Self-ortogonale Latynse vierkante van orde 10 in Afrikaans

Januarie 26, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Al ooit gewonder oor die enumerasie van self-ortogonale Latynse vierkante van orde 10? Ek ook nie. Ten minste, ek dink nie so nie …

 

Wat my wel opgewonde maak, is dat ‘n wetenskaplike artikel oor genoemde wiskundige onderwerp onlangs in LitNet Akademies se splinternuwe Natuurwetenskappe-afdeling verskyn het.

 

Nie te lank gelede nie het ‘n paar van ons, onder andere ook Chisto van der Rheede van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), gewonder hoe Afrikaans weer as geskrewe akademiese taal nuwe lewe ingeblaas kan word. Dit is naamlik so dat, oor die algemeen, bloedweinig artikels in vaktydskrifte nog in Afrikaans gepubliseer word. Om hieroor te kla en op die absurditeit daarvan te wys (gesien die feit dat ander tale, veral in Europa, tog nog ‘n sterk teenwoordigheid in akademiese tydskrifte het), maak nie juis hond haaraf nie. Ons droom was dus ‘n vaktydskrif spesiaal vir Afrikaans (en uiteindelik ook vir die ander Afrikatale).

 

Verkieslik, het ons gevoel, moet daar by so ‘n tydskrif ook konkrete (geldelike) aansporings wees om akademici te kry om weer in Afrikaans te publiseer. Met die tydskrif LitNet Akademies het hierdie dalk vergesogte droom werklikheid geword – aanvanklik net as ‘n geesteswetenskappe-publikasie. In die private sektor was genoeg ondersteuning vir die idee dat die SBA uit daardie oord finansiering kon kry om die aksie, wat onder die visionêre leiding van Etienne van Heerden deur LitNet in die praktyk gerealiseer is, te ondersteun. Intussen het die Dagbreektrust die ondersteuningsrol oorgeneem, wat onder meer die nuwe natuurwetenskappe-afdeling, wat deel van die oorspronklike droom was, moontlik gemaak het.

 

LitNet Akademies is nie net ‘n geakkrediteerde tydskrif nie (dit beteken dat akademici wat daarin publiseer subsidie vir hul universiteit verdien), maar gee regstreekse geldelike vergoeding vir die skrywers van artikels wat ná ‘n streng proses van eweknie-evaluering gepubliseer word. Dit beteken dat ook navorsers wat nie amptelik aan ‘n universiteit verbonde is nie aangespoor word om vakkundig in Afrikaans te publiseer. Omdat dit ‘n oop aanlyn-publikasie is, kan enigiemand gratis die artikels daarin lees (iets wat net by ‘n handjievol bestaande Suid-Afrikaanse vaktydskrifte moontlik is). Verder is daar ‘n gespreksruimte waarop verder oor artikels gesels kan word. Behalwe dat LitNet Akademies dus vakkundige publikasies in Afrikaans bevorder, demokratiseer dit ook wetenskaplike interaksie, terwyl dit nogtans die hoogste akademiese standaard handhaaf.

 

Volgende stappe, reken ek, sou kan wees dat die tydskrif Afrikaans-Nederlands, eerder as slegs Afrikaans, moet wees (daar is reeds buitelanders op die advieskomitee, en Afrikaans se internasionale moontlikhede kan só net versterk word), en dat ander Afrikatale ook toegang tot LitNet Akademies, of ‘n soortgelyke tydskrif, kry. Dit mag onrealiseerbaar klink, maar dit wat reeds gerealiseer het, was nie te lank gelede nie ook maar ‘n mal idee.

 

Van “mal idees” gepraat. Van der Rheede (ja, al weer hy!) se inisiatief om ‘n Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) tot stand te bring (“vry” in die sin van onafhanklik en vrydenkend, maar ook gratis) is nou al op die stadium dat ‘n verkose komitee ‘n sakeplan aan die ontwikkel is. Ook universiteitsonderrig in Afrikaans moet immers bestendig en uitgebrei word. Die VAU wil nie bestaande universiteite wat (nog) Afrikaans gebruik, teenwerk nie, maar wil tot daardie universiteite se pogings bydra deur ‘n stap verder te gaan. Dit sal vir almal wees wat in Afrikaans wil studeer, maar die fokus is op die gebruik van Afrikaans as bemagtigingsmiddel vir Afrikaanssprekendes en ander Afrikaansgebruikers wat nie net in die verlede op grond van hul “ras” benadeel is nie, maar ook tans deur ‘n tekort aan Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak, die onbekostigbaarheid van studiebeurse aan universiteite, en amptelike diskriminasie uitgesluit word. Hierdie groepering het tans die laagste vlak van toegang tot hoër onderwys van alle gemeenskappe in die land. Met ondersteuning van bestaande SA universiteite en groot belangstelling in Nederland en Vlaandere lyk dit glad nie meer so “mal” om te verwag dat hierdie “mal idee” ‘n werklikheid kan word nie.

 

Daar is ook nog ander verblydende inisiatiewe. Een daarvan is die Nederlands-Afrikaanse Wysgerige Genootskap, wat eersdaags sy vierde kongres (hierdie keer in Stellenbosch) aanbied. Referate op die gebied van die filosofie word daar in Afrikaans en Nederlands gelewer en bespreek. Ek hoop dat soortgelyke Nederlands-Afrikaanse genootskappe ook in ander vakgebiede opgerig sal word, want ook in die wêreld van wetenskaplike kongresse is ander tale as Engels al hoe minder teenwoordig. Ek het onlangs ‘n inhoudelik baie interessante kongres in Nederland bygewoon waarby slegs Afrikaans- en Nederlandssprekendes teenwoordig was, maar waar lesings slegs in Engels gegee is – nie omdat enigiemand Afrikaans of Nederlands minag nie, maar omdat by vorige geleenthede ook anderstaliges die kongres bygewoon het, en daardie moontlikheid ook hierdie keer nie uitgesluit was nie.

 

Benewens Nederlands-Afrikaanse vakgenootskappe moet myns insiens veel meer van nuwe taaltegnologie en tolking gebruik gemaak word om akademiese kongresse wêreldwyd weer meertalig te maak. Ook eenvoudige strategieë, soos om gedrukte Engelse vertalings van referate wat in ander tale as Engels gelewer word, uit te deel, kan hiertoe bydrae. Dit behoort myns insiens tot die wese van ‘n wetenskaplike kultuur dat dit in verskeie tale tot uitdrukking kom. ‘n Eentalige akademiese wêreld is ‘n verarmde, eenogige akademiese wêreld wat bowendien (meestal onbedoeld) die belange van oorheersende state en ondernemings help bestendig. Slegs ‘n meertalige akademiese wêreld kan die heersende orde krities uitdaag en alternatiewe diskoerse (onder meer egte interkulturele dialoog) beliggaam en in stand hou.

 

Nog ‘n droom: ‘n fonds, gefinansier deur die owerheid en/of private stigtings, wat die vertaling van buitelandse (meestal Engelstalige) wetenskaplike boeke in Afrikatale, en van wetenskaplike boeke in Afrikatale in ander tale, moontlik maak. In Nederland, waar ek my tans bevind, maar ook in ander Europese lande, kan byna enige wetenskaplike boek van betekenis in die plaaslike taal gekoop of uitgeleen word. (Dit geld ook literêre publikasies – Antjie Krog se Begging to be Black is byvoorbeeld reeds in Europese tale vertaal, maar nog nie in Afrikaans nie.) Die rede daarvoor is dat die staat en bepaalde stigtings dit finansier, eerder as dat iemand ‘n wins daaruit maak. Deur vertalings word die akademiese woordeskat in die teikentaal voortdurend bygehou en word wetenskaplike kennis en insigte breër toeganklik gemaak.

 

Nog ‘n praktiese oorweging hierby is dat handboeke in Afrikaans en ander Afrikatale dan weer in onderrig gebruik kan word. As dosent ervaar ek die belangrikheid hiervan voortdurend. Daar is hier en daar nog goeie Afrikaanse boeke wat as handboek gebruik kan word, maar wat gemaak met die studente wat nie Afrikaans kan lees nie? ‘n Alternatiewe boek? Die moeilikheid is: alternatiewe boeke se inhoud kom nooit heeltemal met die hoofhandboek s’n ooreen nie. Dikwels is ‘n Engelse handboek die enigste moontlikheid, maar dan sukkel die Afrikaanse studente, en studente met ‘n ander Afrikataal as moedertaal, soms weer met die Engels. Vroeër jare is handboeke wel in twee tale gepubliseer (dink maar aan die Jordaans se sielkundehandboek Mens in Konteks of talle teologiese handboeke). Pedagogies is dit meer verantwoord as om slegs Engelse handboeke te gebruik. Hoekom kan dit nie weer gebeur nie?

 

Buite die hoëronderwys-terrein in enger sin (universiteite) doen ‘n vakbond soos Solidariteit en ‘n stigting soos die SBA (nogmaals!) baie om naskoolse vakopleiding aan veral arm gemeenskappe in Afrikaans moontlik te maak. Hierin werk hulle ook toenemend onderling saam. Dis ‘n feit dat die fokus in SA te veel net op universiteitsopleiding is. Vir loodgieters, werktuigkundiges en ander vakmense is daar egter waarskynlik nog meer moontlikhede en geleenthede as vir graduandi. Ook hierin kan Afrikaans as bemagtigingshefboom aangewend word, en gebeur dit reeds in toenemende mate danksy genoemde en ander organisasies. 

 

As dit by die ondersteuning van Afrikaans as akademiese taal kom, moet ouer instansies, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, nie vergeet word nie. Deur die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, en deur navorsing, toekennings en ander aksies, lewer hulle steeds ‘n reusebydrae. Daar is ook toenemend goeie samewerking tussen sulke instansies en nuwere organisasies – onder meer danksy die netwerkfunksie van die Afrikaanse Taalraad, wat meer as 40 Afrikaanse organisasies verteenwoordig.

 

Wat het dit alles met Nederlanders te doen? Eerstens staar die Nederlandse taal op akademiese gebied baie van dieselfde uitdagings as Afrikaans in die gesig, al is dit op hierdie stadium nog in ’n mindere mate. Vroegtydige ingrepe en kreatiewe inisiatiewe kan die proses in sekere mate stuit. Hierin kan die Nederlandstalige gemeenskap baie uit die ervaring van Afrikaans en ander Afrikatale leer: ’n akademiese taal kan nie sommer vanself voortbestaan en floreer nie; dit moet (soos Engels) aktief bevorder word. Samewerking met Afrikaans kan help om hierdie uitdaging suksesvoller aan te pak.

 

Tweedens word egter tog ook, in alle eerlikheid, deur Afrikaanses ’n bakhand uitgehou: Help ons! Die realisering van ’n meertalige akademiese kultuur in SA ontvang geen noemenswaardige steun van die owerheid nie. Inteendeel, die oorheersing van Engels ten koste van ander tale op hierdie terrein word aangehelp. Dit beteken dat die projek deur vrywillige organisasies gedra moet word. Sulke organisasies het alle hulp nodig wat hulle kan kry. Dit sal die Nederlandstalige gemeenskap, sowel die staat as ander instellings, tot eer strek as hulle hierin ’n leidende rol kan speel.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord ‘Ja’ in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op Self-ortogonale Latynse vierkante van orde 10 in Afrikaans

  1. Wonderlike vooruitsig dat die totstandkoming van ‘n VAU nog opdreef is. Effe idealisties dat handboeke in alle tale (Suid-Afrikaans ) vertaal sal/kan word.
    Hoop nie dit gebeur soos met die arme lootgieter nie, dan sal die loodgieters moet lootjies trek om te bepaal hoe hulle beroep gespel moet word.
    Groete

  2. Dankie vir die uitwys van die spelfout. Ek het dit reggestel. Gelukkig bied ek nie aan om die boeke te vertaal nie!

    Ja, alles kan nie in alles vertaal word nie. Die belangrikste vir my is dat goeie handboeke wat in Afrikaans of ‘n ander Afrikataal geskryf is ook in Engels vertaal word, want dan het Afrikataalsprekers weer rede om in hul eie taal te skryf sonder die vrees dat dit nie wyd gelees gaan word nie. Andersom-vertalings is ook goed, maar dan net die belangrikste boeke op ‘n vakgebied, en beslis nie in al die amptelike tale nie, maar strategies met die oog op spesifieke akademiese gehore.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.