Toeris en gasheer is nie dieselfde soort mens nie …

Januarie 20, 2011 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Nederlandse Maandblad Zuid-Afrika:

 

Wat is toerisme? Wat is kultuur? ’n Toeris is iemand wat toer, iemand in beweging, ’n reisiger. As toeris ís ’n mens nie iewers nie; jy’s in deurtog. Die plekke waar jy kom, is nie jóú plek nie. Selfs al bevind jy jou daar, betrag jy dit op ’n sekere afstand (terwyl jy dit wat in jou vêraf tuiste gebeur aan jou lyf vóél).

 

Brandpunte

Gerrit Brand

 

‘Sal ons hierheen gaan, of daarheen? Wat wil jy graag vandag sien? Sal ons oorbly of verder ry?’ Dis die soort vrae wat toeriste vra. Selfs as hulle ‘diep’ by iets in die vreemde landstreek betrokke raak, is dit meestal ’n gekose betrokkenheid en geraaktheid.

Dit is anders as vir die mense in wie se wêreld jy vertoef. Hulle is nie altyd uit keuse daar nie; kan nie altyd gaan waar, en ervaar wat, hulle wil nie; het gewoonlik nie die tyd om sommer rond te hang en ervarings te verslint nie. Daar is werk om te doen, verantwoordelikhede om na te kom. Wat vir die toeris ‘so mooi’ en ‘tog te oulik’ is, lyk dikwels anders vir die boorling. (Die plaas mag mooi wees, maar die boerdery moet geld maak.) Dit wat vir die toeris ’n nuutjie is, en daarom opwindend en interessant, is vir die plaaslike inwoners dalk afgesaag of ’n irritasie. Die werklikheidsbetrokkenheid, die tyd-ruimtelike syn, van ’n toeris verskil van dié van die ‘gashere’. Toeris en gasheer bestaan letterlik op verskillende maniere. Hulle is nie dieselfde soort mens nie.

 

Kompleks is die verhouding tussen inwoner en besoeker! Hulle het mekaar nodig – vir inkomste, vir dienste, maar ook (vermoed ek) vir erkenning en waardering. Geen toeris wil voel dat hy of sy onwelkom is nie, en boorlinge wil nie die indruk kry dat die eksotiese besoeker op hulle neerkyk nie. Dit skep dan ook spanning, want ‘hulle’ het dikwels nie waardering vir wat ‘ons’ mooi en belangrik vind nie.

Sê die locals onder mekaar: ‘Ai, die klomp toeriste darem! Hulle kom kwansuis hierheen om te sien hoe dit is, maar as hulle eers hier kom, stel hulle net belang in dit wat is soos hulle dit sien. Al die ou kitsch stereotipes – dís wat tot hulle spreek!’

Sê die toeris: ‘Dié mense besef nie eens hoe mooi hul land is nie; hulle kla net al die tyd oor dit en dat. As ék nou hier gewoon het …’

Dan praat ek nog nie eens van die verskillende gewoontes wat tot soveel misverstande kan lei nie. Om van die ‘swak diens’ van sommige plaaslike werkers en die ‘arrogansie’ van sommige gaste nie eens te praat nie.

 

Kultuur as ‘ belewenis’

Toeriste verskil nie net van die ‘inheemse’ bevolking nie, maar ook – selfs nog meer – van die immigrant en die vlugteling. Met laasgenoemde het hulle gemeen dat hulle nie tuis is nie. Dis egter hul eie keuse (’n reuseverskil) en hulle sal binnekort weer terugkeer. Al is hulle vêr van hul plek af, is hulle nog knus daaraan vas, nie daarvan ontwortel nie. Hul vêr-vandiehuiswees getuig van relatiewe welvaart en sekuriteit, nie weerloosheid en vrees nie. Anders as vlugtelinge, is toeriste nie voorkeur-teikens vir brutale vreemdelingehaat nie. Inteendeel, hulle word meestal op die hande gedra.

Immigrante bevind hulle in ’n tussenposisie. Hulle is ook uit eie keuse in die vreemde, en dit bly nog lank die vreemde, maar hulle gaan steeds nie terugkeer nie – ten minste nie vir die voorsienbare toekoms nie. Hulle kan nie bekostig om, soos toeriste, hul nuwe blyplek met sterretjies in die oë te benader nie. Hulle kan egter ook nie toegee aan die plaaslike inwoners se vreemd aanloklike pessimisme nie. Hulle voel hulle moet hulle verdedig. ‘Waarom het julle weggegaan?’ en ‘Wat soek julle nou eintlik hier?’ is die vrae wat by hulle bly spook.

Iets wat nie toeriste geld nie (behalwe as speelse parodie), geld wel die immigrant en die vlugteling. Dit is die spreekwoord: ‘When in Rome, do as the Romans do.’ Dis makliker gesê as gedaan. Wat vir die ‘Romeine’ tweede natuur is, moet deur die vlugteling en immigrant bewustelik nageboots, en stuk-stuk aangekweek, word. Die plaaslike ‘taal’ moet bemeester word – nie net die spreektaal of -tale nie, maar ook die betekenis van gebare, gesigsuitdrukkings, kossoorte, selfs besittings. ’n Faux pas kan ’n mens duur te staan kom! En al woon jy nou in die nuwe land, al is jou lot daarmee verstrengel, word jou mening daaroor nie altyd op prys gestel nie. Jy moet jou mond na twee kante hou. Of só voel dit ten minste.

 

Dit bring ons by kultuur: ’n groep mense se gewoontes; hul habitus; die seine en simbole waardeur hul wêreld vir hulle sin maak; die taal wat hulle praat; die konsepte waarmee hulle die wêreld orden; hul selfverstaan; die gebruike, geboue, museums en artefakte wat hul manier van lewe anker. Vir die toeris is die boorlinge se kultuur ’n besienswaardigheid, soos ’n trop leeus in die Krugerwildtuin; of ’n ‘belewenis’, soos ’n safari: opsioneel en vryblywend. Jy kan stukkies daarvan (of wat lyk na stukkies daarvan) aanskaf, dit saam huis toe neem en dit dan buite konteks in jou voorkamer uitstal, ’n souvenir. Vir die immigrant, daarenteen, is die nuwe kultuur ’n uitdaging, en vir die vlugteling, bevreemdend, selfs bedreigend. En vir dié wie se kultuur dit is? Tweede natuur, ja, die lug wat hulle adem, maar daarom ook lewensnoodsaaklik. Dit is deel van wie hulle is; dit konstitueer hul wêreld; dis alles behalwe uitruilbaar. ’n Mens kan nie jou kultuur, jou manier van lewe, sommer so afskud en ’n ander in die plek daarvan aantrek nie, want tussen die uit- en die aantrek is jy nie net kaal nie; jy ís nie meer nie. Jy kan kulturele gewoontes van elders in joune inweef en sodoende die kleur, vorm en tekstuur stuk-stuk verander, maar dan moet jy êrens begin, nie nêrens nie. Dit is ook makliker as jy dit gelydelik kan doen – wat die vlugteling se trauma help verklaar.

 

Wie sou jy die swerwer noem?

Kan ’n boorling ’n vreemdeling in sy of haar eie kontrei word?

Is dit nie wat imperialisme doen? ’n Buitelandse moondheid kom forseer hom op die ‘maagdelike’ landskap af; vestig sy manier van lewe met militêre mag as oorheersend; ‘bekeer’, ‘beskaaf’ en ‘ontwikkel’ die inboorlinge. Wie vooruit wil kom, moet nou ook vêr buite ‘Rome’ soos die Romeine maak! ‘Latyn’ word die amptelike taal van die gekoloniseerde lande, en bly dit ná ‘onafhanklikwording’. Die owerheid kommunikeer daarin; die jong mense gaan daarin skool en studeer daarin; die arbeidsveld vereis dit as toegangskaartjie. (Handig vir toeriste, want nou kan hulle maklik aanwysings vra of ’n bier bestel.) Die plaaslike drag word vir ‘Romeinse’ kleding verruil (behalwe wanneer die Romeine vermaak wil word). Soos Neville Alexander dit stel: die meerderheid word in hul eie land soos ’n minderheid behandel.

Kom die barbare in opstand? Nie so dat jy dit sal agterkom nie. Omdat die koloniste getallegewys so dun gesaai is, kan slegs ’n klein groepie onder die plaaslike bevolking werklik in die nuut-dominante leefwyse gedompel word en dit sodoende hul eie maak. Dit bring vir hulle voordele, terwyl die meerderheid van hul landgenote op die marges agterbly.

Juis die skaarste van vaardigheid in die nuwe taal, maak dit des te meer gesog. Die agtergeblewenes jaag dit (meestal tevergeefs) met toenemende ywer na – wat die onaantasbare status daarvan verder versterk. Die minderheid onder hulle wat dit wel maak, probeer dalk hul landgenote ‘help’ om ‘in te haal’, maar ook dít versterk die status van die ‘Romeinse’ lewenswyse net verder, en help die magteloses verder ontmagtig. Ook die goedbedoelende toeris doen soms hieraan mee deur ‘opheffingswerk’ te ondersteun.

 

Natuurlik speel die ‘ongeletterde’ barbaar nooit die rol van toeris nie. Hy of sy veg om oorlewing. Daar is nie geld vir rondry nie, nie eens in die eie land nie. Van die instromende besoekers – ten minste dié wat ’n visum en buitelandse valuta dra – word ’n geldjie afgebedel of met ’n werkie ‘verdien’. (‘’n Mens kan darem goedkoop in hierdie land rondkom!’ gesels die ‘Romeine’ onder mekaar.) Jy sal dan ook wees wat die toeriste wil hê jy moet wees. Jy sal na hul pype dans. Die ‘ander’ besoekers, wat van soortgelyke omstandighede vlug, en daarom sonder visum of valuta aanland, word deur plaaslike gekoloniseerdes as konkurrente beleef. ‘Laat hulle teruggaan na waar hulle vandaan kom!’ klink die refrein.

Dit kan dus gebeur dat toeriste in die vêr land meer tuis as hul ‘gashere’ is.

Só kry Koos du Plessis se lirieke in die lied ‘Swerwers’ nuwe betekenis: jy wat jou op die wysheid roem / wie sou jy die swerwer noem: / die een met tas en reisbiljet / of elkeen wat nog drome het? / of wie?

 

Ja, dis die vraag. En daarmee groet ek dan uit ’n herfskleurige Nederland, waar ek tans op werkbesoek is. Maar dit is weer ’n ander storie …

 

Gerrit Brand is senior lector systematische theologie aan de Universiteit van Stellenbosch. Hij schrijft deze rubriek op persoonlijke titel. Zijn blog DinkNet is te lezen op www.litnet.co.za.

 

* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na dinknet@litnet.co.za om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

4 antwoorde op Toeris en gasheer is nie dieselfde soort mens nie …

  1. As jou naam nou Abraham was, het jy in tente gebly en dus nooit anders geword as toeris nie. Dit is Christene mos in hierdie wereld, toeriste!

  2. Ja, maar Mr A het op ‘n vaste blyplek gewag. Ons wag nog steeds.

  3. Ja, en nogal ‘n stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is!

  4. Netso. Intussen wag ons nog en bly tuiskoms ‘n ideaal eerder as ‘n werklikheid.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.