daar was ’n tyd toe Marxiste geglo het dat die geskiedenis van die klassestryd onwrikbaar op die uitkoms van ’n klaslose, selfs regeringlose samelewing afstuur. Deesdae glo niemand meer só nie. Trouens, die paar oorblywende Marxiste is oor die algemeen sinies en neerslagtig oor die rigting waarin die wêreld gaan.

 

Daar is egter denkers uit die Marxistiese tradisie, soos Terry Eagleton en Slavoj Žižek, wat meen dat die wêreld darem nog nie heeltemal verlore is as daar nog mense is wat van ’n beter wêreld droom nie. Al is Karl Marx dan dood en begrawe, skryf Jacques Derrida, leef sy “spook” nog onder ons.

 

Dromers van ’n Medittereense SA het (met die moontlike uitsondering van Breytenbach) nie oor sosialisme gedroom nie. Iemand soos R.W. Johnson is selfs ’n blinkoog-kapitalis. Hulle het egter gedroom, en ons kan steeds droom, van ’n wêreld waarin die waardigheid van wat klein, plaaslik en spesifiek is nie deur geld en mag tot eenselwigheid en banaliteit gedwing word nie.

 

Dit is darem al iets, of hoe?

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

 

Misplaaste protes teen Zuma se God-uitlatings

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

Verskoon die gaap … OK, oor Zuma se God-uitlatings:

1. Dis enersyds goeie nuus dat Zuma soveel openlike twak praat, want dit beteken mense gaan hom al hoe minder ernstig opneem, en dis altyd aan te bevele.

2. Wat Zuma kwytraak, is problematies, maar nie omdat dit God se gevoelens seermaak of aan gelowiges aanstoot gee nie. (God kan dit vat en gelowiges moenie so lig geraak wees nie.) Die rede hoekom dit kommerwekkend is, is dat dit op totalistiese uitsprake neerkom. Zuma gee te kenne dat DIE PARTY waardevoller en belangriker as enigiets anders is en ‘n aanspraak op ongekwalifiseerde lojaliteit het. Dit kan mens oordra deur die party met God te verbind (soos Zuma doen), maar jy kan dit ook in ander taal doen (soos byvoorbeeld kommunistiese regerings in die ou Sowjet-unie of in China).

Zuma verklaar basies dat hy nie die land se liberaal-demokratiese Grondwetlike orde onderskryf nie. (Hy het immers voorheen al in soveel woorde sy mening uitgespreek dat die ANC belangriker as die Grondwet is.) Immers, daardie Grondwet stel enige spesifieke politieke party ondergeskik aan fundamentele menseregte en stel sekere beperkings op die mag van watter party ook al regeer. Deur sy absolutistiese aansprake skaar Zuma hom by die Hitler’s, Stalin’s en Mao’s van die geskiedenis. Dit slaan my dronk dat juis hierdie aspek hoegenaamd nie in die vroom reaksies uitgelig word nie.

3. In die lig van bogenoemde gaan dit in die Zuma-uitsprake nie oor iets wat net Christene (of ander gelowiges) betref nie, maar oor iets wat alle Suid-Afrikaners, gelowiges of nie, tot kommer behoort te stem. Zuma meen mense wat nie ANC stem nie gaan hel toe. Nou ja, ek meen dat elkeen wat op hierdie dag en datum nog wel vir die ANC stem medeaandadig is aan die totalitarisme wat meer en meer in daardie party na vore kom. Moenie eendag terugkyk en verskonend protesteer, “As ons maar geweet het …”, nie.

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

Stellenbosch-lesings oor opstanding kan nou aanlyn gelees word

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

In my vorige inskrywing het ek ‘n komende teologiese gesprek oor die opstanding onder die aandag gebring. Die gesprek het intussen plaasgevind en van die vier lesings is drie al op Sol Iustitiae te lese. (Die teks van die vierde lesing volg binnekort.)

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blad ingelig te word.