Kom luister net as jy in die opstanding glo (of nie)

Januarie 28, 2011 in Sonder kategorie

As jy jou in die omgewing van Stellenbosch bevind (tot sover as, sê maar, Beitbrug of Dar es Salaam) en in die lewendige Suid-Afrikaanse debat oor die opstanding belangstel (excuse the pun) – ongeag hoe jy self oor die saak dink – het jy eintlik geen ander keuse nie as om eerskomende Maandag van 09:00 tot 13:00 na ’n gesprek oor hierdie onderwerp in Stellenbosch te kom luister. So, lees die gegewens hieronder en sorg dat jy daar is …..

 

Die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch word op Maandag 31 Januarie 2011 ingelei met die Teologiese Dag wat plaasvind van 09:00 – 13:00 in die Hofmeyrsaal, Kerkstraat, Stellenbosch (skuins oorkant D’Ouwe Werf Hotel). Vanjaar se tema is Die opstanding en die lewe.

 

Prof Elna Mouton sal die program begin met ’n Skrifmeditasie oor Lukas 24. Prof Dirkie Smit se bydrae handel oor Die opstanding van Christus: ‘n teologiese oriëntering, waarna Ds Danie du Toit van die NG Kerk Waterkloof praat oor Die opstanding en kuns. Die program word afgesluit deur Dr Clint le Bruyns met ’n bespreking oor Die opstanding en die publieke lewe.

 

Bywoning is gratis en almal is welkom! Let asseblief daarop dat die geleentheid nie weer vanjaar in die Attie van Wijk Ouditorium aangebied word nie, maar verskuif na die Hofmeyrsaal in Kerkstraat. Parkering is beperk en gaste word aangeraai om op die volgende areas te parkeer: in die Laan, op die walle van die Eersterivier (oorkant Paul Roos Gimnasium) of die nuwe onderdak parkeerarea van die Eikestad Mall (ingang in Pleinstraat). Laat ruim tyd toe vir verkeersdruk.

 

NG Kerk predikante van die Wes-Kaap wat die Teologiese Dag bywoon kom in aanmerking vir VBO-punte. Kontak Dr Robert Vosloo, Tel: 021 808 3256 vir enige verdere navrae.

 

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

8 antwoorde op Kom luister net as jy in die opstanding glo (of nie)

  1. louisna het gesê op Januarie 28, 2011

    Klink na ‘n baie goeie inisiatief. Net jammer Bos is so ver. As jy ook praat, baie sterkte.

  2. Geluk luister ek net!

  3. Gerrit, het jy al NT Wright se massiewe werk oor die opstanding gelees? Dis in jul biblioteek. Vir my as leek was dit geweldig boeiend en oortuigend.

  4. Jammer, ek het vergeet om die boek se titel te meld: Jesus and the Victory of God deur NT Wright.
    (Dis nou vir ander wat dalk belangstel. Gerrit ken seker die boek.)

  5. Ek beveel Wright se werk aan vir enigiemand wat op hierdie onderwerp wil ingaan en wat dit op ‘n histories verantwoorde wyse wil doen.

  6. Ja, en daar is veel meer, onder meer “The Resurrection of the Son of God”, wat deel uitmaak van ‘n reeks uitgawes oor die geskiedenis van die heel vroegste Christenheid. Ek dink die boek wat jy vermeld is ‘n verkorte weergawe. (Die oorspronklike is nogal dik!)

  7. Dankie vir jou antwoord op my verwysing na Tom Wright. Die boek wat ek met vreugde gelees het, vanweë sy stap-vir-stap historiese werkswyse (o.a.) was oor die 1000 bladsye, met verwysings en bibliografie. Ek het dit by die US Kweekskool se bib uitgeneem. Ek is ‘n Wright-fan en wens al die twyfelaars en “ons-weet-nou-van-beter” ex-Christene wil liewer ‘n egte “scholar” soos Wright bestudeer in plaas van Dan Brown en populêre tydskrif/koerantartikels deur amateurs.

    Terloops, ek sien uit na Maandag in die Hofmeyrsaal. Dankie dat jy dit onder die aandag gebring het. (Hoop net dis dan koeler….)

  8. ‘Skuus, Flierbos, miskien ruil ek die titels van die lang en die kort weergawe om. Ja, kom luister en praat lekker saam.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.